.

Geweld

Deur Douwe van der Zee op 1 Maart 2013

.

"Unless the causes of violence are isolated and treated, we will continue to live in a world of fear and apprehension. Unfortunately, violence is often offered as a solution to violence. Many law enforcement officials advocate 'get tough' policies as the best method to reduce crime. Imprisoning people, our usual way of dealing with crime, will not solve the problem, because the causes of violence lie in our basic values and the way in which we bring up our children and youth."
– James Prescott, America's lost dream

Die verkragting en gruweldood van Anene Booysen, en kort daarna die dood van Reeva Steenkamp (waaroor seker die meeste mense klaar besluit het dis Oscar Pistorius wat haar vermoor het) het die land en selfs die wêreld die laaste ruk op hol gehad. Allerhande organisasies wat teen geweld teen vroue en kinders gekant is het hul stem laat hoor, en verskeie petisies doen die rondte.

Wat beoog hierdie organisasies en petisies? Dieselfde 'oplossing' as dié hierbo, naamlik meer geweld? Vir baie mense is dit inderdaad die onmiddellike reaksie. Dis verstaanbaar, want ons leef in 'n gewelddadige kultuur. 'n Integrale deel van daardie kultuur is 'n slagoffermentaliteit. En daardie mentaliteit het sy oorsprong in emosionele pyn – waarvan die meeste uit ons vroeë kindertyd dateer. En dis die een ding waarna ons weier om te kyk. "Seek but do not find," sê A Course in Miracles, is die basiese eienskap van die ego.

In sy artikel America's lost dream, vat Dr James Prescott 'n magdom navorsingsresultate saam oor die belangrikheid van affeksie, borsvoeding en so meer in vroeë kindertyd. Dit sluit sy eie navorsing in wat hy destyds by die American Institutes of Health gedoen het. Dis skynbaar as gevolg van hierdie navorsing dat hy deur die NIH gevra is om te bedank (of anders...). Sy navorsing het die moontlikheid van 'n antwoord ingehou wat die militêr-industriële sisteem glad nie gepas het nie.

Die essensie van die artikel word opgesom in die volgende aanhaling uit die artikel: "There can be little question that the roots of abusive, violent sexual relationships have their roots in the emotional deprivation of physical affection and love as infants and children; a history of child abuse, particularly sexual abuse that accompanies such emotional deprivations of physical affection and love; and that these early traumatic life experiences of emotional deprivation establish a compulsive need for physical affection later in life that is expressed in early sexual activity with partners who mix the pleasure of sex with abuse and violence. The need for physical affectional pleasure, of being wanted and loved overpower the need to avoid the pain of abuse and violence."

Prescott maak dit baie duidelik dat seksualiteit op sigself nie die probleem is nie, maar wel die ontkenning en onderdrukking van seksualiteit. Disfunksionele seksualiteit kan meestal na 'n disfunksionele band tussen moeders en hul babas herlei word (in terme van wat natuurlik is). Sy eie studies het daarop gewys dat seksuele geweld en kindermishandeling ongekend is in kulture waar daar geen onderdrukking van seksualiteit is nie.

In hul boek Sex Before Dawn maak Christopher Ryan en Cacilda Jethá 'n soortgelyke aanspraak. Volgens hulle is ons inherent promisku, en monogamie soos ons dit ken werk nie. Waarom anders sou die seksbedryf so geweldig suksesvol wees en egskeidings en 'egbreuk' so algemeen voorkom? In 'n diepgaande oorsig oor wetenskaplike studies (en wetenskaplike vooroordeel) op die gebied van menslike seksualiteit, gebruikersvriendelik geskryf met 'n verfrissende sin vir humor, stel die outeurs die hipotese dat monogamie sy ontstaan het in ons vervreemding van ons inherente natuur. Dat ons oorspronklik dieselfde tipe sosiale struktuur gehad het as wat talle 'primitiewe' kulture en ons naaste verwant in die diereryk, die bonobo, nog steeds het. Free for all.

