.

God se Woord verander nie. Of hoe?

Deur Ralph Barnard op 1 September 2019

.

(Soos gepubliseer op LitNet Akademies.)

Die aarde is nie plat nie en staan ook nie op pilare nie. En die son draai nie om die aarde nie, maar andersom. Al sê die Bybel iets anders. En die meeste Christene het nie probleme daarmee nie. Is dit omdat hulle die talle tekste daaroor misgelees het deur die jare? Of is dit omdat Galilei en Kopernikus se destydse "ketterse" standpunte die toets van die eeue deurstaan het?

Baie Christene het probleme met die NGK se onlangse besluit dat dit nie sondig is as gay mense in liefdevolle verbintenisse saamleef nie. "God se Woord verander nie," voel hulle. En wat geskryf staan, staan onverbiddelik vas. Hoe kan die kerk nou aanvoer dat wat voorheen verkeerd was, nou skielik reg is? Is dit die Zeitgeist (tydsgees), soos die NGK Vredelust aanvoer, wat hiertoe gelei het?

Dit is beslis nie 'n onbillike vraag nie. Die meeste van ons het die Bybel vir dekades gelees in die gees van Billy Graham se standpunt: "God said it. I believe it. And that settles it."

Is dit werklik so eenvoudig? Soms praat die Bybelskrywers nie uit een mond oor sake nie. Wat dán? Het God meer as een standpunt oor 'n saak? Of is dit die skrywers wat verskillende perspektiewe oor sekere sake het?

Neem nou maar 'n enkele voorbeeld, soos die uitsprake oor ontmandes. Daaroor is daar sterk uitsprake in Levitikus en Deuteronomium:

Dit is glashelder: ontmandes of iemand met beskadigde geslagsdele is nie welkom in die gemeente nie. "God said it. I believe it. And that settles it"? Nee, sê Jesaja 56:3–7, hierdie wette is 'n probleem in ons huidige situasie:

"'n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. 'n Ontmande (sarim) moenie van homself dink: ek is maar 'n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes (sarim) wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure 'n teken gee, 'n erenaam wat beter is as seuns en dogters..." (Jes 56:3–7)

Hoe nou gemaak? Die ouer wette bepaal dat ontmandes nie mag deel wees van die gemeente nie. Maar Jesaja 56 gee vir hulle 'n erenaam in die tempel met 'n "So sê die HERE"? Praat God nou anders?

Ontmandes se plek in die destydse beskawings: geminag én gebruik

In antieke tye was manlike geslagsdele 'n saak van baie groot belang. Mans het al die strukture van die samelewing oorheers: die politiek, regstelsel, ekonomie, godsdiens en die gesin. 'n Vrou kon nie eers as wettige getuie geroep word in 'n regsaak nie. 'n Ongetroude vrou was nog haar pa se eiendom. 'n Man se vroue, kinders en slawe was deel van sy besittings. Daarmee kon hy doen wat hy wou binne die raamwerk van die etiese gedragskodes van sy groep. Die vrou se taak was om kinders in die wêreld te bring, die huishouding goed te laat verloop en 'n goeie minnares vir haar man te wees. Die spelreëls was duidelik en eenvoudig.

Manlikheid was die draer van waardigheid. En gesonde manlike geslagsdele het jou manwees bepaal. 'n Man met ereksieprobleme of een wat nie in staat was tot voortplanting nie, was nie 'n ware man nie. Sy identiteit was geskend. Hy was 'n vrou in 'n manlike liggaam. Trouens, hy was minder as 'n vrou. 'n Vrou kon immers nog kinders baar. Ontmandes was suurstofdiewe – goed vir niks.

