.

Harde en sagte Christene

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Augustus 2014

.

Ek het 'n baie interessante boek, The Heart of Christianity, van die bekende Amerikaanse teoloog, Marcus Borg nou net klaar gelees. Hierin kyk hy veral na die groot uittog van Christene uit tradisionele kerke.

Die rede hoekom die boek so interessant gevind het, is omdat ek as godsdiensfilosoof baie belangstel in die bewegings binne verskillende godsdienstradisies. Wat dryf dit, wat veroorsaak dit en hoekom gebeur dit?

In hierdie geval, is dit die onderstrominge wat binne die Christendom besig is om plaas te vind. Borg kyk spesifiek na die redes en motiverings van Christene wat vanuit hoofstroomgemeentes wegbeweeg, maar wat my aandag eintlik getrek het, was sy bevindings rondom waarheen en waar meeste daarna 'n tuiste gevind het.

Hy gee in sy boek 'n baie goeie beskrywing van hierdie oorgangsproses en die moontlike nuwe spirituele tuistes.

Aan die een kant is daar die wat heeltemal wegbreek en buite enige godsdienstradisies hulleself tuisvind. Dit is nodig om hier net vinnig te noem, dat hierdie groep die grootste groei toon. Dit is mense wat dan geen godsdiens-affiliasie verder wil hê nie. Na hierdie groep word dikwels verwys as die 'nones.'

'n Studie wat oor vyf jaar (tot einde 2012) in die VSA gedoen is, het juis hierdie tendens uitgewys. Daar is in die studie bevind dat hierdie sogenaamde 'nones' van 13% tot 20% van die bevolking gegroei het. Hiervan is 13 miljoen ateïste of agnostici en ongeveer 35 miljoen mense sonder enige spesifieke affiliasie.

Maar dit is egter nie die hele prentjie nie. Aan die ander kant is daar wel baie Christene wat uit die hoofstroomkerke wegbeweeg, maar nie noodwendig hulle geloof opgee nie.
Iets van wat Lenny Bruce probeer sê met: "Every day people are leaving the church and going back to God."

Hierdie groep word meestal na verwys as Progressiewe Christene. En vir hulle gaan dit primêr oor die breek met die ou dogmatiese verstaan na 'n meer oop en liberale verstaan van o.a. hoe hulle die Bybel, God, Jesus, geloof en die Christelike lewe interpreteer en verstaan.

Nou terug by Borg se boek – hy kyk na hierdie verskynsel en gebruik, baie slim volgens my, nie terme soos konserwatiewe Christene (die wat binne die tradisionele kerk bly) en die wat wegbreek as liberale Christene (die wat steeds binne die Christendom bly maar uit die tradisionele kerke beweeg) nie.

Nee, hy noem dit die harde en sagte benaderings.

Hy sien die harde benadering as Christene wie se geloof geanker is in die outoriteit van God, wat natuurlik in die gesag van die Bybel gesetel is.

En die nuwe ontluikende sagte benadering as 'n reaksie op die Verligting en is daarom 'n verstaan van die Christengeloof as slegs een van vele menslike reaksies op God en hulle geloof. Daarby gaan dit vir hierdie groep veel meer oor hoe jy leef as wat jy presies glo.

As voorbeeld wys hy dan ook hoe die twee benaderings anders na die Bybel kyk.

Die harde benadering lê klem op die foutlose korrektheid van die Bybel. Die Bybel word letterlik gesien: God se woorde self. Dit is ook die bewys vir hulle dat die Christelike geloof die enigste weg tot redding en waarheid is.

En hulle glo dat 'n Christelike lewe gebou moet wees op die Bybel en belydenisskrifte, en dat daar 'n hemel en hel is, en natuurlik op die vereistes om te glo in Jesus as die enigste verlosser.

Aan die ander kant sien die sagter benadering die Bybel as 'n klomp geskrifte wat vanuit 'n antieke wêreldbeeld gebore is, en dat dit met 'n voorwetenskaplike verstaan werk – en daarom wel heelwat menslike foute het. Maar alhoewel 'n menslike produk, voel hulle nog steeds die inhoud moet ernstig opgeneem word. Sonder 'n letterlike verstaan natuurlik, wel met 'n metaforiese benadering.

Presies wat Rob Bell, ook 'n bekende progressiewe Christen skryf: "The Bible is still in the center for us ... but it's a different kind of center. We want to embrace mystery, rather than conquer it, the Bible is a human product rather than a divine one."

Hiermee saam sien hulle ook nie die Christelike geloof as die enigste weg en waarheid nie, nee, dit is slegs een van vele tradisies. Borg sê dan ook presies dit met: "It has become important to realize that the vision of the Bible and the Christian life is but one way of seeing Christianity, and a modern one at that."

Daarom is Jesus ook net 'n mens vir hulle, alhoewel 'n besondere mens. Hulle verstaan Jesus soos 'n vingerwysing na die onbekende en onbeskryfbare God.

Borg skryf verder ook dat hy homself as Christen meer tuis vind by hierdie sagter benadering, maar dat hy nie daarmee die twee teenoor mekaar wil stel nie.

Hy wil eerder wys op die potensiaal van transformasie: "Because it is no secret that I find the earlier paradigm less than compelling, I want to emphasize that it has nourished the lives of millions of Christians for centuries ... But for now, I simply note that, for many in our time, its vision has ceased to be compelling."

Borg is egter nie bang om uit te wys dat hierdie twee benaderings wel baie vyandig teenoor mekaar staan nie. Maar hy stop gelukkig nie hier nie, hy probeer ook soek vir moontlike maniere om die gapings tussen die twee te oorbrug.

