.

God, godsdiens en evolusie (Deel 1)

Deur Prof. P. C. Pretorius op 1 April 2014

.

In Deel 1 (van 3) word tot die gevolgtrekking gekom dat die mens se lewe op aarde slegs begin het.
(Deel 2 is hier te vinde, en Deel 3 hier.)

Voorwoord

Soos wat dit die geval is met baie mense wat soekend is na die doel van en rede vir die lewe, is hierdie skrywe se uitkoms ('n openbaring op 'n persoonlike vlak) na vele diep denke en bepeinsing oor hierdie onderwerp. Hierdie uitkoms is verrassend, radikaal maar tog, myns insiens, logies en amper voor die handliggend. Dit kom, onder andere, daarop neer dat die lewe uit 'n totaal ander perspektief gesien en evalueer behoort te word as wat dit tans gedoen word.

Dié gevolgtrekkings is bereik deur na die verloop van die geskiedenis vanaf 4,57 biljoen jaar gelede (die wetenskap se geboortedatum vir moederaarde) te kyk en te evalueer in die mees objektiewe en gebalanseerde wyse vir my moontlik. Absolute objektiwiteit is bykans onmoontlik, want dit vereis om bokant jou huidige verwysingsraamwerk uit te styg, terwyl mens net gebalanseerd kan wees indien al die feite oorweeg word.

Enige persoonlike verwysingsraamwerk is die produk van opvoeding en is dus baie kultuur gebonde. Met die voordeel en wysheid van terugblik is dit, as voorbeeld, verstommend hoe die konflik in die apartheidsjare aangevuur is deur die beperkte kulturele verwysingsraamwerk aan beide kante. Dit is 'n deurlopende probleem op enige interpersoonlike kontak.

Inleiding

Die mens as denkende dier het deur eeue van evolusie stadig tot die besef gekom dat die natuur van plant en dier in 'n fyn balans is, dat daar 'n uitspansel daarbo is wat groot en onmeetbaar skyn te wees, dat die anatomie van mens en dier ooreenstemmend en kompleks is en dat die mens se vermoë om deur sy denke, geheue en vooruitbeplanning hom in 'n bevoorregte posisie ten opsigte van die res van die skepping plaas. Die mens het uitgestyg bo die dierlike instink van die sterkste regeer. Die mens het dié rol van die fisiese "dominante" geleidelik vervang met norme soos inisiatief, intellek en karakter en 'n sisteem geskep wat oop is vir almal om 'n leiersrol te vervul. Een van die gevolge was 'n nageslag van die mensdom wat die hele spektrum dek in terme van fisiese voorkoms, vermoëns, intellek, leierskap, kultuur en vele ander. 'n Wêreld wat grootliks oorbevolk is en die natuur wat erg beskadig is, was een van die gevolge hiervan.

Onderwys en opleiding het die basiese bousteen van 'n nasie en elke individu se sukses op alle gebiede geword.

In sy toenemende verwondering van die skepping kon die mens dit slegs toeskryf aan die werke van 'n onbekende Skepper-God. Omtrent alle godsdienste gaan in wese oor God. Tog is God is nie reëel nie; niemand het hom ooit gesien nie. Almal is egter bewus van die teenwoordigheid van 'n bomenslike maar tog natuurlike siel en gees of albei. Ons emosies, ons denke, ons geheue, ons verstandelike vermoëns en ons visualisering laat ons besef dat daar iets is wat net groter is as my fisiese bestaan.

Elkeen het 'n eie visie / interpretasie hieroor en dit word gewoonlik toegedig aan die onbekende God of Opperwese. Die Judaïsme, byvoorbeeld, bestaan uit deurlopende filosofiese denke oor wie God is en wat die interaksie tussen God en mens moet wees. Hierdie siening is buigsaam afhangend van wie die invloedrykste filosoof is / was. Vir die Christen is dit verdag, maar die Jood se denke word daardeur gestimuleer en is bydraend tot die Jood se, oor die algemeen, hoër intelligensie. Die Jood en meeste ander godsdienste beskou weer Christus as slegs 'n goeie profeet.

