.

God se wil dien nie as troos-model vir almal

Deur Dr. Wilhelm Jordaan op 1 Maart 2015

.

Dit is goed dat 'n teoloog soos John de Gruchy hom met soveel eerbiedige oortuiging oor die dood van sy seun uitlaat (Rapport, 22 Februarie 2015): "As dit God se wil was dat my seun verdrink het, glo ek nie in God nie."

Die artikel met John de Gruchy deur Rachelle Greeff is aan die einde van hierdie deel.

De Gruchy praat namens wat hy noem die "groot klub" van ouers wat kinders verloor het en die verskrikking ken van 'n soort verdriet wat sulke ouers lewenslank bybly.

Natuurlik sal nie al die lede van die "klub" met De Gruchy saamstem nie, want baie ouers vind juis troos daarin dat hulle met oortuiging glo die dood van hul kind is God se wil.

Die punt wat De Gruchy egter maak, is dat sulke troos nie as 'n model vir almal kan dien nie.

De Gruchy beleef dit as 'n "goedkoop troos" met "te maklike antwoorde" wat kan verhinder dat jy by die dood van jou kind pynlike vrae vra en jou geloof in God woedend en eerlik ondersoek.

De Gruchy se "groot klub" is eintlik enorm as 'n mens dink aan die groeiende skare gelowiges wat ernstig twyfel of 'n mens "God se wil" in jou klein bestaan moet probeer verreken.

Kan 'n mens byvoorbeeld enigsins bid en vra dat God se wil sal geskied terwyl jy heimlik hoop God se wil en jou eie wense trek in dieselfde tuig?

Dat God jou sal beloon vir jou onwankelbare geloof?

My eie pad het my gebring by die geloof dat God 'n werklikheid is, maar terselfdertyd ook 'n ontwykende geheim wat ondenkbaar en onnoembaar buite ons afmetings van vorm, gestalte, tyd en ruimte is.

Om tot God te bid, is om bloot dankbaar vir die kosbaarheid van 'n geskenkte lewe te wees.

Wat van jou verantwoordelike toewyding vra om in jóú enkele leefbeurt reg te laat geskied en 'n mens vir die medemens te wees.

Enige gebed waarin iets bepaalds van God afgebid word – hoe verstaanbaar dit ook al is, 'n mens ontredderd, verleë en beangs is – verskraal dié misterie.

Want dit bring die skrikwekkende indruk dat God 'n bedrewe poppemeester is wat op 'n kosmiese verhoog die toutjies van gebedsverhoring en nie-verhoring trek na gelang van hoe mense hom behaag of nie.

Wat dikwels ook maak dat ons mekaar geestelik boelie oor geloof.

Soos om te kenne te gee dat as jou gebed nie verhoor word nie, jy dalk nie genoeg geloof gehad of nie reg gebid het nie.

"Misterie" sê ook God is aanvoelbaar teenwoordig in jou lewe wat ook al op jou pad kom. Gebed wat dié teenwoordigheid opsoek, is terapie vir die angs dat ons geheel en al alleen in die heelal is, uitgelewer aan 'n kosmiese onverskilligheid.

In gebed vind jy dan die misterie van "teenwoordigheid" – in die kleinste klanke van smekende, verlangende taal; iéts van God.

So naby soos asemhaal.

GELOWIG GENOEG OM TE TWYFEL

As dit God se wil was dat sy seun verdrink het, glo hy nie in God nie, sê die vooraanstaande teoloog John de Gruchy vir Rachelle Greeff.

"Jy't nie 'n idee hoe groot die klub is van ouers wat kinders verloor het nie," sê John de Gruchy, een van Suid-Afrika se mees gevierde teoloë terwyl hy ver kyk oor die Overberg se Hemel-en-Aarde-vallei met sy slingerende, glansryke R320-wynroete. Dié uitsig van die studeerkamer in sy huis, Springwell, sou jy as duur kon beskryf, maar nie naastenby so duur soos die prys wat hy betaal het vir sy insig in verdriet en verlies nie.

Soos ná elke feestyd maak Suid-Afrika somme: hoeveel verdrinkings, noodlottige dronk-padongelukke, moorde, selfmoorde? De Gruchy se "klub," volgens die antwoord, is selfs groter as aan die begin van die somervakansie.

En al het ek en jy dalk nie 'n kind begrawe nie, of soos sommige ouers drie op een slag nie, is die dood die onsigbare aanwesige elke keer wanneer jy vir 'n kind totsiens sê – of dit nou is op sy fiets op pad skool toe, of op die lughawe op pad Australië toe. Want die proses van lewe is ook die proses van doodgaan, skryf De Gruchy in sy jongste boek, Led into Mystery: Faith Seeking Answers in Life and Death.

