.

Geloof sonder die kerk; ‘n Geloofsbelydenis; ‘n Keuse: – Postulaat of Teorie?

Deur Gert B. op 1 Januarie 2013

.

Inleiding

As die verkondigde boodskappe van jou godsdiens begin hinder, nie meer sin maak nie, is die aandeel van die kerk en gepaardgaande optredes in baie / meeste gevalle 'n belangrike faktor in jou afskeid as lidmaat. Die kerk is onverbiddelik in die standpunt van "'n onfeilbare Woord van God". Waar jy blindelings en slaafs gevolg het, sit dit nou jou breinfunksies in rat en begin jy dink, want dit word duidelik dat dit nie altyd die waarheid weergee nie! Geproduseer deur vreemde mense.

As jy mooi nadink oor godsdiens, kom jy gou tot die gewaarwording dat alles draai om die mens se vraag: Hoekom?

As die mens begin om sy skeppende brein te gebruik en ernstig begin dink en lees aan/van die toepaslikheid van die boodskap vir die huidige stand van kennis en lewensomstandighede, besef jy dat die slaafse navolging van die geloofsreëls nie meer die verkondigde boodskap geloofbaar vir die hede weerspieël nie.

Die oorsaak vir die 'bestaan' van 'n skepper is: Hoekom is ek hier; hoekom is alles hier?

Die oorsprong van geloof is die erkenning van die afhanklikheid van jou bestaan van die skepper van alles wat bestaan.

Die skepper wat "god" genoem word het dus sy ontstaan en bestaan te danke aan die denkvermoë (brein) van die mens.

Die 'kerk' is die samesteller van die verhale wat die bron (Bybel) van die geïnterpreteerde oeroue godsdiensvorm uitmaak; verantwoordelik vir die teenstrydighede, weglatings, byvoegings tydens kopiëring, vertalings ens. Ook die ontwerper van rigiede geloofsreëls wat moet waak oor die eerbiediging en streng toepassing daarvan deur die betrokke, spesifieke groep afdwaal geneigde gelowiges.

["statistieke lank genoeg gemartel, sal later begin bely"]

Hoekom buite die kerk?

Onveranderbare rigiede premoderne geloofsreëls wat steeds toegepas word veroorsaak dat 'n lidmaat nie langer daaraan kan deelneem sonder om 'n gevoel van 'innerlike bedrog' te ervaar nie.

'n Tipiese gevolg kan wees dat die lidmaat wat bv. stel dat hy/sy nie aan die duiwel as 'n bestaande entiteit glo nie, daarom ook nie aan die bestaan van 'n hel nie en dus nie kan 'agterna sê' .. ter helle neergedaal .. nie, terstond as 'n ongelowige veroordeel sal word. As daar nie voor die hand liggende bespreking hieroor voortspruit nie en geen deernis ervaarbaar manifesteer nie, kan die rol van "kerkwees" nie meer ernstig opgeneem word nie.

Die lidmaat se geloof het nie verlore gegaan nie; dieselfde geloofsgrondslag bly die fondament, net die manier waarop dit met behoud van sy intellektuele integriteit voortgesit kan word, is anders.

Nou is egter ook die situasie bereik waar die brein vrye teuels neem en godsdiens as 'n geheel aan her-bedink en her-interpretasie onderwerp word. Die moderne teologiese navorsingskennis en vordering van die wetenskap maak dit baie moontlik; dié resultate is geredelik en in oorvloed in die media beskikbaar; padpredikante vir hierdie belydenis.

Rigtinggewende agtergrond

1)  Is die Bybel die onfeilbare woord van God?

2)  Is die geloofsbelydenisse nog relevant en toepaslik vir die postmoderne insigte?

Die gevolg is dat, die moderne mens van die wetenskaplike eeu, wat nie ateïsties of agnosties wil wees nie, maar wat tog nog kerk toe wil gaan en Bybel wil lees, hul toenemend bevind in 'n soort skisofreniese bestaan van kerk, dogma, glo op Sondag, maar anders-weet-en-leef gedurende die res van die week. Hoe kan hulle met behoud van intellektuele integriteit saam bely en leef?

3)  Algemeen: Die kerk het deur die eeue heen vasgeklou aan die letterlike verstaan van die Bybel, wel wetende dat die soeke na, en verstaan van allegoriese betekenis, die doodsteek van irrasionele dogmas en leerstellings sou beteken.

