.

Heilige nuuskierigheid

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 November 2013

.

"Dertien is 'n ongelukkige nommer, en almal weet dit!," so sê die ernstige dogtertjie met die blonde krulhare, terwyl sy grootoog van agter haar ma se rok na my loer.

En ek moet erken, sy's reg. Of altans sy's reg betreffende die feit dat meeste mense glo dertien is 'n ongelukkige nommer.

Kyk gerus hoeveel hotelle nie 'n dertiende vloer het nie, jy kry twaalfde en dan spring dit eenvoudig na die veertiende vloer. Kyk ook hoeveel hysbakke nie 'n nommer 13 knoppie het om te druk nie.

Selfs baie hospitale het nie 'n teater nommer 13 nie. En hoe versigtig is mense nie op Vrydag die 13de nie?

Dit laat my onwillekeurig wonder waarvandaan kom die bygeloof rondom 13 en spesifiek Vrydag die 13de?

Wel, soos met hierdie tipe wollerige dinge is daar nie regtig sekerheid daaroor nie. Een verklaring kom uit die ou Noorse mitologie. 'n Fabel wat vertel van 'n maaltyd wat vir twaalf mense gehou is en toe daag daar 'n ongenooide gas op, 'n dertiende persoon. En die gevolge was dat almal gesterf het aan voedselvergiftiging.

'n Ander verklaring kom van die laaste maaltyd van die dissipels saam met Jesus, net voor sy kruisiging. Tradisioneel word dit as 'n Vrydag beskou (hoewel sekeres meen dit was 'n Woensdag).

En met Jesus en die twaalf dissipels maak dit natuurlik dertien mense, en hulle sit aan op 'n Vrydag. En een van die dertien is Judas die verraaier. Dit is ook Judas wat eerste opstaan en uitstap. En dit is ook Judas wat eerste dood is. Toevallig? Nooit! Wel so glo baie.

Maak eintlik nie saak waarvandaan die bygeloof kom nie, die feit is dit funksioneer binne baie mense se koppe as 'n vervloekte nommer. En daarom sal diesulkes wat dit glo, hulle lewens rondom die bygeloof inrig en in vrees leef.

Bygelowe soos die is meestal snaaks en selfs onskuldig maar ongelukkig is bygelowe ook gevaarlik. Dink maar aan die stakende mynwerkers by Marikana wat geglo het die moetie wat die sangoma vir hulle gegee het, kan hulle onaantasbaar en onsterflik maak. Ons ken die hartseer gevolge van die bygeloof.

Of dink nou aan die voormalige rugbyspeler Joost van der Westhuizen wat glo dat hy deur "dr." Anton Neethling, voorheen 'n duikklopper, nou ten volle genees is van sy motorneuronsiekte.

Bygeloof is dus nie net beperk tot sout oor die skouer gooi of sportmense met hulle bygelowige dinge soos, gelukkige onderbroeke, of die volgorde van sokkies aantrek nie. Nee, omdat bygelowe jou essensieel onrealisties met jou werklikheid laat omgaan kan dit potensieel lewensgevaarlik wees.

In byvoorbeeld 2010 het die Treatment Action Campaign (TAC) 'n protesaksie begin teen die Christ Embassy Healing School. Hulle protesaksie het gevolg op die dood van minstens twee mense (waarvan ons weet) wat hul vigs-behandeling gestaak het.

Want nadat hulle van die genesingsdienste bygewoon het, het hulle begin glo dat die Christ Embassy Healing School werklik enige kanker, hartsiektes, vigs en artritis kan genees.

Dit laat my wonder hoekom intelligente en denkende mense so maklik kan terugval op bygelowige denke. Wat maak dat mense hulle vryheid kan opoffer vir die beperkinge van bygeloof?

Ek meen van die geloof in gelukbringers tot die dra van Power Balance armbande (wat geglo word kan die energie velde van die liggaam balanseer), lyk dit vir my mense is baie weerloos vir maklike antwoorde.

Maar maklike antwoorde is 'n illusie. Dis soos 'n lugspieëling in die woestyn, waarin die belofte van 'n oase op die ou einde net nog meer woestyn is.

Om die lewe dus te leef op die valse beloftes van bygelowige denke, is soos om in te koop op woestyn lugspieëlings.
Natuurlik is die enigste teenvoeter vir bygeloof, kennis.

En kennis word net gevind by die wat oopkop en soekend na die lewe kyk. Mense wat aanhou vrae vra en aanhou wonder. Diesulkes wat leef met 'n kritiese ingesteldheid wat die lewe vir hulle omtower in 'n avontuur.

Carl Sagan verwoord hierdie ingesteldheid as 'n heilige nuuskierigheid: "Somewhere, something incredible is waiting to be known."

Ongelukkig het meeste mense hierdie heilig nuuskierigheid verloor en is daarom verveeld en leef as slagoffers van hulle eie geslotenheid en luiheid.

Ek dink die hoofrede is omdat baie mense nie wyd lees nie (of glad nie meer lees nie) en ook selde buite hulle eie velde van belangstelling lees, dink of ondersoek doen.

Dit bring natuurlik mee dat sulke mense maklike teikens word vir sogenaamde maklike antwoorde en bygelowige oplossings.

Dit is verseker nie 'n nuwe ding nie, reeds sedert vroegste tye was die mens hoogs vatbaar vir bygelowige verklarings. Dink maar aan hoe die antieke mense opgetree het teenoor natuurlike verskynsels soos donderweer.

