.

Gevaartekens van fundamentalisme!

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Junie 2014

.

Voor my in die lang tou, staan twee middeljarige vroue en gesels oor hulle weersin in die onlangse gebeure in in die noordooste van Nigerië.

Spesifiek die gebeure rondom die Boko Haram-Islamiste wat meer as tweehonderd skoolmeisies uit hulle skool in Chibok ontvoer het. En die Boko Haram se leier, Abubakar Shekau wat sê, "Westerse opvoeding is 'n sonde."

"Moslems is sulke barbare!" spreek die een vrou haar opinie uit. Die tweede vrou beaam dit kopskuddend en voeg by, "...as hulle maar net die vergifnis en liefde van Jesus kon ervaar..."

Is dit nie interessant hoe veralgemenend en veroordelend mense kan wees as dit by ander gelowe kom nie. En dan praat ek nie eens van die oogklappe wat mense blind laat vir hulle eie geloof se foute nie. Ek meen, wat sou die twee dames se opinie wees oor die fundamentalistiese Christene wat omtrent 70 Moslem vee-herders in die dorp Yelwa in Sentraal-Nigerië met masjiengewere bloedig afgemaai het.

Of in Egipte, waar Christene Moskees teiken met bomme, en dit spesifiek in die tyd wanneer honderde Moslems daar is vir hulle daaglikse gebede. Of Noord Ierland se oor en weer bloedige doodmaak van Katolieke Christene en Protestante Christene. Of die haatspraak van Christene teenoor gays of die veroordeling en selfs geweld by aborsieklinieke in Amerika.

Natuurlik as 'n mens so wil veralgemeen dan is Christene ook barbaars en sou ook verseker kon baat vind by "...as hulle maar net die vergifnis en liefde van Jesus kon ervaar..."

Maar dit is glad nie 'n sinvolle manier om so na enigiets te kyk nie.

Natuurlik is daar in enige godsdiens, ekstreme en fanatiese randgroepe. Beide Christendom sowel as Islam het vele fundamentalistiese en selfs militante groepe. Maar dit verteenwoordig verseker nie die gemiddelde gelowige nie.

Dit is net jammer dat wanneer meeste mense na ander se godsdiens, kultuur en gebruike kyk, dit meestal vanuit 'n onkunde en vooroordeling is. En dit op sigself is 'n vorm van fundamentalisme.

Net soos die twee Christen dames voor my, wat duidelik vanuit 'n stereotipe beeld van Moslems kyk – as barbare en terroriste wat 'n vreemde god aanbid. Ja, natuurlik moet militante en fundamentalistiese groepe soos Boko Haram of Al-Qaida in Irak veroodeel en teengestaan word. Maar geld dit nie maar vir enige militante fundamentalisme nie, ongeag godsdienstige, nie-godsdienstige of politiese oortuigings?

Fundamentalisme in enige vorm is gevaarlik. Want al wat dit doen is om die mens te polariseer en te demoniseer. 'n Gemeenskaplike eienskap by fundamentaliste en fanatici, ongeag geloofstradisie of politieke sisteem, is altyd vrees.

Veral vrees vir verandering en vrees vir die ander. En daarom die fanatiese poging om eie tradisionele beginsels ten alle koste te handhaaf. En ongelukkig volg geweld en bloedvergieting vinnig op die spoor van vrees.

Die bekende Britse skrywer J. K. Rowling sê dit raak met: "I'm opposed to fundamentalism in any form." Is dit nie wat die twee Christen dames eerder moes sê nie? Dat hulle teen enige militante fundamentalisme en fanatisme is.

En ja, toegegee in die spesifieke situasie, is Boko Haram 'n Islam fundamentalistiese groep. Maar dit beteken tog geensins dat Moslems in geheel fundamentalistiese fanatici is nie. Nee, Boko Haram is eerder die toonbeeld van die gevaar van fundamentalisme wat binne enige godsdiens broei.

Kom ek verduidelik. Soos ek dit verstaan, is Islam 'n godsdiens waarin vrede nagestreef word. Hulle doen dit, net soos Jode en Christene, deur gehoorsaamheid aan hulle verstaan van God; 'n God wat hulle glo is almagtig, regverdig en liefdevol. Presies die godsbeeld van Judaïsme en die Christendom. Hoe dan anders, Islam het grootliks ontstaan vanuit hierdie twee godsdienste.

Basies deel hierdie drie godsdienste hulle geloof in dieselfde God. Hulle het soortgelyke profete en dieselfde reglynige menslike geskiedenis met 'n begin, middel en oordeelsdag. Die drie deel ook vir Abraham as hulle gemeenskaplike voorvader, en word daarom dikwels die Abrahamitiese godsdienste genoem. Sommige mense noem die drie: 'Mense van die boek,' juis omdat al drie godsdienste geskrifte het wat hulle glo deur God geopenbaar is. Al drie is monoteïstiese godsdienste.

Net vinnig, in die 6de eeu n.C. was die stad Mekka, op die Arabiese skiereiland, 'n besige sentrum van handel en godsdiens. Wat egter die stad so besonder gemaak het was dat daar lank terug 'n meteoriet geval het, en die vreemde swart klip het vinnig 'n goddelike waarde gekry. Onthou Arabië was toe nog politeïsties (veelgodedom). Die stad het vinnig 'n pelgrimsoord geword, waar verskillende gelowiges (Christene en Jode ingesluit) na gestroom het om daar by die klip te kom aanbid. Dit het natuurlik ekonomiese vooruitgang en oorvloedige handel beteken vir Mekka.