Volgens Ryan en Jethá het die verskuiwing gekom met die landbou-omwenteling sowat 10 000 jaar gelede. Ek dink dit was ook rondom daardie tyd dat monoteïstiese godsdiens sy ontstaan gehad het in die Midde-Ooste.

Prescott het heelwat oor godsdiens te sê. Hy verwys na Bybelverse soos Spreuke 23:13-14, "Moenie huiwer om 'n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe. Jy moet hom juis slaan om hom van die dood te red," en vra: "When will America hold religious organizations responsible and accountable for their poisonous doctrines that advocate the infliction of pain, injury and death upon children? ... Tragically, America's treatment of its own children is no better – if not worse – than the Islamic Taliban's brutal treatment of women and children."

Dis nogal 'n stelling om te maak. Dalk is hy nog 'n bietjie bitter oor die voortgesette weiering van die Amerikaanse regering om hom ernstig op te neem of hom erkenning te gee. Hy't rede.

Lyfstraf is 'n vorm van geweld. Die ontkenning van 'n mens se inherente natuur is 'n vorm van geweld. En dan die besnydenis van sowel seuns as dogters, wat albei hul ontstaan in seksueel onderdrukte patriargale godsdienskulture gehad het. Wat op aarde sou 'n God laat verwag dat sy onderdane hom beter sou dien as hul geslagsdele gemutileer is?!

Watter soort God is dit wat van ouers verwag om hul kinders op te offer, of om diere te slag om hom beter te laat voel, wat dit goedkeur dat die Israeliete hul vyande se vroue verkrag, en wat uiteindelik nie tevrede is voordat sy eie seun vermoor is nie? En dan noem ons dit 'n God van liefde?

Veral vanuit die ateïstiese kamp word daar gereeld en tereg verwys na al die geweld en vernietiging wat direk aan godsdiens toegeskryf kan word. Vraag is: is al die geweld die gevolg van godsdiens, of is godsdiens dalk die gevolg van geweld?

Na 'n bespreking van die navorsing wat op die verband tussen godsdiens en geweld gedoen is, som James Prescott die resultate daarvan as volg op: "The striking relationship here is that if the culture is highly nurturant to children and supportive of human sexuality, the supernatural – if present – is highly likely benevolent. If the culture is punitive toward child nurturance, physical affection and sexuality, the supernatural is very likely to be aggressive/violent. In short, the image/behaviour of the supernatural reflects the characteristics of the human culture."

Soos Jean Liedloff duidelik gemaak het in haar boek The Continuum Concept, Robert Wolff in Original Wisdom, Bronislaw Malinowsky in Sex and Repression in Savage Society, en soos heelwat antropologiese studies uitgewys het, ontwikkel kinders wat vir minstens twee jaar geborsvoed word, gereelde fisiese kontak met hul ma's het en so meer, en wat later wanneer hulle geslagsryp word vryelik met seksualiteit begin eksperimenteer, in vreedsame volwassenes. Tog interessant dat ons sulke gemeenskappe as 'barbaars' beskou.

Aan die ander kant is kinders wat nie die borsvoeding en gereelde aanraking kry wat hulle van nature verwag nie, soos wat die norm is in die westerse kultuur, geneig om gewelddadig te word in een of ander vorm. Dikwels (soos in my eie geval) draai daardie geweld na binne, en kan dit woedebuie, depressie en selfmoord tot gevolg hê (gelukkig die laaste een toe nie tot uitvoer gebring nie). As 'n mens kyk na die statistieke oor kindermishandeling, die regverdiging van oorlog en so meer, en werklik 'n opname maak van wat Amerikaanse troepe in Vietnam en elders met inheemse vroue gedoen het (en Suid-Afrikaanse mans in die 'bosoorlog'?) dan is ons westerse kultuur inderdaad beslis niks minder gewelddadig as Afrika- of ander kulture nie.

En tog sien meeste van ons onsself as alles behalwe gewelddadig.