Dis nie nodig om presies te weet om te glo nie, maar jy kan ook nie met intellektuele integriteit "glo" dit wat nie meer waar kan wees nie. Die kerk gaan voort om, sonder om behoorlik kennis te neem van die tyd waarin ons ons bevind, premoderne geloofswaarhede aan te bied vir mense wat keuseloos in 'n postmoderne wêreld leef en werk.

Vandag sê ons dat ons in Bybelse geskrifte, van honderde jare gelede, te doen het met die persepsies en interpretasies van premoderne mense – mense wat nie beskik het oor die kennis wat ons vandag het aangaande die heelal, die lewe en historiese literatuurtipes in alle fasette nie. Vir hulle was net dit wat hulle gesien, geglo en ervaar het, die waarheid.

Paradigmaskuif vir die nuwe persepsie

Die pad vorentoe – 'n Nuwe meesterverhaal?

Die volgende samestelling van die pertinente aspekte van die inhoud van die "nuwe godsdiens" poog om die nuwe insig met die Bybel as bronteks te illustreer.

(Dit verskil drasties van die 'Meesterverhaal deur Hieronimus (342-420), Ambrosius (339-397) en Augustinus (354-430). Die verhale word anders interpreteer.)

Die fundamentele uitgangspunt is: Die entiteit (skepper) van lewe, wat sy skepping steeds in stand hou en laat ontwikkel soos deur die totaliteit van die skepping vereis/gedikteer word, word deur ons "God" genoem en is die fokus van die diens wat ons uit erkenning en eerbetoon aan hom wy. Die manier waarop ons dit uitvoer is nie voorgeskrewe nie. God is 'n integrale deel van lewe.Glo in die uitlewing van jou doel op aarde.

Dit is 'n geloofsbeginsel en hier ignoreer jy dus jou intellektuele integriteit geheel en al. Almal doen dit reeds. Jy leef Óf geestelik Óf liggaamlik. Dit bring nie jou intellektuele integriteit net in laasgenoemde omstandighede in rat.(?); jy glo in die ontstaan en ontwikkeling van die wetenskap nog as die werk van die God wat jou so geskep het dat jy dit kan ontdek, doen en gebruik tot Sy eer.

i.  In die begin word alles wat nodig is in die ontstaan en toekomstige ontwikkeling in die entiteit wat ons die heelal noem, geskep. 'Mettertyd' (sesde dag) ontstaan lewe wat voorgestel word deur Adam en Eva. Van die belangrike "menslike eienskappe", 'n vrye wil, d.w.s. om keuses te maak, emosie (skaamte), drange, om te vermeerder ens. word vroeg reeds gedemonstreer. Die skepper rapporteer aan sy mede gode dat die mens "nou soos ons is" – na die beeld van God; as sy verteenwoordiger; 'n aanduiding dat goddelikheid deel van die mens is en die mens dus deel het aan 'sy koninkryk'. Die skepper noem ons God – soos 'n vader en ons sy kinders. As gevolg van verkeerde keuse – 'kies nie om vir ewig te lewe nie' – sal die einde van alles wat bestaan, 'n terugkeer na oorsprong wees d.w.s. na materie (stof) en "energie/lewe/gees". Hier is 'n element van 'n gedagte van "ewige lewe" dus ook teenwoordig as jy 'n storie oor die "hoe" daaroor wil skryf.

Niks het wesentlik verander nie.Net die letterlike interpretasie het weggeval. Dis 'jou' godsdiens.

ii.  Uit die verhale/mites – Gilgamesh epos ens. – waaruit die Ou Testament saamgestel is, blyk dit oorwegend dat as jy nie na God se pype dans nie is daar moeilikheid/straf. Mettertyd word ervaar – uit moraliteitsbewussyn, dat daar ook uit dié lering blyk dat daar 'n ander kant i.e. 'liefde' moet wees.

