.

God, godsdiens en evolusie (Deel 3)

Deur Prof. P. C. Pretorius op 1 Junie 2014

.

Deel 3: Hel op aarde met 'n doel?

(Deel 2 is hier te vinde.)
Die belangrikste vraag bly steeds, soos aan die einde van deel 2 gestel: Hoekom word die mensdom aan soveel wreedhede onderwerp?

DIT MOET MOONTLIK AS 'N FEIT VAN DIE LEWE AANVAAR WORD

Dit is die prys wat betaal moet word om die luuksheid van die ander te mag beleef. Elkeen wat gebore word, maak 'n bydrae van die een of ander aard: Party as bevoordeeldes, ander as oortreders van aanvaarde norme en nog ander as slagoffers daarvan. Maar gesien in die totale konteks van tyd en lewe, is dit deel van die groter geheel om iets (tans onbekends) te bevorder. Dit het moontlik iets te doen met die natuurwet van Behoud van Energie of met die skeppingsbeginsel van Balans in alles. Dit behels dan dat, soos die tegnologiese deurbrake vorder, gaan die mens se opofferings ooreenkomstig moet vermeerder. Volgens die Eerste Wet van die Termodinamika kan energie nie geskep of vernietig word nie, maar slegs in vorm verander; iets soortgelyks moet hier geld.

'n Ander aspek wat hierby aansluit is die volgende: Beide mens en dier word gebore met die baie sterk instink van oorlewing. Dit is 'n allesoorheersende instink. Die mens se mees basiese behoefte is aanvaarding en erkenning deur jou medemens. Die wyse hoe dit verkry word, is mensgemaak en wissel van die een innoverende ekstreem tot die ander en is bydraend daartoe dat elke individu op aarde sy eie karakter het. Dit verskaf die dryfkrag om te presteer wat die onderbou tot voortdurende verbetering is.

Die lewe word egter deur die hele geskiedenis heen voortdurend bedreig en verwoes; 'n direkte aanslag op die oorlewingsinstink. Siekte is nog altyd deel van die lewe en termineer uiteindelik omtrent alle lewe. Die mens se oorlewingsinstink het gemaak dat die mediese professie vandag baie gesofistikeerd en gesog is en steeds verbeter. Aan die ander kant maak dié professie ook sy bydrae tot die oorbevolking van die wêreld wat weer ander uitdagings en geleenthede tot gevolg het. Siektes en gepaardgaande sterftes het deur die geskiedenis heen baie lyding en hartseer veroorsaak en doen dit steeds. Soms ontaard siektes in plae wat wêreldwyd miljoene mense al uitgewis het. (Dit is ook interessant / ontstellend dat virusse immuniteit ontwikkel teen middels van bestryding. Dit stel weer opnuut uitdagings vir oplossings op die volgende hoër vlak).

Dink hier maar aan die "Black Death" (van ongeveer 1350) wat Engeland en Europa voor die Industriële Revolusie getref het. Dit het 'n derde van die bevolking uitgewis en die gevolg was 'n dramatiese verbetering in higiëniese standaarde.

Dit word beweer dat die Europese verowering van Noord-Amerika asook die land van die Majas en Inkas meer te danke was aan die vreemde dodelike siektes wat die invallers gebring het as dié se voordeel in wapentuig. Die positiewe uitkoms daarvan was o.a. die totstandkoming van die magtige VSA, vir lank die sentrum van innovasie en tegnologie deur "Yankee Ingenuity," geskep in 'n omgewing waar die Europese immigrant se entrepreneurskap kon uiting vind sonder die beperkings van die Klassestelsel (nie-rassige apartheid?). Daar was ongekende menslike / persoonlike lyding en opoffering in die proses, maar die gevolglike voordele vir die mensdom was fenomenaal.