Die feit is egter dat die mens deur sy gees en verstand en met die bewondering van die skepping oortuig is van 'n Opperwese. Alle gelowe wêreldwyd erken, eerbiedig en streef na die vier universeel aanvaarde morele waardes wat bestaan uit welwillendheid teenoor jou medemens in nood, onpartydigheid, eerlikheid en 'n onderskeid tussen goed en kwaad. Die mens is voortdurend op soek na 'n verklaring vir die siel en gees wat in hom bestaan en wat ewig soekend is. Die mens se alledaagse lewe gaan basies oor sy interaksie met sy medemens en om die wonders van die skepping te ontgin en te verklaar. Geen taak verrig hier op aarde het nie te doen met jou medemens of is 'n interaksie met die produkte van die skepping nie.

Tog bly dit onverklaarbaar hoekom die mens wel hier op aarde is. Hoekom is die lewe so ongenaakbaar wreed en wat word van die mens na die dood? Laasgenoemde onsekerheid vorm die basis van alle gelowe en elkeen weerspieël sy eie oortuiging en filosofie deur sy geloof. Dit is egter ook opvallend dat die interpretasie van die inhoud van die Bybel verander en aanpas na aanleiding van wetenskaplike deurbrake. Een van die bekendstes is dié van Nicolaus Copernicus wat in die 15e eeu bewys het dat die konsep dat die aarde die middelpunt van die heelal is nie bestaan nie en het daarmee die basis gelê vir die totstandkoming van die moderne Sterrekunde. Die Katolieke Kerk het sy siening as Godslastering beskou, hom in huisarres geplaas en hy is eers 3 eeue daarna amptelik deur die Kerk vergewe.

Hoewel daar 'n oënskynlike verskil tussen die Bybel en die wetenskap is, oor veral die evolusieleer, is daar baie wetenskaplikes wat oortuig is dat die wetenskap juis die wonders van die skepping bevestig met hul bevindings. Gerald Schroeder in Genesis and the Big Bang, Francis Collins met The Language of God, Steven Ball se A Christian Physicist Examines the Age of the Earth en Mike Jarvis met God and Evolution is slegs enkele voorbeelde. Hulle bewys dat met ander keuses van woorde in die vertalings van die Bybel, die wetenskap die Bybel in baie opsigte basies ondersteun.

Elke godsdiens het sy eie vertolking van wie God is en hoe hy daardie verbintenis met God kan bewerkstellig. Dit is in wese 'n eenrigtingsoeke; God het self geen godsdiens geskep nie. Dit lyk dus of mens dieper moet delf om by 'n antwoord oor die doel en werke van alles uit te kom. Om dit eerlik te doen verg 'n oordeel wat werklik objektief en gebalanseerd is, soos in die Inleiding uitgespel.

Wat volg is 'n raamwerk / uitleg van 'n siening oor hoe aspekte van die Skepping inmekaar pas en word 'n poging aangewend om die tendense daarin te ekstrapoleer na die toekoms om hopelik 'n meer verklaarbare rede te gee van die dinge wat die mensdom nog altyd en steeds pla.

Daar bestaan menigvuldige diepgaande studies oor alle fasette van menswees, die aarde waarop ons leef, die rykdom van moederaarde in plant, dier en grondstowwe, ons nietige rol in die heelal ens. Daar is m.i. 'n gebrek aan 'n totale oorsigtelike integrasie van al hierdie aspekte weens die feit dat daar soveel afsonderlike spesialisvelde is. Spesialisasie vervul 'n uiters belangrike funksie om kundigheid en die aanwending daarvan tot voordeel van die mens deurlopend te verbeter. Die tyd het egter aangebreek om hierdie spesialiskundigheid te koördineer aangesien elke spesialisveld op sy eie 'n afsonderlike en ietwat geïsoleerde bydrae tot die groter prentjie bring. Hierdie oorbrugging word in 'n groot mate reeds gedoen deur veral wetenskaplikes wat huidige konsepte oor die heelal en die lewe daarin drasties wysig. Sien ook onder andere Lawrence Krauss se boek A Universe from Nothing.

