.

God, Goed en Kwaad

Deur Dr. Piet Muller op 1 Junie 2017

.

Net buite Ohrigstad is daar 'n plek waar die Voortrekkers se laer lank gestaan het. Maar pleks dat hulle in daardie groen vallei rus en vrede gevind het, het die malaria hulle oorval. Veral die verlies aan kinders was groot.

Ons het 'n foto geneem van 'n kindergraffie, waarop die ouers in groot vertroue geskryf het: "Die Here het gegee, die Here het geneem. Prys die naam van die Here." Kort daarna het 'n tweede kind gesterf en het die ouers 'n boodskap op die grafsteentjie gekerf wat geen onsekerheid laat oor die feit dat hulle alle vertroue in 'n goeie en regverdige God verloor het nie!

Onlangs het ek iets gelees wat my net so diep geroer het as die boodskap op hierdie graffie: 'n brief aan die bekende Biskop John Selby Spong, waarin 'n onderwyseres vra hoe help sy 'n kind van nege wat opreg glo dat haar innige gebede haar pa van sy terminale kanker sal genees?

Kort daarna vertel 'n vriendin my van haar swaar van 58 wat besig is om aan breinkanker te sterf. Tot ontsteltenis van sy meesal fundamentalistiese familie wil hy niks van God weet nie met niemand oor godsdiens gesels nie – want benewens sy sieke, is hy ook deur 'n egskeiding, nadat hy twee kinders aan did dood afgestaan het.

Daar is seker nie een van ons wat nie soms al gewonder het waarom God toelaat dat soveel onaangename en treurige dinge met mense gebeur nie. As God dan liefdevol is sowel as almagtig, waarom keer hy nie die kwaad nie? Waarom laat hy nie net goeie dinge met ons gebeur nie? Waarom laat hy volksmoord toe, soos wat met die Jode in Europa en met swartmense op talle plekke in Afrika gebeur het? Waarom laat hy toe dat onskuldige kinders in Sirië sterf, sonder om die moordenaars en oorlogsugtiges te vernietig?

Dit is 'n probleem inherent aan die monoteïsme, daarom dat die Christendom die idee van 'n duiwel by die Perse gaan leen het om die teenwoordigheid van die slegte mee te verklaar. Blykbaar is God ook baie lankmoedig teenoor die duiwel, daarom dat hy hom nie sommer dadelik op sy plek sit nie, maar dit eers "eendag" gaan doen.

Die waarheid is dat ons net in metafore oor God kan praat. Soos die Calvinistiese filosofie dit stel: God is buite die "transendentale tydsgrens" en daarom kan ons niks feiteliks oor hom sê nie. Intussen het ons begin besef hoe ontsagwekkend groot die kosmos is, sodat ons beeld van die Vader in die Hemel te klein geword het om aan die grootsheid en wonder daarvan reg te laat geskied. Te klein ook vir al die probleme wat ons glo 'n godheid se plig is om op te los. Daarom dat ons so naarstiglik op soek is na nuwe metafore om die Absolute mee te beskryf.

Dit is voorbeelde soos hierdie wat gelei het tot die grootste inter-godsdienstige dialoog waarby die Christendom nog betrokke was: 'n Dialoog met die Boeddhisme. Renaissance is op die oomblik self betrokke by die reël van 'n akademiese seminaar oor hierdie onderwerp, wat hopelik einde Julie, begin Augustus sal plaasvind.

Die Boeddhisme glo dat die lewe dukkha is. 'n Woord wat beteken 'n gemors, deurmekaar, onderstebo en gewoonlik vertaal word as lyding. "Geboorte is lyding, ouderdom is lyding. Siekte en dood is lyding; om jou lewensonderhoud met swaar werk te verdien is lyding; om saam met iemand te leef met wie jy nie oor die weg kom nie is lyding..."

Paradoksaal genoeg is dit in hierdie wêreld vol lyding dat ons ook ons liefde en geluk vind. En hoe minder ons oor ons eie ek bekommerd is, hoe meer geluk en liefde is daar.