In die na-Christus-era het die mensdom belewe, agtereenvolgend, die Romeinse Ryk, die Bisantynse Ryk, die Middeleeue, die Renaissance, die Hervorming ens. tot en met die totstandkoming van die huidige moderne Demokrasie. Elkeen het sy eie verhaal van onderdrukking en beproewing, maar telkens was dit tog 'n stap in die opheffing en bevryding van die mens, 'n beter lewenstandaard en is 'n proses wat steeds voortgaan. Die gruwels van Naziïsme en Stalinisme is hier ook ter sprake. (Verwys weer na Francis Schaeffer voorheen genoem).

Misdaad is nog 'n voorbeeld. Misdaad inspireer teenmaatreëls; dit lei net tot beter kundigheid van die oortreders wat die spiraal van inisiatief-teenreaksie verder versnel.

Daar is bykans geen aspek van die lewe wat nie aan hierdie evolusie van die tegnologie onderworpe is nie. Dink maar net aan die vordering in wapentuig, energieverskaffing, vervoer op land, water en lug, kommunikasie, vervaardiging en vele meer. Die digitale revolusie beleef ons daagliks. In 'n tydvak van 50 jaar het kommunikasie tegnologie gevorder van "nommer-asseblief"-telefoonsentrales tot die moderne slimfoon met sy magtige inligtingsbron en kommunikasie moontlikhede. In alles is die netto tendens net opwaarts.

In die geheel gesien het die mensdom slegs begin krap aan die ontrafeling van die geheime van die skepping. In die Sterrekunde word op 'n relatiewe skaal 'n aanduiding gegee van die omvang van die skepping. 'n Ligjaar is die afstand wat lig teen 300 000 km/sekonde in 'n jaar trek en daar is afstande van miljoene ligjare in die hemelruim. Niemand weet nog hoe groot die heelal werklik is nie. Terugvoering vanaf Voyager 1, gelanseer in 1977 en met 19 biljoen kilometer agter die rug, dui daarop dat dit tans besig is om slegs ons sonnestelsel, een van miljoene in die heelal, te verlaat.

Daar is egter reeds enorme vordering gemaak in die soeke na 'n verklaring van die "Oerknal." Die vestiging van die massiewe SKA-projek in die Karoo beloof om groot deurbrake te maak in die belang van die wetenskap in die algemeen.

Alternatiewe skoon bronne van energie soos die son, wind en getye van die see word reeds getap. Reuse-stappe vorentoe is om die draai, soos om son-energie buite ons atmosfeer deur satelliete op te vang asook die tap van die aarde se enorme interne hittebron deur middel van mynskagte. Ekstrapoleer slegs die vordering in mynbou van wat hande-arbeid met die Kimberley-gat vermag het tot waar skagte van etlike kilometer diep tans in die goudmynbedryf alledaags is.

Tot op hierdie punt is al die voorafgaande interpretasies en afleidings gegrond op feite en is die tendense beklemtoon. Die "unieke" bevinding dat die kwaad ("evil") die goed ("good") in die volle konteks van lewe inspireer en dat die lewe op aarde skaars begin het, verander die normale verwysingsraamwerk totaal. Alle besluite en optredes van die mens berus in wese op verwysingsraamwerke wat voortdurend besig is om te verbreed.

Die pad vorentoe, waar hierdie tendense na die toekoms geprojekteer moet word, is waar die verskille en onsekerhede gedy.

Toekomsvisie

Die vraag waar die psige van die mens in hierdie hele proses inpas, was, is en sal steeds vir die afsienbare toekoms onverklaarbaar bly.

Bestaande godsdienste en filosofieë sukkel nog om die definisie, verband en integrasie van siel, gees, verstand en gedagtes van die mens te verklaar. Dit is dié kritiese aspekte wat die mens van die dier onderskei.

Omdat dit nog onverklaarbaar is, is dit oop vir teorieë en spekulasie. Die godsdienste van die wêreld systap hierdie taak deur alles aan hulle geloof oor te laat. Jy moet net jou kant bring en dit, op sigself, het baie meriete. Elke geloof het egter sy eie siening oor die hiernamaals en die verskille is opvallend.