In die destydse Mediterreense wêreld is ontmandes as 'n soort derde-"geslag"-mens beskou.1 Beskrewe potskerwe wat in Egipte ontdek is (2000–1800 vC) dui drie genders van menswees aan: mans, vroue en ontmandes.2 Op die albaster-Warka-vaas (18de eeu vC) word 'n Sumeriese skeppingsmite geëggo: Moeder Aarde het 'n liggaam gemaak sonder manlike of vroulike organe om in diens van die koning te staan.3

Vanaf die 12de eeu vC word eunugs gereeld in Assiriese paleisdekrete as paleisbeamptes vermeld. Vanaf die 8ste eeu vC was hulle deel van die keiserlike lyfwag, veggeneraals en regeerders van verskeie provinsies van die Assiriese Ryk. Sanherib het sy hoofeunug of rab'saris gestuur om die keiserlike belasting by koning Hiskia van Juda af te pers – sonder sukses (2 Kon 18:17–19:37). Later het die Babiloniese heerser Nebukadnesar 'n weermag teen koning Sedekia van Juda uitgestuur. Hulle het Jerusalem eers beleër en daarna beset met Sarsegim, die rab'saris, as een van die hooffigure (Jer 39:1–3). Aan die einde van die 6de eeu vC was dit die hoofeunug Aspenas se taak om die room van Juda se jeug te versamel om in die Babiloniese paleis diens te doen (Dan 1:3–4). Die woord sarim word op baie plekke in die Afrikaanse Bybelvertalings met hofdienaar vertaal. Ontmandes is dikwels aangestel as paleisbeamptes vanuit die oortuiging dat mans sonder vroue en kinders meer betroubaar was in staatsake.

Koningin Isebel se Baälpriesters was ontmandes (2 Kon 23:7). Hulle het as priesters opgetree in Salomo se tempel en ook as tempelprostitute buite die tempel vir Baäl se minnares, Astarte. Hierdie ontmandes was 'n steen des aanstoots vir die Israeliete. Dit was waarskynlik gedagtig aan dié deel van Israel se geskiedenis dat die verbiedinge in Deuteronomium 23:1 en Levitikus 21:30 op skrif gestel is. In dié lig verstaan 'n mens ook die verbod op seks met ander mans in Levitikus 18:22 beter.

Drie soorte ontmandes

Daar was drie soorte ontmandes. Party is vóór puberteit ontman. Gevolglik kon hulle nie 'n ereksie verkry of semen produseer nie. Hulle was sigbaar kleiner en swakker gebou as ander mans.4 Hulle stemme het ook nie gebreek nie. Geen wonder hulle is in Griekse geskrifte beskryf met die term malakos – "sag, verwyfd"5 – nie. "Normale" mans het op hulle neergesien omdat hulle seksuele aktiwiteite beperk was tot anale en orale seks.

'n Ander groep is ná adolessensie ontman. Hulle kon seksueel normaal funksioneer, behalwe dat hulle nie kinders kon verwek nie. Dié groep kon moeilik op die oog af van "normale" mans onderskei word. In party gevalle het hulle dit vrywillig om godsdienstige oorwegings laat doen, soos in baie antieke godsdienste die gebruik was (nie by Israel nie). Veral hierdie groep is as "gevaarlik" beskou, omdat hulle nog tot penetrasie in staat was. Adellike vroue wat nie hul liggaamlike voorkoms wou laat skend deur moederskap nie, het hulle dikwels as minnaars verkies. Die meeste dogters se vaders sou nie hul dogters uitgee in 'n huwelik met 'n "halwe man" nie. Daarom het dié mans hoofsaaklik homoseksuele verhoudings aangeknoop.

'n Derde groep is as volwassenes teen hulle sin ontman. Dit was dikwels die geval met manlike slawe: hulle eienaars wou seker maak dat hulle wéét wie is baas. Ná 'n oorlog het sommige oorwinnaars die elite van die vorige bedeling ontman om te verhoed dat hulle 'n nageslag van moontlike troonopvolgers voortplant.

Jesaja 56: "Ignoreer die wette oor ontmandes!"

In Jesaja 56:3–4 verwys sarim duidelik na ontmandes, oftewel eunugs. Sarim is 'n samestelling van die Hebreeuse sem ("opvolger") en jikkaret ("vernietig") wat in Deuteronomium 23:1 na kastrasie verwys. Sarim kom ook dikwels voor in die boek Ester (1:10, 12, 15; 2:3, 14-15, 21; 4:4-5; 6:2, 14; 7:9), waar dit in die nuwe proefvertaling van die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap met eunug vertaal word.

