.

Genadedood

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Desember 2014

.

Die skraal vrou voor my se gesig is vol hartseer. Sy kyk my stip aan en nog voor ek kan vra hoe dit gaan, leun sy vorentoe, "Dink jy genadedood is verkeerd?"

Hier volg 'n kort opsomming van my en haar gesprek. Hopelik stimuleer dit verdere gesprek oor hierdie belangrike saak.

Abel:  Ek is 'n groot voorstaander daarvan dat enigiemand kan kies om met waardigheid te sterf.

Vrou:  So jy is ten gunste van genadedood? Maar beskik God dan nie oor lewe en dood nie?

Abel:  Wat bedoel jy met God?

Vrou:  Ek is 'n Christen. Ek praat van die Drie-Enige God van die Bybel.

Abel:  Dan moet jy hierdie vraag vanuit jou geloofsoortuiging probeer beantwoord. En jy het die reg om jou lewe – tot die uiterste – te leef soos jy glo. Maar dit is ook belangrik om respek te hê vir iemand wat anders glo as jy. Nie almal is Christene nie. Ons moet daarom versigtig wees en nie ons resepmatige, koue, teoretiese, dogmatiese geloofsoortuigings op ander afdwing nie. Ons moet respek hê vir mekaar en toelaat dat elkeen die vryheid van keuse kan hê oor kwessies van lewe en dood.

Vrou:  Maar speel 'n mens nie met vuur as daar sommer net besluit kan word om lewe te beëindig nie?

Abel:  Ons as mens gryp al op soveel ander maniere in "God se beskikking" in, hoekom nie ook met genadedood nie? Genadedood is egter vir my die verkorting van (sinlose) lyding, eerder as bloot net die beëindiging van lewe.

Vrou:  Glo jy in lewe na die dood? Hemel en hel?

Abel:  Dit gaan nie vir my meer oor die hemel, en hoe om dáár te kom nie. Dit gaan vir my oor die hier en nou, en hoe om hiér sinvol te leef. Dit waarmee ek en jy grootgeword het, naamlik die tradisionele Christelike leerstellings oor hemel en hel, is 'n antieke menslike verstaan van die wêreld. Byvoorbeeld, vir hulle het die kosmos uit drie verdiepings bestaan (hemel, aarde en onderwêreld) en die mens uit twee dele ('n verganklike liggaam en 'n onsterflike siel). Dit laat hulle glo dat die onsterflike siel iewers heen moet gaan na die sterwe van die liggaam en so ontstaan hulle geloof in hemel (beloning) en hel (straf). Ek glo nie meer daaraan nie, omdat ek 'n postmoderne mens is, wat nie meer inkoop op die antieke, voor-wetenskaplike wêreldbeeld van die Bybel nie. Die bewyse tot ons beskikking wys op 'n ronde aarde met geen bo-hemel of onder-hel nie. Hemel en hel is vir my slegs metafore om te praat oor die transendente. Daarom is die hel vir my slegs 'n mite, 'n metafoor vir verwerping, pyn, verlies of ego. Dus is die hel nie vir my 'n fisiese plek buite ons werklikheid nie. Dit is 'n metafoor vir ons donkerkant en die lewe se donkerkant. En mense wat vasval in hierdie donkerkant van die lewe beleef verseker baie intense pyn – emosioneel en fisies. Dink maar net aan iemand wat weens kanker of 'n ander terminale siekte in konstante ondraaglike pyn moet leef, en weens hierdie pyn geen sinvolle lewe meer kan leef nie. 'n Toestand van totale hopeloosheid. Dit is hel.

Die hemel is weer vir my die simbool van liefde. Die twee sterkste kragte op aarde is vrees en liefde. Kies jy om vanuit vrees te leef word jy 'n slagoffer. Kies jy om vanuit liefde te leef en nie vrees nie, word die lewe 'n avontuur. Selfs binne 'n situasie waar daar hartseer en verlies is, het jy nog steeds 'n keuse, alhoewel dalk baie beperkte keuse, maar tog om te kies hoe jy gaan reageer. Het Jesus dan nie geleer nie draai die ander wang, en wat is dit anders as om te sê kies om vanuit liefde op te tree? Hemel is dus liefde. Die goddelike is vir my liefde. Dus is 'n lewe vanuit liefde – hemel. En daarom om nie met vrees, selfs vir die dood, te leef nie. En aktiewe genadedood is dus 'n liefdesdaad, veel eerder as iets gemotiveer vanuit vrees.

Vrou:  Klink of jy nie bang is vir die dood nie?

