Godsdiens in Skole – ‘n tameletjie soos min

Deur Rothea Kleynhans op 1 Maart 2010

Die lont in die kruitvat was 'n beplande Jesusweek in 2008. 'n Pa van drie voorskoolse kinders het viervoet vasgeskop.

Mnr. Hans Pietersen van Stellenbosch het hom op die Nasionale Religiebeleid op Onderwys (Wet op Nasionale Onderwysbeleid nr. 27 van 1996) wat in 2003 gepromulgeer is, beroep. Hierin word onder meer gesê geen voorkeur mag aan 'n spesifieke godsdiensoortuiging in openbare skole gegee word nie.

'n Uitgebreide briefwisseling het tussen hom en die skool en die beheerliggaam gevolg.

'n Jaar later het Pietersen besluit die skool implementeer steeds nie die beleid na sy sin nie. Hy het hom na die media gewend. Op 20 September verlede jaar stel hy en nog twee pa's hul standpunte in Rapport se Weekliks.

Op die voorblad van dieselfde uitgawe van die koerant kondig prof. George Claassen, voorsitter van Skepties Suid-Afrika, aan dat skole wat wederregtelik godsdiens in klastyd beoefen, verkla gaan word. Hy is ook dosent in wetenskap- en tegnologiejoernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch en president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Wetenskapjoernaliste.

Toe is die gort gaar. Vir twee maande lank het die land oor "godsdiens in skole" gegons. Pietersen het 'n webtuiste, www.hulle.co.za begin. Hy het ook die Afrikaanse Vrydenkersbeweging (AVB) gestig. Hieruit het die Vrydenker's Blog gevloei.

Die hare het op hierdie en talle ander kletswerwe begin waai. Standpunte het gewissel: sommiges was dit eens dat godsdiens-inskerping die taak van ouers en die kerk is en glad nie in skole tuishoort nie; vir ander was dit ondenkbaar dat daar nie in die klas uit die Bybel gelees en gebid kan word nie. Argumente deur albei groepe het dikwels verval in 'n moddergooiery, dreigemente, kru taal en onsmaaklikhede.

'n Stortvloed van mediadekking het gevolg: koerante, radio en TV. Koerantlesers het in die briewekolomme vuur gespuug. Intussen het Claassen reeds vroeg in die stryd verklaar sy opponente se uitsprake is "onaanvaarbaar, beledigend en lasterlik". Hy het hom aan die aksie onttrek. Dr. James Kirkpatrick, voorsitter van die NG Kerk se algemene sinode se taakgroep vir leer en aktuele sake (Atlas) het tydens 'n radioprogram op RSG amptelik vir Claassen om verskoning gevra dat hy soveel haat en hoon van sommige Christene moes verduur.

Die AVB het dreigemente ontvang van mense wat skryf hul "dae is getel" en "as die kragte losbars, sal julle dit berou", maar Pietersen het gesê hulle "skrik" nie. In Oktober het hy aan die media gesê hoewel hy die kwessie vreedsaam gaan probeer besleg, is daar "nou soveel verskillende vertolkings van die wet dat 'n hof dalk uiteindelik hieroor sal moet beslis."

In hierdie stadium het dit gelyk of 'n toetssaak 'n voldonge feit is. Die Afrikaanse Vrydenkersbeweging (AVB) het regs-argumente op hul webtuiste gepubliseer wat hulle wou gebruik in hul beoogde hofsaak teen skole wat godsdiens in klastyd beoefen en wat openlik adverteer dat hulle 'n Christelike etos voorstaan.

Jessie Bester, 'n matriekleerling en CSV-voorsitter aan die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp het oornag 'n landwye gebedsveldtog gereël. Hy het mense van die VSA, Ierland, die Midde-Ooste en oor die hele Suid-Afrika gemobiliseer om vir die behoud van godsdiens in skole te bid. Hy het ook 'n Facebook-groep genaamd Christenskap sal Vrylik in Skole Aanbly, Come Hell or High Water!! gestig.

'n Mate van eenstemmigheid is met verloop van tyd bereik dat 'n vorm van godsdiensbeoefening in openbare skole toelaatbaar is.