Hier volg nog so 'n teorie of spekulasie

Voorafgaande skrywes kan weereens opgesom word met die volgende stelling: Die mens se rol op aarde het slegs begin, die toekoms van die mens is tegnologies gekoppel ooreenstemmend met die oplossing van die skeppingsgeheime, ten spyte van eindelose terugslae verbeter die mens se lewensomstandighede deurlopend, die uiteinde is (tans) nog onbekend en hoekom die mens hierdie opofferende rol moet speel, is nog steeds duister en gaan moontlik vir lank so bly.
(Indien hierdie afleidings as feite aanvaar word, is enige leser geregtig op sy eie projeksies vorentoe en dit sal interessant wees om te verneem. Hierdie skrywe is hopelik net 'n fondasie waarop voortgebou kan / sal word.)

Die vraag bly steeds, hoekom is almal, in 'n mindere of meerdere mate, aan al hierdie onderlinge wreedhede tussen medemense onderworpe? Die geskiedenis is besaai met mense wat gely en gesterf het vir "iemand anders" se oorloë, se geloofsvertolkings (bv. voor, gedurende en na die Hervorming), se profetiese openbarings (soos dié van die Xhosa-meisie Nongwawuse wat omtrent haar hele nasie van hongersnood laat omkom het) ens. Vir die mens met net een lewe, onskuldig en oningelig geskape en wat slegs 'n produk van sy omgewing is, is dit onverklaarbaar en onaanvaarbaar. Is daar 'n storie agter die storie? Moontlik is daar.

Volgens Genesis 2:7: "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het." Vir die Christen sluit daardie lewensasem die mens se psige in. Volgens die Evangelies in die Nuwe Testament is hierdie siel onsterflik. Die Neshamah van die Jode miskien?

Hierdie onsterflikheid van die siel is al uit verskeie oorde beskou. Robert Lanza van Advanced Cell Technology in die VSA toon dat die mens 20 watt energie bevat en energie kan nie vernietig word nie. Mike Jarvis in God and Evolution gebruik die tweede wet van die Termodinamika om terug te werk na die oorsprong ("singularity") van totale orde en oneindige energie.

Dit word in alle gelowe aanvaar dat hierdie psige onsterflik is. In baie gelowe word die hiernamaals beskou as 'n plek van ewige saligheid of ewige verdoemenis. Die Bybel is baie spesifiek hieroor. Al wat vereis word is dat jy jou sonde bely en glo Christus het vir jou sonde gesterf. Dié wat in hierdie tyd as gevolg van omstandighede of onkunde die pad byster geraak het, het sy enigste kans verspeel? Geloof, objektief en afsydig beskou, kan as 'n verfynde vorm van breinspoeling vertolk word. Tog is dit dié spil waarom geloof draai. Sonder geloof in die kruisdood is al jou goeie dade op aarde tevergeefs? Meer hieroor later.

'n Baie goeie voorbeeld van iemand wat die pad byster geraak het, is die hartroerende verhaal deur Pumla Godoba-Mizikandela in haar boek A Human Being Died That Night oor die lewe van Eugene de Kock. Hierdie "Prime Evil" smag na vergifnis deurdat hy sy oortredings openlik erken. Hy soek vergifnis van sy slagoffers en doen dit, waar moontlik en verkieslik, deur persoonlike ontmoetings. Waar hy dit wel regkry, is dit 'n verlossing ook vir die slagoffers se naasbestaandes, want dit bevry die slagoffer van die tronk van veroordeling, wraakgedagtes en die afsondering wat dit meegebring het. De Kock self het in hierdie strik beland deels as gevolg van sy kultuurgebonde verwysingsraamwerk en die beskerming wat hy belowe is van "hoër gesag."

Die les vir die toekoms uit die Eugene de Kock-sage is die moontlikheid wat versoening in die gees van geregtigheid kan bereik, dié geregtigheid waarna ook Willie Esterhuyse verwys. Beperkte verwysingsraamwerke, aan albei kante, het in de Kock se geval weereens 'n beslissende rol gespeel.