Die Joodse rabbi's het gedurende die Tweede Tempeltydperk (515 vC – 70 nC) na mans wat geen seksuele aantrekkingskrag vir vroue gehad het nie, verwys as sarim – ontmandes/eunugs. Die Talmud het onderskei tussen twee soorte eunugs: mensgemaakte eunugs (saris adam) en natuurlike eunugs (saris chammah), letterlik vertaal: "eunugs van die son." Die betekenis van laasgenoemde is dat hulle so was sedert die son die eerste keer op hulle geskyn het – vanaf hul geboorte. Hierdie laaste groep sou ons vandag moontlik as "homoseksueel" kon beskryf.

Die teks in Jesaja 56 kom uit die tyd nadat die eerste groep Jode uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer het (538 vC). In hierdie tyd was daar 'n nuwe soeke na Israel se identiteit: Wie kan nou werklik as Israeliete gereken word en wie nie? Party Jode het gesê jy moet Joodse bloed in jou are hê. Ander het gesê as jy die God van Israel – Jahwe – as die enigste God aanvaar, is jy deel van die geloofsvolk. Sommige het 'n tussenposisie ingeneem: jy hoef nie Joodse bloed in jou are te hê nie, maar jy moet aan al die wette van Moses voldoen.

Jesaja 56:3–7 sê: Nee mense, nou word ons weer so eng soos ons voorvaders. As iemand uit 'n ander volk by die volk van die Here aangesluit het en die sabbat saam met ons onderhou, is hy een van ons. Dan kan hy saam met ons aanbid (Jes 56:3). Selfs sarim – ontmandes – wat vroeër uitgesluit is, is welkom (Jes 56:3). Trouens, sulke mense sal 'n ereplek hê in ons nuwe identiteit as volk van God (56:4-5): hulle sal simbole wees daarvan dat God ons 'n nuwe volk gemaak het.

Van waar kom Jesaja 56 se pleidooi ten gunste van herbesinning oor die ontmandes?

Die enigste ander plek waar "eunugs" of "ontmandes" (sarim) in die Jesajaboek gebruik word, help ons met hierdie vraag – Jesaja 39:7:

En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel. (1953-vertaling)

Die twee amptelike Afrikaanse Bybelvertalings gee die Hebreeus nie so duidelik weer soos die New Revised Standard Version nie:

Some of your own sons who are born to you shall be taken away; they shall be eunuchs in the palace of the king of Babylon. (NRSV)

Jesaja 39 is die afsluiting van die profeet Jesaja se prediking. En dit vind plaas net voor Juda-Israel in Babiloniese ballingskap weggevoer word. Die profeet waarsku dat die koningshuis se bloedlyn vernietig sou word deur die ontmanning van almal in daardie bloedlyn.6 'n Verskriklike gedagte vir die destydse Judeërs – hoewel koning Hiskia nonchalant daarop reageer.

Van Jesaja 40 tot 55 vind ons die prediking van Tweede-Jesaja. Derduisende Judeërs is reeds in ballingskap. Tweede-Jesaja troos hulle met die belofte dat Jahwe (die HERE) die ballingskap sal ophef soos 'n nuwe skepping wat sal plaasvind. Dit was geen valse troos nie. In 538 vC keer die eerste groep Jode terug na hulle land. Nog 'n paar groepe volg. Tweede-Jesaja se verwagtings is vervul. Maar nie ten volle nie. 'n Ideale geloofsgemeenskap kom nie tot stand nie. Sommige voel hulle word uitgesluit deur wette soos dié in Levitikus en Deuteronomium. Onder hulle is diegene uit die Judese koninklike bloedlyn wat as hofdienaars – "eunugs" – in die Babiloniese koningshuis opgetree het, soos Jesaja 39:7 gewaarsku het. Die ballingskap het hulle tot eunugs gemaak: hulle is ontman en nie in staat tot seksuele verhoudings met vroue nie. Derde-Jesaja (Jes 56–66) sê: As ons hierdie mense uitsluit van die geloofsvolk, heers Babilon effektief nog oor ons. Dan het die Babiloniërs hulle sin gekry om ons as geloofsvolk vir ewig te verdeel en te vernietig.

Die situasie is skreiend ironies. Die Goddelike belofte van 'n nuwe, bevryde Israel soos Tweede-Jesaja voorsien het, word geblokkeer deur ou wette waaraan die destydse priesters soos nete geklou het. Dit is 'n situasie van God se wet teenoor God se belofte!

