God en universiteit moet liefs apart

Deur Prof. Jonathan Jansen – in Rapport op 15 Januarie 2011

Elke keer as daar 'n krisis in hoër onderwys ontstaan, word ernstige vrae omtrent die karakter en doel van 'n universiteit geïmpliseer.

Wanneer 'n regering probeer om sy wil aan 'n universiteit op te dwing, byvoorbeeld wat toelatings of kurrikulums betref, bestaan daar die wesenlike gevaar dat daar inbreuk gemaak word op die heilige waarde van institusionele outonomie. Geen politikus kan besluit wie aan 'n universiteit mag studeer of wat studente in hoër onderwys moet leer nie. Dit is uiters gevaarlik.

Daarom, toe in die sogenaamde Soudien-verslag oor rassisme by universiteite 'n aanbeveling aan die minister van onderwys gedoen is dat universiteite sekere kursusse moet onderrig om rassisme hok te slaan, het ek onmiddellik aan die owerhede geskryf om dit duidelik te maak dat hierdie 'n groter gevaar was – staatsinmenging in die kurrikulums van openbare instellings.

Dit is nie die gedagte wat verkeerd is nie – naamlik om studente omtrent rassisme te leer nie – dit is die feit dat die regering begin om 'n ruimte te betree waaruit dit later baie moeilik sal kan beweeg.

'n Universiteit is nie 'n politieke agent van die staat nie, en dit kan nie 'n plek wees waar politieke partye wedywer om bevoordeling tydens verkiesings nie. Wanneer ambisieuse politici 'n streek-universiteit as die potensiële eiendom van 'n party beskou, soos wat in sommige provinsies die geval is, loop nie net die universiteit nie, maar ook die land sekere risiko's.

Verder is 'n universiteit ook nie 'n godsdienstige organisasie nie. Wanneer godsdienstige groeperings druk op 'n openbare universiteit plaas om 'n Christen-, Moslem- of Judaïese filosofie in sy simbole of in sy kurrikulum aan te hang, word die eie karakter van die universiteit bedreig.

Die eis dat 'n universiteit byvoorbeeld die woord "God" in sy leuse moet weerspieël, is fundamenteel in teenstelling met die doel waarvoor 'n hoëronderwysinstelling bestaan.

Daar is een uitsondering. 'n Parogiale universiteit wat geld privaat insamel om 'n bepaalde teologie te propageer – soos 'n Katolieke universiteit – kan vanselfsprekend sy godsdienstige ideale in die kurrikulum en in die simbole van die instelling soos die leuse laat blyk.

Nogtans, as dit die naam "universiteit" wil dra, kan dit studente nie indoktrineer nie en moet dit binne sy teologiese kernsaak breedweg inklusief wees oor hoe en wat dit onderrig, en aan wie. Hetsy openbaar of parogiaal, 'n universiteit sal spoedig intellektueel sterwend en sosiaal irrelevant raak as sy akademiese en navorsingsagenda te eng en eksklusief is.

'n Openbare universiteit verskil natuurlik hierin dat dit nie 'n bepaalde godsdienstige gemeenskap dien nie. Dit word grotendeels deur die regering gefinansier en sy mandaat is om op alle moontlike wyses die breedste moontlike gemeenskap van personeel en studente te dien, ongeag waarin individue in en om daardie universiteitsgemeenskap glo – of nie glo nie.

Ek het by Suid-Afrikaanse universiteite gewerk waar die gehoor uit Hindoes, Moslems, Jode en ateïste bestaan het en die instelling sy amptelike geleenthede met Christengebed geopen het, uit die Bybel voorgelees het en opgetree het asof die universiteitsfunksie 'n Sondagse kerkbyeenkoms was.

As Christen was ek skaam oor ons arrogansie en onsensitiwiteit oor hoe ons by openbare universiteite optree. Ek wens so dikwels dat my mense daarna wil streef om Christus te vergestalt op die manier waarop hulle leef? eerder as om sinlose gevegte te veg oor die gebruik van Christus se naam in die simbole van openbare universiteite.

Ons blyk te vergeet dat ons 'n lang, skandelike geskiedenis van die insluiting van God se naam in die simbole van openbare instellings het terwyl ons die ergs moontlike euwels, soos apartheid, in Sy naam propageer.

Een van die mees fundamentele take van 'n Suid-Afrikaanse universiteit ná apartheid is daarom die transformasie van die mandaat van die eeue oue instellings. Ons universiteite was verdeeld op rassegrondslag; die gevestigde universiteite het die rassistiese staat en laasgenoemde se – dikwels gevaarlike – projekte gedien in sowel die geesteswetenskappe (deur die projeksie van 'n staatsideologie, byvoorbeeld) en die natuurwetenskappe (deur die vervaardiging van gevaarlike chemikalieë, as voorbeeld).

Die aard en doel van universiteite is heeltemal verwring, en sommige universiteite het die staatsgodsdiens deur hul teologiefakulteite gehuisves.

Die universiteite in hierdie kontekste was staatsuniversiteite wat die politieke en teologiese ideologieë van die regering van die dag geprojekteer en verdedig het. Die skade wat aan Suid-Afrikaanse universiteite weens hierdie onlangse geskiedenis aangerig is, is onberekenbaar, en dit gaan 'n lang tyd neem om hierdie skade wat by talle instellings aangerig is ongedaan te maak, byvoorbeeld wat betref die manier waarop ons redeneer, die dinge wat ons onderrig, die euwels wat ons verdedig en ons begrip van wat 'n universiteit is en wat dit nie is nie.

