.

God en ons menslike denke...

Deur Dr. Piet Muller op 1 Desember 2019

.

(Dr. Piet se nuwe boek sal iewers volgende jaar verskyn, hier is solank 'n gedeelte daaruit.)

Meister Eckhart, die Duitse mistikus van die 13de eeu, het eenmaal gesê dat die belangrikste afskeid wat 'n mens kan neem is die afskeid van God terwille van God. Hiermee het hy bedoel dat ons opvattings en idees oor God tussen ons en 'n verhouding met God kan staan. Ons word almal groot met bepaalde opvattings oor God, maar soos wat ons geestelik groei en ons kennis toeneem, verander ook ons opvattings oor God. Dit is 'n voorwaarde vir geestelike ontwikkeling.

As kind wat op die platteland grootgeword het, onthou ek nog nog hoeveel mense letterlik swaar weer as die stem van God beskou het. Hoe dikwels is psalm 29 nie in die somermaande gelees nie: Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van die skrik; dit stroop bosse kaal. In sy paleis roep almal uit: "Hoe geweldig!" (1983-vertaling, Vers 9)

Dit was net natuurlik dat die dondergod die god van oorlog sou word: Here van die Leërskare; maar soos die mens ontwikkel het, het die dondergod ook die liefhebbende hemelvader geword. Vir Jesus was God "ons Vader", omdat hy die nabyheid van God wou beklemtoon; so naby aan ons, dat ons die koninkryk van die Vader binne onsself moet soek.

As 'n mens deur die Ou Testament blaai, kom jy gou agter in hoeveel gedaantes God deur die eeue gesien is, totdat God uiteindelik deur die Christene van die stad Alexandrië aangespreek is as Metro-Pater, Moeder-Vader. Selfs die spore van die "nuwe manier" om God te sien, die panenteïsme, kan al in die Ou Testament gevind word.

Ondanks al die baie boeke wat oor God geskryf is, en die baie paragrawe in die belydenisskrifte, weet ons niks van God af nie en kan ons ook nooit iets objektief en feitelik omtrent God weet nie. Wat ons oor God te sê het kan net so maklik 'n halwe waarheid of 'n infame leun wees, want al waarvan ons ooit objektiewe kennis kan hê is van dinge wat binne die terrein van tyd en ruimte lê. Dit het die Duitse filosoof, Immanuel Kant, ons al in die negentiende eeu vertel. In navolging van Kant sê die Neo-Calvinistiese filosoof van die Twintigste Eeu, Herman Dooyeweerdt, dat God "buite die transendentale tydsgrens" lê.

Gestroop van alle groot woorde beteken dit maar bloot dat ons niks oor God kan weet nie. As ons oor God praat stuit ons eenvoudig teen die uiterste grens van ons logika. Ons kan self nie eens beweer dat God "bestaan" nie, want bestaan het slegs betekenis binne tyd en ruimte.

Die Christendom is waarskynlik die enigste godsdiens wat die verskriklike behoefte het om óór God te praat en te filosofeer. Dit is iets wat ons van die Griekse filosowe geërf het, wat die begrip God gebruik het as 'n aksioma om ander dinge mee te bewys. So het die eerste filosowe God beskryf as die eerste oorsaak van alle beweging, wat self nie beweeg nie, 'n oortuiging wat ook na die Christendom oorgespoel het.

In die Calvinistiese wêreld waarin ek grootgeword het, het ons gereeld gesing:

Rus my siel jou God is koning
Oral voer Hy heerskappy.
Alles wissel op Sy wenke
Net Hyself verander nie.

Vergeefs sê Exodus 20: "Jy mag van My geen gesnede beeld of enige gelykenis maak nie" – gewoon omdat God in geen gedaante vergestalt kán word nie ... Tog het baie mense 'n behoefte om 'n "voorstelling" van God te hê; en om vas te glo dat daardie voorstelling "regtig" is soos wat God is. Dit hoef ook nie noodwendig in die vorm van 'n beeld te wees nie, maar meesal as 'n metafoor wat in woorde beskryf kan word. Van die Grieke het ons ook die gebruik geërf om God in menslike terme te beskryf. Vra 'n kind hoe God lyk en die kanse is baie goed dat die antwoord sal wees dat God 'n Ou Man in die hemel is, wat alles sien en alles hoor.

God het tydens die Europese Verligting van die sewentiende eeu 'n handige hipotese geword om dinge mee te verklaar waarop die wetenskap nog geen antwoorde gehad het nie. Net sommige gelowiges het die gevaar daarvan raakgesien. Dit het die gelowige Franse wetenskaplike, Blaise Pascal, in sy persoonlike dagboek laat uitroep: "VUUR. God van Abraham, Isak en Jakob, nie die God van filosowe en geleerdes nie...!"

