Raakpunte tussen godsdiens en politiek en
debatvoering oor rasseverhoudinge

Deur Jaco Steyn op 1 Januarie 2012

Gedurende die heerskappy van Keiser Konstantyn is die Geloofsbelydenis van Nicéa deur Rooms-Katolieke biskoppe geformuleer. 'n Latere georganiseerde Christendom bestaande uit hoofsaaklik Rooms-Katolieke en Protestantse denominasies, was gebaseer op drie ekumeniese belydenisskrifte waarvan die Geloofsbelydenis van Nicéa deel was. Die vroeë georganiseerde Rooms-Katolieke Kerk was 'n handige bondgenoot van die keiser, wat heel waarskynlik self nie 'n Christen was nie. Die feit dat Kerk en Staat nader aan mekaar begin beweeg het, het die keiser gehelp met sy pogings om eenheid in sy keiserryk te bewerkstellig. Gedurende die Protestantse Hervorming was daar Europese prinse wat met die Protestantse beweging saamgewerk het ten einde ontslae te raak van die Pouslike heerskappy. In die Nuwe Suid-Afrika is daar sekere belangegroepe soos o.a. die Afrikanerbond wat hul invloed binne veral die Afrikaanse kerke laat geld ten einde kerklike standpunte en besluite in 'n sekere rigting te kanaliseer. In plaas daarvan dat kerkleiers en predikante hul lidmate inlig oor die nuutste Bybelwetenskaplike navorsing oor o.a. die menslike in plaas van Goddelike oorsprong van die Bybel, word lidmate deur baie van hulle geïndoktrineer sodat die lidmate die heersende regeringsbeleid makliker kan aanvaar.

Baie mense wat begin twyfel oor die geldigheid van kerklike belydenisse en dogmas en wat selfs ophou om kerkdienste by te woon, bestudeer soms boeke wat handel oor die beweerde fisiese opstanding van Jesus en die nie-letterlike verstaan van die Bybel – boeke wat deur veral "liberale" Christene soos Biskop John Shelby Spong en prof. Sakkie Spangenberg geskryf is. Die sogenaamde afvalliges beskik dan gewoonlik oor die nodige kennis aangaande die feit dat die Bybel deur mense geskryf is en dat dit nié Goddelik-geïnspireerd is nie. Ongelukkig het die meeste van hulle nié die nodige belangstelling om die verband tussen politieke besluite en godsdienstige idees te ondersoek nie. Die meeste mense word deur eienaars van die hoofstroommedia geïndoktrineer om sekere politieke standpunte te ondersteun en sekere lewenswaardes te aanvaar, en selfs sogenaamde "liberale" Christene en "vrydenkers" is slagoffers hiervan. Dit veroorsaak dat hulle nie nugter en helder dink om 'n duideliker perspektief te kry oor maniere waarop godsdienstige idees deur politici misbruik word ten einde sekere doelwitte te bereik nie. Hulle reageer dus dikwels emosioneel en irrasioneel wanneer méér ingeligte mense poog om politieke realiteite op 'n objektiewe en nugter wyse aan hulle te verduidelik. Terwyl die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN) baie insiggewende feite aan mense beskikbaar stel betreffende teologie, die Bybelwetenskappe, sielkunde en die verband tussen godsdiens en die wetenskap, fokus die NHN ongelukkig nie genoeg op die beskikbaar stel van inligting i.v.m. maniere waarop kerkleiers se besluite oorvleuel met die besluite van politici nie.

Ek het ernstig begin twyfel aan die sinvolheid van verdere debatvoering, veral nadat ek 'n verslag geskryf het oor die onlangse besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Ek het hierdie verslag op Dan Roodt se PRAAG-webblad geplaas en interessante kommentaar daar gekry waarmee ek nie noodwendig saamgestem het nie. Sekere van die besluite van die grootste Afrikaanse kerk se algemene sinode, was goeie voorbeelde van die manier waarop godsdiens en politiek met mekaar oorvleuel; asook van die maniere waarop kerkleiers voorgee dat hulle besluite neem wat op die Bybel gebaseer is, terwyl een of ander politieke agenda eintlik daardeur bevorder word.

Elke groot Suid-Afrikaanse politieke of godsdienstige organisasie het een of ander verspotte standpunt oor rasseverhoudinge – die ANC blameer nog steeds hoofsaaklik apartheid en die blanke middelklas vir alles wat skeefloop, terwyl sommige kerkleiers blykbaar glo dat die verskaffing van voedsel aan onwettige plakkers 'n wesenlike bydrae kan lewer tot die oplossing van die land se probleme! In teenstelling met die NHN het hierdie organisasies egter derduisende ondersteuners, juis omdat hulle ten minste 'n standpunt het oor rasseverhoudinge. Omdat baie NHN-lede en ondersteuners meestal huiwerig is om die verhoudinge tussen die verskillende bevolkingsgroepe deeglik aan te spreek en te ondersoek, is dit te betwyfel of die NHN op die ou end 'n dinamiese organisasie sal word met derduisende aanhangers.

Ek het die afgelope 3 jaar die hoop gekoester dat die NHN veral die "twyfelende" kerklidmate sou kon inlig oor die verband tussen nie slegs godsdiens en die wetenskap nie, maar ook die verband tussen godsdiens en die politiek. Ek het derhalwe gehoop dat die NHN 'n dinamiese beweging sal word wat "afvalliges" voldoende kan inlig oor die verband tussen hul daaglikse bekommernisse en godsdienstige idees, in plaas daarvan om hoofsaaklik te fokus op die "uitgediende" dogmas van die Afrikaanse kerke. Ek het sedertdien besef dat ongelukkig selfs die inligting in die boek wat ek besig is om te skryf en waarin ek hierdie verband meer volledig bespreek, deur min mense waardeer sal word.

