Die evolusie van God in die 21ste eeu

Deur Dr. Piet Muller op 1 November 2010

In 1996 sit ek in die Amerikaanse stad Minneapolis en luister na 'n spreker wat vertel dat die wêreld se kennis besig is om elke drie jaar te verdubbel. Dit beteken dat die oorvloed van kennis waaroor ons reeds beskik, teen die jaar 2030 slegs 1% van die wêreld se totale kennispoel sal uitmaak.

Hy het hom sleg misgis. Slegs vier jaar later, in die millenniumjaar, het die wêreld se kennis reeds elke nege maande verdubbel. En onlangs het die bekende Amerikaanse toekomskundige, Ray Kurzweil, voorspel dat ons gedurende die 21ste eeu verandering en ontwikkeling sal ervaar gelykstaande aan 20 000 jaar se ontwikkeling teen die huidige tempo!

Dit is 1000 maal vinniger as wat ontwikkeling in die twintigste eeu was en dit hou enorme implikasies in vir oorlog of vrede in ons eeu – en natuurlik ook oor hoe ons God beleef en oor God praat. Veral in die lig van die feit dat daar tans drie stressors is wat op enige gegewe dag iewers in die wêreld kan lei tot geweld, opstand en selfs oorlog: gebrek aan kos, gebrek aan water ... en die plofbaarste van almal: die onverdraagsaamheid van godsdiens!

Wat hierdie tempo van verandering in die praktyk sal beteken kan elkeen vir self uitmaak deur 'n eenvoudige "gedagte-eksperiment" te maak. Kyk na jou oorlosie en verbeel jou dat elke sekonde 50 jaar se geskiedenis verteenwoordig. Hiervolgens sal 60 sekondes 3000 jaar se geskiedenis voorstel.

Op hierdie tydskaal het, wat ons die moderne wêreld noem, slegs 9 minute gelede begin: in die jaar 1454 toe Gutenberg 'n Duitse vertaling van die Bybel op sy drukpers met los letters gedruk het. Daarna moes ons ses minute wag vir die volgende groot ontwikkeling – die Agtiende Eeu en die koms van die telegraaf en die stoomlokomotief wat ons binne in die Nywerheidsrevolusie geplaas het.

Twee minute gelede was ons reeds in die Twintigste Eeu met sy telefone, radio's en vliegtuie.

Sowat 'n minuut gelede het die rolprent sy verskyning gemaak, kerntegnologie sowat 20 sekondes gelede, televisie 10 sekondes gelede, rekenaars 5 sekondes gelede, ruimte-vlugte sowat 8 sekondes gelede. En terwyl ons gesels is die biologiese revolusie met sy genoomtegnologie en die nano-tegnologie reeds besig om teen 'n rasende spoed plaas te vind.

Neem nou die tempo waarteen verandering in die twintigste eeu plaasgevind het en vermenigvuldig 'n duisend maal en 'n mens kan iets begin begryp van wat die 21ste eeu met ons lewens- en lewensbeskouings – gaan doen. Dink dan daaraan dat ons steeds 'n Godsbegrip het wat gebaseer is op 2000 jaar gelede se wetenskap en kosmologie!

Of maak nog 'n gedagte-eksperiment:

Dink daaraan dat die beskawing se eerste groot revolusie, die landbou-revolusie, waartydens diere makgemaak en grasse veredel is tot landbougewasse, tussen 12 en 10 000 jaar gelede plaasgevind het. Op hierdie tydstip was bloedwraak nog die geldende regspraktyk.

Die tweede revolusie, die uitvinding van die alfabet en die skryfkuns, het sowat 8000 gelede plaasgevind. Daar was al pogings om die regstelsel te kodifieer, maar 'n gemeenskap kon nog steeds verantwoordelik gehou word vir een person se oortreding. 'n Ganse stad kon nog met die banvloek getref word, mans en seuns kon almal doodgemaak word, die vroue verkrag en deur die oorwinnaars saamgeneem word as hul besittings.

Tydens die kommunikasie-revolusie, wat deur Gutenberg begin is en wat die Protestantisme en later die Verligting, moontlik gemaak het, het is duisende mense nog as ketters en hekse verbrand, of andersins op die pynlikste wyse moontlik tereggestel.

