.

Grense

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Februarie 2014

.

Daar is verseker geen beter leerskool as familie nie.

Want waar anders sal jy soveel verskillende en uiteenlopende persoonlikhede bymekaar op een plek kry as wanneer families oor Kersfees en Nuwejaar bymekaar kom.

Baie van hierdie familielede sou dalk nooit uit vrye wil met mekaar assosieer nie, sou nie vriende gewees het nie en beweeg baie keer nie in die selfde kringe nie.
Maar vir een keer 'n jaar (soms meer, in die geval van 'n troue, doop of begrafnis) betree hierdie mense mekaar se ruimtes.

Verskillende ouderdomsgroepe met verskillende uitkyke op die lewe, kyk mekaar nou in die oë. En verskillende geloof, politieke en filosofiese oortuigings ontmoet mekaar rondom eetkamer en kombuis tafels.

Verskillende wêrelde wat ontmoet.

En hierdie ontmoetings daag jou uit om jou eie staanplekke te heroorweeg. Want hoe dan anders? Om in 'n gesprek met 'n familielid te wees wat dalk radikaal anders as jy voel oor, byvoorbeeld, Nelson Mandela se nalatenskap, bring verseker emosies na die oppervlak.

En wedersydse denk- en idee-grense word oorgesteek (of nie). Grense wat verdedig en beskerm word, grense wat aangeval word (of nie). Want hoe oorbluf kan 'n mens nie soms voel nie as jy iemand anders se sienings hoor en dit staan radikaal teenoor jou verstaan en belewenis.

Dit is asof families ons 'n klein voorsmakie gee van die groter wêreld daar buite.

En net soos met families was die wêreld ook eers goed begrens en was eendersdenkendes saam gegroepeer. Ons wêrelde was afgebaken en duidelik begrens. Ons het geweet wie is "ons" en wie is "hulle".

Maar meer as in enige ander tyd in die mens se geskiedenis, het tegnologie ons afgebakende grense vernietig. Deur TV en internet, sosiale kommunikasie soos Facebook en Twitter, ekonomiese markte en lugvaart, is verskillende mense, kulture, uiteenlopende idees, oortuigings en gelowe op mekaar se voorstoep geplaas.

Die wêreld het nou soos een groot familie geword. Die alkoholis tannie, die rassistiese oom, die fundamentalistiese niggie, die vegetariese boetie, die los sussie en die gay nefie het nou almal om een tafel kom sit.

En of ons dit wil erken of nie, ons persoonlike grense het nou begin kante raak, self begin kruis. En dit laat meeste mense onseker voel, selfs bang. En juis daarom begin al hoe meer mense sukkel met die onsekerhede wat die moderne lewe bring – met sy vele opsies, teenoorgestelde standpunte, uiteenlopende idees.

Weg is die dae toe almal saamgestem het. Want hoe jy voel oor die e-tol situasie, jou verstaan van die politieke situasie van ons land, jou verstaan van ander gelowe se waarheid uitsprake tot by jou siening van gays se plek in die samelewing, is nou nie meer die algemeen aanvaarde norm nie.

Die realiteit is eenvoudig dat die lewe nie meer so maklik begrens kan word nie. Selfs die grens tussen reg en verkeerd is nie meer so maklik sigbaar nie. Dit is meestal maar vermeng en geïntegreerd. En dit is wêreldwyd so. En dit laat mense onseker voel.

En wat gebeur wanneer mense onseker voel?

Hulle soek dadelik veilige grond. Bekende grond. Bekendes: eendersdenkendes. En dan word daar laer getrek. En rondom die laer, 'n duidelike grensdraad.
'n Grens wat die "ons" en "hulle" weer moet skei. 'n Tipe alles of niks scenario.

En of dit 'n spesifieke geloof, politieke oortuiging of sosio-ekonomiese afgrensing is, maak nie regtig saak nie. Want wat ook al jou afgrensing behels, dit word nou jou eie begrensde skepping, die plek van waaruit jy leef en sterf.

Dit is natuurlik hartseer om mense so te sien leef. Want dit is in der waarheid 'n plek van vrees, angs en woede. 'n Plek wat mense minder mens maak nie meer nie.

Want die grense wat jy opgestel het, met die doel om jou te beskerm teen onsekerheid en verandering, is eintlik net 'n self geskepte persepsies in jou kop. Wat natuurlik vir jou die werklikheid word.

Want net soos met 'n kaart, is die ingetekende grense nie die werklikheid nie, net 'n interpretasie van die werklikheid. Dis 'n persepsie wat dan inhoud aan die werklikheid gee. Dis ons persepsies wat waarde toeken of ontneem. Niks bestaan onafhanklik van die persepsie wat ons van iets het nie.

Dis bepaalde interpretasies en persepsies wat ons het oor mag, eiendom, welvaart, sukses, oor lewe en oor God, en dit laat ons op 'n sekere manier met die werklikheid omgaan.

Natuurlik vervul grense 'n belangrike funksie, dit help met bestuur, beheer en beskerming van grondgebiede; binne- en buitewêreld. Dit laat mense veilig voel en help die samelewing om te funksioneer maar dit perk ook in, sluit ook uit, veroordeel en hou ook gevange.