Die kern van jou as mens se verwysingsraamwerk word die eerste ongeveer 7 jaar van jou bestaan gelê, hoofsaaklik deur jou ouers as rolmodelle. Op hierdie stadium is die verwysingsraamwerk egter nog nie voltooi nie. Dus, teen die tyd dat jy begin bewus word van jou relatiewe posisie in die lewe om jou, bevind jy jou in 'n situasie waar die spesifieke tydstip van jou geboorte in hierdie spektrum van die ewigheid, die land en kultuurgroep van geboorte, jou ouers en jou basiese verwysingsraamwerk reeds 'n gegewe is. Jy had geen keuse of inspraak, nou moet jy net voortploeter om jou missie op aarde te volbring. Jou verwysingsraamwerk word dan verder uitgebou deur kontak met jou medemens, hoofsaaklik steeds ouers maar ook, primêr, onderwysers en vriendekringe. Jou verwysingsraamwerk word egter nooit werklik voltooi (afgesluit) nie. Jou basiese drang na aanvaarding en erkenning is bepalend in die vriendekring wat jy opsoek asook jou motivering vir prestasie. Hierdie motivering verloop meestal negatief, gesien teen die geskiedenis van menseverhoudings en gepaardgaande misdrywe.

Dit klink nie reg en aanvaarbaar dat diegene wat bestem is om die "offergawes" in die lewe te wees, vir ewig verdoem is nie.

Die Bybelse verklaring is dat die onsterflike psige van die mens individueel en onafhanklik aan elke mens gegee word as sy verantwoordelikheid om voor te berei vir die ewige lewe / die hiernamaals.

My persoonlike afleiding is egter dat hierdie siel-gees, hierdie totale nie-materiële eenheid (soos die Bybelse Heilige Gees) in elke mens, aangewend word uit 'n enkele alomvattende bron, soos die Ruah van die Jode, en dat dit dan van geslag tot geslag in een of ander vorm heraangewend / oorgedra word as kerndeel van die evolusieproses. In dié sin is alle mense op aarde in wese ware familie.

Dit alleen kan verklaar hoekom net sekeres in 'n bepaalde geslag die offergawe (die "kwaad" wat die "goed" inspireer) is vir die vooruitgang van die mensdom. Hierdie psige van jou sorg dat jy onder jou huidige omstandighede jou unieke rol speel in die evolusie van die mensdom as geheel. Hierdie psige beweeg dan aan om in volgende geslagte 'n nuwe en beter rol te speel in die groter belang van die ewigheid. Steeds bly elke psige deel van die groter geheel (die voedingsbron) en die heraanwending bestaan moontlik uit ander kombinasies van en aksente in die psige. Die rol wat jy tans speel, is vooraf bepaal, soos ook vir die nageslagte.

Die mensdom se ontwikkeling (evolusie) moet sinoniem wees met die lewe van die mens op aarde. Tans bevind die mensdom hom nog in sy babaskoene. Hierdie baba is nog onverantwoordelik en ongedissiplineerd, werk nog aan 'n verwysingsraamwerk, is selfsugtig, gooi gereeld 'n "tantrum," maar is totaal afhanklik en gereeld tog nog vriendelik, liefderyk en vreedsaam. Die "ouer" vir die mensdom in dié tyd is moontlik die godsdiens van sy kultuurgroep. Die tyd om groot te word gaan, in evolusionêre tyd, baie baie lank neem. Die mensdom moet nog deur al die fases van groot en oud word gaan, wat insluit; kleuter, kind, tienderjarige, puberteit tot volwassenheid, student tot erkende kundige asook die era van die "Die Wyse Gryse" gaan om sy taak te volbring.

Niemand weet nog wat hierdie einddoel van die lewe is nie, maar al hoe meer denkers stem saam dat daar 'n soort eenheid is wat in die toekoms in 'n enkele doelwit sal kulmineer. Sal die rede vir lewe op aarde eers dan duidelik wees?

