.

God Is, want ons Is

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Junie 2013

.

Die oudste uitbeelding van God wat tot dusver in Europa gevind is, is dié van 'n swanger vrou. Hierdie beeldjie kom uit die Ou Europese Steentydperk (ongeveer 30 000 tot 25 000 v.C.) en afbeeldings daarvan is in verskeie Europese lande ontdek.

Die uitbeelding van God as 'n swanger vrou gee vir ons natuurlik 'n venster op daardie tyd se verstaan van hoe vrugbaarheid, lewe, dood en selfs tyd verstaan was. Vroue was tóé gesien as meer in kontak met God as mans.

Want terwyl mans besig was om te jag het vroue meestal tuisgebly en kinders groot gemaak. Dit het hulle natuurlik baie tyd gegee om spesialiste te word op hoe die siklusse wat in die natuur teenwoordig was presies werk. En vinnig-vinnig was dit vroue wat kon voorspel wanneer dit winter of somer gaan word. Ons kan sê vroue was die eerste weervoorspellers.

Gevolglik het mans gedink dat vroue bonatuurlike kragte het, want hulle kon dan die toekoms voorspel. Daar het vele mites ontstaan waarvolgens die kennis van saai en plant deur die een of ander vroulike godin goedgunstiglik aan 'n manlike vertroueling oorgedra is (byvoorbeeld Demeter aan Triptolemus).

Dit was daarom ook meestal vroue wat as geestelike leiers en profetesse optree het. Hiermee saam was die verstaan van tyd ook eerder siklies gesien as reglynig, soos dit tans gesien word. Die sikliese verstaan was gegrond op die waarneming van dag-nag, seisoene wat herhaal en geboorte-dood-geboorte verstaan. Omdat hulle geglo het dat tyd in 'n sirkel beweeg, was dood en lewe dus gesien as maar net twee skakels in die sirkel. En dit was dus glad nie nodig gewees om die dood te vrees nie, veel eerder was die dood ook 'n viering, net soos geboorte.

Maar soos die mens drasties in getalle gegroei het, het dorpies en stede begin ontstaan, en so het mans nie net die regeringsorganisasie oorgeneem nie, hulle het ook minder gejag en meer begin fokus op landbou. Die manlike gode het saam met die mans begin dominant word en 'n patriargale samelewing het 'n matriargale samelewing vervang. Vroue was vinnig uit die beheer-posisie geskuif en vele veranderinge op sosiale gebied het natuurlik daarmee saam gebeur.

Die vestiging van manlike godsbeelde, teologieë en selfs tydsbeskouings het oorgeneem. En waar die vroulike gode oorspronklik met die aarde en vrugbaarheid te doen gehad het, was die manlike gode eerder te doen met die lug. Weerlig en donderweer was die bewys van die krag van Zeus ('n manlike god). 'n God wat met 'n donderende stem die mens waarsku om nie kosmiese wette te oortree nie. En so het mense kontak begin verloor met hulle aardsheid en deel wees van die natuur.

En godsdienste wat in die tyd ontstaan het, het die patriargale sisteem onderbou. Dit het 'n oorkoepelende meesternarratief geword waardeur elkeen sy rol binne die groter prentjie nuut moes verstaan. Mans, vroue, kinders en slawe het nou nuwe rolle en plekke gevind binne die samelewing. Die hele siening van die man as die koning, priester en profeet is juis hier gevestig. En vroue, kinders, slawe en diere is nou gesien as mans se eiendom en besittings.

Natuurlik het saam hierdie manlik-gedomineerde samelewing ook 'n nuwe siening van tyd na vore getree, die van 'n reglynig-pessimistiese tydsbegrip, wat vandag nog die oorheersende verstaan verteenwoordig. Dit is dat, die kosmos nie meer gesien is as iets wat voortdurend ontvou nie, nee, dit was nou iets wat vanuit 'n oerparadys begin het. En tyd het nou gevloei vanuit gister na more.

En hiermee saam ook die verstaan dat tyd gaan uiteindelik uitloop – anders as met die vroulike sikliese verstaan van tyd, waar alles herhaal en geboorte uitloop op dood en die dood natuurlik weer uitloop op hergeboorte – 'n heeltyd vernuwende siklus. Die dood is nou gesien as iets vreesaanjaends, en apokaliptiese beelde van 'n eindtyd het begin ontstaan. Daar is nou geglo (ongelukkig vandag nog!) dat die mens leef in die laaste tye. En dit het mense se verstaan van wie hulle is en wat om te verwag, ingekleur.

Interessant genoeg het hierdie verstaan ook die prentjie van wie God is, verander. Want toe vroue hulle magsposisie verloor het, het daarmee saam ook die geslag van God verander.

Die Griekse filosoof Protagoras het dit reeds in die vyfde eeu v.C. raakgesien toe hy gesê het dat dit nie God is wat bepaal nie, maar die mens is wat die maatstaf vir alle dinge is. Hierdie insig word antropomorfisme (verwysend na mensvormigheid) genoem. Dit beteken, gode is niks anders as 'n bonatuurlike weerspieëling van wat hier op aarde aangaan nie. Enige idees oor God, denkbeelde van God en taal oor God is dus maar net menslike skeppings.

In die sesde eeu v.C. het die digter-filosoof Xenophanes al hierdie insig gehad, toe hy in een van sy gedigte geskryf het: "...maar as beeste of leeus hande sou hê om met hulle hande te skilder en kunswerke voort te bring soos mense doen, sou hulle die gode se gestaltes skilder en die gode se liggame maak volgens die patroon van hulle eie liggame."