Driehonderd jaar gelede het die Nywerheids-revolusie begin. Buitensporige strawwe vir klein oortredings en 'n klasgedrewe strafreg, het randgroepe, soos die Kwakers, verplig om hulle vir strafhervorming en die afskaffing van slawerny te beywer.

Daarna was ons binne in die Twintigste Eeu, waarin vier revolusies binne een eeu plaasgevind het:

Die eerste treë word gegee op pad na die afskaffing van die doodstraf en ander 'wrede en onmenslike' strawwe. Tog het die wêreld se twee grootste moondhede, die VSA en China nog nie hierop ingekoop nie.

Neem nou die Twintigste Eeu se tempo en vermenigvuldig dit met duisend, en dit is duidelik dat ons nie eens meer in die hede leef nie, maar reeds in die toekoms! Die tegnologie waarmee nou geëksperimenteer word plaas die moontlikheid in ons hande om 'n utopie te skep of om die aarde in hel te verander.

Terwyl daar op aarde steeds groepies mense is wat in die steentydperk vasgevang is, is die voorpunt van die mensdom besig om teen 'n rasende spoed dieper en dieper die toekoms binne te vaar. Lewensomstandighede in die Eerste Wêreld is reeds so aangenaam dat enige voorstelling wat vroeë Christene, of selfs Mohammed, van die Hiernamaals kon skets, sleg afsteek teen vandag se lewenskwaliteit.

En dit raak steeds beter. Binnekort sal siektes in byna al sy vorms prakties onder beheer wees en die eerste mens wat 200 jaar oud sal word is waarskynlik reeds gebore en lewe iewers in die Eerste Wêreld!

Die miljoene rekenaars wat deur middel van die Internet aan mekaar geskakel is, is in die praktyk besig om 'n "globale brein" te skep, wat al die geheue-funksies van die menslike brein kan uitvoer en in die nabye toekoms sal die grootste deel van die menslike bestaan dalk virtueel plaasvind. Oorlog sal die ekwivalent wees van ernstige patologie in die brein, en sal waarskynlik as sodanig "behandel' word deur die wêreldgemeenskap.

Die rekenaar sal binne die volgende twee dekades waarskynlik die vermoë van die menslike brein verbysteek en die koppeling van die rekenaar en die menslike senustelsel sal tot so 'n punt vervolmaak word, dat dit dikwels moeilik sal wees om die grens tussen mens en rekenaar aan te dui.

Dit sal die vraag laat ontstaan na die toekenning van menseregte aan rekenaars en huwelike tussen mens en robotte sal plaasvind.

Godsdiens en spiritualiteit se grootste uitdaging in die 21ste eeu sal wees om 'n etiek te ontwikkel waarmee die nuwe tegnologie veilig bestuur en gebruik kan word. Dit sal enorme druk plaas op tradisionele beskouinge oor etiek en moraliteit en 'n ingrypende verandering noodsaak oor hoe ons oor God praat en dink. 'n Mens moet ook onthou dat God 'n Groot Misterie is en dat 'n mens gevolglik nie wetenskaplike opmerkings oor God kan maak nie, maar slegs oor God in metafore kan praat.

Die geskiedenis van die godsbegrip toon aan dat hierdie metafore altyd hand aan hand loop met die heersende wetenskap en kosmologie. Wanneer godsbegrip en tegnologie nie langer sinkroniseer nie, verloor die godsbegrip sy morele gesag. Dit is wat sedert die Nywerheidsrevolusie gebeur het, toe die godsbegrip nie langer probleme, soos die plundering van die aarde se hulpbronne en die ekologiese besoedeling wat daarmee saamgaan, kon hanteer nie. Ons sal gevolglik nie kan vasklou aan die drieverdieping-wêreldbeeld van 2000 jaar gelede en die metafore van koningskap en heerskappy wat daaruit spruit nie, omdat dit ons, in 'n era van ongekende tegnologiese vooruitgang, moreel weerloos kan laat.

Die Duits-Amerikaanse teoloog, Paul Tillich, het al 'n halfeeu gelede hierdie dilemma raakgesien en daarom gesê dat God nie 'n persoon is nie, maar ook nie minder as 'n persoon nie!