In Jaap du Randt se boek Evolusie, Wetenskap, Geloof word die verhaal van Teilhard de Chardin, 'n toegewyde Rooms-Katolieke priester maar ook 'n paleontoloog en evolusionis, vertel. Dit is veral Teilhard se filosofie en toekomsvisie wat aansluiting vind by die gevolgtrekkings van die voorafgaande skrywe in hierdie dokument.

Vir Teilhard bestaan die Openbaring en Natuurwetenskappe (NW) tans op twee vlakke, maar die NW sal dié verskynsels in een waarheid saamvat deur evolusie van alle wetenskappe asook teologie. Dit gaan in wese oor die "Stof van die Kosmos", materie opgebreek in fynste denkbare vorm. (Sien ook verwysing na Lawrence Krauss se boek A Universe from Nothing). Daar is verbasende eenheid en gelyksoortigheid in die molekules, atome, elektrone ens. van alle stof en energie bind hul tot 'n eenheid saam wat met tyd al hoe meer kompleks word. Nuwe vorms van materie word aanhoudend geskep. Atome verbind in molekules wat weer met ander molekules verbind, polimerisasie vind plaas wat lei tot meer komplekse verbindings. Dit lei tot "korrels" van proteïen wat weer kettings van aminosure vorm en ontstaan van selle en die begin van lewe ten gevolge het. Die moontlikheid van lewe en bewussyn was van die begin af in God se skeppingsdaad teenwoordig.

Alle molekules en lewende substansies is op dieselfde wyse asimmetries en bevat dieselfde vitamines. Hoe komplekser organismes is hoe duideliker is hul ooreenkoms. Daar is 'n universele uniformiteit in die basiese sellulêre patroon. Die begin van lewe was 'n unieke gebeurtenis om nooit herhaal te word nie. (Dié mening het die hedendaagse aanvaarding van die Oerknal as die oorsprong van die heelal vooruitgeloop). Daar is 'n duidelike evolusieproses wat loop van materie tot lewe tot die psige. Alle ontwikkeling en verandering is die gevolg van uiterste omstandighede en magte.

"Iets" in die atmosfeer is besig om die loop van die geskiedenis te verander. Bokant die tot nou toe Biosfeer, vorm nou die Denklaag – die Noösfeer volgens Teilhard. Dit is 'n nuwe dier wat stelselmatig alle vorme van lewe onderwerp wat lei tot 'n onweerstaanbare gety van nuwe skeppings en strukture van materie en idees, 'n verandering van planetêre grootsheid en omvang. In dié Noösfeer het die aarde 'n siel gekry en begin die evolusieproses in hierdie vlak. Soos met die vorige evolusies is daar 'n toenemende kompleksiteit wat lei tot konvergensie van die menslike wêreld, die stimulering van menslike denke en gedagtes, verdere tegnologiese deurbrake, toenemende konvergensie en kompleksiteit; alles neig na 'n eindpunt, die spits van die evolusiekegel – Teilhard se "Omegapunt" – die hoogste selfverwerkliking en eenheidsbeweging van die mensheid as totaliteit. Dit kan lei tot mens se bevryding van die aardse tronk en die binneval van die planete. (Vind reeds plaas met ruimtereise?)

Vir Teilhard is dit die God-Omega, die voleinding van evolusie, die kritieke punt waar die menslike ryping en wederkoms saamval, die voleinding van die wordingsproses van die mensdom. Die hemel!

Tot sover Teilhard de Chardin. In terme van huidige verwysingsraamwerke kan sommige lesers dit dalk moeilik verwerk. Die punt is egter dat hier 'n prima voorbeeld is van een wat die Christelike geloof en die harde feite van die wetenskap en evolusie kon amalgameer.