Met dié boek het hierdie akademikus, teoloog, prediker en skrynwerker laas jaar die derde keer in ses jaar die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir Christelike en Teologiese Publikasies gewen. In 2008 was dit vir Being Human: Confessions of a Christian Humanist en in 2012 vir John Calvin: Christian Humanist and Evangelical Reformer.

De Gruchy het Led into Mystery nie beplan nie. Dit het uit die bloute en ongevraagd na hom gekom toe hy vyf jaar gelede een somerse Sondagmiddag ouers se mees gevreesde telefoonoproep kry. Hy was besig in sy houtwerkkamer op Volmoed, waar hy en sy vrou, Isobel, in die Hemel-en-Aarde-vallei woon, om 'n meter lange kersstaander van kanferhout vir Volmoed se kapel af te rond.

Dit was sy skoondogter, Marian, uit Natal, wat gebel het. Sy oudste seun, Steve, en sy kleinkind David is vroeër die dag in die voetheuwels van die Drakensberge die Mooirivier op binnebande af – en Steve is weg.

Steve se verdrinking het De Gruchy se geloof getref soos die winterstorm die kanferboom. Hy was plat, verpletter.

Dis waaroor Mystery, wat intussen in etlike wêreldtale verskyn het, gaan. Dit ruk jou kop, breek jou hart en jy begryp waarom kaartjies en troosboekies met hul hol gedagtes op die beduimelde rug van Bybelverse – hoe goed ook al bedoel – nie miljoene gebrokenes kan troos nie.

John de Gruchy is 'n onafgetrede afgetrede professor aan die Universiteit van Kaapstad (UK). Hy is steeds betrokke by die UK, is buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch, skryf sy outobiografie en wag op die verskyning binnekort van sy volgende boek, Sawdust and Soul*. Hierin vertel hy en 'n Amerikaanse etikus, William Everett, hoe houtwerk hulle geestelik en emosioneel beïnvloed.

Sy studeerkamer is 'n gesellige nes van foto's, Christelike ikone, boeke, kunswerke en 'n mengelmoes ingeleefde gemakstoele. Dietrich Bonhoeffer, sy oë tegelyk sagsinnig en skerp agter die ronderaambrilletjie, hang teen die muur bo die skryftafel. De Gruchy het verskeie werke geskryf en saamgestel oor dié Duitse filosoof en leraar wat op 39 jaar, twee weke voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog, deur die Nazi's gehang is.

Die wyle oudredakteur I.L. de Villiers het De Gruchy 'n "kortbroek-teoloog" in 'n resensie oor een van sy Bonhoeffer-boeke genoem. De Gruchy, asook sy oorlede seun, het belangrike teologiese rolle in die anti-apartheidstryd gespeel – soos Bonhoeffer in Nazi-Duitsland. Dit het I.L. klaarblyklik ongemaklik gemaak. Christene was ook omgekrap oor sy denke oor Christelike humanisme, want is humanisme nie ateïsme nie?

Sy kritici is intussen verkeerd bewys en sy aansien as teoloog het hier en oorsee net al hoe groter geword. "Ek het Confessions of a Christian Humanist geskryf omdat ek keelvol was vir Christene se vrome arrogansie, vol goedkoop troos, maar leeg van misterie en diepte. Ek kon my nie hiermee vereenselwig nie."

Toe hy 11 jaar gelede as dubbel-doktorale UK-akademikus aftree, het hulle 'n huis gebou op Volmoed, 'n plek van fynbos en skadubome, vir troues, eredienste, seminare en batterye herlaai langs die Onrusrivier. Hier sal hy voortaan skryf, maar ook bly reis op versoek van oorsese instansies. Al het hy drie jaar tevore die luisterryke Karl Barth-prys in Duitsland ontvang, meer as 30 boeke geskryf en drie eredoktorsgrade gekry (een van die Chicago Theological Seminary), is hy nog nie klaar met die rol van die kerk in die samelewing, geloof, kuns, Christelike ikone en versoening en geregtigheid nie.

En toe gaan sy energieke teoloogseun met 'n passie vir die natuur en musiek, dood. "Sy kitaar was 'n verlenging van sy liggaam, en hy was mal oor Volmoed. Ons het dikwels saamgeswem hoër in die rivier op.

"Maar Steve het soms kanse gevat. Die Mooirivier was in vloed ná onlangse reën, en Steve was sonder 'n reddingsbaadjie. Dis snert, en goedkoop troos, om te sê sy dood was God se wil."

Die kersstaander waarmee De Gruchy daardie Sondag in sy werkkamer besig was, was so te sê klaar toe die oproep kom. Dit was bedoel vir die komende Paasfees wanneer hy ewe selfversekerd saam met mede-Christene sou verklaar dat die dood sy angel verloor het, maar waar ís Steve, sal hulle hom weer sien en, en ... Wat nou met dié akklamasie?

