.

Het Jesus enige betekenis, as hy nie God ook is nie?

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 April 2017

.

Dit is duidelik dat die evangelies wat opgeneem is in die Bybel, nooit vir Jesus as God gesien het nie (behalwe in die Johannes evangelie waar dit gesuggereer word Jesus is die logos) en ook het Jesus self nooit so 'n aanspraak gemaak nie.

So waar kom die idee van Jesus wat 'n God is en wat 'n mens geword het, dan vandaan?

Wel soos met enige idee het dit ontwikkel oor tyd, stap vir stap. Aanvanklik het die idee baie teenstand gekry, o.a. het van die vroegste kerkvaders soos Eusebius, Justianus en Tertullianus dit afgewys as onwaar en selfs gesê dis belaglik.

Tog het dit oor tyd al hoe meer vatplek gekry. 'n Verhaal waarin Jesus net gesien is as 'n mens wat deur God geïnspireer is het met verloop van tyd verander in 'n verhaal met baie mitiese lae. En stadig maar seker het Jesus die mens begin transformeer in 'n supermens, en uiteindelik God self. Byvoorbeeld Paulus het na hom aanvanklik verwys as net bo die engele, maar latere kerkvaders het begin praat van "een in substansie met die Vader."

Groot sprong, sou ek sê.

So het oor ongeveer driehonderd jaar na Jesus se afsterwe 'n dogma gestalte gekry wat by die Geloofsbelydenis van Nicea amptelik gesanksioneer is.

Nicea was natuurlik net 'n klompie kerkleiers van die tyd, wat bymekaar gekom het, presies soos vandag se sinodes. En hierdie sinode was gemaak op aandrang van daardie tyd se verteenwoordiger (Konstantyn) van die regering in beheer, die Romeinse Ryk. Hoekom het hy dit gedoen? Eenvoudig, politieke en ekonomiese redes.

Daar is gestem oor of Jesus God is of nie. En die besluit is nogal nie met 'n groot meerderheid gewen nie. Maar op die ou einde maak dit sekerlik nie saak met hoeveel stemme daar gewen is nie, die feit bly staan, die groep wat Jesus as God gesien het, het gewen. En daarmee saam, politieke en ekonomiese mag.

Natuurlik het dit toe nie daar gestop nie. Daar het hewige debatte gevolg. Want dit het 'n probleem gebly, dat indien Jesus God self was, wat het sy dood aan die kruis dan beteken. Want as God, sou hy tog geweet het hy kan nie regtig sterf nie. Alles was dan net skyn.

Daarom is daar toe geredeneer dat Jesus beide ten volle mens en ook ten volle God moes wees. Jy kan jou indink hoe dit die kerkvaders besig gehou het. En hoe dit tot hewige binne-gevegte gelei het.

Daar is baklei oor sake soos, kon hy ten volle mens wees sonder om die sondige natuur te erf? Want as hy nie die sondige natuur geërf het nie, kon hy moes nie ten volle mens wees nie.

Dit het vrae gebring soos, het hy enige seksuele begeertes gehad soos enige normale mens? Indien nie, dan was hy tog nie ten volle mens nie en word die gedagte dat God tussen ons kom woon het, nie waar nie.

Het hy emosies soos afguns, jaloesie en woede ervaar? As hy dit nie nie ervaar het nie was hy nie ten volle mens nie. As hy dit ervaar het is hy nie God nie. Daar is geen manier waarop hy terselfdertyd ten volle mens en tegelyk sondelose God kon wees nie. "Sondigheid" soos geformuleer deur die kerk, is tog onlosmaaklik deel van menswees.

Dieselfde argument geld vir die vraag of Jesus getroud was en kinders gehad het. Indien nie, sou dit ingedruis het teen die streng Joodse gebruike van sy tyd en sou hy nie 'n Rabbi kon word nie. Alle Joodse mans moes trou tussen sestien en negentien jaar en dit is as 'n groot sonde beskou as dit nie gebeur het nie. (Jesus het self gesê dat hy nie die Wet wou ophef nie maar elke "jota en tittel" wil onderhou).

Daar kan uit die evangelies self ook baie bewyse aangevoer word dat Jesus met Maria Magdalena getroud was. En dat die bruilof in Kana waarin hy water in wyn verander het moontlik sy eie bruilof was.

So het die debat voort geploeter. Sommiges, o.a. die aanhangers van Montanus ('n groep binne die vroeë Christendom), het gesê Jesus was nie werklik 'n mens nie maar het 'n skyn menslike liggaam aangeneem. Dit is genoem "doketisme" ("doke" is die Grieks vir "skyn"). Maar hierdie denkrigting is deur die vroeë kerkvaders veroordeel en verwerp. Soos ook vele ander teorieë.