Dit is ook wat 'n studie van die vroeë Christendom so fassinerend maak, want dit staan veel nader aan die Boeddhisme as aan die ortodoksie wat na die vierde eeu ontstaan het. Jesus is deur vroeë Christene gesien as iemand in wie se lewe kenmerke van die goddelike sigbaar geword het. Iemand wat in staat is om ons tot verligting en insig te bring, sodat ons nie weens ons eie onkunde nog meer ly nie. Die hele Evangelie van Thomas is 'n geestelike leerplan wat tot heelheid en genesing wil lei. En keer op keer wys Jesus sy dissipels daarop dat hulle op hul eie innerlike insig moet staatmaak. Dat God in die hart van elke mens geopenbaar word, maar dat ons dit eers sal besef as ons onsself deeglik leer ken het.

Jesus is ook duidelik daaroor dat as ons van die woorde uit sy mond drink, ons soos hy sal word en hy soos ons. Soos hy in vers 13 aan Thomas sê: "Ek is nie meer jou leermeester nie, want jy het gedrink en dronk geword van die opwellende bron (van lewende water) wat uit my voortgekom het."

In nog 'n boek wat saam met die Evangelie van Thomas by Nag Hammadi in Egipte ontdek is, Die onderwysing van Sylvanus word Jesus aangehaal waar hy sê: "Loop op jouself soos op 'n reguit pad, klop op jouself soos op 'n deur. Want as jy daardie pad bewandel sal jy nie verdwaal nie en die deur wat jy vir jouself opmaak sal oop bly."

Net soos in die Boeddhisme is deernis en liefde vir Jesus die grootste deugde. Jy moet jou vyande liefhê en bid vir hulle wat jou haat. Jou naaste is nie jou vyand nie, maar sy onkunde en gebrek aan insig is. Jesus het, soos Boeddha, radikale naasteliefde sowel as pasifisme bepleit. Dinge wat vandag vir ons heeltemal onprakties lyk, maar dit is juis hoe die Christendom uiteindelik die Romeinse Ryk bloedloos verower het.

Die probleme het ontstaan toe Jesus se Weg aangepas is by die Grieks-Romeinse wêreldbeeld. Neem maar die geval van die Onse Vader: In Aramees, die taal wat Jesus gepraat het, lui die eerste vers: "Bron van alles, vir wie ons ontmoet in wat ons ontroer" en vergelyk dit met die Griekse: "Ons Vader wat in die hemel is."

Soos alle volke van die Midde-Ooste het die mode ook die begrip 'hemel' geken, maar dit was nie waar God gewoon het nie. God was by en tussen sy volk. Selfs tydens hul ballingskap het die Shekhina, die vroulike teenwoordigheid van God, saam met sy volk gegaan. Jesus se geniale bydrae tot die Joodse teologie was om God as vader te ontmoet. Die woord wat hy gebruik het, Abba, was boonop die soort woord wat 'n kind sal gebruik as hy graag op sy pa se skoot wil klim.

Van die Grieke het ons ook die begrip "substansie" gekry. Alles wat bestaan het 'n vaste "is-heid" en God self is so volmaak dat hy nooit kan verander nie, hy laat net dinge rondom hom verander. In die gereformeerde omgewing waarin ek grootgeword het, het ons Sondae gesing:

Rus my siel jou God is koning,
Oral voer hy heerskappy.
Alle wissel op sy wenke,
Net hyself verander nie.

Dit is 'n opvatting wat God onmiddellik verantwoordelik maak vir alles wat op aarde gebeur, goed sowel as kwaad. Daarom dat die Christendom uiteindelik by die Perse die idee van 'n duiwel moes gaan leen, om te verklaar hoekom daar kwaad op aarde is. Klaarblyklik is God ook so lankmoedig dat hy nie die duiwel sommer dadelik vasvat nie, maar dit eers 'eendag' sal doen, wanneer die finale konfrontasie tussen goed en kwaad plaasvind.

