.

Geskiedenis van die Christendom (Deel 1)

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 November 2014

.

George Santayana (1863-1952), 'n Spaanse filosoof en digter, ook eens verbonde aan die Amerikaanse Universiteit Harvard, het op 'n keer gesê: "Those who cannot remember the past are condemned to repeat it." Woorde wat my nog altyd geïnspireer het om dieper na dinge te kyk. En om te probeer onthou dat agter enige gebeure, daar 'n lang geskiedenis lê. 'n Geskiedenis wat vertel van bloedvergieting, sweet en opofferings, vreugdes, hartseer, suksesse en mislukkings. Dat niks uit niks ontstaan nie. Alles het 'n verlede, 'n storie, 'n geskiedenis.

Kyk nou maar net na die ontstaansgeskiedenis van die Christendom – 'n geskiedenis wat my ten diepste raak. Want dit is ook deel van my ontstaansgeskiedenis, ook deel van dit wat my gevorm en omvorm het. En om myself te verstaan, te ken, het ek nodig om my eie wortels te besoek. Wortels, wat ook deel is van die Christelike kerk waarbinne ek grootgeword het.

'n Geskiedenis wat natuurlik nie so maklik is om uit te pak nie. Juis omdat daar soveel weergawes, interpretasies en herinterpretasies is. Ek meen ons almal weet tog dat geskiedenis deur die oorwinnaars geskrywe word, en juis daarom nie noodwendig geskiedenis is nie, maar meestal propaganda.

Presies waarna Santayana ook verwys met: "History is mostly a pack of lies about events that never happened told by people who weren't there."

Daarom wanneer die geskiedenis ondersoek word, is dit so belangrik om dit wyd, oop en eerlik te benader. En om versigtig te wees om nie van die stiller 'stemme' van die verlede te mis nie. Want ongeag of hulle aan die verloorkant of wenkant van gebeure gestaan het, dit is nodig om almal te hoor.

Dit maak die prentjie dan net soveel meer volledig. En dan is dit ook moontlik om uit die verskillende lesse van gister te leer. Of dit sou gaan oor die geskiedenis van 'n familie, kultuur, of godsdiens.

Kom ons kyk, natuurlik baie opsommend, na die ontstaansgeskiedenis van die Christendom.

'n Geskiedenis wat nie soos meeste meen by Jesus begin het nie, nee, lank voor Jesus in die prentjie gekom het, het dit al begin. Want sien die Christendom lê diep gewortel binne die Joodse geskiedenis (en Judaïsme). 'n Geskiedenis wat ongeveer 3000 jaar oud is – en dit het weer hulle wortels binne vele ander ouer godsdienstige tradisies te vind, o.a. die Hindoeïsme wat ongeveer 4000 jaar oud is, en dan ook beïnvloeding deur o.a. Zoroastrianiste ens.

Want soos reeds goed bekend, was Jesus nie 'n Christen nie, nee hy was 'n Joodse rabbi. En hy't nie die Bybel geken soos ons dit vandag het nie, hy't gewerk met die Joodse geskrif bekend as die Tenakh (die Ou Testament) – 'n heilige geskrif wat in drie dele opgedeel word: die Torah (eerste vyf boeke van Ou Testament), die Profete, en die Geskrifte. Hiermee saam ook die Talmoed, 'n versameling van Rabbynse kommentaar op die Torah.

In elk geval, na sy kruisdood, as politieke rebel van die Romeinse Ryk, het sy volgelinge vir die volgende vierhonderd jaar as 'n klein Joodse sekte bekendgestaan. Hierdie sogenaamde Christene het geen vaste geloofsbelydenis, soos vandag se Christendom geken nie.

Gedurende hierdie tyd was daar ook nie eenstemmigheid oor wat presies geglo is nie. Daar het uiteenlopende standpunte bestaan wat dikwels tot onderlinge spanning gelei het. En hierdie verskille het daartoe bygedra dat daar uiteindelik verskillende groeperinge van gelowiges binne die Christelike gemeenskap ontstaan het.

Daar was byvoorbeeld die Joodse Christene binne Palestina wat geglo het die Torah (Wet) moes streng onderhou word. 'n Ander groep, veral onder die leiding van Paulus het eerder die vrymaking van die Wet voorgestaan. En dan was daar ook 'n groep wat sterk beïnvloed was deur die Griekse filosofiese denke van die tyd (veral Plato).