So is daar vir en teen gestry. Sonder enige veel verdere ondersoek, wys hierdie hoe die menslike idee rondom Jesus as God, deur die tyd gevorm, omvorm en hervorm is.

Soveel so, dat tot vandag toe daar nie eenstemmigheid is nie. Daar is vandag heelwat Christelike teoloë wat meen dat daar te veel gemaak word van die historiese Jesus, dat daar dalk nie eens genoeg bewyse is dat daar wel 'n fisiese mens was wat werklik geleef het nie.

Hulle meen dat die historiese Jesus nie so belangrik is nie, maar die idee daaragter – die idee dat God by die wêreld betrokke is. Hulle meen dat dit nie saak maak of dit wat in die evangelies aan Jesus se prediking toegedig word, werklik alles woorde was wat uit sy mond gekom het nie. Dit maak nie saak of die veroordeling, kruisiging en opstanding werklik gebeur het nie. Dit gaan oor die boodskap.

Hierdie teoloë meen dat die soeke na die historiese feite die aandag aflei van dit wat die Bybel eintlik probeer sê. Hierdie teoloë meen dat ons die eintlike idee van Jesus as die Christus uit die oog verloor.

Wel of Jesus 'n histories werklikheid is en of hy net 'n simboliese Christus is, maak op die ou einde nie vir my veel saak nie. Beide wys op die skeppende en manipulerende aard van die mens.

Want vir my word dit al hoe meer duidelik dat godsdienstige idees op die ou einde net 'n handige instrument is om mense te beheer, manipuleer en te regeer. En ongelukkig kom alles op die ou einde neer op politieke en ekonomiese mag speletjies. Presies Konstantyn se agenda ook.

En juis daarom is ek maar baie skepties oor enige Godsverklarings deur enige godsdiens. Miskien is die opvatting van o.a. die Griekse filosoof Xenophanes in die 6de eeu v.C. baie nader aan die waarheid. Vir hom was die mens se voorstellings van die gode niks anders as selfprojeksie nie: "... die Ethiopiërs stel hul gode voor as swart en die Thrakiërs met ligblou oë en rooi hare ..."

Daardeur verwys hy na die feit dat alle gode uiteindelik altyd lyk soos die kultuur en mense wat hulle aanbid. En Jesus, is hy nie maar presies ook dit nie?

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche het 'n punt beetgehad toe hy die Christelike kerk van sy tyd gekritiseer het dat hulle van God maar net 'n afgod gemaak het.

'n God wat geskep is om ons eie magsbelange te beskerm en om ons visie van die werklikheid te bevestig. Hierdie insig word antropomorfisme (mensvormigheid) genoem. Dit wil sê: God en gode is niks anders as bonatuurlike weerspieëlings van wat hier op aarde afspeel nie.

Daarmee sê ek glad nie dat daar nie iets soos 'n goddelikheid, iets groters is nie. Wat ek wel sê, is dat die huidige menslike Jesus-God konstruk my nie oortuig nie.

Daar is egter vele ander maniere om oor God na te dink. En dit begin deur God nie as 'n selfstandige naamwoord nie, maar as 'n werkwoord te sien. God nie as 'n "wat" nie, maar 'n "hoe." God nie as 'n persoon iewers in die geskiedenis nie, maar moontlik as 'n lewensenergie, nou.

Dit is nie 'n nuwe manier van dink nie. Daar is talle Bybel-dele waar God ook nie as 'n persoon voorgestel word nie, maar as 'n aspek van die skepping. God word byvoorbeeld gesien as 'n vuur- of wolkkolom wat saam met jou op reis is, as lewegewende water of as vuurtonge. En beteken Heilige Gees nie maar net letterlik Heilige Wind nie? Alles maar net metafore, om iets te probeer sê oor dit wat ons nie met ons woorde kan raakvat nie.

Presies wat ek dink die Jesus idee uiteindelik ook is. 'n Simbool van wat 'n goddelike, spirituele mens kan wees. Dit wat ons ook kan wees. Iets waarna ons elkeen kan streef.

'n Rigtingwyser na hoe om te leef as 'n goddelike mens, in hierdie oomblik.

'n Metafoor en simbool vir die diepte en volheid van 'n lewe wat deur liefde geleef moet word eerder as beperking en vrees. 'n Metafoor vir 'n ego-lose lewe.

'n Bewustelike lewe van respek, verantwoordelikheid, eenvoud en deernis.

Dalk dan maak Jesus se woorde in Johannes 14:12 meer sin: "Dít verseker Ek julle: julle sal ook die dinge doen wat ek doen; en julle sal nog groter dinge as dit doen..."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.