.

Herakleitos en die Logos

Deur Dr. Wynand de Beer op 1 Augustus 2019

.

Een van die eerste groot Westerse denkers was Herakleitos, wat rondom die jaar 500 voor Christus geleef het. Hy was afkomstig van die stad Éfese in Klein-Asië, aan wie die Apostel Paulus later een van sy briewe sou rig. Weinig is oor die enigmatiese Griekse filosoof se lewe bekend, maar deur die fragmente wat van sy geskrifte behoue gebly het, sou hy 'n blywende invloed op die Griekse filosofie en die Christelike teologie uitoefen. Dit geld veral vir sy leer omtrent die Logos, wat meesal as Woord vertaal word.

Herakleitos was 'n tydgenoot van die Sjinese denker Lao Tzu, skrywer van die gevierde Tao Te Tsjieng, en daar is merkwaardige ooreenkomste tussen hul denke. (Sover dit die Logos en die Tao betref, sien die laaste deel van hierdie artikel). Lao Tzu skryf byvoorbeeld dat sy woorde maklik is om te verstaan en te beoefen, maar niemand kan hulle verstaan of beoefen nie. Die rede daarvoor is dat mense onkundig is (Hoofstuk 70). Insgelyks skryf Herakleitos dat meeste mense nie in staat om die Logos te verstaan nie, al kom dit algemeen voor. Trouens, meeste mense weet nie wat hulle doen wanneer hul wakker is nie, net soos hulle vergeet wat hul doen wanner hulle slaap (Fragment 1). Daarby het Herakleitos 'n voorliefde vir paradoksale gesegdes gehad, sodat hy reeds in die oudheid as 'ho skotos' ('die duistere') bekendgestaan het. Hy skryf onder meer dat die natuur daarvan hou om weg te kruip (Fragment 123), as 'n aanduiding van die verwikkelde aard van die werklikheid.

Volgens Herakleitos is die logos algemeen en kom alle dinge daardeur tot stand (Fragmente 1 en 2). Wat beteken die term logos nou eintlik? Dit is verwant aan die werkwoord legō, wat beteken om te praat of te vertel. In die eerste plek beteken logos dus die gesproke woord waardeur 'n gedagte uitgedruk word, asook die innerlike gedagte self. Mettertyd het dit ook die betekenisse van rede en proporsie bekom, en teen die tyd van die Nuwe Testament dui Logos beide Woord en Rede aan (Liddell and Scott 2004).

Omdat die logos vir Herakleitos 'n objektiewe werklikheid is, verskaf dit aan ons 'n sleutel om die ganse werklikheid te verstaan. Om die logos te verstaan, is trouens die belangrikste van alle menslike aktiwiteite. Die logos is dus beide die eerste beginsel van bestaan en die eerste beginsel van kennis (Christensen 2004). Weens die teenwoordigheid van die logos vertoon die werklikheid beide eenheid (weens begronding in die logos) en menigvuldigheid (soos gemanifesteer in ruimte en tyd). Dit blyk dat die logos vir Herakleitos as die skakel tussen kosmiese eenheid en verskeidenheid funksioneer. Die kosmos is dus nie monisties of dualisties van aard nie, kan mens byvoeg, maar behels 'n gedifferensieerde eenheid waarin beide eenheid en verskeidenheid erken word.

Volgens Herakleitos bestaan die kosmos uit pare teenoorgesteldes wat heeltyd in wisselwerking verkeer. As voorbeelde hiervan noem hy dag en nag, winter en somer, en konflik en vrede. Hierdie interaksie beskik selfs oor 'n teïstiese dimensie, want die Godheid word in die pare teenoorgesteldes gemanifesteer (Fragment 67). Bowendien redeneer Herakleitos dat die fynste harmonie (Grieks, harmonia) juis te vinde is in dinge wat teenoor mekaar staan (Fragment 8). Trouens, sonder differensiasie kan daar geen harmonie wees nie, want harmonie vooronderstel 'n verwantskap tussen verskillende dinge (McKirahan 1994). En vir Herakleitos is dit die logos wat die konflik tussen teenoorgesteldes balanseer, waardeur kosmiese ewewig gehandhaaf word.