En omdat hulle dit nie verstaan het nie het hulle stories vir mekaar vertel oor hoekom en vanwaar hulle glo die donderweer kom. En ja, die stories was kleurvol en vermaaklik maar in essensie vals.

En omdat hulle hierdie stories geglo het het hulle hul lewens daarvolgens ingerig. Hulle het offers gebring, met die hoop dit sal die donderweer (gode wat kwaad is) kalmeer en wanneer die wolke uiteindelik dan wegtrek en die son weer skyn, was almal baie bly want hulle het geglo hulle offers is aanvaar.

Vandag weet ons (of meeste van ons in elk geval) dat donderweer is nie die gode wat kwaad is nie. En dit maak dat ons vryer en met minder vrees kan leef, want donderweer is tog slegs 'n natuurlike verskynsel.

Presies waarna Sagan verwys het met: "It is far better to grasp the universe as it really is than to persist in delusion, however satisfying and reassuring."

Dit laat my aan die Skinner-boks eksperimente dink. Dit is nou die eksperimente gedoen deur die Amerikaanse sielkundige Burrhus F. Skinner (1904-1990).

Hy het 'n apparaat ontwerp wat gebruik was om 'n studie van die gewoontes van diere (o.a. duiwe en rotte) te maak.
Hoe dit werk is eintlik heel eenvoudig. Die boks bevat 'n skakelaar of skakelaars wat binne aan die een kant gemonteer is wat byvoorbeeld deur 'n duif in werking gestel kan word deur dit raak te pik. As die duif die skakelaar raakpik word hy beloon met kos.

Wat Skinner onder meer wou vasstel was of diere 'n spesifieke gedrag kon aanleer. Skinner het later sy eksperiment gewysig, deur op te hou om gedrag te beloon. Met sy nuwe eksperiment is die duif net van tyd tot tyd beloon, ongeag wat die voël gedoen het.

Al wat die voëls nou hoef te gedoen het, was om niks te doen nie, net maar te wag vir die belonging. Skinner het egter gevind dat die duiwe nie dit doen nie. Die duiwe het "bygelowige" gedrag aangeleer. Hulle het 'n tipe "reëndans" gedoen wat bestaan het uit allerhande vreemde bewegings – asof hulle daarvoor beloon sou word.

Skinner het later hierdie waarnemings in sy Skinner-boks vergelyk met die bygelowige rituele van dobbelaars en godsdienstige mense. Hulle glo hulle gebede en rituele het 'n invloed op byvoorbeeld die geldmasjiene in die casino's of die weerpatrone.

Dit laat my onwillekeurig terugdink aan die baie bidure vir reën, wat ek gelei het tydens droogte tye. Maar dit eers daar gelaat.

Is die bygelowige gedrag van mense nie maar presies soos die "reëndanse" wat die duiwe aangeleer het nie?

Wanneer mense egter oopkop, krities en denkend begin omgaan met die werklikheid, verloor bygeloof vinnig sy houvas.
Kyk maar net wat gebeur het met baie bygelowe sedert die vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese gebiede en die ewigdurende groeiende netwerk van kennis.

Dit het ons gehelp om met al meer insig na die oorsaak en gevolge van die "boks" waarbinne ons lewe te kyk. En wat sien ons as ons begin kyk?

Dat die lewe 'n ongelooflike avontuur is. Ongelukkig beleef net mense met hulle oë wawyd oop hierdie avontuur. Die res leef nog as slawe binne 'n hok. Besig met hulle daaglikse reëndanse vir belonings.

Maar vir die wat meer dink, soek en wonder word die lewe 'n groter misterie, nie 'n kleiner een nie. Daarom moet ons aanhou om mekaar aan te spoor om ons koppe en harte oop te maak. Want net dan word ons vryer en ontvou hierdie misterie voor ons.

En hierdie misterie is 'n groot avontuur.

Klim uit die boks, dink buite die boks en belangrikste van alles, leef buite die boks. Want is dit nie so dat slegs wanneer jy uit die boks klim, kom jy eers werklik tot die besef dat jy binne die boks was nie?

Is dit ook nie wat die karakter, Dorothy, in die boek van L. Frank Baum, The Wonderful Wizard of Oz, ontdek het nie? Die storie handel oor Dorothy en haar hondjie Toto wat eendag deur 'n verskriklike stormwind tot in die hartjie van Oz weggewaai word. En die enigste manier om haar pad terug te vind is om die towenaar van Oz op te soek.

Op hierdie avontuur leer Dorothy wat vriendskap beteken, van dapperheid en liefde. Maar die ontknoping van die verhaal lê wanneer sy ontdek dat die towenaar van Oz met die groot stem eintlik maar net 'n gewone ou man (wat droom om deel van 'n sirkus te wees) is.

Dorothy sien dus agter die skerm van bygeloof. Net soos ons agter die skerm van bygeloof kan inkyk as ons bereid is om te kyk.
Presies wat elkeen van ons kan ontdek as ons bereid is om ons oë oop te maak vir die lewe.

Bygeloof maak blind en doof maar 'n heilige nuuskierigheid aktiveer die avontuur.

Paulo Coelho stel dit kragtig met die volgende: "You can become blind by seeing each day as a similar one. Each day is a different one; each day brings a miracle of its own. It's just a matter of paying attention to this miracle."

En hiervan kan ek getuig, die oomblik wat jy oop, eerlik, soekend en nuuskierig begin lewe sien jy weer die wonderwerk.

Albert Einstein: "There are two ways to live: you can live as if nothing is a miracle; you can live as if everything is a miracle."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.