.

Gnostiese Jesus

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Mei 2013

.

Elke jaar vier Christene reg oor die wêreld Paasfees. En vir Christene is die sentrale tema van Paasfees natuurlik die kruisiging en opstanding van Jesus.

Dit bring die vraag na vore, wie presies was hierdie enigmatiese figuur Jesus?

Dit is verseker nie 'n eenvoudige vraag nie. Want na presies wie word verwys? Jesus van Nasaret die historiese figuur wat tussen die jare 6 vC en 30 nC in Israel, hoofsaaklik Galilea geleef het? Of verwys die vraag na die Jesus wat voorgestel word as 'n goddelike persoon wat aarde toe gekom het met die doel om vir mense se sondes te sterwe en sodoende vir hulle 'n ewige lewe na die dood te verseker?

Verseker is daar 'n groot verskil tussen die "historiese Jesus" en die "verkondigde Christus." Die een verwys na 'n Joodse Rabbi en die ander een na 'n mitiese God.

Om egter meer van hierdie Jesus uit te vind kan daar net na die bronne tot ons beskikking gekyk word. Geen ander bewyse bestaan nie.

En omdat die Bybel vir meeste Christene die enigste bron van bewyse en inligting rondom Jesus is, is dit so belangrik om eerlik en deeglik daarna te kyk.

Ongelukkig is daar nie baie eenstemmigheid oor hoe die Bybel (en ander erkende bronne) verstaan moet word nie. Nee, eintlik is daar geweldige baie verskille tussen teoloë en Bybelnavorsers.

Aan die een kant is die Ortodoksie wat daarop aanspraak maak dat God bonatuurlike dinge in Jesus se lewe laat gebeur het en sy maagdelike geboorte, opstanding en wonders is werklik gebeure.

Aan die ander kant is daar groepe soos o.a. die Jesus Seminaar-navorsers wat sê bg. dinge kon nie gebeur het soos dit beskryf is nie. Dat hierdie verhale mitologiese interpretasies van Jesus is deur skrywers wat baie jare na Jesus geleef het.

Want vandag sal meeste Bybel-navorsers saamstem dat die evangelieverhale nie direk gelyk aan die mondelinge, oorvertelde gebeure rondom Jesus is nie. Ek sê so omdat dit reeds algemene kennis is dat die evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) eers ongeveer veertig jaar (en in sekere gevalle tot sewentig jaar) na Jesus se lewe en kruisiging geskrywe is.

Dit is dus belangrik vir Christene om, in hulle soeke om Jesus te verstaan, te begin by kritiese vrae oor die Bybel. Vrae soos waar kom die Bybel, soos ons dit vandag ken, vandaan?

Want soos meeste mense weet is daar veel meer geskrifte as wat uiteindelik in die Bybel opgeneem is. Dink maar aan die apokriewe geskrifte wat in sekere van die Bybels nie opgeneem is nie. Dink aan byvoorbeeld die Thomas Evangelie wat ouer is as die vier evangelies, maar ook nie opgeneem is nie. Wie het dit besluit? En al die verskillende vertalings met hulle verskillende implikasies? Kom ek illustreer dit met 'n voorbeeld.

Daar is bevind dat Matteus en Lukas nie net by Markus afgeskryf het nie. Matteus neem omtrent 90% van Markus se materiaal oor, terwyl Lukas omtrent 50% verreken het. Maar dan het hulle ook uit 'n ander bron gesamentlik materiaal oorgeneem. En dit lyk asof altwee toegang gehad het tot dieselfde bron.

Niemand het egter vandag hierdie geheimsinnige bron nie, maar omdat daar woordelikse ooreenstemmings is in die Matteus- en Lukas-evangelies (wat nie in Markus voorkom nie) kon die bron denkbeeldig saamgestel word en is toe genoem die Q-bron.

Waarvoor staan Q? Dit is 'n afkorting van die Duitse woord "Quelle" wat beteken bron. Q word rondom 50 nC gedateer, het in Galilea ontstaan, en bevat van die vroegste getuienis rondom Jesus. Dit is daarom 'n belangrike bron.