Dit bring mens by die baie netelige kwessie van geloof, godsdienste en kerke; die kerk as die verkondigers en instandhouers van geloof. In Hebreërs 11:1 word geloof gedefinieer as: "Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Nêrens word na God spesifiek verwys nie. Dit kan, en is, in wese oral en op alles van toepassing. In meeste gelowe bly dit egter 'n groot bron van motivering, strewe na 'n gemeenskaplike doel en die stel van morele en etiese waardes. Gebed is die beste middel tot die bou van selfvertroue. Objektief beskou kan geloof vertolk word as 'n vorm van breinspoeling, soos voorheen genoem. Om te veralgemeen, deur te glo in hierdie ding wat ons hoop, maar nie kan sien nie, moet net genoeg herhaal word om 'n "werklikheid" te word. Die Egiptiese en Griekse afgode was tipiese voorbeelde hiervan. Lenin en Hitler het dit polities uitgebuit wat tot groot tragedies in die wêreld gelei het.

Wat die Christendom betref, moet die boodskap van die Bybel, die lewe van Jesus as rolmodel, verhewe bly bokant die verkondigers se vertolkings daarvan. Menslike interpretasies het gelei tot die magdom denominasies van vandag. Daar is 'n formaat met rituele vir elke smaak. In sy boek Bad Religion: How We Became a Nation of Heretics vertel Ross Douthat hoe die VSA 'n land van pseudo-Christene geword het. Benaderings soos "Choose your own Jesus to fit your own preconceptions", "God desires you to be rich", "Anything can be justified from the Bible" is sprekende voorbeelde.
Die moreel-etiese boodskap in die konteks van geregtigheid, soos versinnebeeld in die lewe van Jesus, is tog vir almal dieselfde!
Die Roomse Katolieke kerk, die eerste Christelike kerk, het die Middeleeue met 'n ysterhand regeer. Die troon en die altaar was dieselfde, nie slegs vennote nie. "Power corrupts and absolute power corrupts absolutely."

Die vergrype van die Spanjaarde, in die naam van die Heilige Romeinse Ryk, teenoor die Inka-keiser van Peru in 1532 waarin duisende Inkas gedood en 80 kubieke meter goud gebuit is, is geregverdig deur die stelling dat hierdie daad die Inka-heidene aan die heilige Katolieke Geloof "bekend gestel het." Jared Diamond in Guns, Germs and Steel boekstaaf hierdie verhaal in detail.

Enigiemand wat destyds met die dogmas van die Katolieke Kerk verskil het, is gebrandmerk as 'n ketter. Martin Luther was so 'n ketter as ook Nicolas Copernicus en Galileo Galilei, vaders van die moderne sterrekunde en die teleskoop. Hierdie praktyke het voor, gedurende sowel as na die Hervorming, voortgeduur. Vandag vind ons dieselfde veroordeling van die Evolusieleer deur baie Christene. Die houding is steeds: "Don't confuse me with the (scientific) facts." Die tendense uit die verlede wys dit is net 'n kwessie van tyd voordat die wetenskap weereens sal seëvier.

Daar is egter Christine, insluitend baie predikante, wat nie 'n probleem met die Evolusieleer het nie. Objektief beskou, is ons tans ook maar net in 'n fase van evolusie van die Christenskap en gepaardgaande geloof.

Maar vir eers weer terug na die sienings van Teilhard de Chardin. In A Universe from Nothing toon die fisikus Lawrence Krauss dat die heelal bly uitdy (en teen 'n versnellende pas) wat bewys dat die heelal 'n energie bevat wat die swaartekrag van die heelal verreweg oorskry. Selfs al word die energie van die oorvloed van ligte elemente (stikstof, helium, lithium ens.) in die ruimte tussen die sterre in berekening gebring, vergoed dit nog nie vir hierdie uitdy-energie benodig nie. Hierdie energie is moontlik te vinde in die sg. "dark matter", materie wat nie lig uitstraal nie en dus nie opgespoor kan word nie. Met die uitslae van onlangse toetse in die Large Hadron Collider in Switserland glo wetenskaplikes om nou te kan bewys dat "Iets uit Niks" moontlik is. Tot dusver was dit nog net spekulasie, maar die spekulasie-sy van alle teorieë word met tyd net al hoe kleiner.

