.

Geloof kan rasioneel verwoord word?

Deur Prof. Jurie le Roux op 1 Julie 2013

.

Hierdie bydrae het oorspronklik verskyn op teo.co.za – Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria. Deel 2 is hier te vinde.

Christene moet hulle geloof redelik, rasioneel kan verwoord. Só meen 'n Nederlandse godsdiensfilosoof wat al amper 'n dekade gelede 'n boek hieroor geskryf het, maar wat steeds aktueel is (Stoker 2004). In die volgende uitgawes wil ons sy argument nader bekyk, bespreek en die waarde daarvan vir die Bybelwetenkappe en die daaglikse lewe probeer bepaal. Ter inleiding fokus ons vandag op die rede, die 'ratio' se gebruik in die vroeë kerk en gee 'n voorbeeld van 'n rasionele probeerslag om God se bestaan 'publiek' te bewys.

Waarom 'n rasionele antwoord?

Omdat ons tyd dit vra. Vir Stoker is dit belangrik want enersyds het die kerk (of Christelike godsdiens) se invloed verskraal en het sy plek in die samelewing piepklein geword. Andersyds is die Christendom se monopolie verbreek en is godsdienspluralisme 'n daaglikse werklikheid. Teen dié agtergrond meen Stoker dat ons ons geloof rasioneel in die openbare ruimte moet kan verduidelik (Stoker 2004:10).

Hoe moet 'n mens dit doen? Dit is nogal 'n uitdaging. Geloof kan eg wees en ons hele wese deursuur, maar hoe verantwoord 'n mens dit in die openbaar? Hoe verantwoord 'n mens dit redelik of rasioneel en nie emosioneel nie? En op so 'n manier dat dit in die openbare ruimte aanklank sal vind? 'n Mens moet dan waak teen 'n verskraling waarin geloof net sêmaar binne die N G Kerk-konteks sinmaak, maar nie elders nie. In dié geval is dit moeilik om met mense buite die eie-groep oor geloof of godsdiens te gesels (Stoker 2004:83).

En as ons probeer om dit redelik te verduidelik, staan ons maar net in die lang geloofstradisie vanaf die kerk se begin. 'Redelike geloof' was van die begin af onherroeplik deel van die Christelike geloof. In die vroeë kerk moes gelowiges hulle geloof rasioneel verduidelik anders het hulle gekwyn. Boonop het die eerste eeuse mens ook na redelike verduidelikings van die geloof gesmag.

Sonder denke het geloof nie oorleef nie

Die eerste eeue was uitdagend want wie was die groepie gelowiges wat na Pase voortbestaan en voortgeleef het? Was hulle 'n Joodse sekte of sommer net een van baie ander godsdiensgroepe? En toe het die mense baie oor hulle begin skinder. Allerlei stories oor die eienaardighede en eensydighede van die kerk het die rondte gedoen en dit het baie mense van die Christendom afgestoot.

En dan was daar ook nog sterk opponerende groepe wat vir groot spanning verantwoordelik was. Die gnostici was een so groep wat baie sterk was. Hulle het die klem op kennis ('gnosis') laat val. Dit was vir hulle belangriker as geloof want dit was 'n soort kennis wat 'n mens salig kon maak (vgl. Von Balthasar 1936 Jonas 1969; Van Oort:1995; Von Harnack:1990).

In dié konteks het die slimmes in die kerk met die rede teruggeveg. Die apologete byvoorbeeld het die kerk se identiteit redelik probeer verduidelik en dit was kernbelangrik vir hulle oorlewing. 'n Atheense filosoof, Aristides, het in 'n werk, wat net in Siries aan ons bekend is ('Vita Barlaâm et Joasaf') drie soorte godsvereerders onderskei. Daarmee wou hy die plek van die Christendom in die volkegeskiedenis verduidelik. Eers was daar volgens hom die tyd van die heidene (soos die Egiptenare, die Babiloniërs en die Grieke of Helleniste); toe het die tyd van die Jode gevolg en daarna die Christene. Interessant dat hy die Christene die 'derde geslag' noem. Mettergaan het dié uitdrukking oral ingang gevind. Justinus Martyr of Justinus die Martelaar weer was lief vir die filosofie en hy het dit gebruik om die Jode te oortuig dat hulle nie hulle eie boek (die Ou Testament) verstaan nie en Christus nie daarin kon vind nie (Drobner 1994:51-69).