Mohammed is ongeveer 570 n.C, binne hierdie godsdienstige diversiteit gebore. Sy ouers is dood toe hy nog jonk was, wat hom as 'n ongeletterde weeskind agtergelaat het. Soos Mohammed ouer geword het is hy blootgestel aan veral Judaïsme, Christendom en Zoroastrisme. En omdat al drie bogenoemde godsdienste sterk geglo het aan net een God (monoteïsme) het Mohammed logies, Mekka se uiteenlopende godsdienstigheid as heidens ervaar.

En so volgens Islamitiese oorlewering het Mohammed dan ook in 611 n.C. 'n openbaring ontvang. Die engel Gabriël, na wie Moslems as Jibril verwys, het verskyn en so is die Koran aan Mohammed voorgedra. En die essensie? Die kern van Islam word opgesom in die volgende woorde: "Daar is geen ander God as 'Allah' nie, en Mohammed is Allah se profeet."

En so word die vyfde pilaar van die Islam, Hajj (of pelgrimstog na Mekka) 'n nuut geïnterpreteerde geestelike pelgrimstog waar die swart klip nou die simbool word van die bose (vir baie Satan self). En net soos Jode en Christene, glo Moslems in die eenheid van God, en dat hierdie God apart, maar steeds in verhouding met die mensdom staan (teïsme).

Die woord 'Islam' beteken onderwerping, en wys op die geloofsbeginsel dat 'n aanhanger van die Islam homself geheel en al moet onderwerp aan Allah se wil. Moslems se beskrywing van God met die Arabiese titel 'Allah' kan by sommige mense die indruk skep dat dit na 'n ander God verwys as in die Torah of Bybel. Maar om die waarheid te sê, is dit glad nie so nie. Kyk maar net hoe Arabies sprekende Christene vandag nog verkies om na God as Allah te verwys.

Hiermee saam is Moses en Jesus ook belangrike profete, soos vele ander profete vanuit Joodse en Christelike tradisies. Moslems glo egter dat Mohammed die finale en grootste profeet is – 'n tipe van verdere openbaring van God, na Moses en Jesus. Interessant genoeg, die grootste groep Moslems in die wêreld is nie van die Arabiese Skiereiland afkomstig nie, maar vanuit Indonesië. Maar dit net vir interessantheid.

Terug by die twee Christen dames voor my. Miskien sal dit beter wees, as hulle eerliker kyk na wat in hulle eie godsdiens, fundamentalistiese uitsprake en oortuigings versterk. Wat is die gevaartekens in eie geledere?

Want kom ons wees eerlik met mekaar, die grootste gevaar is nie Boko Haram nie, nee dit is fundamentalisme. En die bron, geboorteplek van fundamentalisme is godsdiens – ongeag watter godsdiens. En miskien is dit ook tyd dat ons weer eerlik na godsdiens, as 'n sosiale en kulturele verskynsel, begin kyk. En hoekom dit so 'n vrugbare plek vir ekstreme fundamentalisme is.

Miskien moet ons braaf genoeg wees om sonder veroordeling, veralgemening en oningeligtheid met mekaar as mede-aardbewoners te begin praat. Om, wel met respek vir mekaar se kulture en godsdienstige oortuigings – tog sonder om enige daarvan te verhef as die enigste waarheid – met mekaar as mede mense te praat.

Om die woorde van Jon Meacham ernstig op te neem: "An unexamined faith is not worth having, for fundamentalism and uncritical certitude entail the rejection of one of the great human gifts: that of free will, of the liberty to make up our own minds based on evidence and tradition and reason."

Want slegs as ons mekaar as gelykes benader, ongeag gelowig of ongelowig, sal ons met mekaar kan saamwerk; saam kan beplan, bedink en help om die wêreld 'n beter plek te maak. Anders gaan Taslima Nasrin, 'n gebore Moslem (van Bengali) sê woorde altyd waar wees: "The fundamentalists are increasing. People, afraid to oppose those fundamentalists, shut their mouths. It is really very difficult to make people move against a sensitive issue like religion, which is the source of fundamentalism."

My punt, ongeag Moslem, Christen, Jood of enige ander godsdiens: Alle mense streef na 'n diep en betekenisvolle lewe. 'n Lewe wat saak maak, wat 'n verskil kan maak en wat dinge uiteindelik beter kan maak vir almal. En hiermee kan fundamentalisme ons glad nie help nie. Want fundamentalisme is gebou op vrees en vrees beteken dood. As ons enigsins 'n kans wil staan op oorlewing, groei en 'n beter lewe vir almal, het ons nodig om liefde te kies bo vrees.

En dit beteken ons moet kies om liefde bo ons dogmas, tradisionele geloofswaarhede en uitgewerkte verlossings-ideologieë te plaas. Want soos Mahatma Gandhi dit mooi sê: "Where there is love there is life."

En is dit ook tog nie deel van godsdienste se kernbeginsels nie? Ek meen gelowige of ongelowige kan tog saamstem op hierdie punt.

Miskien kan ons hier begin.

Miskien kan ons die Dalai Lama se woorde as 'n wegspringplek gebruik vir ons soeke na vrede: "This is my simple religion. There is no need for temples; no need for complicated philosophy. Our own brain, our own heart is our temple; the philosophy is kindness."

Want slegs hierdie uitgangspunt kan fundamentalisme se vrees uiteindelik in die kiem smoor.

Miskien kan ons hier begin ... en wie weet, dalk kan ons ook nog vrede in ons leeftyd ken.

Winston Churchill: "A fanatic is one who can't change his mind and won't change the subject."

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.