Gesprekke oor God op die internet

Deur Jean Oosthuizen op 1 November 2010

In Barend J. Toerien se gedig Tant Miem by die biduur vra tant Miem vir die ouderling: "Oor wie sal ons, ons vandag bekommer. Wie met karwats tot bekering bring? Of bid ons sommer?"

In 'n resensie wat Jan van der Merwe vroeër die jaar in Kerkbode geskryf het oor Hendrik Venter se boek God ek is ook hier, sê hy, net soos by tant Miem, het daar die afgelope twee dekades 'n obsessiewe bemoeienis by Afrikaners ontstaan jeens hulle kerk en godsdiens. Afrikaners het onbeskaamd die kerk se standpunte begin bevraagteken en in sommige gevalle selfs verwerp.

In hierdie soeke na antwoorde en die bevraagtekening van ou sekerhede het mense na 'n ruimte gesoek om dit te verwoord. Dis nie vrae wat jy sommer maklik in enige kerk kan vra nie. Sommige mense is gelukkig en het vriende met wie hulle dit kan bespreek. Maar baie Afrikaanse mense het nie 'n veilige ruimte waar hulle openhartig en eerlik oor God en geloof kan gesels sonder om verketter te word nie.

Soos wat die boekdrukkuns in die Middeleeue alles verander het, het die koms van die internet ook 'n rewolusie in die God-debat teweeg gebring waarvan ons die einde nog lank nie gesien het nie. Ek wil byna so ver gaan om te sê met die koms van die internet het die doodsklokke begin lui vir die ou manier van dink oor God. Net soos destyds met die koms van die boekdrukkuns gebeur het, sou gesprekke oor God ná die koms van die internet 'n totaal nuwe rigting inslaan en sal dit nooit weer dieselfde wees nie.

My eie werklike ervaring oor 'n oop en eerlike eietydse gesprek oor God op die internet het ongeveer sewe jaar gelede begin. Dit was toe die sogenaamde God-debat op Litnet losgebars het. Vir die eerste keer, so ver ek weet, het gewone mense op daardie manier openlik in Afrikaans vrae vra oor God gevra wat tot op daardie stadium vir baie Afrikaanse mense nog ondenkbaar was. Baie mense dink nog steeds jy mág nie sulke vrae oor God vra nie.

Maar skielik het mense nie net begin vrae vra oor God nie. Hulle het ook hulle "vrees" vir die kerk en dominee verloor. Diegene wat aan daardie gesprek op Litnet deelgeneem het, het as't ware uit die geloofskas begin klim. Baie van hulle het daar vir die eerste keer in aanraking gekom met mense soos Sakkie Spangenberg se manier van dink oor God. Van hulle het vir die eerste keer in hulle lewe hardop gesê hulle glo óf glad nie meer in God nie of ten minste nie meer naastenby alles wat die kerk as die evangelie verkondig nie.

Die gesprekke op Litnet was ongelukkig nie baie interaktief nie. Dit was eintlik maar 'n elektroniese brieweblad. Jy skryf 'n brief, e-pos dit na Litnet, hulle keur dit, redigeer dit en plaas dit dan op hulle webwerf. Dis hoe dit daar werk.

Ek wou graag meer iets soos 'n markplein sien waar mense onbevange oor God en oor geloof kon praat, heen en weer gesprek voer sonder sensuur, en min of meer sê net wat hulle wil. Dis hoe Kletskerk gebore is. Johan Symington was destyds redakteur van Kerkbode. Ek het hom gevra of ek nie so 'n gespreksforum op Kerkbode se webwerf kon begin nie. Hy het ingestem en so begin my persoonlike betrokkenheid in die gesprek oor God op die internet.

Die manier waarop die gesprek oor God op die internet en spesifiek op Kletskerk plaasgevind het, was vir meeste mense nuut. Baie het dit onaanvaarbaar gevind dat daar op daardie manier oor God en geloof gepraat word. En vir baie is dit steeds onaanvaarbaar. Sedert 2006 het daar dan ook verskeie storms rondom Kletskerk losgebars.

Intussen het die soeke na 'n eietydse gesprek oor God op die internet in Afrikaans baie wyer geword. Die gesprekke vind vandag net so intens op Facebook en blogs en ander webwerwe plaas. Om een of ander rede is hulle nie so in die spervuur en in die openbare oog as wat Kletskerk is nie. Lyk my vir sommige mense is dit goed en wel as sulke gesprekke plaasvind solank mens dit net nie aan die groot klok hang nie. Dit is al in soveel woorde vir my gesê dat my betrokkenheid by Kletskerk nie 'n probleem is nie maar wel die hoë profiel wat die forum geniet en die feit dat ek vir Kerkbode werk. Amper iets soos gaan sit maar daar en speel met jou karretjies maar moenie dat die grootmense jou hoor nie.