Dit is interessant dat God reg deur die Bybel nie net in antropomorfiese metafore beskryf word nie, maar ook as a-persoonlike gees. Dink maar aan die stelling "God is gees en moet in gees en waarheid aanbid word". Om dus, soos Obi Wan Kenobi van Star Wars te sê: "May the Force be with you", is in lyn met hierdie Bybelse stroming opvatting en terselfdertyd meer in ooreenstemming met die nuwe astro-fisika en kwantum-fisika as die metafoor van 'n buite-ruimtelike persoon of vader.

Die uitdagings van die 21ste eeu, waarmee ons reeds begin worstel het, eis van ons dat ons godsbeeld en die metafore waarmee ons God beskryf, aan die volgende voorwaardes moet voldoen:

  1. Dit moet die blik op die kosmos, wat die astro-fisika en die kwantumfisika vir ons geskep het ondersteun.
  2. Dit moet 'n antwoord op die vraag na goed en kwaad kan gee, sonder om in dualisme te verval.
  3. God moet nie net die God van alle nasies wees nie, maar ook die God van alle godsdienste. Hiervoor sal 'n denksprong nodig wees wat groter is as die sprong tussen Deuteronomium en die Tweede Jesaja.
  4. Die godsbeeld sal androgeen of onsydig moet wees, sodat diskriminasie tussen geslagte nie langer op grond van godsdiens geregverdig kan word nie.
  5. Hierdie godsbeeld moet die eenheid tussen mens en natuur ondersteun – die feit dat ons en die res van die skepping uit dieselfde materie gemaak is. Ook dat hierdie materie waarskynlik reeds miljoene male gehersikleer is om nuwe lewensvorme te skep en dat die elemente waaruit ons liggame bestaan na ons dood weer in ander lewensvorme gehersikleer sal word. Wat ons dus vandag aan die natuur doen, kan ons self more skade berokken!
  6. In samehang met punt 1 sal ons godsbeeld 'n duidelike antwoord moet verskaf op die kwellende vraag oor die aard, rol en ontstaan van bewussyn.

Geslagte Protestante het gesing:

Rus my siel jou God is koning,
Oral voer hy heerskappy;
Alles wissel op sy wenke,
Maar hyself verander nie.

Tog is die metafoor van God wat alles in beweging gesit het, maar self nie verander nie, nie 'n besonder Bybelse opvatting nie, maar een juis wat by die Griekse filosowe geleen is. Dit het egter die Westerse denke so deurdrenk dat dit onlosmaakbaar deel van die teïstiese opvatting is: 'n Opvatting wat van God, in die woorde van Van Wyk Louw 'n "groot man wat 'n entjie bo die aarde sit, alles sien en alles hoor" gemaak het.

Ons weet vandag dat skepping nie 'n afgehandelde daad is nie, maar dat alles voortdurend verander. Selle in die menslike liggaam gaan daagliks "dood", maar word deur nuwes vervang; sonne en sterrestelsels sterf en nuwes word gebore; alles wat saamgestel is ontbind weer en word opnuut hersaamgestel in allerlei vorme.

In die plek van die onveranderlike God van die verlede, sal die God van 'n toekomstige godsbeeld waarskynlik self deel van die veranderende werklikheid wees. Want as God buite die kosmos is, is daar geen moontlikheid dat so 'n God in staat kan wees om die werklikheid te beïnvloed nie.

In die jare twintig, van die vorige eeu, toe die skok van Darwin se evolusieleer en Einstein se konsep van relatiwiteit vir die eerste keer werklik tot die gewone mens begin deurdring het, het die Duitse filosoof Max Scheler, die moontlikheid van'n panenteïstiese God geopper. Van 'n God wat self die materiële werklikheid is, maar terselfdertyd veel meer as die werklikheid, net soos wat 'n mens veel meer is as die somtotaal van die triljoene selle in jou liggaam.

Die Engelse wiskundige en teoloog, Alfred North Whitehead, het hierdie opvatting 'n stap verder geneem deur te sê dat dit net so waar is "om te sê dat die wêreld immanent in God is, as wat God immanent in die wêreld is."