Dus is die afleiding dat die Nuwe Testament soos Christene dit vandag voor hulle het, bestaan uit aangelaste en bygevoegde dele en is glad nie 'n dokument wat uit die hemel as eenheid geval het nie.

Tog beskou meeste Christene die Bybel as een boek. Dit is egter nie waar nie, die Bybel is nie 'n boek nie. Die Bybel is 'n versameling boeke. Die sogenaamde "Bybelboeke" was aanvanklik 'n aantal los boekrolle.

My punt dus, die Bybel is verseker nie 'n geheel-eenheid wat oorgelewer is vanuit die hand van die Engele nie. Dus moet ons kyk na die wêreld vanwaar die geskrifte kom, ons moet evalueer wat hulle geglo het: Wat was hulle tyd se wêreldbeeld? Wat het hulle aanvaar as waar, wat vandag dalk nie meer so gesien word nie. Ons moet soek, leer en bevraagteken. Want die Bybel is verseker 'n menseboek geskryf deur mense.

En om Jesus te kan verstaan, moet vandag se Christene moeite maak om uit te vind hoe die vroeë Christene Jesus gesien het. En onthou hierdie vroeë Christene kon min lees en skryf. Die Ou Nabye Oosterse beskawings – insluitende Ou-Israel – was mondelinge kulture.

Twee belangrike ontdekkings (in die afgelope dertig jaar) het egter 'n keerpunt in ons begrip van die eerste-eeuse Christene gebring. In 1947 was daar die ontdekking van die Dooie See-rolle met 'n magdom inligting oor die Joodse godsdiens en die agtergrond van die Christendom.

In 1945 is daar in Egipte by Nag Hammadi 'n verdere ontdekking gemaak deur 'n Egiptenaar Muhammad Ali, wat 'n kruik met vroeg-Christelike kodekse (die vroeë vorm van gebinde boeke van perkament) en tekste gevind het. Dit het 'n belangrike rol begin speel in die herinterpretasie van die vroeë Christendom.

Want vir die eerste keer in amper 2000 jaar is die vroeë Christendom self aan die woord en hoef ons hulle nie net te hoor vanuit teoloë en predikers se monde nie.

Onder die Nag Hammadi-geskrifte neem onder meer die herontdekte Evangelie van Thomas 'n belangrike plek in. Sommige navorsers reken dit is selfs vroeër geskrywe as die oudste evangelie (Markus) wat in die Nuwe Testament opgeneem is. Hierin word 'n koninkryk van God verkondig wat al in hierdie wêreld bereik kan word. En dat God nie iewers daar buite is nie, maar binne en rondom ons. En dat ons één kan word met God.

Ook tussen die boeke en tekste wat gevind is by Nag Hammadi was die Evangelie van Filippus, wat Jesus voorstel as baie anders as wat die evangelies in die Nuwe Testament dit doen. Byvoorbeeld die maagdelike geboorte en die vleeslike opstanding van Jesus word uitgewys as kinderlike denke en misverstand.

Hiermee saam is ander boeke soos die Geheime boek van Johannes, Evangelie van Waarheid,Boek van Thomas die kampvegter, Die briewe van Petrus aan Filippus en die Evangelie van die Egiptenare gevind. Dit is net 'n paar titels van 'n klomp insiggewende manuskripte.

Vanuit hierdie nuwe inligting kon daar nou duidelik gesien word dat die Christendom nie net een homogene groep mense was nie, daar was duidelik verskillende groepe en daarmee saam verskillende sienings en oortuigings oor wie Jesus was. Die twee hoofgroeperings was die ortodoksie en gnostiese bewegings.