Hierdie tyd was desnieteenstaande ook 'n baie spesiale tyd in die Christendom se geskiedenis. Want daar was min dogmas en vaste geloofsopvattings. Selfs Jesus was nie noodwendig as God gesien nie. Dit het in dié tyd eerder gegaan oor die radikale navolging van wat Jesus kom verkondig het.

Dit was dan ook die hoofrede waarom hierdie groep mense onderdruk en vervolg was. Want hulle was deur die gemiddelde mense van daardie tyd beskou as gevaarlik en selfs as ondermynend vir die samelewing se harmonie.

Want anders as die algemene sosiale orde van die dag, het Christene gelykheid tussen mans en vroue, ryk en arm, slaaf en vryman voorgestaan. Ook het Christene die ekonomiese stelsels van die tyd bedreig met hulle siening dat daar gesorg moes word vir armes, bejaardes en selfs gevangenes.

Hiermee saam was hulle baie anti-sosiaal en het hulle hulself tot 'n groot mate van die daaglikse roetine van elke dag lewe onttrek en hulle afgesonder en in isolasie gelewe. Dit het nie veel gehelp vir hulle beeld na buite nie.

Die Christen beweging was in hierdie tyd gedefinieer deur hoe hulle gelewe het, nie soos vandag waar die hoof kriteria is, wat geglo word nie.

Hierdie tydperk het egter tot 'n einde gekom toe die Romeinse keiser Konstantyn in die vierde eeu die Christendom tot 'n wettige godsdiens verklaar het in die Edik van Milaan (313 nC).

Vinnig het die gesindheid teenoor Christene verander. Daar was nou 'n sterk openbare beweging deur verskeie Christenleiers, alles natuurlik onder die beskerming van die Romeinse Ryk. En anders as voorheen is daar wegbeweeg van Jesus se vestiging van die koninkryk van God, daar is nou ingeval by die keiser se sosiaal-politieke program.

Die ontwikkeling van 'n hiërargie en strukture het stelselmatig begin vorm aanneem. En dit was 'n tyd van skryf van belydenisse en reëls (en die Bybel het begin vorm aanneem). En so het daar nou sekere formuleringe ontstaan van wat is regte geloof en wat is vals.

Dit het natuurlik baie binnegevegte en konflik veroorsaak. Dit het ongeveer twaalf jaar lank so aangegaan. Dit is toe dat Keiser Konstantyn weer ingegryp het deur die Konsilie van Nissea (325 nC) byeen te roep. Hier het dit nou spesifiek daarom gegaan om die Christen beweging se onderlinge verskille uit te sorteer en te help dat daar eenheid kom.

Een van die grootste brandpunte het gegaan oor die interpretasie dat Jesus nie net 'n profeet was nie, maar God self, sodoende deel van die drie-eenheid. Hierin het twee Biskoppe 'n groot rol gespeel, Augustinus van Hippo en Atanasius.

Biskop Atanasius was veral bekend vir sy verklaring dat die mens inherent sondig en verlore is, en daarom redding nodig het. Augustinus was weer bekend vir sy bekendstelling van die Drie-Eenheid verstaan.

Al bogenoemde het meegebring dat duisende gelowige mans en vroue wat nie hiermee saamgestem het nie moes vlug vir hulle lewens. Een van hierdie groepe staan vandag bekend as die Gnostiese Christene.

Ander groepe wat ook nie met die nuwe rigting saamgestem het nie, het na die woestyne van Palestina, Sirië, Persië en Egipte gevlug om as kloosterlinge die ideale van die vroeë Christendom daar voort te sit. Vandag is hulle bekend as die woestynvaders en -moeders.

Die nuwe geloofsbelydenisse het aanleiding gegee tot die totstandkoming van die Vroeë Katolieke Kerk (Katoliek beteken algemeen of universeel). Hierdie Kerk het nou vereis dat sy dogma onderskrywe moes word en dat sy geloofsbelydenisse bely moes word.

Die Christendom as gestruktureerde godsdiens is so gebore. Daar is egter 'n prys wat betaal moes word vir hierdie hermodellering, en dit was dat meeste van die spontaniteit van die vroeë Christendom verlore geraak het. Dit terwyl dogmatiek en gesag die 'regte lewe' nou vervang het met 'reg glo.'

Dit sou egter nie lank wees nie voordat ook hierdie nuwe-een-kerk sou skeur.

Maar eers genoeg vir nou. Lees gerus verder, Deel 2.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.