God is materie omdat die skepping materie is, net so is God ruimte omdat materie slegs in ruimte kan bestaan; God is ook tyd, want sonder tyd kan daar nie ruimte wees nie. God is vandag almagtig maar kan more dalk selfs meer almagtig wees, omdat ook God deel is van die evolusieproses.

Ook die Franse Jesuïet, Pierre Teilhard de Chardin, het 'n soortgelyke opvatting van God wat alles in alles is; die finale oorsaak van die werklikheid, wat alle boosheid oorkom en alles in sy uiteindelike Self betrek.

Die statiese god van die verlede, kan dus verander in die veranderende God van die toekoms, wat self die totaliteit van die skepping is en terselfdertyd die dryfkrag agter die veranderende werklikheid. Die werklikheid van elke dag sal die verskyningsveld van die "teenwoordigheid van God" wees. Dit sal op die mens 'n onontwykbare verpligting plaas om die natuur en die ekologie as manifestasies van God se teenwoordigheid te beskou, en hierdie "teenwoordigheid" is eweneens die dryfkrag agter die immer-veranderende kosmos. So 'n opvatting sal waarskynlik 'n diep respek vir die werklikheid kweek, waarvan ons self deel is, omdat mens, plant, dier, ekologie en selfs die vêrste sterrestelsels, onlosmaakbaar verweef is in 'n web van inter-syn.

Ons moet natuurlik nie vergeet dat daar geen waarborg is dat tegnologiese ontwikkeling ongehinderd sal voortgaan en die mens tot by 'n aardse utopie sal lei nie. As 'n mens op die spoor van die geskiedenis teruggaan, is daar twee voorbeelde binne die afgelope 2000 jaar waar godsdiens die vooruitgang van wetenskap en kultuur in hul spore gestuit en die beskawing op sy knieë gehad het.

Die eerste keer was kort na die totstandkoming van die Christelike ortodoksie, toe die Bybel verklaar is tot enigste betroubare bron van wetenskaplike kennis. Waar die aarde reeds twee eeue voor Jesus al rond was en Griekse geleerdes die breedtegrade bereken het, het die aarde skielik weer plat geword. Omdat die klassieke kennis "vergeet" is het Romeinse waterleidings verval en in sekere dele van Europa is selfs "vergeet" hoe om bakstene te brand. Van die sesde tot die elfde eeu was Europa se "donker eeue".

As gevolg hiervan het die Islamitiese wêreld die erfgename van die Grieks-Romeinse beskawing geword en op die klassieke kennis voortgebou om 'n wêreldmoondheid te word. Kontak met Islam, wat deur die kruistogte meegebring is, het die Weste met 'n skok laat besef hoe vêr hulle agter geraak het. Dit het uiteindelik aanleiding gegee tot die Renaissance en die herontdekking van die klassieke geleerdheid.

Toe die Weste in die sestiende eeu, met sy nuwe kennis en nuwe selfvertroue, aggressief die wêreld begin verken, het die Moslemwêreld homself teen Westerse invloede probeer beskerm deur dieselfde fout te begaan as die Christendom voorheen: hy het die hek van itjihad (onafhanklike denke) gesluit en die Koran en die Sharia-wette tot die enigste bron van kennis en geregtigheid verhef – met vernietigende gevolge vir die Moslembeskawing.

So 'n apokaliptiese scenario is selfs in die 21ste eeu nie onmoontlik nie, omdat:

  1. Die meerderheid van die bevolking dalk nie in staat sal wees om die snelle verandering te verwerk wat die wetenskap en tegnologie besig is om aan ons op te dring nie en daarom in godsdienstige fundamentalisme skuiling en "sekerheid" probeer soek. Ironies genoeg maak sulke mense dikwels gebruik van die heel jongste tegnologie om die wyer implikasies van wetenskap en tegnologie te ontken.
  2. Daar is 'n groter wordende gaping in lewenskwaliteit en bevolkingsaanwas tussen die Eerste en die Derde Wêreld. Hierdie gaping sal nog groter word soos wat die Eerste Wêreld meer en meer kennis produseer en die Derde Wêreld relatief minder en minder. Dit kan lei tot 'n groter versmelting tussen fundamentalisme en terrorisme.

Die toekoms van die 21ste eeu is hoegenaamd nog nie 'n uitgemaakte saak nie.

Dr. Piet Muller

1 November 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za