Die aktiwiteit van die logos, soos deur Herakleitos geskets, hou verdere implikasies in. As die onderliggende natuurwet bepaal die logos alle veranderinge in die kosmos. Op hierdie wyse verskaf die logos rasionaliteit en orde aan die heelal, sodat God, natuur en mens 'n diepliggende eenheid vorm (Dreyer 1976). Ons kan dus sê dat die logos die kosmiese beginsel is wat rasionele order in die wêreld vestig. Sodoende word rasionele diskoers tussen mense moontlik gemaak, want die logos stel ons in staat om die redelike beginsels (Grieks logoi, die meervoud van logos) van dinge in te sien (Blackburn 2008).

Sover dit die siel betref, redeneer Herakleitos dat dit onbeperk is – so diep is die logos daarvan (Fragment 45). Die siel se kennis is vir hom afkomstig van die wyse waarop sintuiglike indrukke begryp en vertolk word. Hierdie begrip van dinge is korrek wanneer hulle as manifestasies van die logos verstaan word. Volgens 'n later Griekse kommentator het Herakleitos intelligensie (Grieks nous, wat ook verstand beteken) met die logos verbind, want ons word omring deur die rasionele (logikos) en die intelligente (noētikos) (McKirahan 1994). Dit blyk dus dat menslike intelligensie afhanklik is van die inwonende teenwoordigheid van die logos.

Herakleitos se leer omtrent die logos sou oor die volgende eeue deur verskeie denkers ontwikkel word. Daaronder tel eerstens Philo van Alexandrië, 'n Hellenistiese Jood wat 'n tydgenoot van Jesus en sy dissipels was. In sy werke het hy gestrewe om die Hebreeuse teologie van die Ou Testament en die Griekse filosofie, veral dié van Plato, byeen te bring. Volgens Philo se kosmologie is die skakel tussen God en die wêreld die ewige sfeer van Idees, oftewel Plato se onveranderlike Vorme. Hoogste onder die Idees is die Logos, wat die eersgebore Seun van die ongeskape Vader is (Chadwick 1967). Laasgenoemde is die transendente God wat nie direk met die wêreld kontak het nie (net soos die Een van die Neoplatoniste), maar wel deur middel van die Logos. En omdat die goddelike Logos die wêreld skep, gaan Philo voort, is dit die ontologiese skakel tussen die komponente van die kosmos. Die verskeidenheid synsvlakke wat die kosmiese hiërargie vorm, word deur die immanente krag van die Logos bymekaargehou (Chadwick 1967). 'n Soortgelyke siening kom by Paulus voor wanneer hy skryf dat Christus (as die Logos) alle sigbare en onsigbare dinge geskape het, en dat Hy alle dinge in stand hou (Kolossense 1: 16-17).

In die Nuwe Testament kom die term logos dikwels voor en beteken dit merendeels 'n gesproke woord of verhaal. Die uitsonderinge is die volgende: (a) in die eerste hoofstuk van die Johannes-evangelie, waar die Logos as 'n voorafbestaande goddelike Wese beskryf word; (b) in die eerste brief van Johannes (5:7), waar die Logos tesame met die Vader en die Heilige Gees genoem word, met ander woorde in 'n Trinitariese sin; en (c) in Openbaring (19:13), waar na Christus as die Logos van God verwys word (Strong's Concordance). In die lig van hierdie tekste is dit duidelik dat die vleesgeworde Logos, oftewel Jesus van Nasaret, as die kosmiese Christus beskou en aanbid behoort te word.

Die Griekse teoloog Justinus die Martelaar (tweede eeu) het die Johannesevangelie se identifikasie van die Logos met Jesus Christus voortgesit. Volgens Justinus neem elke rasionele wese in die universele Logos deel. Die Logos is dus die Rede wat all dinge inwoon (wat mens aan Anaxagoras se leer omtrent die universele Verstand of Intellek herinner). Dit geld veral vir die rasionele skepping, voer Justinus aan, sodat rasionele wesens soos Abraham en Sokrates as Christene voor Christus beskou kan word. 'n Billike vraag wat dan verrys, is waarom filosowe so van mekaar verskil indien elkeen deur die Logos bewoon word. Soos Justinus die saak verstaan, verskil filosowe onderling omdat elkeen 'n mate van toegang tot die waarheid het, terwyl slegs Christus die volheid van die waarheid is (Chadwick 1967).