Maar noudat die wetenskap soveel dinge sonder God kan verklaar, het God as 'n hipotese 'n verleentheid geword.

Ernstige denkers en ernstige Christene glo lankal nie meer dat God 'n Ou Man iewers in 'n "hemel" is nie. Maar tussen fundamentalistiese Christene en ateïste is daar deesdae weer 'n vurige stryd aan die gang om te bewys dat God bestaan óf nie bestaan nie; en albei groepe praat van 'n antropomorfiese God ('n teïstiese God met menslike emosies en menslike gedrag). Maar die waarheid is dat God nie 'n naamwoord is nie, maar 'n werkwoord, om aan te dui dat ons die grens van ons logiese denke bereik het.

Van die vroegste jare van die Christendom af waarsku mistici al teen letterlike denke oor God. In die derde eeu skryf die kerkvader Orígenes dat net eenvoudige mense kan dink dat God, soos 'n boer, 'n ommuurde tuin sal aanlê (dit is wat die woord paradys beteken) en bome daarin plant om twee mense en 'n klompie diere, soos in 'n dieretuin, aan te hou.

Nog 'n vroeë denker, Dionisius die Areopagiet, skryf 'n hele boek om aan te toon dat ons God net in metafore kan beskryf. Metafore is die maskers waaragter ons glimpse van God kan ontdek, soos Joseph Campbell eenmaal gesê het; metafore soos 'vader' en 'moeder', 'n hen met kuikens, 'n rotsvesting, 'n tere beminde en nog vele meer word in die Bybel gebruik om belewenisse van God mee te beskryf. Maar nie een van hierdie metafore is God nie!

Jesus self spot in die evangelie van Thomas met mense wat letterlik dink: As julle onderwysers vir julle sê die Koninkryk is in die hemel, moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie! (Thos 3)

Maar direk daarna openbaar Jesus 'n geheim wat nooit genoeg beklemtoon kan word nie: "Die Koninkryk is in julle harte en rondom julle". Hy gaan verder: "As julle julself ken sal julle geken word, en julle sal weet dat julle die kinders van die lewende Vader is. Maar as julle julself nie ken nie sal julle in (geestelike) armoede lewe en julleself sal die armoede wees."

Hiermee trek Jesus 'n streep in die sand tussen twee verskillende maniere van glo. Met die een soort het ons reeds kennis gemaak: Dié wat glo daar is letterlik iewers binne die kosmos (dit wil sê binne tyd en ruimte) 'n hemel waar die geredde siele na hul dood 'n bestaan sal voer wat baie soos hul aardse bestaan sal wees, net op 'n geestelike vlak. Maar dat daar eweneens 'n letterlike hel is waarin almal wat nie "reg" glo, of met die ortodoksie saamstem nie, tot in aller ewigheid gepynig sal word.

Die letterlikes en die fundamentaliste preek daarom meesal oor sonde en verdoemenis. Hulle wil die wêreld bekeer, met die swaard as dit moet; die samelewing buig tot húlle siening van reg en verkeerd; en dit selfs as eties reg beskou om te vra dat God mense moet vermorsel wat nie met hulle sosiale program saamstem nie.

Dit is nie net beperk tot Moslem-fundamentaliste nie, maar sluit ook Christene in. Dit is die triomfantelike kerk, waarin Petrus sy swaard-arm nie 'n oomblik se rus gun nie, maar links en regs kap tot "eer" van God. 'n Kerk waarin daar geen plek is vir swakheid en twyfel nie. Die kerk met brandstapels vir wetenskaplikes, hekse en ketters en mense van ander seksuele oriëntasies.

Die lyfspreuk van die tweede soort kerk is Jesus se woorde: Bid vir die wat julle haat, doen goed aan die wat julle kwaad aandoen ... Vergewe sewentig maal sewe keer en koester jou medemens soos die appel van jou eie oog. En as jy die wêreld wil verander wees eers self die verandering wat jy in die wêreld wil sien. As dit vrede is wat jy begeer, wees daardie vrede op 'n sigbare manier. As dit versoening tussen mense en groepe is, leef self daardie versoening uit...

© Piet Muller, DPhil, is 'n toekomskundige, skrywer en spreker. Hy neem gereeld deel aan praatjies oor die radio en is ook dikwels op televisie te sien. Hy studeer filosofie aan die universiteite van die Vrystaat, Kaapstad en Pretoria en is die skrywer van verskeie boeke. Die laaste drie dekades al skryf hy gereeld oor meditasie en spiritualiteit en bied werksessies, kursusse en retraites aan.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.