Dit wil voorkom of Teilhard en Krauss van dieselfde verskynsel praat, die een uit die verwysingsraamwerk van die oortuigde Christen, die ander uit die oogpunt van die oortuigde ateïs.

Teilhard se reis na die Omega-punt het egter reeds sigbaar begin. Oorspronklik was die mensdom oor die aardbol verspreid en geïsoleerd, elk met eie taal en kultuur. Deur die eeue heen word hierdie grense meestal gewelddadig afgebreek, kulture word geïntegreer, tale verdwyn (volgens een bron teen 'n taal elke twee weke, na skatting het 640 tale reeds verdwyn) en die wêreld is besig om teen versnellende tempo die "global village" te word van een nasie, een taal, een kultuur en een strewe. Die mens se verwysingsraamwerk word voortdurend verbreed wat meer akkommoderend word vir ander kulture, alles as deel van die reis na die "Omega-punt". So ook sal Afrikaans en die Afrikaner mettertyd in die slag bly, maar slegs nadat hulle positiewe rolle / bydraes uitgedien is.

Hierdie reis is ook sigbaar by die individuele mens se kapasiteit om van geslag na geslag al hoe meer kennis per kapita te kan absorbeer. Ek hoef slegs oor die 5 geslagte vanaf my oupa tot my kleinkinders te kyk en die sigbare positiewe verskille is geensins 'n refleksie op IK's nie; eerder op blootstellings. Die totale groeiende kundigheid in die wêreld is tans volgens 'n statistiese normaal distribusie versprei oor 7 miljard mense. Weens swak onderwys is baie meer as die helfte nog nie eens beskore om tegnologiese voordele te benut nie, wat nog 'n bydrae maak.

Die werklik kundiges wat die tegnologie dryf, is 'n klein groepie wat al hoe minder werk skep en dit vir slegs die hoogs opgeleides. Werkloosheid en armoede neem toe, die potensiaal vir 'n revolusie groei en die druk op die begaafdes om in eie belang 'n oplossing te vind, neem toe. Die duidelike oplossing is om die armes met onderwys en opleiding te bemagtig. Tegnologie gaan dit doen (en doen dit reeds deur internet-afstandsonderrig) om 'n wêreldbevolking te skep waar almal kundiges is.

Gesien in hierdie raamwerk van die totaliteit van die ewigheid het geen individu die reg om teen enigeen anders te diskrimineer ten opsigte van ras, kultuur, intellek, vermoëns of wat ook al nie. Dat dit wel nog algemeen is, is omdat elkeen nog optree in ooreenstemming met sy eie beperkte huidige verwysingsraamwerk en dit is die rol wat elk nou moet speel in die huidige fase van evolusie. Die stelling in die Bybel in Psalm 139 dat die mens se pad reeds voor geboorte uitgestippel is, vind sy toepassing in bogenoemde uiteensettings.

Opsomming

Tot sover my spekulasie oor die toekoms.

Slotwoord

Dit wil voorkom of die werklike kern van menslike innerlike evolusie gaan oor die bereiking van volwassenheid in verwysingsraamwerke. Dit is tans nog die kiem van menslike vooroordeel wat tot konflik lei. Dit gaan egter tydsaam wees omdat hierdie konflik juis innovasie aanspoor.

Voorafgaande soms onsamehangende en ondeurlopende skrywe is uiteraard my eie gevolgtrekkings gebaseer op insigte na lang bepeinsings en oorwegings. Ek voel taamlik tevrede en oortuig met die gevolgtrekkings bereik.

Kommentaar sal dus baie welkom wees. My wens is dat dit opbouende kommentaar sal wees wat insluit regstellings en aanvullings. 'n Gesonde dialoog is slegs dan moontlik.

Prof. Piet Pretorius kan gekontak word by:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.