.

Godsdiens in perspektief

Deur Prof. P. C. Pretorius op 1 Oktober 2015

.

Godsdiens het 'n ryke geskiedenis van uiteenlopende oortuigings wat oor die eeue vereenvoudig het van politeïsme na monoteïsme. Die belangrikste oorblywende monoteïstiese godsdienste is die Christendom, Judaïsme en die Islam. Hierdie "Godsdienste-van- Die-Boek" het die eerste vyf boeke van die Bybel in gemeen.

Die oorsprong van alle godsdienste was om onverklaarbare natuurverskynsels aan 'n bonatuurlike god toe te skryf en dié is aanbid met offergawes vir gunste en gawes. Die ritueel van "offergawes", in 'n afgewaterde vorm, bestaan steeds in alle godsdienste. Met die onkunde het ook die gode verdwyn, 'n deurlopende tendens wat steeds die oorblywende godsdienste betrek. Net die onverklaarbare "lewe na die DOOD" het oorgebly. Die variasies waarop hierdie faktor hanteer word, is verstommend.

JUDAÏSME is die oudste van die drie monoteïstiese godsdienste. Die Joodse geloof in God is nie 'n statiese dogma nie, maar die resultaat van 'n aktiewe geestelike ("spiritual") soeke oor 'n tydperk van 4000 jaar. Die Jood word aangemoedig om self te dink en alles te bevraagteken; niks word blindelings aanvaar nie, maar word ondersoek, analiseer en debatteer. Die vrae wat gevra is sluit in: Hoe is dit moontlik om in een, onbekende, onsigbare God te glo? Hoe het 'n bonatuurlike wese 'n teenwoordigheid in die alledaagse lewe? Hoe kan 'n moreel, goeie, doelgerigte wese soveel lyding en onregverdigheid toelaat? Daar is talle sienings en elk is 'n eerlike poging om God binne die konteks van Joodse tradisie te ontgin.

In Judaïsme is daar twee heilige mites oor God wat onderling verbind is. Die een: God is bonatuurlik; die ander: God is persoonlik en toeganklik. Die hele Joodse geloof bestaan uit kommentaar oor hierdie twee onderling verbonde heilige mites.

Van ewe belang is die Jood se siening oor die siel. Die beeld van God is in die mens, is die geestelike dimensie van menslike bestaan. Adam het nie gesondig en die val van die mensdom bewerkstellig nie. Elke mens word vry met 'n skoon lei ("slate") gebore. Omdat hy nie 'n sondaar is nie hoef hy nie gered te word nie. Teenstrydig met die Drie-enigheid van die Christendom bevat die drie-enigheid in die Joodse geloof geen liggaam nie en bestaan net uit die spirituele kombinasie van siel (nephesh), gees (ruah), lewensasem (neshamah, "breath of life"). Geen Jesus, die neshamah neem die siel na God.

Die ISLAM ("Onderwerping aan God") is die produk van die profeet Mohammed se openbaring in die sewende eeu n.C. Die Koran (letterlik die Voordraer ("Reciter")) boekstaaf direk die volmaakte opdragte vanaf God in die eerste persoon. Volgens Mohammed het God sy wil reeds aan die Jode en Christene openbaar, maar die Jode het die Geskrifte verontreinig en die Christene het Jesus as tussenganger aanbid in plaas van God direk.

Die vier verpligtings (pilare) vir die Moslem is geloof in God en sy Apostel, aanbidding, uitdeel van aalmoese (om jou rykdom te deel met die armes), vas, en indien moontlik, 'n besoek aan Mekka.

Bogenoemde is die "skoon gesig" van die Islam. In Graig Winn se omvangryke boek Prophet of Doom word die "ander kant" van die Islam, die wreedhede wat amper alledaags in ons nuus is, ontbloot. Met talle aanhalings uit die Koran self word die boodskap duidelik uitgespel: As jy nie 'n Islam-gelowige is nie, is jy teen die opdragte van Allah en dit is met die dood strafbaar. Klink dit bekend? Graig Winn wys ook uit dat Mohammed self korrup, moorddadig, immoreel en wreedaardig was.

Direk teenstrydig met die Judaïsme is hier 'n geloof waar geen vrae gevra word nie en die direkte opdragte "van Bo" blindelings uitgevoer word. Dit is jou heldedaad, om 'n ongelowige in die naam van Allah dood te gemaak waarvoor jy in die hemel vergoed sal word.