Een hiervan is dat hy voel respek vir mekaar kan help om mekaar beter te verstaan. En vanuit hierdie respek, dan eerder te fokus op die dinge waar daar saamstem word, eerder as dit waarmee daar verskil word.

En volgens Borg is daar heelwat ooreenkomste.

Albei groepe, hetsy harde of sagte benadering tot Christenskap, werk met die beginsels van liefde en vergifnis, eerder as haat en vergelding.

Beide bevestig die belangrikheid van die Bybel, die nodigheid van 'n verhouding met God en om die voorbeeld van Jesus na te streef.

Die sienings van Borg maak daarom die moontlikheid van vernuwing en 'n eietydse spiritualiteit 'n werklikheid binne die Christendom. Die verstaan dat Christene nie hulle geloof hoef op te gee nie, hulle kan eerder deur vernuwende maniere hulle geloof herinterpreteer en eietyds relevant maak.

Ek noem dit die evolusie van die Christengeloof. Prakties gesien kan dit o.a. beteken dat iets soos die doop en nagmaal nuwe betekenis kan kry. Weg van antieke verstaan daarvan na 'n nuwe verstaan van viering van die lewe, hier en nou.

Net so kan ook die Christen liturgie 'n nuwe fokus kry. Weg van die fokus op die bonatuurlike, eerder na die menslike soeke en behoeftes om te behoort. So kan dit ook 'n estetiese ervaring wees waar kreatief met musiek, kuns en beelde, die menslike gees opgehef word. Iets wat mense kan bind aan mekaar.

Ook gebed kan anders geïnterpreteer word. Gebed kan eerder 'n manier van leef word; 'n manier waarop die eenheid met alle lewe bevestig en versterk word. Die voorbeeld hierna is 'n postmoderne 'Onse Vader gebed' wat toon hoe 'n heel ander teologie, sonder enige teïstiese God of bonatuurlike mag ter sprake kom. Eerder gerig op 'n ingesteldheid van eerbied, eenvoud en deernis. Spirituele belewenis sonder enige versoeke of smeking van die bidder.

Alles nuwe maniere om oor geloof te praat, wat ook wetenskap en die postmoderne bewustheid insluit, eerder as om daarteenoor te staan.

Om ook ander geloofstradisies in te sluit eerder as uit te sluit. Om maniere te vind om liefde, omgee en sorg aan almal te bring, ongeag, ras, geslag, kultuur, seksualiteit ens.

En om ekologiese geregtigheid en omgewingsbewussyn in te sluit by die goddelike opdrag van: "om ander so lief te hê soos jouself."

Dit lê die klem van beide benaderings op regverdigheid, geregtigheid, verantwoordelikheid en deernis (compassion).

Daarom kan ook ek – wat myself sien as buite enige godsdiens tradisie – heelhartig saam met die Progressiewe Christen beweging werk.

Hulle ideale is nes myne en ander soos ek, om 'n beter wêreld daar te stel. Hulle besef dat net liefde so 'n wêreld kan moontlik maak. Presies wat Borg dan ook sê met: "Christianity's goal is not escape from this world. It loves this world and seeks to change it for the better."

Die "Centre for Progressive Christianity" het 'n paar punte opgestel as 'n tipe geloofsverklaring – wat volgens hulle nie vasgegiet kan word nie, dit is 'n proses en moet met tyd ontwikkel en kan verander. En ek onderskrywe heelhartig hierdie punte.

Hier is 'n deeltjie van wat hulle sê:

Ons glo dat 'n lewe volgens die voorbeeld van Jesus, ons kan lei tot 'n verstaan van die Eenheid en Heiligheid van alle lewe;
Ons erken dat Jesus se leringe maar een van baie is en dat 'n mens verskillende bronne kan gebruik op jou spirituele reis;
Ons wil verhoudings bou met alle mense ... Ons weet dat die wyse waarop mense teenoor mekaar optree, dit wat hulle werklik glo sigbaar maak;
Ons vind sin in die soeke na insig en daarom glo ons dat daar in vrae meer waarde lê, as wat sekerhede vir ons kan inhou;
Ons strewe na vrede en geregtigheid vir alle mense;
Ons strewe daarna om ons omgewing te beskerm en om die integriteit van die Aarde te help herstel, daarom verbind ons ons aan verantwoordelikheid neem en selflose liefde...

Wie kan met bogenoemde nie saamgaan nie? Wie kan nie insien dat dit ons as menslike spesie nader aan mekaar kan bring nie? Want die realiteit is, sonder vrede tussen verskillende godsdienste is vrede op aarde ook nie moontlik nie.

Dis daarom vir my wonderlike om te sien hoe daar ook in die Christendom aktiewe skuiwe besig is om plaas te vind. Om te sien hoe verskillende godsdienste al hoe nader aan mekaar begin beweeg, sonder om noodwendig hulle eie identiteit te verloor. Hiervan is Renaissance gemeenskap hier in Suid-Afrika 'n wonderlike voorbeeld.

En wie weet, eendag kan ons dalk net sê dat die mensdom se redding wel in die liefde, vergifnis en vrede van godsdienste te vind is.

Dr. Ari Ariyaratne: "We who have been born Buddhist, Hindu, Christian, Muslim, or any other faith can be very comfortable in each others temples, mosques, and churches, praying or meditating together to create a spiritual mass of consciousness which can overcome our greed, hatred, and illusions."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.