Kortom: die vroeë kerk het die uitdaging aanvaar om die geloof redelik of rasioneel in die openbaar (deur middel van hulle skryfsels) te verduidelik en daarsonder sou die kerk dalk nie kon groei nie. En tog is daar ook vroeg reeds op iets baie belangrik gewys: die rede het ook sy grens. En ons sien dit baie mooi in Hilarius van Poitier se denke wat tydens die Ariaanse stryd geslyp is.

Ons rede het egter perke

Vir Hilarius was die rede onmisbaar (vgl. Drobner 1994:213-219). Dit was tog immers die rede wat hom tot meerdere (Skrif-) kennis van God gedryf het. Sy nadenke oor God het hom na nog meer insig laat verlang. Deur sy studie van die Skrif het hy God beter leer ken. In sy soeke het hy egter 'n belangrike ontdekking gemaak: God kan geensins volledig deur die rede geken word nie. Hoe meer hy probeer het des te meer het hy gefaal. God is net te oorweigend groot om Hom volledig te kon peil. En hierdie spanning het Hilarius voortdurend ervaar: sy rede het hom aangevuur, maar tog kon dit God nie volledig ken nie; hy het 'n voller kennis van God (en dit is tog 'n intellektuele handeling) begeer, maar telkens voor die rede se beperkthede gestuit (Borchardt 1966:45).

En dit was juis sy verwyt teen die Ariane: hulle het nie die beperktheid van die menslike rede verdiskonteer nie. Hulle teologie het geen skrome geken nie; hulle het te maklik oor die onkenbare gepraat; hulle het die eindigheid van die menslike denke nie in ag geneem nie; gevolglik het hulle die misterie van God te platvloers gemaak. Anders gestel: hulle het sommer so oor God gepraat asof 'n mens kan (vgl. Stoop 1970a:97-86).

En tog wou Hilarius oor God bly praat. Maar hoe dan as die rede so beperk is? Hilarius ontkom egter aan die probleem deur 'voorskrifte' vir die regte aanwending van die rede te formuleer. Eerstens, God moet nie deur ons rede vasvang word nie. Hy is totaal anders en kan deur die menslike rede nie omvat word nie. Hy kan net op 'n menslike wyse gevat en beskryf word. En dit is gebrekkig (vgl. Stoop 1982:130-131).

Tweedens, die mens moet sy eie denkarmoede verstaan. Om wysheid te bekom, moet die mens dwaas word. Bewuswording van hierdie menslike denkbroosheid kan 'n mens iets van God se grootheid laat verstaan. Anders gestel: menslike denke bereik slegs dan iets wanneer die eie eindigheid ervaar word (vgl. Stoop 1970b:58-67).

Derdens, van God kan ons wel iets ken, maar dan moet ons met die moontlike te vrede wees. Om direk in die volle son te kyk, is dwaas en so word die son ook nie geken nie. Ons moet vergenoeg wees met die bietjie wat ons kan sien. So is dit ook met die misteries van God gesteld. Nooit kan ons alles verstaan nie (Borchardt 1966:47).

Mettergaan is die rede egter ook gebruik om die bestaan van God te bewys. Rene Descartes was hiervan 'n goeie voorbeeld.

Twyfel en die bestaan van God

Rene Descartes het gewonder hoe 'n mens tot soliede en vaste waarhede kan kom? Anders gestel: Hoe 'n mens die bestaan van God kon bewys? (Urmson 1985:245). Descartes se antwoord was so tipies van die rasionalisme: die rede. Volgens hom was die rede universeel aan alle mense, die allerbelangrikste element in die menslike natuur, die enigste weg tot sekerheid van kennis, die enigste wyse om reg en verkeerd, goed en sleg te onderskei (Urmson 1985b:245). Slegs deur middel van die rede kan 'n mens tot sekerhede kom.

En tog het twyfel 'n baie belangrike rol gespeel. Twyfel was die metode waarlangs hy absolute kennis wou bereik. En as alles betwyfel word, wat is dan die vastepunt? Op sy sintuie kon hy nie meer vertrou nie (Descartes 1967:21-22) en met die moontlikheid van 'n 'boosaardige geleigees' moes ook rekening gehou word (Descartes 1967:25).