Wat nou? So 'n radikale situasie vereis 'n radikale antwoord. En dit is presies die antwoord wat Jesaja 56 gee: die ou wette wat ontmandes uitsluit, moet omver gewerp word, want God se bevryding mag nie gekortwiek word deur 'n rigiede vaskleef aan wette nie.7

Dit is nie net Jesaja 56 wat meer positief oor ontmandes praat nie. Nog twee ander tekste ná die Babiloniese ballingskap is ter sake. In 1 Kronieke 28:1 word byna terloops daarna verwys dat koning Dawid ook "hofdienaars" (sarim) saam met ander leiers byeen geroep het om voorbrand te maak vir Salomo as sy opvolger. In die boek Ester speel die sarim 'n baie sterk rol en oorwegend 'n positiewe rol.

Sien, anders as in die ortodokse Christendom het die Jode geglo aan 'n voortgaande openbaring van God. Ons sien dit onder andere later in Jesus van Nasaret se uitsprake wanneer hy sê: "Julle het gehoor dat daar gesê is... Maar ek sê vir julle..." (Matt 5:27–28, 31–32, 33–34, 38–39, ens). Trouens, in hedendaagse Judaïsme word die rabbi's se uitlegte ook gesien as voortgaande openbaring. In veranderende tye – veral krisistye – hoor gelowiges God se woorde anders.

In Handelinge 8:26-40 verduidelik Filippus die evangelie aan 'n man van Etiopiese herkoms wat graag die Joodse geloof wou aanvaar. Maar die man het 'n probleem gehad: hy was 'n eunug. Volgens die Levitikustekste kon hy dus nie 'n volledige Jood word nie. Hy hoor egter iets bevrydend in Filippus se vertellings oor Jesus. Toe hulle naby water kom, toets hy die nuwe boodskap: "Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?" (Hand 8:36). Vers 38 vertel in eenvoud dat Filippus hom net daar gedoop het. Hy is ingelyf by die nuwe volk van God, die kerk. Die Levitikustekste het hom nie daarvan weerhou om opgeneem te word as volwaardige lid van die kerk nie.

Jesus van Nasaret se uitspraak oor eunugs (Matt 19:12) is ook allermins negatief. Die bestaande Afrikaanse vertalings gee die Griekse teks ongelukkig nie goed deur aan die leser nie:

Daar is mense wat nie kan trou nie omdat hulle van hulle geboorte af so is, ander is deur mense so gemaak, en ander het self so gekies ter wille van die koninkryk van die hemel. (Matt 19:12, 1983-vertaling)

'n Letterlike vertaling sou lees: "Want daar is eunugs wat van moederskoot so gebore is. En daar is eunugs wat tot eunugs gemaak is deur mense. Daar is ook eunugs wat hulself tot eunugs maak ter wille van die koninkryk van die hemele."8

Jesus se aanvaarding van eunugs is volledig. Dit pas in by sy verwerping van die destydse mangedomineerde samelewingstruktuur. Volgens die klassifikasies van die destydse Joodse sisteem was eunugs "onrein." In hierdie uitspraak oor eunugs ondermyn Jesus daardie siening radikaal. Dit is duidelik dat Jesus die eunug sien as 'n simbool van die nuwe bedeling – God se koninkryk.

En dit was 'n revolusionêre idee vir daardie tyd: die huwelik tussen 'n man en 'n vrou is nie die absolute norm nie. So ook nie 'n persoon se geslagsdele of seksuele gedrag nie. Om te kies vir die koninkryk van God – om selfs te kies om sonder 'n seksuele verhouding daarvoor te leef – dit is die hoogste norm.9 Hierdie keusestandpunt van Jesus moet moontlik gelees word teen die agtergrond van ouers wat seuns ontman het met die hoop dat hulle seuns in die keiserlike hofhouding opgeneem sou word. In hierdie sin gelees, is Jesus se uitspraak propaganda teen die destydse Romeinse oorheersing: Wees 'n eunug vir God – nie vir die Romeinse owerhede nie!

