Godsdienstige waarheid voor ‘n kruispad

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Augustus 2010

Soms vergeet ek dat baie mense die realiteit van ons bestaan anders as ek sien. 'n Goeie voorbeeld hiervan was die reaksie op 'n kort briefie wat ek geskrywe het in reaksie op 'n koerantberig in Beeld (13 Julie 2010) deur Neels Jackson. Ek haal 'n gedeelte uit die artikel aan:

"Natuurwetenskaplikes en teoloë is opnuut gewikkel in 'n debat oor die skepping en evolusie in Die Kerkblad van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 'n Gevolgtrekking van prof. Paul Kruger van die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP) in die uitgawe van Die Kerkblad het tot die jongste debat gelei. Dit lui: 'Die mens kom nie uit die dier voort nie en alle spesies kan nie na mekaar herlei word nie.' ... prof. Callie Coetzee van die TSP sê dat die Bybel wel iets sê oor hoe God geskep het – onder meer dat God deur die Woord geskep het en dat Hy uit niks geskep het. Die Bybel leer volgens Coetzee dat God die mens uniek en afsonderlik geskep het ... dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is en dat die mens afsonderlik geskape is as God se beelddraer en as kroon van die skepping."

Ek het in 'n brief só hierop reageer (geplaas in Beeld 15 Julie 2010):

 

Prof. Paul Kruger van die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP) word soos volg aangehaal: "Die mens kom nie uit die dier voort nie en alle spesies kan nie na mekaar herlei word nie."

Ter ondersteuning van Kruger skryf prof. Callie Coetzee, ook van die TSP, dat die Bybel wel iets sê oor hoe God geskep het – onder meer dat God deur die Woord geskep het en dat Hy uit niks geskep het en daarmee saam dat die Bybel leer dat God die mens uniek en afsonderlik geskep het.

Dit is hartseer dat ons in ons tyd sien dat die kerk begin agterbly in sy denke en verstaan van die werklikheid waarin ons lewe.

Dit is ook hartseer dat die kerk vashou aan 'n voorwetenskaplike wêreldbeeld en dit krampagtig probeer verdedig.

Ons is nou in 'n tyd waarin godsdiensleiers die geleentheid het om die nuwe kennis en ontdekkings wat deur die wetenskap en tegnologie beskikbaar gestel word, te gebruik en in hul geloofsraamwerk te integreer.

Die integrasie van hierdie nuwe inligting kan geloofsleiers in staat stel om hul volgelinge te begelei tot 'n beter bewuswording van hul globale bewussyn en 'n beter verstaan van hul verantwoordelikheid vir mekaar.

Die kerk (in dié geval die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika) se tradisionele godsdienstige paradigma is glad nie in pas met die inligtings- en tegnologiese paradigma nie.
Dit is tyd dat hulle eerlik kyk na wat hulle glo oor die lewe en wat hulle huidiglik weet van die lewe. Want vir vele godsdienstige mense is wat hulle Sondae bely en Maandae lewe in 'n tweestryd.

Ons kan nie anders nie as om te erken dat godsdienstige waarheid voor 'n kruispad staan weens die ongelooflike vooruitgang in die onderrig, wetenskap, tegnologie en vrye mark van idees wat inligting doeltreffender laat vloei.

Hulle sal moet kies: Of hulle probeer die ou, drieverdieping-wêreldbeeld verdedig – met 'n hemel en 'n hel – of hulle gaan op 'n nuwe weg waar hulle die wetenskap en tegnologie se verstaan van realiteit integreer.
Die tyd is lankal ryp dat mense eerlik kyk na wat hulle glo oor God, die lewe en die kosmos.

Indien die kerk nie eerlik met hierdie probleem omgaan nie, gaan hy mense net soveel vinniger vervreem en wegdryf.

 

Min het ek gedink dat die briefie soveel mense sou ontstel. Meer as 5000 internet lesers het dit gelees, ek noem dit, want die gemiddelde aantal lesers van briewe op die webtuiste van Beeld lyk vir my is in die omgewing van 300. En dan noem ek nie eens die oorgroot reaksie van die lesers wat my beskuldig het dat ek 'n dwaas en selfs 'n misleier is. Iemand het tot geskryf dat sy "bang" is vir my. Hoe kan dit wees dat in ons tyd mense nog so vasgevang kan wees in 'n voorwetenskaplike verstaan van die werklikheid?