In 'n brief wat Ds. Dirkie van der Spuy van Morelettapark in 2006 namens sy Kerkraad aan Johan Symington geskryf het, is daar sterk beswaar gemaak teen Kletskerk. "Ons verneem graag spoedig wat julle reaksie hierop gaan wees aangesien ons besef dat ons nie 'n blad wat so 'n webadres adverteer, met vrymoedigheid kan aanbeveel of beskikbaar stel aan ons lidmate nie", het Moreletapark se kerkraad destyds aan Kerkbode se redakteur geskryf.

Dit is nie net die ANC wat van 'n mediatribunaal hou nie. Daar is ook ander maniere om gesprek te sensureer. Wat mense nie aldag besef nie is dat die kerk nie beheer kan uitoefen oor mense se gedagtes en die gesprekke wat hulle voer nie. As jy vandag 'n gelowige van jou tyd wil wees kan jy nie op 'n premoderne manier na geloof te kyk in 'n postmoderne tyd nie. Dit veroorsaak toenemende en onhoudbare spanning by mense. Die kerk kan dit eenvoudig nie meer toesmeer of wegwens nie.

Die kuberkerkstryd rondom Kletskerk het vroeg in 2007 verder uitgekring. Daar as was allerhande pogings om die forum gesluit te kry. Le Roux Schoeman wat toe by Die Burger gewerk het vergelyk dit in een van sy berigte met die destydse verbod op André P. Brink se Kennis van die aand.

Maar eintlik was die kerk en die bar nog nooit so na aan mekaar soos juis nou in die kuberwêreld nie. Want klik jy hier met jou rekenaar se muis sit jy in die kerk en klik jy daar, is jy as't ware in die bar. In die virtuele wêreld kan mens vandag inderdaad sê die kerk en die bar staan langs mekaar, 'n klik vir die kerk en 'n klik vir die bar.

Waar mense voorheen by wyse van spreke in die kroeg moes gaan sit om stoom af te blaas oor die kerk, doen hulle dit vandag al hoe meer oop en bloot in die kuberruim op plekke soos Kletskerk, Facebook, blogs en ander gespreksforums. Die gesprek oor God op die internet woed ook fel op koerante se webwerwe en niemand, maar niemand, het regtig daaroor beheer nie. Géén sinodebesluit kan dit keer óf beheer nie.

Baie van die gesprekke is dikwels kru. Soms selfs banaal. Maar net so is van die gesprekke op Loftus op Nuweland se pawiljoene en op straat ook nie altyd ewe vroom nie. Sonder doekies omdraai word daar deesdae in die kuberruim oor geloof en baie ander sake gesels. Géén koei is te heilig om in die kuberwêreld geslag te word nie. Mens wil amper sê 'wake up and smell the coffee', dis hoe die wêreld daar buite lyk. Of jy daarvan hou of nie, dit help nie om jou oë en ore toe te druk nie want dit gaan niks aan die saak verander nie. Deel daarmee.

Verby is die dae toe predikante met swaaiende togas op die kansel kon staan en met groot gesag uitbulder: "So spreek die Here!" en lidmate moes maar ewe gedienstig en gedweë alles wat vir hulle in die naam van godsdiens opgedis word vir soetkoek opeet net omdat dominee so sê.

Die kerk bepaal nie langer alleen die agenda waaroor gepraat mag word wanneer dit oor God gaan nie.

Dat daar 'n behoefte bestaan vir so 'n stoomafblaasplek is gewis. In die bietjie meer as vyf jaar van sy bestaan is nie ver van 300 000 boodskappe al op Kletskerk alleen geplaas nie. Die aantal mense wat sulke webwerwe besoek styg voortdurend.

Die georganiseerde kerke het duidelik baie onbetaalde rekenings waaroor mense wil praat. Die teologiese regverdiging van apartheid is maar één daarvan. Die kerk se standpunt oor homoseksualiteit en baie ander sake word nie meer deur alle – en spesifiek denkende lidmate – aanvaar net omdat een of ander sinode daaroor besluit het nie. Mense vra: As die kerk vir ons gejok het oor apartheid waaroor jok hulle nog? Dis nie meer net Jona en die vis waaroor mense vrae vra nie. Maagdelike geboorte, opstanding, hemelvaart, lewe na die dood. Alles is vandag oop vir bespreking en onderhewig aan kritiese denke.

Gespreksforums soos Kletsklerk en soortgelyke webruimtes en blogs bemagtig gewone mense vandag op dieselfde manier met kennis as wat die ontwikkeling van die boekdrukkuns in die vyftiende eeu gedoen het.