Nie alle NHN'ers is huiwerig om hul menings in die openbaar uit te spreek oor maatskaplike aangeleenthede nie. Prof. Sakkie Spangenberg het as deel van sy kommentaar op die NHN-webblad, verwys na prof. Flip Smit se artikel 'n Menslike tsoenami? in Beeld. Veral insiggewend in daardie artikel is hierdie stelling van prof. Smit: "Maar dié immigrante [derdewêreldse immigrasie na Europese lande] bedreig die kultuur en identiteit van die inheemse bevolkings en word derhalwe toenemend politieke dinamiet." Dr. Abel Pienaar het kort na die verskyning van hierdie artikel, 'n interessante rubriek geskryf oor die kommerwekkende toename in bevolkingsgetalle regoor die wêreld. Sy artikel sluit op 'n manier aan by 'n plasing van my op Facebook i.v.m. kerkmense se hulpverlening aan plakkers. Wat my daarna oortuig het daarvan om nie verder aan debatte deel te neem nie, was die onaangename aanmerkings van veral "vrydenkers" n.a.v. daardie plasing van my. Hul aanmerkings was 'n duidelike simptoom van die gevolge van jarelange indoktrinasie deur regeringsgesinde media in verband met rasseverhoudinge. Ek het ook na die lees van die aanmerkings besef dat sinvolle gesprekvoering aangaande rasseverhoudinge, tussen baie Suid-Afrikaners bykans onmoontlik is. Behalwe vir die feit dat rasseverhoudinge die mees ernstige kwessie in Suid-Afrika is, selfs meer ernstig as godsdienstige verskille, is dit vir baie mense 'n emosionele en sensitiewe saak en weier hulle gevolglik om rustig en rasioneel daaroor te besin. Ek het toe besef dat veral die meeste Suid-Afrikaners tot so 'n mate geïndoktrineer is deur die hoofstroommedia, dat dit bykans onmoontlik is om 'n redelike en objektiewe gesprek met hulle te voer oor rasseverhoudinge. Ek het gevolglik besluit om nie weer aan soortgelyke onsinnige debatte deel te neem nie.

Die verskaffing van voedsel aan (dikwels onwettige) plakkers is 'n goeie voorbeeld van godsdienstige mense wat skade aanrig aan die samelewing deur hul kortsigtige goeie bedoelings en oënskynlike goeie dade. Die instroming van plakkers waaronder baie onwettige immigrante is, is 'n bron van groot kommer vir baie Suid-Afrikaners. Die ANC regering verwelkom blykbaar hierdie toedrag van sake omdat die verdere toename in swart bevolkingsgetalle gepaardgaan met die verdere marginalisering en ontmagtiging van die blanke bevolking. Die gepaardgaande toename in misdaad a.g.v. die toename in plakkery en werkloosheid, kan in die toekoms as 'n rede gebruik word vir die instelling van drakoniese wetgewing en die daarstel van 'n moontlike toekomstige eenpartydiktatuur of polisiestaat. Tradisionele kulturele waardes word vervang deur die waardes van immigrante wat ook dikwels ander godsdienstige waardes insluit. 'n Goeie voorbeeld is die instroming van Moslem-immigrante na veral Wes-Europese lande. Die tradisionele "liberale" westerse waardes word toenemend vervang met die waardes van Islam. Sekere maatskappye verwelkom hierdie tendens, omdat hulle sodoende meer gerieflik kan gebruikmaak van goedkoper derdewêreldse arbeid. Die langtermyn nadelige gevolge sal egter uiteindelik die korttermyn voordele oorweldig.

Ek het die afgelope ongeveer drie jaar deelgeneem aan verskeie debatte met beide Christen-fundamentaliste en ateïste. Ek het soms baie geleer uit hierdie debatte en ek was soms gefrustreerd. Ek het dikwels besef dat mense persoonlike beledigings maak wanneer hulle die argumente begin verloor. Ek het ook a.g.v. die debatte besef dat daar wél onoorbrugbare verskille is tussen hoofsaaklik drie lewensbeskouinge – godsdienstige fundamentalisme, materialistiese ateïsme en my eie idees oor spiritualiteit. Voorstanders van hierdie onderskeie lewensbeskouinge kan met mekaar gesprek voer tot by 'n punt waar verdere debattering hoegenaamd geen sin maak nie en waar dit dikwels ontaard in persoonlike beledigings. Verskille op godsdienstige en politieke terreine kan selfs tot geweld lei, waarvan daar baie voorbeelde is vanuit die geskiedenis. Ek het besluit om voortaan te fokus op die skryf van my boek waarin ek meer breedvoerig sal verduidelik in watter opsigte daar onoorbrugbare verskille is tussen die bogenoemde drie lewensbeskouinge en watter oorvleuelings daar is tussen godsdiens, spiritualiteit, die politiek en die wetenskap. Omdat ek so 'n wye verskeidenheid van onderwerpe in die boek bespreek, sal dit ook meer doeltreffend wees om my idees in boekvorm aan mense oor te dra, in plaas daarvan om deel te neem aan debatte waarin mense om die beurt gedagtes wissel wat gewoonlik nie langer as 'n paragraaf is nie. Daar is 'n duidelike verband tussen rasseverhoudinge, godsdiens (is apartheid 'n sonde?), die wetenskap (is daar belangrike oorerflike genetiese verskille tussen mense?), en natuurlik die politiek. 'n Meer objektiewe bespreking van rasseverhoudinge in my boek sluit daarom goed aan by een van die sentrale temas daarvan. Ek sal ook veral fokus op die Afrikaanse kerke se hantering van rasseverhoudinge die afgelope dekades.

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za