Gnostisisme toe en nou

Deur Jaco Steyn op 1 Junie 2011

In die jare net na die beweerde lewe en kruisdood van Jesus was daar verskeie Christelike groepe wat hulself as volgelinge van die leringe van Jesus beskou het. Terwyl sommige Christene geglo het dat Jesus die eniggebore Seun van God was en as sodanig verhewe was bo enigiets wat deur gewone mense bereik kon word, het ander Christene geglo dat Jesus 'n "broer in die geloof" was en dat die Goddelike gedeelte van Jesus óók inherent deel was van alle ander mense. Jesus was volgens hulle méér as ander mense, bewus van die Goddelike binne homself en het as sodanig "nader" aan die Goddelike gelewe. As gevolg hiervan kon hy meer volmaak lewe en was die doel van sy leringe om hierdie manier van dink en lewe aan ander mense oor te dra. Hierdie groep Christene wat geglo het dat alle mense die potensiaal het om dít te bereik wat Jesus gedurende sy lewe bereik het, het bekendgestaan as "gnostici".

Die gnostici het geglo in die moontlikheid van mistiese eenwording met, en direkte kennis (Grieks: gnosis) van die Goddelike. Hulle idees het heelwat ooreengestem met dié van ou heidense filosowe soos Plato, maar het heelwat verskil van die godsbeskouing van ortodokse Jode soos bv. die Fariseërs en Skrifgeleerdes van die ou Bybelse tye. Die ander Christene wat geglo het dat Jesus as Seun van God vir mense se sondes gesterf het, het later-aan meer georganiseerd geraak en dit het aanleiding gegee tot die vestiging van die Rooms-Katolieke Kerk. Die Rooms-Katolieke het hul dogmas uiteengesit deur middel van geloofsbelydenisse waarvan die eerste bekende belydenis, die Geloofsbelydenis van Nicéa, in die jaar 325 G.E. vir die eerste keer geformuleer is. Die latere Protestantse Hervormers van die sestiende eeu G.E. het baie van die ou Katolieke geloofsbelydenisse nog steeds aanvaar. Die Afrikaanse driesuster kerke aanvaar bv. vandag nog die oorspronklike ekumeniese belydenisskrifte wat deur die Katolieke opgestel is en waarvan die Geloofsbelydenis van Nicéa deel is.

Baie Afrikaanssprekende mense wat binne die tradisionele Calvinisme grootgeword het, is onbewus van die feit dat daar heelwat verskille was tussen die gnostici en ander vroeë Christene betreffende (1) idees aangaande die eienskappe van die Goddelike, (2) die verstaan van Bybelse geskrifte en (3) verskillende maniere waarop mense verlos kon word van 'n beperkte aardse bestaan. Baie Christen-fundamentaliste is onder die indruk dat vroeë Christene, kort na die beweerde afsterwe van Jesus, hoofsaaklik met mekaar saamgestem het betreffende die verstaan van die Ou Testament as Goddelik-geïnspireerde openbaring van God en Jesus as deel van God Drie-Enig.

Die drie Abrahamitiese gelowe (die Christendom, Judaïsme en Islam) se geloof in 'n persoonlike Skepper God, is hoofsaaklik gebaseer op beskrywings van die dade en woorde van God in die Ou Testament en/of die Koran. Hierdie God het menslike eienskappe soos bv. jaloesie en word as 'n Opperwese beskou met onbeperkte wysheid en almag. Hy is verhewe bo Sy skepping en het sekere reëls en wette opgestel wat mense moet gehoorsaam ten einde belonings soos die ewige lewe, te kan ontvang. Enige mens kan 'n persoonlike verhouding met Hom hê waarin God egter altyd die meerderwaardige posisie beklee.

Gnostici het gebruikgemaak van mites om moeilike spirituele en filosofiese konsepte in storieformaat aan mense beskikbaar te maak. Volgens sommige van hierdie mites was daar 'n duidelike verskil tussen die Ware Onbekende God en die minderwaardige skeppergod (Demiurg) van die aarde. Sommige van hierdie mites het selfs so ver gegaan om die God van die Ou Testament te identifiseer met die bose en/of minderwaardige Demiurg! Hierdie skeppergod het homself verbeel dat hy die Almagtige God is, en het sodoende die aardse wesens in knegskap probeer hou.

Volgens gnostici het elke mens 'n liggaam, siel en gees. Die gees-gedeelte is beskou as 'n vonk van die Goddelike. Dit was die doel van hierdie vonk om herenig te word met die Goddelike. Baie van die ander nie-gnostiese Christene het egter geglo in die dogma oor die erfsondeleer waarvolgens alle mense sondig gebore is en as sodanig verdien om vir ewig hel toe te gaan. Mense kon slegs verlos word deur die genade van God. Hulle beweer dat God besluit het dat net 'n gedeelte van die mensdom verlos kan word indien hulle voldoen aan sekere voorvereistes. Die Katolieke glo bv. dat beide geloof en goeie werke nodig is vir die beërwing van die ewige lewe, terwyl baie Protestante glo dat slegs geloof in Jesus se soendood 'n voorvereiste is vir die beërwing van die ewige lewe.

Daar was 'n herlewing van ou gnostiese idees gedurende die twaalfde eeu G.E. in sekere dele van Europa. Hierdie mense het as Albigensiërs of Kathare bekendgestaan en was veral aktief in die suide van Frankryk. Hulle het geglo in reïnkarnasie en dat die god van die Rooms-Katolieke die bose skeppergod (Demiurg) van die aarde was. Jesus het volgens hulle die Ware Onbekende God verteenwoordig. Dit het volgens hulle veroorsaak dat daar gedurig onmin was tussen Jesus en die volgelinge van die Demiurg – die Fariseërs en Skrifgeleerdes. Die Albigensiërs is op gewelddadige wyse deur die Katolieke vervolg en baie van hulle het 'n pynlike dood gesterf omdat hulle geweier het om die Katolieke geloof te aanvaar. Otto Rahn het in die 1930's 'n uitstekende boek, Crusade against the Grail geskryf waarin hy die wreedhede van die Katolieke uiteensit. In sy tweede boek Lucifer's Court, skryf hy oor die ooreenkomste tussen die geloof van die Albigensiërs en dié van die ou Europese heidene.

Baie Afrikaanssprekende mense wat deesdae begin nuut en anders dink oor godsdiens en spiritualiteit besef dat daar heelwat ooreenkomste is tussen hul eie godsbeskouing en allegoriese verstaan van die Bybel, en die spirituele idees van die gnostici. Waar die gnostici lank gelede as ketters beskou is deur die georganiseerde ortodokse Christendom, word hierdie andersdenkendes ook deesdae daarvan beskuldig dat húlle misleiers en ketters is. 'n Hoogtepunt in die ontwikkeling van spirituele denke binne die Afrikaanssprekende gemeenskap was die onlangse ontstaan van die Afrikaanse gnostiese Renaissance Gemeentes in Pretoria en die Kaap.

Bibliografie

Jesus and the goddess deur Timothy Freke en Peter Gandy
The laughing Jesus deur Timothy Freke en Peter Gandy
Gnosticism deur Stephan A. Hoeller
Not in His Image deur John Lamb Lash
Crusade against the Grail deur Otto Rahn
Lucifer's Court deur Otto Rahn

Die filosofie van godsdiens, veral die positiewe en negatiewe invloede van gelowe op die sosiale en politieke lewensterreine, is Jaco se belangstellingsveld.
Selfoon: 083 384 1115. E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za