Dit is dieselfde mense wat met gemak die tegnologie wat saam met die wetenskap se vooruitgang kom, kan gebruik en verstaan. Die einste mense dink met gemak nuut oor ekonomie, politiek, mediese wetenskappe en landbou. Maar sodra dit by godsdienstige waarhede kom, dan word eeue terug se denke en verstaan onveranderd geglo en in stand gehou. Dit is volgens my niks anders as 'n skisofreniese bestaan nie.

Ons kan tog lankal nie meer die geloofstaal gebruik wat mense in 'n voor-wetenskaplike wêreld gebruik het nie. Ons interpreteer tog vandag die lewe en die goddelike anders as byvoorbeeld in Bybelse tye. Met die gebruik van mikroskope, teleskope, rekenaars, kameras en die ewigdurende groeiende netwerk van kennis word ons al meer bewus van die grootsheid van die goddelike. Of is dit net ek? Kan tog nie wees nie?

Ons kan eenvoudig nie anders as om nuut oor God te begin dink nie. Die antieke metafore van konings en koningkryke is eenvoudig te klein vir die nuwe wêreld wat die tegnologie moontlik maak. Bio-tegnologie, bio-ingenieurswese, bio-chemiese navorsing, nano-tegnologie, stamsel navorsing, neurologie, argeologiese ontdekkings, vulkaniese waarnemings, weerkunde en vele ander wetenskaplike prestasies, verander nie net ons uitkyk op die werklikheid nie, dit plaas ons in 'n nuwe era waar ons nuwe moontlikhede het om ons toekoms te skep en te bepaal. Dit is tog duidelik sigbaar? Of nie?

Elke vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese terrein, brei ons verstaan van ons wêreld en onsself meer en meer uit. So moet ons verstaan van God tog ook aanpas en uitbrei. Die eenvoudige waarheid is dat ons meer weet, en daarom mag ons anders dink en praat oor God.

Dit alles bring mee dat ons vandag onsself nie kan los sien van die wêreld waarbinne ons leef nie. Dat ons besef ons liggame bestaan uit dieselfde stof as die sterre in die heelal. Daar is tog oorgenoeg bewyse (so het ek gedink) wat ons verwantskap aan die groot ape wys. 'n Gemeenskaplike DNA vloei deur alle lewende dinge, deur ons, diere en plante. En om die werklikheid van ons bestaan so te sien help ons om vandag anders, maar geloofwaardig, oor God en veral onsself na te dink. Nie waar nie?

Dit is vir my baie duidelik dat die oorsteek van 'n grens beteken nie die vernietiging nie maar die verskuiwing daarvan. Ek is nie besig om die goddelike weg te verklaar nie, ek is eerder besig om my denke rondom die goddelike te verskuiwe. Anders gestel, word die goddelike vir my groter nie kleiner nie. En in hierdie verskuiwing word dit duideliker dat die goddelike 'n dinamiese krag is in die groot netwerk van lewe. Maar om een of ander rede kan die meeste mense nie die denkskuiwe maak nie. Hierdie denkskuiwe maak hulle nie opgewonde nie, maar bang. En in die proses maak hulle God kleiner nie groter nie. Hulle reduseer God tot "hulle" verstaan. 'n Verstaan wat weer gebou is op eeue terug se interpretasie van die werklikheid.

Alhoewel ek hierdie "laer-trekkery" oral bespeur, is daar ook 'n ander momentum wat besig is om te groei – mense wat al hoe meer nuwe vra begin vra. Dit word egter dikwels agter toe deure gedoen. Juis daarom is die openbare debat so belangrik. Deur openlik te gesels oor die moontlikhede van herinterpretasies van die goddelike, skep dit dieselfde effek as om 'n kers in 'n donker kamer aan te steek. Alhoewel die weerstand sterk is, is daar tog 'n beweging in die rigting van die kers.

Ek het net weer besef – ons moet aanhou praat, aanhou skrywe en aanhou dink. Want Godsdienstige waarheid is voor 'n kruispad. Elke keer wat ons bereid is om te praat, help ons mense om self te begin dink – word ons 'n stem vir die stemloses!

Dr. Abel Pienaar is die Direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit en spirituele begeleier by Renaissance Gemeente in Pretoria en Kaapstad. Sy weeklikse skrywe kan gevolg word op http://blogs.litnet.co.za/abelpienaar

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za