Dit beteken ook dat godsdienste maar net 'n manier van menslike denke en idees is. Want kyk jy na enige gegewe tyd in die geskiedenis, en jy verstaan hoe mense in daardie tyd na hulle wêreld en die heelal gekyk het, sal jy ook sien hoe hulle God ooreenkomstig uitgebeeld het. Hierdie tydgebonde verstaan van mense word ook 'n wêreldbeeld genoem.

'n Wêreldbeeld is iets wat mens gemeenskaplik met ander mense deel. Dit is dus tyd-, plek- en veral kultuurgebonde. Dit kom neer op daardie prentjie oor die natuur, die heelal en God se plek daarin, wat van kleins af aan mense oorgedra is en waarvolgens hulle en hulle hele gemeenskap en kultuurgroep hulle wêreld gesien en beleef het.

Ons prentjie vandag verskil byvoorbeeld hemelsbreed van dié van mense van die antieke Bybelse tyd en van die mense in die Middeleeue. Daarom is dit tog logies dat ons sieninge en beskrywings van God anders sal wees as die van die Bybelskrywers s'n. Nie waar nie?

Dit is daarom so belangrik om te besef dat die prentjie wat ons in onsself ronddra van die wêreld en die prentjie wat ons het van God, interafhanklik van mekaar is, en heeltyd inspeel op mekaar.

Net gister het ek weer met iemand gesels wat vas glo dat net die Christelike geloof se uitbeelding van God korrek is. Daar is min tot geen insig by die persoon dat die wêreldbeeld wat in die Bybel gevind word, die van 'n Antieke Wêreldbeeld is nie.

Hierdie wêreldbeeld is 'n drie-verdieping-wêreldbeeld. Die aarde was gesien as 'n plat skyf wat op die chaotiese waters dryf, maar tog op pilare gevestig is. Onder die aarde is die waters waar die magte van die duisternis heers. Bokant die aarde is die plek waar die gode woon. Die woonplek van God is in die boonste verdieping en die onderste kelderverdieping is die plek van die bose.

Interessant is dat hierdie wêreldbeeld nie spesifiek Bybels is nie. Dit is die antieke wêreldbeeld wat heersend was en die prentjie voorsien het van waaruit die Bybelskrywers hulle weergawe van die werklikheid geskryf het. Vandag noem ons hierdie tipies antropomorfiese voorstelling van byvoorbeeld die Christelike God, teïsme. Hierin word God uitgebeeld soos 'n tipiese koning wat in die Midde-Ooste in Bybelse tye geleef het. (Wat anders sou 'n mens kon verwag van daardie tyd?)

Natuurlik is hy 'n man, wat sit op 'n troon. Sy onderdane moet voor hom kom kniel en hom smeek ("bid") as hulle enigsins iets wil hê. En om hom in 'n goeie bui te kry, moes daar lofliedere gesing word en geskenke ("offers") vir hom gegee word. En natuurlik omdat hy so besig is, sit daar aan sy regterkant 'n tweede in bevel (of "middelaar") met wie daar eers onderhandel word, sodat daar toegang gekry kon word tot die koning.

Gelukkig leef ons in 'n tyd waar ons, meer as enige ander tyd in die geskiedenis, met 'n oorsig oor al die voorafgaande tye en wêreldbeelde kan kyk. Ons het nou die vermoë om uit 'n verskeidenheid van idees en konsepte oor die wêreld te kies.

Die tyd waarin ons leef, alhoewel kompleks is tog 'n wonderlik verligte tyd. Ons kan te danke aan al die ontdekkings en nuwe kennis, begin ontwikkel aan 'n nuwe Integrale Wêreldbeeld. 'n Wêreldbeeld wat uit verskillende oorde gevoed kan word: die nuwe fisika, nuwe ontwikkelinge in die teologie en filosofie, die proses-filosowe van die Oosterse, Afrika en Westerse wêreldbeelde, om maar net 'n paar te noem.

Hiervolgens kan ons nou hemel en aarde sien as aspekte van dieselfde werklikheid. In Fritjof Capra se woorde 'n "web of life" waarin alle lewe deel van mekaar is. En selfs die spirituele word as integrale deel van die totale werklikheid gesien, en nie as iets bonatuurlik nie.

En binne hierdie beskouing kan die antieke wêreldbeeld se taal wat gebruik gemaak het van begrippe soos "bo" om na die goddelike te verwys, en "onder" om na die plek van die bose te verwys, verstaan word vir wat dit is – metafories.

Daarom kan ons vandag met hierdie nuwe integrale wêreldbeeld, ou godsdienstige kategorieë herbedink en herformuleer. En kan ons met nuwe metafore ons werklikheid begin beskryf. Hoekom nie? Ons metafore is tog net so geldig, indien nie meer nie, as vorige menslike denkers s'n, of hulle beskou is as gode of nie.

En dat in die prentjie van die nuwe Integrale Wêreldbeeld daar nie meer hiërargiese, van-bo-na-onder oor waarheid hoef te wees nie. Die klem kan verskuif, weg van 'n altyd geldende geformuleerde waarheid, na voortdurende ontdekkende waarhede. Dit sal uiteindelik die kettings kan verbreek.

Kettings wat meeste van ons gevangene gehou het aan konsepte wat van bo afgedwing was. Eie ervaringe en belewenisse kan nou weer sy regmatige plek inneem.

Daarom dat die klem weg skuif van vaste waarheidskonsepte na eerder die proses-van-soeke na die waarheid.

En manlike sowel as vroulike denke kan saam nuwe en betekenisvolle aspekte van menswees verteenwoordig. Niemand oorheers of domineer die soeke nie, daar word saamgewerk, saam gesoek en saam gebou.

Dalk sal ons dan besef dat God geslagsloos is. Dat God kleurloos, taalloos en godsdiensloos is.

Dan sal ons weet: God Is, want ons Is.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.