Om die punt te maak dat 'n universiteit, sy vlae, leuses en seremonies nie 'n Christen-kruistog moet verteenwoordig nie, is nie om te ontken dat universiteite plekke behoort te wees wat ruim geleentheid aan studente bied om hul geestelike belewenis te vier en uit te leef nie.

Studente (en personeellede) is nie bloot kognitiewe entiteite wat gemoeid is met vakkundige kennis nie; ons is ook geestelike wesens wat gemoeid is met daardie diepgaande menslike vrae omtrent die heelal.

Universiteite moet ruimtes verskaf waar studente kan aanbid as hulle sou wou en, net so belangrik, om die groot religieuse vraagstukke van die dag te bespreek en oor te debatteer.

Hierdie is vrywillige aktiwiteite wat alle religieuse groepe studente moet aanmoedig om aan deel te neem, nie net in Christen-groepe nie.

Wanneer ek klein groepies studente op die kampus ontmoet vir ontbyt, vra ek hulle eers of hulle sal omgee as ons bid om God te dank vir die voorreg van voedsel. Hulle stem meestal in, en dit is wonderlik om die vreugde van studente te ervaar wanneer ons hande hou en bid.

Maar hierdie is nie 'n amptelike universiteitsfunksie nie; dit word nie van studente verwag nie; dit is 'n private aangeleentheid.

Ons as Suid-Afrikaners moet duidelikheid kry oor wat die rol van 'n regering is, wat die rol van die kerke en ander religieuse organisasies is, asook wat 'n universiteit is en wat dit nie is nie.

Wanneer ons die rolle en verantwoordelikhede van hierdie verskillende instellings verwar, verswak ons ons demokrasie.

Wanneer ons die simbole van kerke aan openbare universiteite opdwing, ondermyn ons ons heilige geloof.

Prof. Jonathan Jansen is die rektor van die Universiteit van die Vrystaat.

Dr. Abel Pienaar van SES se repliek:

Ek ken nie vir Prof. Jonathan Jansen persoonlik nie, maar na sy artikel in Rapport, God en universiteit moet liefs apart, neem ek nou deeglik notisie van hom.

Sy argument dat universiteite nie godsdiens=organisasies is nie, is in die kol! Hy skryf: "Wanneer godsdienstige groeperings druk op 'n openbare universiteit plaas om 'n Christen-, Moslem- of Judaïese filosofie in sy simbole of in sy kurrikulum aan te hang, word die eie karakter van die universiteit bedreig." Ek kan nie sterker hiermee saamstem nie!

Geen universiteit wat ernstig in die wêreld opgeneem wil word, kan vandag nog skuldig wees aan doelbewuste indoktrinasie nie. Dit is tog fundamenteel in teenstelling met die doel waarvoor 'n hoëronderwysinstelling bestaan.

Die tyd is verseker verby vir enige godsdiens om aanspraak te kan maak op alleenreg van die waarheid. In Suid Afrika het ons vir jare, nee, eeue presies daardie aanspraak gehoor. Die Christendom het sonder enige skaamte of genade hulle verstaan van die werklikheid op ander godsdienste en filosofieë afgedwing (in meeste gevalle met geweld). Dit kan en mag nie meer toegelaat word nie.

Die grootste geskenk wat skole hulle leerlinge en universiteite aan hulle studente kan gee is die vermoë om te leer dink! Prof. Jansen is in die kol met sy "Universiteite moet ruimtes verskaf waar studente kan aanbid as hulle sou wou en, net so belangrik, om die groot religieuse vraagstukke van die dag te bespreek en oor te debatteer. Hierdie is vrywillige aktiwiteite wat alle religieuse groepe studente moet aanmoedig om aan deel te neem, nie net in Christen-groepe nie."

Ek persoonlik dink ons wêreld sal 'n beter plek wees as alle godsdienste net wil erken dat hulle verstaan van God se wil – net hulle eie menslike verstaan is, en ophou aanspraak maak daarop dat dit 'n Goddelike openbaring en sanksie is. Ek vermoed dat daar waar mense vir hulle self kan dink, daar meer eerlikheid, moraliteit en menslikheid sal wees! Die logika van liefde bo haat en waarheid bo die leuen is tog in ons harte geskrywe. Geen godsdiens is nodig om dit daar te plaas nie.

Die individu moet geleer word om eerlik, met integriteit en krities met verskeie vakgebiede om te gaan, en sodoende, by self verstaan en 'n punt van insig uit te kom. Hiermee help godsdiens bitter min, want godsdienste lê klem op blindelingse navolging bo kritiese denke en dit bring mee dat mense hulle verstand afskakel. Godsdiens leer: Moenie dink nie, moenie vrae vra nie; glo net. Meeste godsdienste leer verder dat 'n mens se waarde niks te doen het met wat jy gedoen het, doen, of sal doen nie; nee, jy het net waarde omdat God jou liefhet. Selfopoffering word so die hoogste waarde. Watter verwoestende invloed het hierdie leringe nie op mense se denke nie! En watter negatiewe gevolge het hierdie leringe nie op mense se verstaan van hulle rol en plek in hierdie wêreld nie.

Ek wil dankie sê aan Prof. Jansen vir sy braafheid!

Universiteite se mandaat is: maak ons kinders intellektueel sterk, sosiaal relevant en help hulle om vir hulself te kan dink!

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za