.

Herontdek jou lewensin

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Augustus 2014

.

Ek het verlede week twee begrafnisse gehou. Een nogal vanuit Moreletta Park se NG Kerk. Op 'n stadium het hulle predikante seminare gehou waar hulle die goed bespreek het wat ek geskryf het om al die dwalings daarin vir hulle lidmate uit te wys en om hulle lidmate te waarsku om nie my boeke te koop en artikels te lees wat ek geskryf het nie.

Toe ek daar staan, Dinsdagoggend, toe wonder ek sommer net wat sal daardie dominees sê as hulle weet dat ek een van hulle lidmate vanuit hulle kerk begrawe? Maar dit daar gelaat. Beide die begrafnisse met my persoonlik weer gekonfronteer met die lewe self en dit het my opnuut die vraag laat vra na my eie lewensin en na die dinge wat vir my belangrik is.

Jare gelede het ek 'n verhaaltjie gelees oor 'n skatryk Arabiese prins wat al die wyse manne in sy koninkryk na die paleis toe ontbied het. Hy het pas by sy pa oorgeneem en hy was nog relatief jonk en vol ambisie. Hy het vir die wyse manne die opdrag gegee om te gaan navorsing doen oor die essensie van die lewe.

Omtrent tien jaar later kom hulle toe eendag by die paleis aangery met omtrent veertig kamele wat swaar dra aan vragte en vragte manuskripte. Hulle buig toe voor die prins en laai die vrag af en sê: Hier is die resultaat van ons navorsing. Ons het die lewe bestudeer, gevalle studies opgeteken, mense se geskiedenis nagevors, lewensverhale opgeteken ... dit alles geboekstaaf en vir u gebring. Ons reken dat ons die essensie van die lewe daarin saamgevat het. Lees dit, dan sê u vir ons wat u daarvan dink.

Die prins, wat toe reeds self in sy middeljare was, het hulle moedeloos aangekyk en gesê: Ek het nie eers die tyd om elke dag na al die klagtes van die ministers te luister nie. Ek het 'n volk wat na my opkyk vir raad en leiding. Ek moet ekonomiese strategieë uitwerk en internasionale bande bou. Ek slaap min en reis baie, waar op aarde gaan ek tyd kry om al die hope papier te lees.

Julle sal moet teruggaan en som dit alles vir my op in 'n enkele boek sodat ek net dít hoef te lees. Ek het nie krag vir al hierdie stapels papier nie.

Die wyse manne pak toe alles terug op die kamele en daar gaan hulle weer. Na weer omtrent tien jaar kom hulle by die paleis aangery. Met een dik boek stap hulle na binne, baie trots op wat hulle vermag het. Hulle soek na die koning en vind hom dodelik siek op sy sterfbed in die hoofslaapkamer van die paleis.

U majesteit, hier is die boek waaraan ons 'n leeftyd lank gewerk het en wat u so graag wou lees. Toe kyk die prins hulle magteloos aan en sê: Nou is ek te oud en te sieklik. Ek het ook nie meer soveel tyd oor om so 'n dik boek te lees nie. Vertel sommer maar net vir my wat het julle daarin geskryf. Wat is die essensie van die lewe?

Die leier van die groep wyse manne staan toe 'n tree vorentoe ek verduidelik vir die prins. Ons het letterlik honderde mense se lewens bestudeer om die essensie te vind van waaroor alles gaan. En ons kon een gemene deler in almal se lewens en in hulle verhale vind. Ons reken dat dit dalk verband hou met die essensie van alles.

Die prins lyk skielik moeg en afgemat. Hy kyk op na die wyse man en vra: Ja, so waaroor gaan dit? Wat het julle gevind wat ooreenstem in almal se lewens wat julle bestudeer het?

Die wyse man sê: u majesteit die een ding wat alle mense in gemeen het en wat ons reken die essensie van die lewe is, is die volgende: Almal is gebore, almal het lief gehad. Almal het gesterf. Dit is volgens ons mening waaroor die lewe gaan.

***

Dit is juis daardie "lief gehad"- deel van die lewe wat my na die twee begrafnisse weer aan die sin van die lewe laat dink het. By albei die begrafnisse het die familie en die vriende na die tyd nie gepraat oor wat die persoon alles in sy lewe bereik het, hoeveel eiendom hulle besit het, hoeveel grade hulle gehad het, hoe belangrik hulle posisies in die werkplek was nie.

Hulle het gepraat oor hoe mense mekaar aanraak. Hoe mense mekaar se lewens verryk. Wat mense by mekaar leer. Hoe mense warmte, liefde en omgee-oomblikke met mekaar deel. Hoe mense verhoudings koester, na mekaar uitreik, 'n tweede myl saamstap, altyd daar is om te help. Altyd 'n oop oor het.

Ek het al gesien dat selfs ryk, vooraanstaande en vername mense, wanneer hulle siek is, of op 'n sterfbed beland, hulleself so stroop van alles wat vir hulle 'n leeftyd lank belangrik was. Al waaraan hulle behoefte het en al wat dan saak maak, is net die teenwoordigheid van die naaste van naastes langs die bed.

Dit is dalk op die ou einde al wat regtig sin gee aan die lewe ... nie die gejaag na prestasie, aansien, vernaamheid, geld, status en posisies nie. Almal word gebore, almal gaan dood. Dalk is dit net die liefhê tussenin wat die reis die moeite werd maak.

Kamele dra swaar aan baie boeke. Maar dit is die een sin tussenin wat alles verander.

Mense word gebore, hulle het lief en hulle sterf. Kom ons besin weer in ons eie lewe oor daardie "het lief" -oomblikke, sodat ons daardeur weer die essensie en sin van ons eie lewens kan herontdek!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.