Volgens die Neoplatoniese kosmologie wat deur Plotinus (derde eeu) en sy opvolgers ontwikkel sou word, dien die logoi as beginsels waardeur die goddelike Intellek (Nous) die fisiese wêreld tot stand bring. In sy meesterwerk, die Enneade, skryf Plotinus dat voorwerpe eienskappe soos warm en koud aanneem volgens die inwerking van 'n beginsel (logos) op die onderliggende materie. Insgelyks is die natuur 'n logos wat diere en plante in staat stel om volgens die beginsels (logoi) wat op hul onderliggende substansie inwerk, voort te plant. Hierdie redenasie impliseer die werking van natuurwette, volgens die logoi wat die kosmos inwoon (Dillon and Gerson 2004). Plotinus span ook die Stoïsynse term 'logoi spermatikoi' in, wat as rasionele sade of produktiewe redes vertaal word. Hierdie 'sade' bevat die moontlikhede van alle wesens, wat deur die Wêreld-Siel in die natuur geplant word (Moore).

Dit is aksiomaties in die Platonisme dat die waarneembare wêreld vanuit die verstaanbare wêreld verrys. Met ander woorde, sigbare voorwerpe ontstaan weens die aktiwiteit van onsigbare Vorme. Ons het die reg om te vra, hoe werk hierdie proses? In sy kommentaar op Plato se dialoog Parmenides beskryf die briljante Neoplatoniese denker Proklus (vyfde eeu) die uitgang van die Vorme tot in sintuiglik waarneembare voorwerpe. Aanvanklik word al die Vorme in die sfeer van ware Syn omvat. Op die tweede vlak gaan die Vorme tot in siele uit, by wyse van die Skepper (d.w.s. Plato se demiourgos) wat die redelike beginsels (logoi) as psigiese essensies inplant. Derdens word die Vorme gevestig in die natuurlike essensies wat die sintuiglik waarneembare dinge voorafgaan en wat hul logoi vanuit die verstaanbare wêreld ontvang het. Laastens verwek die logoi die sintuiglik waarneembare dinge vanuit die vormlose ontvanger (soos deur Plato in die dialoog Timaeus beskryf word) en bewaar hulle as lewende wesens (Dillon and Gerson 2004).

In sy diepsinnige sintese van Christelike teologie en Neoplatoniese filosofie (veral dié van Proklus) ontwikkel Dionysius die Areopagiet ons begrip van die Logos verder. Hy beskou die beginsels (logoi) van alle dinge as patrone (Grieks, paradeigmata) wat in die goddelike natuur leef, vanwaar hulle uitgaan tot in die verstaanbare en waarneembare wêrelde (hierdie is die Platoniste se terme vir die onsigbare en sigbare sfere van die werklikheid, onderskeidelik). As die inwonende logoi in die skepping dien hierdie beginsels ook as die middele waardeur die verstaanbare en waarneembare wêrelde na hul Skepper terugkeer (Sheldon-Williams 1967). Op hierdie wyse plaas Dionysius die Neoplatoniese leer van 'n uitgang vanuit die Een tot in die vele en 'n terugkeer van die vele na die Een binne 'n Christelike raamwerk, soos wat dwarsdeur sy werk die geval is.

Die briljante Ierse denker Eriugena (negende eeu) maak in sy wydlopende oorsig van die werklikheid (Latyn, natura) deurentyd gebruik van die Neoplatoniese skema van uitgang (exitus) en terugkeer (reditus). Hierdie dubbele beweging moet nie as afsonderlike prosesse beskou word nie; inteendeel, vir Eriugena word hulle verbind deur die menslike rede wat hulle oorweeg. Waar pas die Logos in hierdie skema in? Die Logos, oftewel Christus as die goddelike Woord, is inderdaad die skakel tussen die uitgang van alle dinge vanuit God en die terugkeer van alle dinge tot God (Carabine 2000).

Volgens Eriugena skep God die waarneembare wêreld deur middel van voorwêreldse oorsake (Latyn, causae primordiales), wat sy weergawe van die Platoniese Vorme is. Hierdie oorsake is die skeppende beginsels (logoi) van die Griekse filosowe en kerkvaders, voeg hy by. Alle sigbare en onsigbare dinge bestaan deur deelname in die logoi, terwyl die logoi self in die een Oorsaak van die Drie-eenheid deelneem. Die Ierse filosoof redeneer verder dat soos die Logos ewig is, so is die voorwêreldse oorsake (in hul natuur) ewig, en soos die Logos potensieel oneindig is, so strek die oorsake (in hul gevolge) tot in oneindigheid. En soos die voorwêreldse oorsake een in die Logos is, so is hul gevolge een in die menslike rede (Sheldon-Williams 1967).