Van die Grieke kry ons ook die begrip "syn" (Engels: being). Die teenoorgestelde daarvan is nie-syn, wat letterlik "niks" beteken. Die een oomblik "is" iets en die volgende oomblik "is" dit nie meer nie. Dit het ook die "amptelike" denkwyse van die Weste geword. Hierteenoor staan die Boeddhisme baie nader aan die moderne fisika, wat van 'n wêreld praat waarin alles voortdurend aan die verander is. Niks het 'n permanente "is-heid" nie, want alles bestaan omdat ander dinge bestaan. As die omstandighede reg is, kom iets tot stand en as die omstandighede verander ontbind dit in sy elemente en verander in iets anders. As omstandighede reg is word 'n mens gebore en as omstandighede verander hou 'n mens op bestaan.

'n Mens kan dit vergelyk met golwe wat op die oppervlakte van die see ontstaan. As omstandighede reg is, word 'n golf "gebore", groei dit, bereik sy hoogtepunt en plat weer af, om uiteindelik weer een te word met die water waaruit dit ontstaan het.

"Dit" bestaan omdat "dat" bestaan. Goed en kwaad gebeur omdat omstandighede verander. God is nie verantwoordelik vir die slegte dinge wat gebeur nie. Sy taak, by wyse van spreke, is om die grond te wees van die proses van voortdurende verandering. Ons lyding en smart word veroorsaak deurdat ons probeer om die stroom van verandering te stuit, pleks van saam met die stroom van verandering te dryf.

Ons klou veral vas aan ons ego, omdat ons meen dat as die ego tot niet gaan, is daar "niks." Maar eintlik is die ego maar net hoe ander mense ons vertel dat hulle meen ons is. Dit is nie ons ware wese nie.

Die Boeddhisme se siening oor lewe en dood word goed weergegee deur die verhaal van Kosi Gotami, 'n pragtige meisie uit 'n arm gesin, wat haar deur harde werk en vernuf opgewerk het tot 'n suksesvolle sakevrou. 'n Ryk handelaar het haar later 'n yslike bruifdskat aangebied as sy met sy seun trou. Iets wat nie normaalweg met 'n meisie van haar stand gebeur nie.

Soos alle vroue was sy verruk oor haar eerste kind, maar toe die kind omtrent 'n jaar oud was, het hy skielik siek geword en gesterf. Sy wou sy dood nie aanvaar nie en niemand kon die lykie by haar afneem nie. Daarmee het sy van die een geneesheer na die ander gegaan en gepleit dat hulle haar kind weer lewendig moet maak. Totdat iemand haar jammer gekry en gesê het sy moet die kind na Boeddha toe neem, want hy is die enigste wat so-iets kan doen. Boeddha en sy dissipels het juis op daardie tydstip kort buite die stad gekamp.

Boeddha het met groot medelye na haar geluister en toe gesê hy sal haar help, maar dan moet sy hom 'n hand vol mostertsaad bring. Maar dit moet spesiale saad wees, wat kom uit 'n huis waar niemand nog 'n ondervinding van die dood gehad het nie. Sy het van die een huis na die ander in die stad geloop, maar oral het die inwoners haar vertel van 'n dierbare of vriend wat hulle aan die dood afgestaan het.

Eers laat die middag het dit tot haar deurgedring wat Boeddha vir haar probeer sê het. Sy het die stad met haar kind in haar arms verlaat en buite op 'n heuwel gaan sit. Een vir een is die lampe in die stad uitgeblaas, totdat alles stikdonker was. So het sy sit en treur oor haar kind en die lykie die volgende oggend op die dodeakker gaan neerlê, sodat die aasvoëls hom kon eet. Daarvandaan is sy terug na Boeddha toe en het as 'n non by sy orde aangesluit.

Haar verhaal laat my altyd dink aan 'n gedig wat een van ons lede, Helena Goosen, geskryf het, nadat sy 'n lang tyd oor 'n soetra van Boeddha gepeins het. Ek haal net die laaste reëls aan:

Gee my jou hand dat ons groet,
Totsiens sê tot ons weer ontmoet.
Ons ontmoet mekaar vandag,
Ons ontmoet weer more,
Ons ontmoet elke oomblik by die Bron.
Ons ontmoet mekaar
In alle lewensvorme.

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan. Sy blog is by spiritualiteit-in-aksie.com

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.