Slegs die geskiedenis van die heelal sedert die Oerknal ("Big Bang") en die evolusieleer het 'n wydgenoeg tydstrekking om enigsins 'n mening te kan probeer vorm oor die rede vir die bestaan van alles. Deur hierdie tendense van die verlede te ekstrapoleer na die toekoms is daar moontlik iets te lere.

Die evolusieleer self is kompleks en multidissiplinêr. In hooftrekke bestaan dit daaruit dat die dier- en plantlewe aanpas by veranderende omgewingstoestande. In Leon Rousseau se boek Die Groot Avontuur toon hy aan in 'n grafiek uit Jay Gould se Book of Life hoe die gemiddelde temperatuur op aarde oor die afgelope 65 miljoen jaar (sedert uitwissing van die dinosourus) verander het. Die temperatuur toe van 24ºC styg oor ±10 mj na 28ºC en val oor die volgende 20 miljoen jaar (mj) na ±18ºC waar dit ronddobber tot sowat 15mj gelede en dan val tot ongeveer 14ºC (begin van sg. Ystyd) waar dit vandag nog is. In terme van gemiddelde aardse temperature is hierdie verskille omvangryk met groot gepaardgaande omgewingsimpakte en aanpassings. Vir sommige mense is dit moeilik om hierdie langtermyn- natuurlike tendense te versoen met die huidige bekommernisse oor aardverwarming.

Vanaf die tyd van die Groot Uitwissing van 65 mj gelede verskyn die soogdiere en veel later die mens. Deur evolusie pas alle lewe aan by die veranderings in die omgewing. Die krokodil, byvoorbeeld, is 'n oorblyfsel van die dino's en is die minste deur evolusie geraak omdat sy omgewing in die water die minste verander het. Daarenteen het ek persoonlik gesien, met die sloping van ou vrieskamers in Johannesburg, hoe rotte wat in die vrieskamers aktief was, na slegs enkele dekades 'n dik isolasiekombers deur lang hare ontwikkel het. Daar is ook ander korttermyn voorbeelde van insekte wat hul kleur aanpas by die kleurveranderings van hul beskermende agtergrond.

Geskiedenis van planeet Aarde

Die oogmerk van die onderstaande opsomming is om 'n begrip te probeer bekom van waar ek as mens tans staan in hierdie "ewigheid" van die skepping. (Sien Geologiese Tydskaal hieronder).

Condensed graphical timelines (Wikipedia)
The second and third timelines are each subsections of their preceding timeline as indicated by asterisks.

.

Met die Oerknal was net waterstof (H), helium (He) en lithium (Li) in die heelal teenwoordig. Hierdie is die ligste elemente in die Chemiese Tabel (Periodic Table) en het onder toenemende intense druk en temperatuur asook die impak van meteorietereën, stadig al die ander (swaarder) elemente op aarde opeenvolgend oor miljoene jare gevorm. Die wêreld se grootste meteoriet het Vredefort ongeveer 2 000 miljoen jaar gelede getref en die gepaardgaande skokgolf het die goud van die Witwatersrand binne bereikbare diepte vir ontginning gebring. Koolstof wat oor 'n lang genoeg tydperk onder uiters hoë druk en temperatuur onderwerp word, verander in diamante. So is alles geskep wat uiteindelik die mensdom later sou ondersteun in sy arbeid vir oorlewing.

Bostaande Geologiese Tydskaal word hier in 3 dele aangetoon waar die boonste figuur die totale tydskaal aantoon. Die 2e figuur herhaal die tydperk vanaf 540 miljoen jaar gelede op 'n groter skaal en so ook die 3e figuur wat die tyd vanaf 65 miljoen jaar gelede herhaal.