Pietersen het intussen een oggend onaangekondig by 'n skool, die Hoërskool Diversity in die suide van Johannesburg, opgedaag om 'n onderwyser oor godsdiensbeoefening te konfronteer. Mnr. S.P. Grové van dié skool het op 'n internet-forum verklaar "geen vak kan sonder die Bybel gegee word nie." Hy het Pietersen, asook Claassen uitgedaag om in sy klas met hom te kom gesels. Pietersen het hom nie twee maal laat nooi nie. Toe blyk dit egter dat Hoërskool Diversity moeite doen om kinders met verskillende godsdienstige oortuigings te akkommodeer.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) het heftig op Pietersen se onaangekondigde besoek gereageer. In 'n lang lys wenke het hulle riglyne neergelê oor hoe skole "lastige besoekers en molesmakers" van hul deure kan weghou. Die SAOU het beklemtoon hulle sal "ondubbelsinnig veg" vir die eerbiediging van skole se reg om godsdiens te beoefen. In 'n omsendbrief adviseer die SAOU skole om die polisie in te roep indien mense wederregtelik toegang tot skole probeer verkry.

Pietersen se reaksie hierop was: "Dit dryf die debat nou vanuit die openbare sfeer na die regsfeer toe. As ons skole dus voortaan wil nader, sal ons dit deur ons prokureurs moet doen."

En dít was na my wete, die laaste van die "godsdiens in skole" beriggewing in die pers. Sedert die einde van Oktober het die wind gaan lê.

Kundiges se mening

Prof. Kobus Krüger, wat betrokke was by die opstelling van die Nasionale Religiebeleid op Onderwys, het verlede jaar gesê 'n span kundiges het wyd met verskeie belanghebbendes gekonsulteer alvorens die beleid finaal goedgekeur is. Die hart van die beleid is "verdraagsaamheid". "Dit is hoegenaamd nie die idee om met 'n knuppel rond te loop en die beleid op enige skool af te dwing nie."

"Die gevaar is dat 'n godsdiensgedrewe etos ook in ander vakke beslag kan vind," het prof. George Claassen tydens 'n onderhoud verlede jaar gesê. Claassen bied onder meer 'n kulturele geletterdheidskursus vir nagraadse studente by die Universiteit van Stellenbosch aan. Volgens hom is dit skokkend hoeveel studente met totale wanvoorstellings oor die wêreld en historiese werklikhede universiteit toe kom. Hy skryf hierdie onkunde onder meer toe aan onderwysers wat kennis van leerlinge weerhou of self te oningelig is om dit korrek oor te dra. "Indien 'n jongmens in vandag se wetenskaplik-gedrewe era 'n bydrae wil maak, kan hy hom nie deur uitgediende beskouings laat verblind nie."

Dr. Ben du Toit wat die Parlementêre Lessenaar van die NG Kerk behartig, het ook tydens 'n onderhoud verlede jaar hom oor hierdie saak uitgespreek. Hy meen dat sommiges hulself die reg wil toe-eien dat hul kinders 'n Christelike opvoeding op skool ontvang, terwyl ander hulself die reg wil toe-eien dat hul kinders nie keuseloos aan godsdienstige indoktrinasie blootgestel word nie. "Hier is 'n fyn balans en hope verdraagsaamheid in plaaslike gemeenskappe baie belangrik."

Die Grondwet

Artikel 15 bepaal dat elkeen die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening het. Godsdiensvryheid in Suid-Afrika beteken dus nie vryheid ván godsdiens nie, maar vryheid vír godsdiens. Die samelewing word nie van godsdiens gevrywaar nie, maar ruimte word vir mense geskep om hul oortuigings uit te leef.

Omdat daar onsekerheid is oor wat die reg op godsdiensvryheid presies behels, is 'n groepie belangstellendes onder leiding van prof. Pieter Coertzen van Stellenbosch besig om die inhoud van die reg in besonderhede in 'n Handves van Godsdiensregte en -Vryhede uiteen te sit. Hulle beplan om dit aan die regering voor te lê sodra voldoende konsensus daaroor onder alle godsdiensgemeenskappe bereik is.

Die Nasionale Religiebeleid op Onderwys

"The public school has the responsibility for teaching and learning about religion and religions ... it should do so in ways that are different from religious instruction and religious nurture provided by the home, family and religious community..."

Die wet maak onderskeid tussen: die onderrig van verskillende godsdienste (Religion Education); godsdiens-beoefening met sekere voorbehoude; godsdiens-inskerping, wat heeltemal taboe is.

In die praktyk mag daar tydens saalopening skriflesing en gebed plaasvind. Dit moet egter heeltemal vrywillig wees. Die verskillende godsdiensoortuigings moet 'n billike kans gegee word om ook aan sulke verrigtinge deel te neem.

Klastyd mag nie gebruik word om enige godsdienstige leerstellings oor te dra nie. Geen godsdienstige praktyke mag in 'n klas beoefen word nie.

Aanhalings uit koerante (September-Oktober 2009):

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za