Professor Elaine Pagels van Princeton Universiteit, wat navorsing gedoen het op veral die minder bekende groep die Gnostiese Christene, verduidelik dat hulle geglo het dat elke mens 'n eerstehandse gnosis of kennis van God kan hê. Dat daar nie net deur tradisie en tussengangers soos Jesus, priesters en kerklike dogmas by God uitgekom kan word nie, maar dat elkeen van ons die Gees van God binne ons het en dus gesagvol kan getuig oor ons ervarings met God. Sy skryf oor een van die bekende gnostiese denkers, Valentinus:

"Valentinus (a Gnostic) and his followers answered: Whoever comes into direct, personal contact with the 'Living One'. They argued that only one's own experience offers the ultimate criterion of truth, taking precedence over all second-hand testimony and all tradition – even Gnostic tradition! They celebrated every form of creative invention as evidence that a person has become spiritually alive."

Met ander woorde, Gnostiese Christene in die eerste en tweede eeu het geglo dat elke mens God kan beleef, sonder die begeleiding van priesters, biskoppe en die kerk.

So ook sê Tau Malachi in sy boek Gnosis of the Cosmic Christ: "The religious person is, as yet, an outsider to the experience worshipped, while the mystic is an insider of the experience worshipped. This well defines the term Gnostic, which means 'one who knows trough direct experience' or 'one who is a knower."

Sodoende word jou direkte belewenis van die goddelike jou rigtingwyser en daarom is nuwe denke, maniere van uitdrukking, poësie, belydenisse aangemoedig.

Dit het natuurlik die ortodoksie baie kwaad gemaak, want hulle het geglo slegs die dissipels wat direkte kontak met Jesus van Nasaret gehad het, kon enige "waar" uitsprake maak. Gnostici het egter geglo enigiemand kon direk kommunikeer met die "Lewende Een". Die Gnostici het dan ook verskeie sienings gehad van Jesus van Nasaret.

Jesus was vir hulle verseker 'n wonderlike voorbeeld, maar dat hy liggaamlik uit die dood opgestaan het, was nie noodwendig vir hulle waar nie. Jesus het gesterwe, maar omdat hulle glo sy herinneringe en woorde leef in elkeen, kan hy ook beskryf word as die opgestane Christus.

Hierdie opgestane Christus was vir hulle 'n geestelike belewenis wat 'n realiteit in jou lewe kon word. Daarom sal die Gnostici sê Paulus is 'n Gnostikus want sy belewenisse van die Christus was deur drome en visioene. Prof. Pagels sê dan ook:

"The resurrection, they insisted, was not a unique event in the past: instead, it symbolized how Christ's presence could be experienced in the present. What mattered was not literal seeing, but spiritual vision ... The disciples themselves often misunderstood what Jesus said: those who announced that their dead master had come back physically to life mistook a spiritual truth for an actual event. But the true disciple may never have seen the earthly Jesus, having been born at the wrong time, as Paul said of himself. Yet this physical disability may become a spiritual advantage: such persons, like Paul, may encounter Christ first on the level of inner experience."

Dus miskien kan Paasfees vandag tog nog 'n spirituele verdieping bewerk, sonder dat daar noodwendig na Jesus gekyk hoef word soos die ortodokse groepe dit gedoen het. Dalk kan wat die Gnostici gesê het van Jesus ons beter help as wat die letterlike verstaan kan.

Want as Paasfees se boodskap vandag kan wees: dat ons net soos Jesus toe, elke dag as "one who knows through direct experience" kan leef – sal ons weer herinner word dat die lewe 'n dieper misterie is as net ons oppervlakkige belewenis. Dat die Gnostiese verstaan van Jesus ons help om meer menslik te word eerder as meer godsdienstig; ons help om wakker te word vir die lewe hier en nou.

Ek sluit af met een van my kort gediggies:

Daar waar jy wakker is
Daar is jy heilig
Daar waar jy bewustelik is
Daar is jy heilig
Om te sien asof vir die eerste kyk
Om te asem asof vir die eerste teug
Dit is om weer gebore te word asof vir die eerste keer
Haal asem en weet
Hier is nou en nou is hier

Mag jy en die wat jy liefhet – in hierdie tyd van herkonneksie – die Christus bewussyn binne julle beleef.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.