Abel:  Om dood te wees is nie vir my 'n realiteit terwyl ek lewe nie en die lewe is geen realiteit meer vir die wat dood is nie. Daarom, om die dood te vrees is volgens my om niks te vrees. Natuurlik neem hierdie idee nie die angstigheid weg nie, dit bring net perspektief op die saak. Ons verbeelding maak ons veel banger as wat die realiteit ooit kan. Ek persoonlik aanvaar my sterflikheid en werk hard daaraan om die idee rondom die Groot Niks of 'terugkeer na vanwaar ek kom,' te aanvaar. So, ek vrees nie die dood nie, maar wel om te sterf. Daarmee bedoel ek die wyse en manier waarop ek sal sterf. Dit kan dalk wees dat ek vir jare in ondraaglike pyn moet leef en selfs dalk met onwaardigheid moet wag op die dood. Iets wat ek vir niemand wens nie. Daarom dat ek ten gunste van aktiewe genadedood is. Die keuse om te mag sterf met waardigheid.

Vrou:  Wat bedoel jy met aktiewe genadedood?

Abel:  Aktiewe genadedood is waar iemand gehelp word om te kan sterf.

Vrou:  Maar dit is onwettig in Suid-Afrika, en ook in meeste lande.

Abel:  Ja dit is onwettig in Suid-Afrika. Tans is dit wettig in Nederland, België, Switserland en die Amerikaanse deelstaat Oregon. Daar is wel in Suid-Afrika (al reeds in 1997 begin) 'n wetsontwerp voorgestel wat aktiewe genadedood, asook selfmoord met mediese bystand, aanbeveel – natuurlik onder streng toesig en voorwaardes. Dit is egter nog net 'n konsep voorstel.

Vrou:  Wat wel wettig is, is om as 'n familie te mag besluit om die masjiene af te sit ... as daar 'n lewende testament is, wat toestemming gee.

Abel:  Ja, dit is ook natuurlik 'n vorm van genadedood. Dit word genoem, passiewe genadedood. Nou dit is wanneer mediese behandeling weerhou word sodat die "natuur sy gang kan gaan." Wanneer ek dus van genadedood praat, verwys ek spesifiek van aktiewe genadedood. Die reg om waardig te kan sterf.

Vrou:  My pa het ongelooflik baie gely. En ons kon niks meer vir hom doen nie. Hy het in die laaste dae 'n paar keer gesê dat hy wens hy kan maar sterf. Dit het my hart breek. Hy het vinnig agteruit gegaan en later het die dokters gesê dat dit nog net die masjien is wat hom aan die lewe hou. Ek besef sy fisiese lyding was seker verby. Maar om die masjiene te laat afskakel het ... Ons het net gevoel dit is nie billik om hom kunsmatig aan die lewe te hou terwyl daar regtig geen hoop meer is dat hy 'n sinvolle lewe sal kan leef nie.

Abel:  Die dood is nie 'n maklike saak nie. Dit is vir seker traumaties en emosioneel. En geen woorde kan regtig voldoende troos en genesing bring vir jou wat jou pa aan die dood moes afstaan nie. Al wat ek wel weet is dat die pyn, angs en verlies natuurlik en menslik is. Maar dit is ook nodig om te onthou dat lewe nie net asem is nie. Jy is meer as jou asem en meer as jou liggaam. Lewe lê ook in die gehalte van jou verhoudings. Ek sê altyd dat die lewe nie gaan oor verhoudings nie, die lewe is verhoudings. En wanneer jy moet besluit om 'n geliefde se behandeling te staak, of jy moet besluit om 'n span dokters te laat besluit om 'n geliefde se lewe te beëindig – dan gaan dit ook oor verhoudings. Jou verhouding met jou pa, jou verhouding met jou familie, jou verhouding met lewe en dood, jou verhouding met jouself en jou verhouding met hoop. Met genadedood gaan dit oor masjiene en medisyne wat nie meer kán help nie. En al waaraan daar dan vasgehou kan word, is dat ons in liefde vir mekaar se lewe en dood verantwoordelikheid sal neem. Maar voordat ons verantwoordelikheid vir mekaar se dood kan neem, moet ons eers leer om verantwoordelikheid vir ons eie lewens te neem. Om weer te verstaan wat respek vir die lewe beteken.

Vrou:  Dink jy genadedood ... ek bedoel aktiewe genadedood sal ooit gewettig word?

Abel:  Ek weet nie. Maar ek hoop dat daar wel so 'n wet sal kom wat aktiewe genadedood sal toelaat en reguleer. Maar meer as dit, dink ek dat ons sal moet begin werk daaraan om ons respek vir lewe te herstel. Om met respek en deernis so te leef dat ongeag lewe of dood, elke tree voluit geleef sal word. Want essensieel is lewe en dood dieselfde, dit kom vanuit dieselfde bron voort. Noem dit God as jy wil. Noem dit Tao. Noem dit Liefde. Noem dit die wetenskap se sterstof tot sterstof of die kwantum-fisika se energie. Die punt is, lewe en dood is dieselfde. Net ons tref 'n onderskeid, seker omdat ons lewe ken maar totaal in die donker is oor die dood. Daarom vrees ons dit. Net soos 'n kind wat bang is vir die donker. Vrees vir die dood is egter onnodig. Want as jy voluit lewe, in die hier en nou, dan is die dood maar net nog 'n nou. Meer as dit kan ons nie sê nie.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.