.

Geskiedenis van die Christendom (Deel 3)

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 November 2014

.

Deel 2 kan hier gelees word.

Op 31 Oktober 1517 het 'n jong Duitse monnik, Martin Luther, 95 stellings teen die deur van die kerk in Wittenberg (Duitsland) vasgespyker. Op hierdie stadium was die Christendom nog net verteenwoordig deur twee bene: Oos (Ortodokse Kerk) en Wes (Rooms Katolieke Kerk).

Luther was dan ook 'n priester en teoloog vanuit die Rooms Katolieke been. Hy het deur 'n diep gewetenswroeging gegaan oor vele van die misbruike wat binne sy kerk plaasgevind het – veral oor die korrupte aflaatstelsel en die maglus van die kerk.

Luther was natuurlik 'n kind van sy tyd, en die tydsgees was dié van die Renaissance. Dit was 'n tyd waarin veral in Wes-Europa, hierdie kultuurverskynsel wat vryheid van denke en spraak voorgestaan het 'n nuwe kreatiewe tyd ingelei het.

'n Tyd waarin groot denkers, digters, skrywers en kunstenaars nou sterk na vore kon kom. Dit is natuurlik alles ingelei met die uitvinding van die boekdrukkuns (in die 14de eeu). Dit het dadelik die verspreiding van kennis, gedagtes en filosofieë moontlik gemaak.

En waar vroeër net 'n paar enkelinge die werke van die ou Grieke en Romeine kon lees en bestudeer, was dit nou in die Renaissance tyd, ewe skielik vir baie meer mense toeganklik.

In elk geval, terug by Luther, soos jy jouself kan indink, het ook mense in die Christendom nou die kerk se magsposisie en onderdrukking van kennis begin teenstaan. Die tyd was dus ryp vir verandering.

En in hierdie vrugbare tyd het Luther sy 95 stellings bekend gemaak. Stellings wat juis die kerk aangevat het op sy sogenaamde Goddelike gesag. Dit het sake geraak soos die pouslike onfeilbaarheid, die hele vagevuur en mis (Nagmaal) praktyk, die afkoop by bieg stelsel, boetedoening praktyk en dan veral die Bybel wat op daardie stadium net deur die pous, biskoppe en priesters gelees en geïnterpreteer kon word.

Luther het byvoorbeeld, sterk gevoel dat die Bybel vertaal moes word vanuit Latyn in die gewone omgaantaal van die gewone mens, sodat enigiemand dit kon lees. En was dit nie juis die Renaissance tydsgees nie?

Bykans onmiddellik het die boodskap van die 95 stellings oor die hele Duitsland versprei en binne ses maande deur die hele Europa. Luther het deur hierdie stellings sy vinger op die rou senuwees van weersin en dreigende opstand binne die Christendom gesit.

Luther se eise vir hervorming was godsdienstig maar verseker ook polities. Want onthou die Katolieke Kerk van daardie tyd het wydlopende politieke invloed geniet, en 'n opstand teen die kerk se leerstellings was in wese dan ook 'n opstand teen die bestaande burgerlike orde.

Dit het natuurlik die verbeelding van die mense van die tyd aangegryp en 'n revolusie was gebore, genoem die Hervorming – ook bekend as die Protestantse Hervorming (verwysend na die wat 'protes' aangeteken het). Dit het 'n einde aan die Middeleeue (6de tot 16de eeu) gebring.

Vinnig het ander leiers na vore getree en by Luther (Duitsland) se nuwe visie aangesluit. Onder hulle was Johannes Calvyn (Frankryk en Switserland), Ulrich Zwingli (ook Switserland), Johannes Hus (Nederland) en John Knox (Skotland).

Natuurlik was dit weer 'n bloedige tyd in die geskiedenis van die Christendom. Jy kan jou maar net indink hoe daar selfs binne families kant gekies is en hoe gemeenskappe gepolariseer is en deur emosies van woede stukkend geskeur is.

Die Hervormers, insluitend Luther, Calvyn en Zwingli het in baie fynere opsigte verskil in teologie, maar hulle was wel konsekwent in hul beklemtoning dat die Bybel nou in die middelpunt moet staan en nie meer kerktradisie nie.

Alhoewel daar kort-kort oorloë tussen Protestante en Katolieke in Europa plaasgevind het, het die Hervorming 'n al sterker beweging binne die Christendom geword.

In Engeland het die Hervorming egter op 'n eienaardige manier vorm aangeneem. Dit is ingelei deur Koning Hendrik VIII wat wou skei. Maar binne die Katolieke kerk was dit onmoontlik. En die pous het gedreig om hom te verban indien hy sou voortgaan om te skei. Maar Hendrik wou met alle mag van sy vrou Catharina van Arragon skei om dan te kan trou met Anna Boleyn. En so verklaar Hendrik sy eie kerk. Die Engelse Parlement het in 1533 vir die nuwe kerk (Anglikaanse) die koning tot die aardse hoof van dié kerk verklaar. En daar is weggebreek van die Rooms Katolieke Kerk.