Gevolgtrekking

Levitikus 21:18–20 en Deuteronomium 23:1 slaan die kerklike deure toe vir eunugs. Daarteenoor is Jesaja 56:3–6 'n profetiese pleitrede dat die deure vir eunugs oopgegooi moet word. 1 Kronieke 28:1 sinspeel op ruimte vir eunugs terwyl die boek Ester die eunugs hoofsaaklik in 'n goeie lig stel. Jesus se uitspraak in Matteus 19:11 is 'n totale aanvaarding van eunugs, en so ook Filippus se doop van die Etiopiese eunug in Handelinge 8:26–40.

Dit is dus "Bybels" dat die kerk se siening oor sake verander. In die geval van die NGK se sinodebesluit oor gays het die kerk erns gemaak met die nuwere kennis uit die sielkunde en psigiatrie. Hierdie wetenskappe het ons geleer dat gaywees 'n normale seksuele variant is en nie 'n geestesafwyking nie. 'n Eerliker lees van die sewe sogenaamde antigay tekste het waarskynlik nog 'n sterker rol gespeel. Twee daarvan het al in die middel van die vorige eeu in die hek geduik, naamlik Genesis 19 en Rigters 19. Dié verhale gaan oor die beplande verkragting van vreemdelinge en dus oor vreemdelingehaat. By die oorblywende vyf tekste gaan dit nie oor dit wat ons vandag ken as homoseksuele oriëntasie nie. Bowendien, hoe kan ons toelaat dat vyf tekste in die pad staan van die Jesusboodskap dat álmal by God welkom is – ook die eunugs/ontmandes (Matt 19:12)?

In nuwe tye kan ons nie ou antwoorde verafgod nie. Dit was die boodskap van Jesaja 56 en die toepassing daarvan in Handelinge 8. "God said it. I believe it. And that settles it" is 'n ontkenning van die talle verskillende standpunte oor verskeie sake binne die Bybel. Van daardie verskille moet ons kennis neem en nederig nadink as ons enigsins nog vir God 'n stem in die 21ste eeu wil gee.

Eindnotas

1.  Hester, David. 2005. Eunuchs and the Postgender Jesus: Matthew 19:12 and Transgressive Sexualities. Journal for the Study of the New Testament 28/1, 13–40.

2.  Sethe, Kurt. 1926. Die Aechtung feindlicher Fürsten, Völker und Dinge auf altägyptischen Tongefäßscherben des mittleren Reiches. In Abhandlungen der Preussischen Akademie der Wissenschaften, Philosophisch-Historische Klasse (1926:61).

3.  Betzig, Laura. 2014. Eusociality in History. Human Nature, 25:80–99. http://laurabetzig.org/pdf/HN14eu.pdf. 18 Oktober 2015 geraadpleeg.

4.  Retief, FP. 2005. Eunuchs in the Bible. Acta Theologica Supplementum, 7:247–58, 248.

5.  Hester (2005:10).

6.  Gaiser, FJ. 1994. A New Word on Homosexuality? Isaiah 56:1–8 as Case Study. Word & World XIV(3):280–92, 286.

7.  Gaiser (1994:287): "The situation drips with poignant irony. God (through God's law) becomes the barrier to God's deliverance (in the promise). Such a radical situation demands a radical response, which is just what we get: the overturning of the law. God's deliverance will not be thwarted by rigid adherence to the law."

8.  So ook die vertaling in die New Revised Standard Version: "For there are eunuchs who have been so from birth, and there are eunuchs who have been made eunuchs by others, and there are eunuchs who have made themselves eunuchs for the sake of the kingdom of heaven" (Matt 19:12).

9.  Pieter Botha (2006) verskil met my oor my uitleg van die teks. Hy verklaar: "Hierdie is nie die eenvoudigste teks in die Nuwe Testament nie, maar die bedoeling van die uitspraak is ondubbelsinnig: vir die koninkryk is dit beter om nie seksuele verhoudings te hê nie. Hier is geen aanmoediging om seksualiteit te geniet nie. Nee, dis 'n waarskuwing: seks is 'n meganisme vir die 'swakkes'. Trouens, daar is selfs die uitverkorenes wat die genadegawe ontvang om geheel en al vry van seks te wees."

Ralph Barnard

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.