Maar indien iemand wil groei, beter wil word en 'n verskil wil maak, moet daar 'n bewuste evaluering van jou eie grense wees; moet grense oorgesteek word.

Dink maar net aan ons vrees vir mense wat aan die ander kant van ons grense leef. Mense wat anders dink en glo as ons self. Hierdie vrees lê ons lam, hou ons terug en bring mee dat andersdenkendes as die vyand gesien word.

En hoe tree ons op as ons bang is? Meestal val ons blindelings aan. Sonder om ooit die "ander" raak te sien as ook maar net 'n bang mens. 'n Mens met drome, ideale, behoeftes en natuurlik vrese net soos ons self.

Want is dit nie 'n gegewe dat mense nie oor alles gaan saamstem nie? Hugh Prather verwoord akkuraat die ingesteldheid om vrede te maak met hierdie gegewe verskille van mense as: "No one is wrong ... at most someone is uninformed! You're wrong, means I don't understand you. I'm not seeing what you're seeing. But there is nothing wrong with you, you are simply not me and that's not wrong."

Daar is grense.

Daar is verskillende opinies, gelowe en oortuigings. Maar dit beteken nie dat daar oorlog hoef te wees nie. Wat gaan dit in elke geval bereik om iemand anders te domineer of selfs te oorwin? Jy't nie daardie persoon se grens verskuif nie. Jy't net 'n tydelike en kunsmatige oorwinning behaal. Kyk maar hoe daar oor en weer baklei, gemoor en gehaat word, vir geslagte heen. En hou dit ooit op? Vandag se verloorder is maar net weer more se wenner.

Al wat hierdie siklus van haat, vernedering en vrees kan verbreek, is wanneer mense vrede maak met die gegewe werklikheid van meningsverskille en verskillende oortuigings. En dit respekteer.

Want vanuit respekvolle optrede bereik 'n mens eerder invloed as beheer. En met invloed kry jy toegang tot mense se harte. En met invloed kan die "ander" nog steeds hul stemme laat hoor. Invloed kom ook net as jy die eerste stap neem. As jy eerste jou eie (selfgeskepte grense) kan oorsteek.

Om hierdie selfgeskepte grense te probeer oorsteek is volgens my die rede van hierwees – van werklik menswees. Die doel van spiritualiteit.

Is dit nie die voorbeeld van die groot geeste van die mensdom nie? Hulle het deur hulle lewens grense verskuif. Hulle was bereid om hulle eie vooroordele, vrese en haat te skuif, voordat hulle dit van enigiemand anders gevra het.

En so is grense verskuif. Presies dit wat Albert Schweitzer bedoel het met: "Example is not the main thing in influencing others. It is the only thing."

Was die Christendom van die eerste drie eeue nie juis gekenmerk deur hulle grens-verskuiwende lewens nie? Hulle was nie noodwendig bekend vir wat hulle oor Jesus geglo of gesê het nie. Nee, hulle was bekend vir hoe hulle gelewe het. En hoe hulle gelewe het was gemodelleer op Jesus se grens verskuiwende voorbeeld.

En soos Jesus het hulle ook eerder vergewe as vergeld, nederigheid as 'n hoër waarde beskou as status of mag. Hulle het nie gewag vir ander om hulle eers te respekteer nie, hulle het dit eerste gedoen.

Jesus self het toe hy sy eerste dissipels gewerf het, nie gesê "Glo in my" nie, nee hy't gesê, "Volg my". Met ander woorde, maak soos ek maak en doen soos wat ek doen. Leef soos ek leef.

En hierin het die vroeë Christendom se impak gelê. Hulle het mekaar versorg en verpleeg, vir die hongeres onder hulle kos gegee, gevangenes besoek en selfs teenoor vreemdelinge gasvry opgetree. So anders as die reëls (lees grense) van hulle tyd, waar jy net vir jou eie mense gesorg het.

Hierdie ingesteldheid tot ondersteuning en omgee het natuurlik die byvoordeel gehad van 'n goeie logistieke netwerk wat mettertyd opgebou is. En juis dit het later 'n groot rol gespeel in keiser Konstantyn se keuse om die Christendom as primêre godsdiens van die Romeinse Ryk aan te wys. Want hy't geweet net so 'n godsdiens het die potensiaal om weer die ryk te verenig, nadat dit verskeur was deur geslagte lank se burgeroorloë en haat.

Is dit nie tyd dat ons radikaal genoeg moet wees om weer Boeddha, Jesus, Gandhi en Mandela se voorbeeld te leef eerder as om dogmas aan te kleef nie? Om die Bergrede van Jesus radikaal te verhef tot 'n 'handves van menseregte'.

Om onsself, ons familie, ons naaste, ons land en die wêreld, eerder as mede grensbewoners te sien – eerder as die "hulle" wat ons moet vrees, haat en beveg.

My gebed vir myself vir die jaar, is om daagliks op so 'n wyse te leef (om my selfgeskepte grense oor te steek) dat wanneer ek oor liefde, respek, eenvoud en deernis praat, woorde nie meer nodig sal wees nie.

En jy? Watter grense gaan jy hierdie jaar oorsteek? Wie gaan jy wees wanneer jy jou familie die einde van hierdie jaar by die Kers-ete sien?

Steve Maraboli: "The world is my church. My actions are my prayer. My behaviour is my creed."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.