Die groter syfers op bostaande figuur dui o.a. die volgende belangrike gebeurtenisse aan:
1 – Maan gevorm, Eerste Oseane, 4 400 mj (miljoen jaar gelede)
2 – Eerste Mikroskopiese Lewe, 4 000 mj
3 – Fotosintese begin, 3 500 mj
4 – Bakterie-suurstof ontstaan, 2 800 mj
5 – Suurstof, Eerste Sneeu-aarde, 2 300 mj
6 – Tweede Sneeu-aarde, 750 mj
7 – Kambriese Opwelling, 540 mj
8 – Eerste Werweldiere, 380 mj
9 – Dinosourusse verskyn, 230 mj
10 – Uitwissing Dinosourusse, 65 mj
11 – Begin Homo-vertakking (Homo-Sapiens, Homo-Erectus) 2 mj

Die wêreld het ook groot uitwissings ("extinctions") beleef, in bostaande Geologiese Tye figure aangedui met 'n nommer plus 'n swart kol, met die prominentste die uitwissing van die dinosourusse 65 miljoen jaar gelede. Hierdie ramp was die aanloop tot die ontstaan van die mens. Soos deurgaans in hierdie skrywe getoon word, het alle rampe op die langtermyn positiewe resultate. Dit word ook beraam dat 98% van alle lewe op aarde reeds verwoes is.

Die vraag is altyd hoe betroubaar hierdie metodes van terugdatering is. Die feit is dat hierdie metodes deurentyd verbeter, vanaf die oorspronklike Koolstofdatering tot moderne DNA-datering. Stevan Ball, hierbo genoem, wys dat alle alternatiewe metodes, binne aanvaarbare afwykings, saamstem oor die ouderdom van die skepping en van moederaarde. Daar is onlangs met nuwe data aanpassings gemaak, maar dit is in die orde van minder as 1%.

Geologie het egter argeologie voorafgegaan. In Earth and Life, 'n Suid-Afrikaanse publikasie onder redaksie van McCarthy en Rubidge, word getoon dat die eerste rots, graniet, 4,1 biljoen jaar gelede in Kanada gevorm is. Plaat Tektonie ("Plate Techtonics") waar die vastelande van die aarde begin wegbreek van die Gondwana "moederland", begin om en by dieselfde tyd. Die oudste Suid-Afrikaanse rots is die Onverwacht Groep te Barberton van 3,5 biljoen jaar gelede.

Die inligting wat volg, is 'n opsomming van die vernaamste gebeure in die geskiedenis van die totstandkoming van Planeet Aarde.

Indien ons die 4,57 biljoen jaar ekwivalent stel aan 'n normale 24-uur-dag kry mens 'n beter begrip wat al hierdie geologiese tye in relatiewe tye beteken:
Om 5:37 – Fotosintese begin, 3,5 bj (biljoen jaar gelede)
Om 12:00 – Oksidasie van Atmosfeer begin, 2,3 bj
Om 12:23 – Meteoriet tref Vredefort, 2,02 bj
Om 21:12 – Kambriese opwelling van nuwe lewe, 530 miljoen jaar gelede (mj)
Om 23:37 – Eerste Gewerwelde Landdiere, 380 mj
Om 23:40 – Dinosourusse word uitgewis, 65 mj
Om 23:59:37 – Die primitiewe Mens verskyn, 2mj
Om 23:59:56 – Homo-Sapiëns verskyn, 200 000 jaar gelede
Om 23:59:59:57 – Moderne Mens verskyn, 17 000 jaar gelede

'n Mens wat 100 jaar leef, is net 0,004 sekondes op aarde volgens hierdie relatiewe skaal.

Die 2 000 jaar oue Christelike Geloof is dan ook net 0,08 sekondes oud.

Dus, in minder as 4 sekondes (eintlik 0,3 sekondes) van relatiewe tyd, het die mens die aarde oorbevolk, die balans in die natuur ontwrig en staan ons op die vooraand van 'n potensieel massiewe ramp. Of staan ons aan die vooraand van 'n glorieryke toekoms?

(Volgende maand: Deel 2)

Prof. P. C. Pretorius het in 1954 gematrikuleer, Hoërskool Nigel. BSc. BIng 1959 US (Siviel), PhD U California (Berkeley) 1970, Direkteur BKS Raadgewende Ingenieurs 1970-1998 (Johannesburg kantoor), Professor RAU Dept. Siviele Ingenieurswese 1999-2003, sedertdien PCP Engineering Consultant, deeltydse raadgewende ingenieur.

Prof. Piet Pretorius kan gekontak word by:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.