Sowel sy kennis van die moderne wetenskap en sy rede het vir hom gesê dit was ook maar net nog 'n bedrieglike konstruksie van Paulus se brein om die mense deur tragedies te dra. Hy het 'n seun en intellektuele skrummaat verloor, en ook eksistensieel was dit nag. Hy – gelowig, teologies uitmuntend onderleg, die een by wie ander mense kom huil en twyfel – is nou sonder antwoord.

Maar hy het hardnekkig geweier om hoop te verloor en al sy pynlike vrae gepak. Die uiteinde was dat hy besef het jou geloof is op dun ys nie as jy twyfel nie, maar as jy weier om eerlik te wees oor jou twyfel. Jy moet ook woedend vir God kan wees, want God is groter en meer misterieus as ons bakleibuie.

"Woede is deel van die heling."

Hy vertel hoe 'n weduwee, Colleen Thomas, Volmoed toe gekom het met haar geloofsvrae oor die sinlose dood van haar man, James, voorverlede jaar in die winkelsentrum-slagting in Nairobi, Kenia. "The murder of James has rocked my entire world!" het Colleen voor 'n skare roubeklaers en mediakameras gesê. Sy was stukkend én kwaad.

"Maar eers toe sy haar woede ook teenoor God aanvaar het, sê sy, kon haar genesing begin."

Rou en treur verskil. Die rouproses is sigbaar in bepaalde rituele wat kultureel verskil. Hoofstroom-Christene se gebruike is anders as byvoorbeeld dié van Moslems. Soos hulle s'n weer verskil van Hindoes s'n, van tradisionele Afrikane s'n. Rou-rituele verander mettertyd. Ons voorouers draai in die graf om as hulle – wat vir 'n vasgestelde periode somber en in pikgitswart gerou het – die videokameras, kitare, sandale, blomrokkies en popmusiek by vandag se "viering van 'n lewe"-dienste sien.

Hierteen is treur deel van die "kern" van menswees, en treur nie twee mense eenders nie. Buitestanders is soms ook onbewus van dié proses.

"Dis snert om te sê die verdriet, die droefheid gaan verby. Dit hou nooit op nie. En later hoop jy dit hou nooit op nie, want dit sou beteken jou geheue raak vaag. Verdriet is deel van ons menslike kern. As ons nie treur nie, is ons nie mens nie. Wat jy met jou verdriet en treurigheid doen, is wel bepalend.

"Dis 'n lewenslange proses wat jou kan transformeer of dit kan jou vernietig as jy dit ontken, onderdruk of jou so afsonder dat jou kluisenaarskap en alleenheid 'n vorm van gevangeskap word wat jou volledig beheer."

In die geval van die De Gruchy-gesin het dit hulle verander. Nie desondanks hul geloofsvertwyfeling nie, vanweë dit.

"Dit het op verskillende vlakke verhoudings verdiep met mense wat die pad saam met ons geloop of mense wat al ook dié pad gestap het. Dit het verrykende ruimtes oopgemaak, soos die waarde van nóú. Nou is wat jy het. Hiermee moet jy werk. Wat baie help, wat ons gehelp het, is 'n sielsgenoot. Isobel is my sielsgenoot.

"Dis iemand met wie jy jou diepste gedagtes kan deel. Iemand wat kan luister. Of net sit. Soos Job se vriende. Sonder maklike antwoorde, sonder ontvlugtingsgoed. Iemand wat nie sê toemaar, jou geloof is sterk en dis alles in die haak nie.

"Verdriet is verskriklik, maar dit is 'n groeipyn. Solank jy dit verby die clichés en kitsantwoorde beleef."

Komende Donderdagoggend sal hy soos elke ander Donderdag die helling afstap na die Volmoed-kapel met plek vir nie meer as twee dosyn mense nie. Hier berei hy die wyn en die brood vir die Nagmaal tienuur en steek die kerse aan – ook die menshoogte een wat hy gemaak het uit die omgewaaide kanferboom, die een wat onder sy hande was terwyl sy seun onder die witwater van die Mooirivier vasgesit het.

"Daar is geen omdraai, geen teruggaan na dit wat verby is nie," sê dié geleerde wat nederig genoeg is om ook te twyfel.

* Led into Mystery deur John de Gruchy. SCM Press, London. 2013. Sy nuutste boek, Sawdust and Soul, verskyn binnekort by Cascade Books, 'n druknaam van Wipf and Stock in Oregon, Amerika.

(Ook gepubliseer op Netwerk24.)

Wilhelm Jordaan is 'n rubriekskrywer en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy raak ná baie jare steeds aangedaan oor studente wat eg wil weet en verstaan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.