Nie almal is ewe gelukkig met hierdie nuwe vryheid van spraak nie. Ekself is al 'n hele paar keer sonder omhaal van woorde hel toe gestuur op die internet. Die afgelope jaar nog moes ek my betrokkenheid by Kletskerk teenoor die kerk vir wie ek werk verantwoord nadat 'n groep beswaardes my by verskeie ringe en sinodes verkla het.

Einde 2007 vra 'n sekere Tom Lessing op Hennie Stander se blog dat "Swetskerk", soos hy na Kletskerk verwys, summier geboikot word nadat ek aan 'n TV program op MNet daaroor deelgeneem het. Boikot-aksies dus is nie net tot Woolworths en ABSA beperk nie. Sommige Christene is liewer vir boikot as wat die ANC jeugliga vir toi-toi is.

Maar omdat webwerwe en blogs nie soos koerante van advertensies afhanklik is om 'n bestaan te maak nie, is dit feitlik onmoontlik om hulle monde te snoer.

Hoe groter bohaai daar oor Kletskerk en sulke forums gemaak word en hoe meer publisiteit daaraan verleen word hoe meer mense neem kennis daarvan en hoe lewendiger raak die gesprekke. Soos dikwels is daar nie regtig hier iets soos slegte publisiteit nie. Eerder gratis advertensie.

Met die verwydering van Kletskerk se skakels op die NG Kerk se webwerwe was die grootste verloorder na my mening die kerk self. Al wat gebeur het, is dat nóg 'n venster na die buitewêreld vir baie kerklidmate toegemaak is. Die kerk is daardeur nog verder van die samelewing geïsoleer.

Gesprekke oor God en geloof op die internet help nie net dat die kerk van sy voorheen onaantasbare troontjie afklim nie. Dit het ook die media onder die besef gebring dat die swaardmag van die pen nie meer net in die hande van 'n paar media magnate lê nie. Dit behoort nou aan almal wat toegang het tot die internet. Die krag van sosiale of burgerlike media het die afgelope week weer duidelik geword toe Woolworths alle godsdienstige tydskrifte van hulle rakke wou verwyder. Kom ons laat die manier hoe die veldtog gevoer is ter syde want dit is 'n ander onderwerp.

Webwerwe, blogs, SMS'e en massa e-pos boodskappe bemagtig gewone mense vandag op sosiale netwerke om hulle stem te laat hoor soos nog nooit tevore nie.

In 2007 het Rapport se destydse redakteur ook onder druk geswig toe hy Deon Maas in die pad gesteek het na 'n rubriek waarvan die volk nie gehou het nie. Maar in daardie geval het diegene wat téén Maas se afdanking gekant was nie op hulle laat wag nie. Maas was skaars in die pad gesteek toe gons dit al op die wêreldwye web daaroor. En die grootste Afrikaanse koerant in die wêreld kon dit nie keer nie.

Alles en nog meer wat Rapport nie kon of wou sê nie, kon op die internet gelees word. 'n Persoonlike onderhoud wat ek met Deon Maas gevoer het oor sy afdanking is nie net op Kletskerk nie, maar selfs op die NG Kerk se amptelike webblad geplaas. Natuurlik was daar ook groot steun op die internet vir Maas se afdanking maar uiteindelik het vryheid van spraak geseëvier en kon mense hulle mening daaroor vrylik lug.

Eerlike eietydse gesprekke oor God vind vandag op talle webtuistes plaas. Kletskerk, Facebook, SES se webwerf, die NHN s'n en 'n magdom blogs is van die plekke waar daar soms eerliker oor God gepraat word as in baie kerke. Sulke forums is nie maar net 'n internet-weergawe van 'n CSV kring, Bybelstudiegroep, of selgroep nie.

Dit is 'n kuberspasie vir eerlike, reguit en oop gesprek oor geloof en ander sake waar soms harde woorde val. 'n 21ste eeu markplein van gedagtes waar mense met uiteenlopende oortuigings mekaar se standpunte met vrymoedigheid kan uitdaag.

Godsdienstige maghebbers sukkel om hieraan gewoond te raak. Nie almal is daarmee gediend om die beheer wat hulle vir soveel dekades oor gewone mense se godsdienstige denke gehad het prys te gee nie. Maar die skrif is aan die muur. Die koeël is reeds deur die kerk. Interaksie tussen godsdiensleiers en gewone mense vind nie meer net tussen die preekstoel en die kerkbanke plaas nie. Die kerk en die bar staan nou langs mekaar.

Jean Oosthuizen is 'n joernalis by Die Kerkbode en stigter van Kletskerk.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za