In sy insiggewende en pragtig versierde boek Christ the Eternal Tao neem die Ortodokse monnik Damascene Christensen die ooreenkomste tussen die Logos en die Tao onder die loep. Die gelykwaardigheid van die Logos en die Tao is erken deur vertalers van die Bybel in Sjinees, sodat die opening van die vierde evangelie soos volg lees: "In die begin was die Tao, en die Tao was by God, en die Tao was God; En die Tao het vlees geword en het onder ons gewoon, en ons het sy heerlikheid aanskou" (Johannes 1: 1, 14). Soos die geval is met die Logos van Herakleitos, is die Tao vir Lao Tzu die universele Patroon of Beginsel wat orde meebring. Die Sjinese woord Tao word gewoonlik as Weg vertaal, synde die ongeskape Oorsaak van all dinge. Boonop voed en bewaar hierdie Weg die geskape orde deur die konflik tussen teenoorgesteldes te balanseer, net soos die Logos doen, deur self nie daaraan deel te neem nie.

Interessant genoeg het hierdie identifikasie van die Tao (Weg) met die Logos nie slegs 'n filosofiese grondslag nie, maar ook 'n skriftuurlike een. In die Johannesevangelie lees ons dat Christus homself as die Weg (Grieks, odos) na die Hemelse Vader beskryf (14:6). En die vroeë Christene het na hul nuwe geloof bloot as die Weg verwys (Handelinge 19:9 en 23, 22:4, 24:14 en 24:22). Volgens die Ortodokse monnik lê die verskil tussen die Sjinese en Christelike geskrifte daarin dat die Tao Te Tsjieng die hoogste kennis verteenwoordig wat 'n mens deur (geestelik-intellektuele) intuïsie kan bereik, terwyl die Evangelie die hoogste kennis verteenwoordig wat deur Godsopenbaring bereik kan word (Christensen 2004).

In die genoemde boek word die 81 hoofstukke van die Tao Te Tsjieng in die lig van die Oosters-Christelike teologie herskryf, en wel op só 'n wyse dat die diepe en outentieke geestelikheid van die Sjinese werk duidelik na vore tree. Daar is in hierdie benadering geen sprake van ondergeskiktheid van een egte tradisie aan 'n ander nie, maar eerder erken dit die onderlinge samehang van die groot mistieke weë van die Ooste en die Weste. Deur die beoefening van hierdie weë kan mense na hoër vlakke van geestelike bewussyn beweeg, sodat onkunde kan verminder en psigiese ewewig kan toeneem.

Dr. Wynand de Beer
Bristol, 2019

Bronne
Blackburn, Simon. The Oxford Dictionary of Philosophy. Oxford: Oxford University Press, 2008.
Carabine, Deidre. John Scottus Eriugena. New York: Oxford University Press, 2000.
Chadwick, Henry. "Philo and the beginnings of Christian thought." The Cambridge History of later Greek and early Medieval Philosophy, ed. A.H. Armstrong. London: Cambridge University Press, 1967.
Christensen, Hieromonk Damascene. Christ the Eternal Tao. Platina, California: Valaam Books, 2004.
Dillon, John and Gerson, Lloyd, eds. Neoplatonic Philosophy. Introductory Readings. Indianapolis, Indiana: Hackett Publishing, 2004.
Dreyer, P.S. Die Wysbegeerte van die Grieke. Kaapstad & Pretoria: HAUM, 1976.
The Liddell and Scott Greek-English Lexicon (Abridged Edition). Oxford: Oxford University Press, 2004.
Lao Tzu. Tao Te Ching. Translated by D.C. Lau. Harmondsworth: Penguin Books, 1963.
McKirahan, Richard. Philosophy before Socrates. An Introduction with Texts and Commentary. Indianapolis, Indiana: Hackett Publishing, 1994.
Moore, Edward. "Plotinus." Internet Encyclopedia of Philosophy (no date). Aanlyn by https://www.iep.utm.edu/plotinus/
Sheldon-Williams, I.P. "The Greek Christian Platonist tradition from the Cappadocians to Maximus and Eriugena." The Cambridge History of later Greek and early Medieval Philosophy, ed. A.H. Armstrong. London: Cambridge University Press, 1967.
Strong's Concordance. Aanlyn by https://biblehub.com/greek/3056.htm

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.