Die CHRISTELIKE geloof is aan meeste lesers bekend. Die kern is die vaste geloof dat Jesus Christus vir jou sonde aan die kruis gesterf het. Net dit. Die meriete van jou lewe maak geen verskil nie.

Al drie gelowe het baie in gemeen in terme van voorskrifte vir daaglikse interaksie met jou medemens. Dit gaan om die vier universeel-aanvaarde etiese standaarde van Onpartydigheid, Eerlikheid, Onderskeid tussen Goed en Kwaad te leef en Medemensbehoefte-sensitief te wees.

Die Tora, Koran en Bybel het baie voorskrifte in dié verband. Die lewe van Jesus is vir die Christen die perfekte rolmodel. Die Bergpredikasie van Matteus 5 som dit op. Veral verse 3-12 is treffend:

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is ...
Geseënd is dié wat treur ...
Geseënd is die sagmoediges ...
Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is ...
Geseënd is dié wat barmhartig is ...
Geseënd is dié wat rein van hart is ...
Geseënd is die vredemakers ...
Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is ...
Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg ...
Wees bly en verheug ...

In alles moet jy nederig, behulpsaam, eties en met integriteit die beste verhouding met jou medemens skep. Matteus 22:37-40 som dit so op: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede wat hiemee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."

Die liefde vir God soos in die eerste gebod voorgeskryf, vertolk ek as gehoorsaamheid aan sy vereistes vir 'n moreel-etiese lewe met Jesus as rolmodel. Die profetiese rede in Matteus 25: "die laaste oordeel" gaan uitsluitlik daaroor hoe die mens op die oordeelsdag verdeel word slegs volgens hul goeie dade aan hul medemens.

Dit moet daarom vreemd wees vir die objektiewe waarnemer dat, alhoewel groot dele van die Bybel gaan oor menslike verhoudings, geloof dat Jesus vir jou sonde gesterf het, die enigste norm vir redding van jou siel is.

'n Duidelike klad op die interaksie van die drie "Mense-van-die-Boek"-gelowe is die geskiedenis van bloeddige godsdiensoorloë.

Die netelige, dog omvangryke verskil in die drie "Mense-van-die-Boek"-godsdienste is die interpretasie oor die Hiernamaals. Wat gebeur na die Dood?

Alles berus op Geloof. Geloof bepaal jou verwysingsraamwerk.

Maar wat is geloof? Volgens Hebreërs 11:1: "Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Dit is ook die basiese verskil tussen Wetenskap en Godsdiens oor die kernbegrip van Menswees.

In die moderne wêreld van wetenskap en tegnologie soek die onafhanklik goed opgeleide, denkende individu na bewyse van enige stelling. "Science is certain of nothing and requires proof of everything." Vir die teenpool geld: "Faith is certain of everything and requires proof of nothing." Daar is min gemene grond!

Geloof was vir eeue die enigste "waarheid". Toe die wetenskap egter sekere stellings in die Bybel as twyfelagtig bewys, het die polemiek begin. Die uitdaging is om hierdie verskille vreedsaam en oortuigend te oorbrug.

Objektief beskou val alle gelowe in dieselfde kategorie. Daar is 'n voorskrif en 'n beloning of 'n straf.

Godsdienste is hoofsaaklik kultuurgebonde en jy kry dit in met moedersmelk.

My "objektiewe" waarneming, in die konteks van die wetenskaplik bewese evolusionêre proses met die gepaardgaande oneindigheid van tyd as basis, lei tot die volgende afleidings:

1. Godsdiens speel steeds 'n belangrike dog oorganklike rol om kultuurgroepe en gemeenskappe te orden vir eties-morele standaarde.

2. Daar is egter fundamentele verskille in godsdiens-ideologieë en radikale elemente buit dit uit vir konflikinisiëring. Die huidige gruweldade van die Islamitiese ekstremiste is sprekende voorbeelde. Daar is tog net een Skepper-God! Die verskille in benadering om Hom te bevredig terwille van 'n "Ewige Lewe" is die kommerwekkende realiteit.

3. Die drie monoteïstiese godsdienste bestaan elk uit twee ooreenstemmende fundamentele pakkette – die een met betrekking tot die mens se interpersoonlike daaglikse aardse bestaan; die ander een oor die vereistes vir 'n ewige lewe. Oor die eerste deel is daar bykans 100% konsensus. Die tweede deel is problematies. Dit skep al die verdeeldheid. Die mens se huidige evolusionêre volwassenheid rus hom toe om sonder geloof in die hiernamaals te kan klaarkom.