Dit hou ook met godsdiens verband. As ons werklik eerlik met onsself is moet ons erken dat die God van die Bybel eintlik min of meer al die eienskappe van die Duiwel het. Tog verwag daardie God van ons om 'goed' te wees. Die uiteinde daarvan is ontkenning. Soos ek in hierdie en hierdie artikels uitwys, is die Fariseërsindroom die onvermydelike gevolg van 'n godsdiens en/of 'n moraliteit wat vir ons 'n baie duidelike dubbele boodskap gee: "Jy moet goed wees, maar jy kan nie, want jy is inherent sleg."

Hoe verander ons so 'n kultuur?

Deur vergifnis. Deur werklik ernstig op te neem wat Jesus in die eerste plek probeer sê het voordat sy boodskap deur die konsep van 'n wraaksugtige God en kerkdogma geneutraliseer is.

Die dubbele boodskap van godsdiens (alle godsdiens) kan logieserwys skynbaar slegs opgelos word op een van twee maniere:

  1. Wees maar net sleg, want daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.
  2. Ons is inherent goed.

Ek dink nie dit verg veel oortuiging om aan te toon dat die tweede stelling nie eintlik in ons samelewing weerspieël word nie. Tog skop iets diep in ons teen die eerste stelling. Iewers weet ons ons is nie inherent sleg nie. Hoe dan gemaak?

Jesus het gesê, "Moenie oordeel nie". Ons het nie eintlik gekliek wat hy gesê het nie. Ons hele samelewing is dan op oordeel gebaseer!

Die konsepte 'goed' en 'sleg' is ook vorms van oordeel. Sodra ons iets as 'goed' definieer, impliseer dit die bestaan van die teenoorgestelde, naamlik 'sleg'. As dit 'goed' is om nie ander dood te maak nie, dan is dit 'sleg' om ander dood te maak. (Dis hang natuurlik van die konteks af. In oorlog is dit presies die teenoorgestelde.) Deur 'n ding as 'goed' te definieer skep ons onmiddellik die 'slegte'.

Die enigste rasionele oplossing vir hierdie dilemma wat ek nog kon vind is dié van A Course in Miracles (ACIM): Ons is nie inherent goed of sleg nie, maar volmaak. Daardie volmaaktheid is Liefde. Op 'n baie diep vlak ontken ons egter daardie volmaaktheid, en het ons letterlik – met die krag van God – 'n werklikheid geskep wat ons volmaaktheid weerspreek. 'n Groot deel van daardie werklikheid word in ons vroeë kinderjare geskep.

Omdat God, en ons, volmaak is, is die blote bestaan van enigiets wat nie volmaak is nie onmoontlik. Daardie werklikheid kan nie bestaan nie. Dus is dit 'n illusie. Ons glo egter aan daardie illusie met die krag van God.

Uiteindelik is vergifnis die besef dat 'sonde' bloot die gevolg is van die pyn van die illusie skeiding – van God, natuur en mekaar.

Maar wat op aarde het dit met Anene Booysen en Oscar en Reeva te doen? Ons moet tog iets doen om te keer dat dit nie weer gebeur nie?

Dit was vir my nogal ironies dat die staatsaanklaer vir Oscar se saak self aangekla is. Ons kla ander aan van dit wat in onsself is.

Wat NIE beteken dat ons sleg is nie! Inteendeel. ACIM maak dit duidelik dat waarvoor ons werklik bang is nie ons inherente slegheid is nie, maar ons inherente volmaaktheid.

Toe die regter die eerste aangeklaagde vir die moord op Anene vra of hy 'n staatsprokureur of regshulp wil hê, sê hy saggies, "staatsprokureur". Terselfdertyd skree sy ma vanuit die galery: "Sê jou eie prokureur man!" 'n Paar keer het dit so gebeur dat die aangeklaagde se ma vir hom skree wat sy dink hy moet sê. Was daardie patroon dalk 'n deel van wat die man gedryf het om te doen wat hy gedoen het?

Die manier waarop ons as kinders behandel word, veroorsaak, ten spyte van die beste bedoelings van ons ouers, gevoelens van seerkry, woede, frustrasie en so meer. Omdat daardie gevoelens as 'sleg' geklassifiseer word, is meeste van ons nie toegelaat om daaraan uitdrukking te gee nie. Sodoende het ons 'n kultuur geskep waarin ons nóg ons eie gevoelens erken, nóg bereid is om ons ouers se foute raak te sien. (Foute waarvan ons, danksy die aard van kinderbewussyn, heelwat self oorgeneem het.)