Al hierdie onsekerhede het egter tot die sekerheid van sy bestaan gelei (Descartes 1967:24). Hy moes tog bestaan om te twyfel of bedrieg te kon word. Al sou hy alles betwyfel, is daar een oortuiging wat vasstaan: Descartes bestaan. Elke keer wanneer ek twyfel, moet ek kan bestaan om te kan twyfel. Dit is onmoontlik om te twyfel dat ek bestaan. Telkens wanneer dit gebeur, bevestig dit net dat ek bestaan. So het Descartes dan sy vanselfsprekende eerste beginsel vasgestel: 'cogito ergo sum'.

En hierdie 'cogito' sluit baie dinge in: twyfel, verstaan, ontkenning, wil, ensovoorts. Omdat hy hierdie en nog baie ander dinge doen, bestaan hy. Al sou hy oor geen liggaam meer beskik nie of al is daar geen plek vir hom op die wêreld nie, is dit nog geen rede om aan te neem dat hy nie bestaan nie.

Dat Descartes uiteindelik by God uitkom, het 'n bepaalde noodwendigheid. Deel van die cogito is idees wat nie sonder oorsaak ontstaan het nie. Anders gestel: idees word veroorsaak en wys na realiteite heen. So byvoorbeeld is my idee van 'n boom deur 'n werklike boom veroorsaak en refereer dit ook na 'n boom daarbuite. So is dit ook met die bestaan van God gesteld: my idee van God is deur 'n realiteit genaamd 'God' veroorsaak.

Descartes maak drie vanselfsprekende proposisies aangaande oorsaak: oorsaak en gevolg wys na dieselfde realiteit heen; niks kan uit niks voortkom nie; dit wat volmaak is, kan nie uit die onvolmaakte voortkom nie (Descartes 1967:35-48, veral 47-48). My siening van God as 'n volmaakte wese kan dus net voortgebring word deur iemand wat self volmaak is: 'God exists as the only possible cause of my idea of Him' (Lavine 1989:105).

Descartes het met een mooi rasionele beweging die mens 'n denkende wese gemaak en God se bestaan rasioneel verwoord. Daar is iets besonder aan hierdie intellektuele beweging en tot vandag toe probeer mense hom navolg, maar veral sedert Kant het die onmoontlikheid van so 'n denkproses geblyk. Die rede kan God nie bewys nie want die rede se vermoë is beperk.

'n Ander weg moes dus gevind word en dit is die waarde van Wessel Stoker se werk. Hy het 'n ander toegang gesoek en dit in die ervaring gevind.

Begin dan by die ervaring

Ervaring is iets algemeen. Dit omskryf die proses van ons omgang met die werklikheid of die wêreld. En ons gaan op verskillende maniere met die wêreld om. Deur die wetenskap, die tegniek, kuns, godsdiens, ensovoorts ontdek ons fasette van die werklikheid of wêreld en hierdie ontdekking kan ons 'ervaring' noem. Al hierdie ervaringe verskil ook van mekaar. Daar is 'n verskil tussen 'n natuurwetenskaplike se ervaring en dié van 'n gelowige wat bid. In die geval van religieuse ervaring gaan dit om die konfrontasie met God en sy openbaring of woorde. Wanneer iemand op die openbaring reageer, ontstaan 'n vetrouensrelasie en is daar sprake van 'n geloofservaring (Stoker 2004:23). En hierdie geloofservaring neem die hele mens se gevoel en gedrag in beslag.

En dít is waar Stoker met sy rasionele verwoording van die geloof wil begin. Hy stel in 'deurleefde geloof' belang en verstaan soos Tillich geloof as 'gegrepen zijn door wat ons onvoorwaardelijk aangaat' (Stoker 2004:24).

Bibliografie

Borchardt, C.F.A. 1966. Hilary of Poitier's role in the Arian struggle. 'S-Gravenhage, Martinus Nijhoff.
Descartes, R 1967. Bepeinsinge oor die eerste filosofie. Academica: Pretoria.
Drobner, H.R. 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
Jonas, H. 1969. Het Gnosticisme. Utrecht: Spectrum.
Lavine, T.Z. 1989. From Socrates to Sartre. London: Bantam Books.
Stoker, W. 2004. Is geloven redelijk? Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.
Stoop, J.A. 1970a. Geskiedsbewussyn en eksegese by Hilarius van Poitiers, Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal II, 97-106.
Stoop, J.A. 1970b. Hilarius van Poitiers oor Adam en Christus, Theologia Evangelica III/2, 58-67.

Prof. Jurie le Roux

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.