Dit gee aanleiding tot die ontwikkeling van die Nuwe Testament – weer oor tyd en dus verskillende vertellings/narratiewe wat aangepas moet word om met die interpretasie probleme, weerspreking ens. rekening te probeer hou. Omdat daar verkondig is dat 'n straf vir 'sonde' die 'dood' was, moet hierdie aspek ook aangepas word en die profeet wat hierdie eienskappe verkondig en uitleef, word die onderwerp om die straf vir sonde weg te neem. Die moontlikheid/gedagte dat die dood vrygespring kan word, word gebore. Aangesien dit egter nie sigbaar gebeur nie, kom 'die opstanding uit die dood' ens. te voorskyn sodat 'n ewige lewe nou die resultaat kan wees. Dit kan nie op sigbare wyse illustreer/manifesteer nie en bly tot vandag nog in omstredenheid gehul. Dit is egter duidelik dat dit slegs as metafoor hanteer kan word; 'n religieuse werklikheid in taal; nie 'n historiese feit nie. So is Rooikappie se ouma wat deur 'n wolf ingesluk word. Daar is verskil tussen verhaalwaarheid en historiese waarheid.

Hierdie boodskap geld ook vir ons dag en Christene moet ook God só in ons samelewing teenwoordig maak. Mense moet in ons handelinge iets van God en iets van Jesus van Nasaret kan raaksien. Sy Gees (en dus die Gees wat in Jesus teenwoordig was) moet op/in ons lewens so beslag lê dat God ook in ons wêreld sigbaar kan word. Ons kan Christus as 'n besonderse openbaring van God sien en getuig dat Hy ons met God se liefde, barmhartigheid, vergewensgesindheid en sorg in aanraking (ge)bring (het). Wie deur die Gees leef, sal dan ook ervaar dat dit die rigting is waarin die Gees van God ons lei.

Die lewenswyse en uitlewing en die vergestalting van wat as van God beskou word en wat deur die profeet, Jesus van Nasaret verkondig is, laat die gelowiges besluit dat hy as God, deur God, gekom het.

'n "Nuwe" godsdiens word gebore. Nou het hierdie godsdiensgroep 'n unieke eksklusiewe godsdiens en word as die enigste weg na die utopia van 'n ewige lewe beskou. Alles wat in die res van die Nuwe Testament oor Jesus geskryf is word verwerk in die "Meester Vertelling" van die Christen se godsdiens. Die resultaat is dat 'n nuwe Jesus karakter 'gebore' word – Jesus Christus.

Niks het wesentlik verander nie. Slegs die relevante allegoriese betekenis is van toepassing soos deur toepassing op godsdiens verwag word.

iii.  Ek glo "God" is soos liefde. Ek ervaar God as die bron van lewe. As ek God in my lewe weerspieël weet ek dat God my vertrou; dan is ek soos Hy my geskape het – na Sy beeld. Dit dryf my om voluit te leef na die vereistes van die dag. Dit dryf my om ander mense lief te hê en ook die natuur. Ek dink bo alles wil God hê dat ons mekaar onvoorwaardelik moet liefhê met deernis.

Dis hoe ek nou glo. Maar ek glo ook ek is op reis. Ek glo ek beweeg van perron tot perron. Waar ek vandag is mag 'n heel ander plek wees as waar ek môre sal wees. Terugkeer word egter nie oorweeg nie. Slegs 'n keuse wanneer nuwe "openbaring" van Sy almag voordoen.

Soos God energie-massa, ruimte-tyd is (ewig, onvernietigbaar), so is Christus en Heilige Gees deel daarvan en dit is ons Een God wat ons Die Drie Enige in ons godsdiens noem. 'n Benaming. Dit is die godsdiens wat ons oor die eeue ontwerp, ontwikkel, en aangepas het en wat ons aanhang in die geloof dat ons God oor alles beskik.

Die taal waarmee die kerk oor die opstanding van Jesus praat, ook oor die vleeswording, die kruisiging, die nagmaal en die lewende teenwoordigheid van Christus, is soos alle teologiese taal, in metafoor; menslike taal oor geestelike ervaringe en historiese verwantgewende gebeure en vertellings.

Die kerk moet dié boodskap spoedig aan die mense oordra om homself op die langduur te red!

Alternatief?

Indien enigiets sou gebeur wat hierdie standpunt onhoudbaar sou kon maak, is die enigste alternatief om nie slegs die kerk vaarwel toe te roep nie, maar ook om afstand te doen van die godsdiens, die publieke, sigbare diens aan 'n skepper. Van buite veroordeel sal dit dan as ateïsme deur die kerk en sy lidmate bestempel word.

Ek voel veilig want my God is permanent in my teenwoordig as liefde en morele beginsels; onvernietigbaar.

Gert B,

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.