En later onder koning Eduard VI (1547-1553) het die teoloog Cranmer die leer van die Anglikaanse Kerk (met sterk leiding en teologie van Calvyn) in 'n Common Prayer Book opgestel. Die Anglikaanse Kerk het dus 'n baie eienaardige karakter ontwikkel: sy leer is gereformeerd; sy erediens het 'n Rooms Katolieke vorm, en sy kerkregering is 'n biskoplike hiërargie onder die koning(in).

So, aanvanklik was dit net die drie hoofafdelings binne die Christendom: Rooms Katolisisme, die Oosters Ortodokse groep en nou die Protestantisme.

Maar na die skeur waartydens die Protestantisme gebore is, is die saadjie van afstigting en wegbreek geplant. En binne 'n relatief kort tyd het daar nou verskeie denominasies (hoofsaaklik te wyte aan verskille in die formulering van belydenisskrifte en kerklike organisering) verdeel, begin afgestig en na vore getree.

In tussentyd het die Roomse Kerk met 'n teen-hervorming na vore gekom om die opmars van die Protestante te probeer stuit. En van 1545 tot 1563 het die kerkleierskap van Rome in Trente (Italië) vergader en beplan. En so binne die Katolieke Kerk het daar ook 'n hele klomp bewegings en teenbewegings plaasgevind. Onder andere, 'n nuwe monnik orde is gestig om die protestantisme teen te werk, die Jesuïete (1540 deur Ignatius van Loyola gestig). En hulle het grootliks geslaag in hulle poging in Europa, veral in Frankryk en Nederland. Maar die protestantisme het al klaar verder as net Europa versprei.

In elk geval, so is die Christendom in hierdie tyd gekenmerk deur afstig, herstig, wegbreek, nuut formuleer, herformuleer en nuwe bewegings begin.

Daardeur het letterlik honderde vertakkings en versplinterings nou plaasgevind. En oor die volgende paar eeue het die Christendom, dit sluit nou die Ortodokse been in (Grieks-Ortodoks, Russies-Ortodoks, Armeens- en Egipties Ortodoks) oor die bewoonde wêreld versprei in verskillende vorme en sienings.

Ek dink hier byvoorbeeld aan die bewegings wat vanuit die protestantisme vertak het, naamlik die 'vrye gees' beweging wat insluit die Unitariërs, wat die Drie-eenheidsleer verwerp. Ander behoort weer aan die hervormde Anabaptiste (letterlik herdopers) wat volwasse doop aangehang het. Uit hierdie groep versplinter dit in Mennoniete en Amiese Christene. Dan volg daar ook nog verdere binnegevegte wat veroorsaak dat daar in die 18de en 19de eeue herlewingsbewegings plaasvind wat charismatiese beweging na vore laat kom (met sy honderde versplinterings!)

Hierdie geskiedenis van die Christendom wys dan juis vir ons dat, anders as wat baie mense glo, die Christendom eenvoudig net 'n bewys van menslike politiek, filosofie en idees is. Dit wat die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889-1976) gesê het oor die mens se vermoë om vanuit 'n geskepte wêreldbeeld die realiteit te interpreteer en probeer beheer. En godsdiens was/is verseker een van die kragtigste maniere wat die mens tot op hede gebruik het, om sy omstandighede te probeer beheer en manipuleer.

Want soos die tydsgees verander het, so het die Christendom daarby aangepas. Dit het elke keer 'n hervorming laat plaasvind. Presies soos wat in enige ander menslike konstrukte deur die eeue plaasgevind het, van politiek tot by tegnologie.

En dit is natuurlik presies waar ons tans ons weer bevind.

Dink maar net aan die nuwe uitdagings wat die opkoms van wetenskaplike denke bring, bewegings vir gelyke regte; soos feminisme en die gay regte beweging. Die tegnologiese era met sy unieke uitdagings. Die mediese wetenskap se nuwe morele en etiese vraagstukke en die nuwe uitdagings rondom oorbevolking en meelopende ekologiese kwessies. Dit alles dwing die Christendom om weereens hulle denke, dogmas en geloof te hersien.

En net soos in Luther se tyd is die tyd weer ryp vir hervorming. Sommiges sê hierdie nuwe hervorming is al klaar aan die gebeur. Ander sê weer dat die einde van die Christen-era aangebreek het. Wel, net tyd sal ons leer wie is reg.

Maar een ding waarvan ons almal seker kan wees, is dat niks ooit dieselfde bly nie. Hiervan is die geskiedenis ons grootste bewys. Nuwe tyd, nuwe denke, nuwe visie en nuwe spiritualiteit.

En ons is verseker in 'n nuwe tyd. 'n Tyd waarin min mense enigsins meer spesifieke dogmas, geloofsuitsprake en belydenisse blindelings gaan onderskryf.

Dit is juis vanweë die komplekse aard van ons tydvak en van die diversiteit wat die wêreld tans kenmerk, dat mense nie meer aan wil voorgeskryf word nie. Mense wil self ontdek en self beleef. Die Christendom gaan hierby moet aanpas, of sterf.

Die nuwe stellings is voorwaar reeds teen die kerk deur vasgespyker...

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.