As ons seksualiteit dan terselfdertyd ook nog ontken of onderdruk is, het ons 'n potensiële vulkaan. James Prescott skryf in Body Pleasure and the Origins of Violence, "I interpret rape as man's revenge against woman for the early loss of physical affection."

Geweld is geweld, en dit het sy oorsprong in emosionele pyn. Dis hoekom ek nie petisies teen geweld teen vroue en kinders onderteken nie. Dis 'n bose kringloop: mans is gewelddadig teenoor vroue, en die vroue haal dit (bewustelik of onbewustelik) weer op hul kinders uit. So word hul seuns op hul beurt weer gewelddadig.

Om werklik geweld, insluitend geweld teen vroue en kinders, te kan verstaan, is dit nodig om met ons eie gevoelens in aanraking te kom. Vergifnis is onmoontlik sonder 'n rouproses. Om daardie rouproses te kan voltooi is dit nodig om die gevoelens wat ons so lank onderdruk het weer na die oppervlak te bring.

"In my defenselessness my safety lies," sê ACIM. Ons dink dis 'goed' om nie ons gevoelens te wys nie, en assosieer kontak met ons gevoelens met swakheid. Solank dit ons houding is, gaan ons aanhou om ons eie onderdrukte pyn op ander te blameer, en gaan geweld voortduur.

"Blame defends mourning," skryf Robert Karen in The Forgiving Self.

Vir Reeva en Anene se families lê daar waarskynlik donker tye voor. Maar dis nie net vir hulle nie. Enige verlies; selfs die verlies van idees of geloof, gaan met 'n rouproses gepaard. Baie van ons het dit as 'n diep verlies beleef om die kerk vaarwel te sê. Sommige het dit as bevrydend ervaar, maar ander sit nog met diep onverwerkte woede en verbittering. Dieselfde geld vir die verlies van ons persepsie van 'n gelukkige kindertyd.

Terwyl ons veilig in ons blanke woonbuurte geleef het, is derduisende swart families ontwrig. Wat ons vandag sien is tien teen een minstens deels die gevolg daarvan. En laat ons nie vergeet hoeveel voormalige blanke spioene, soldate en polisiemanne vandag in inrigtings sit of andersins sukkel met hul onverwerkte gevoelens nie. Ons kan dit alles op die ANC en die regering en wie ook al blameer, soos ander weer apartheid vir alles blameer, maar dit gaan ons nêrens bring nie.

"Victimhood is an immense source of power," skryf Robert Karen in The forgiving Self, "even if it can do its user no real good. It is poisonous in both directions. It is pronounced in people with personality disorders but it is no stranger to anyone. And it is antithetical to forgiveness. The catastrophic energy that can get wrapped up in victimization is apparent in the crimes of passion that fill our newspapers and airwaves.

Vergifnis is nie 'n oulike ding om te doen om 'goed' te wees en God (en ons ouers en onderwysers) te probeer gelukkig hou nie. Vergifnis is uiteindelik die enigste oplossing vir geweld en die enigste pad na geluk.

Ai, wanneer gaan ek leer...?!

Douwe van der Zee

As voormalige biologiese wetenskaplike wat besef het dat nóg die wetenskap nóg die godsdiens ons menslike probleme gaan oplos, het Douwe hom al hoe meer op die menslike psige en spiritualiteit toegespits. Deur jare lank outentiek met kinders te speel, het spesifiek die geweldige krag en vatbaarheid van die bewussyn van klein kinders – en die kragtige effek daarvan op ons lewens – sy belangstelling geprikkel. Hy skryf, gee praatjies en doen werkswinkels oor verskeie aspekte van vroeë kindertyd en mens en natuur, en doen wildernisstaptoere in die iMfolozi- en Pilanesberg-wildtuine. Meer inligting is op sy webwerf douwevanderzee.co.za beskikbaar.
Hy is bereikbaar op

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.