Nie een van die godsdienste het enige bewys dat hul geloofsoortuiging waar is nie maar elk is oortuig die ander twee is verkeerd. Alles berus op ideologie en profesie. Graig Winn se blootlegging van die Islam wys waartoe blindelingse geloof in staat is. 'n Ander term daarvoor is breinspoeling.

Al drie godsdienste strek oor meer as 1000 jaar en het ryke nalatenskappe. Maar ten spyte van alles gly godsdiensgeloof op dun ys wat geleidelik al dunner word.

Deur uitsluitlik op die eerste deel van konsensus te konsentreer kan die wêreld se talente ten volle benut en geïntegreer word. Dit gebeur alreeds geruime tyd met die sg. "Global Village" in 'n wêreld wat toenemend sekulêr word. Die gevolge is dat kerkbywoning al swakker word, gemeentebydraes daal, uitgawes oorskry inkomste en gemeentes moet saamsmelt of verdwyn. Dit is reeds 'n bekende gebeurtenis.

4. Die geskiedenis is besaai met onskuldige mense wat voortydig, onnatuurlik en gewelddadig sterf, verwond of onherstelbaar emosioneel geknak is. Oorlog en misdaad is die primêre skuldige wat net gaan aanhou en toeneem in intensiteit. Die oënskynlike onversoenbaarheid van die almagtig-liefdevol-regverdige God met die Goed en die Kwaad van die lewe spruit hieruit. Dit is egter versoenbaar en 'n feit wat onomkeerbaar deel is van die Skepper-God se (vir ons steeds onbekende) einddoel met die Mens.

Hoe is hierdie God-Goed-Kwaad-interaksie dan versoenbaar? In die lig daarvan dat die mens nie by magte is om die lewe-na-die-dood te verklaar nie en alles gerieflikerwys aan geloof oorlaat, word die volgende afleidings gemaak in die konteks van die hele evolusionêre proses, waarvan die mens pas deel geword het.

4.1 Die fisiese deel van elke mens is verganklik. Dit is nie die geval met die mens se gees, sy psige, nie. Alle godsdienste bely dit in een of ander vorm. In die Bybel is Paulus se uitsprake in 1 Korintiërs 15: 35-58 insiggewend.

My afleiding is dat hierdie Skepper-God die totaliteit van die ganse heelal vooraf "ontwerp" het en met die Oerknal net die "knoppie gedruk" het om hierdie oneindigheid van ruimte en tyd te begin. Hy het hom toe onttrek sodat Evolusie deur die Fisika en Chemie van sy skepping die Heelal vorm en voortdurend verander. Alles gebeur presies volgens hierdie plan wat doelbewus al die swaarkry en terugslae van die lewe insluit. Die mens het pas sy verskyning gemaak en sowat 4,5 biljoen jaar se evolusietyd lê nog voor totdat ons sonnestelsel transformeer en onbewoonbaar word. Die heelal is egter ewigdurend en die mens sal deel daarvan bly volgens die ontwerp van die Skepper-God.

Sy bestuurstrategie bestaan daaruit om die Kwaad te gebruik om die Goed voortdurend positief te motiveer om met tegnologiese deurbrake hierdie onbekende einddoel te bereik. Vir elkeen van ons wat onbewus en ongevraagd iewers beland (gebore word), is dit 'n geval om ons verpligting nou en soos vereis, uit te voer. Hierdie bydrae kan die Goed of die Kwaad wees. Ons het geen keuse as om hierdie mikroskopiese bydrae te maak nie.

4.2 Die psigiese komponent is ewigdurend, kom uit een Goddelike bron en elke nuwe lewe word uit hierdie bron met die vereiste deel vir daardie lewe toegerus.

4.3 Met tyd sal die totale mensdom bestaan uit een volk met een taal, kultuur, godsdiens en met 'n gemeenskaplike doelwit. Kolonialisasie van die heelal is die volgende stap. Ook dit vind alreeds plaas.

Opsommend dus

Elke mens word sonder keuse gebore in 'n kultuurgroep waarin hy sy bydrae moet maak, synde vir die Goed of die Kwaad. Met elk van sy herverskynings het die tegnologie die verskille in kulture net verder geïntegreer op pad na die ideale eindtoestand.

Hierdie toekomsmens word al hoe meer kundig en sy bydrae wyer en dieper. Hy het lankal die beperking en beklemming van die ewige-lewe-na-die-dood-sindroom oorbrug.

In die verlede, wanneer daar na godsdiens verwys is as "the pie in the sky when I die," het ek my nogal vervies. Nou wonder ek.

Prof. Piet Pretorius kan gekontak word by:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.