.

Geloof kan rasioneel verwoord word? (Deel 2)

Deur Prof. Jurie le Roux op 1 Mei 2014

.

Hierdie bydrae het oorspronklik verskyn op teo.co.za – Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria. Deel 1 is hier te vinde.

In hierdie artikel wil ek verder nadink oor die Nederlandse godsdiensfilosoof Wessel Stoker (vgl 2004) se uitdaging om ons geloof in die openbare ruimte rasioneel te verwoord.

Ek wil sy argument van nader bekyk, bespreek en die waarde daarvan vir die Bybelwetenkappe en die daaglikse lewe probeer bepaal.

Vandag fokus ek veral op wat 'rasioneel' beteken en hoe dit tog van die kerk se beginjare af belangrik was om die geloof redelik te verwoord. Ek verwys net vlugtig na die vroeë kerk en Anselmus en dan na die pogings van Schleiermacher, Levinas en Marion om die geloofservaring te verwoord.

Wat is redelikheid?

Wat word met 'redelik' of 'redelikheid' of 'rasionaliteit' bedoel? Rasionaliteit moet nie tot die natuurwetenskappe of wiskundige formules beperk word nie, maar moet met die gewone alledaagse lewe in verband gebring word. Rasionaliteit het nie net met ekonomiese beplanning te make nie, maar ook met gewone dinge soos godsdiens en lewensbeskouing. Stoker verwys na Wentzel van Huyssteen en sê, 'Rationaliteit of redelijkheid betreft ... onze verantwoordelijkheid om helderheid, begrijpelijkheid en optimaal begrip na te streven als middelen om opgewassen te zijn tegen de wêreld en tegen onzself' (Stoker 2004:20).

Rasionaliteit en redelikheid veronderstel 'n bepaalde verantwoordelikheid om na helderheid te streef en ons so goed as moontlik uit te druk dat andere sal begryp en verstaan wat ons sê en ervaar (Stoker 2004:104). Dit is so belangrik dat ons dit weer wil omskryf: 'n Rasionele beskrywing van ons religieuse ervaring impliseer dus nie in die eerste plek 'n empiriese of 'n natuurwetenskaplike verklaring nie; rasionaliteit beteken dus nie primêr 'n empiriese of natuurwetenskaplike verklaring nie, maar 'n heldere vertelling of weergawe van wat ons in ons daaglikse lewe ervaar.

Hoe moet ons dit doen? Dit is 'n moeilike vraag, maar dit is belangrik dat ons wel die uitdaging sal aanvaar om ons geloof redelik te verwoord.

Sonder denke het geloof nie oorleef nie

Die eerste eeue was uitdagend want wie was die groepie gelowiges wat na Pase voortbestaan en voortgeleef het? Was hulle 'n Joodse sekte of sommer net een van baie ander godsdiensgroepe? Allerlei stories oor die eienaardighede en eensydighede van die kerk het die rondte gedoen en dit het baie mense van die Christendom afgestoot.

En dan was daar ook nog sterk opponerende groepe wat vir groot spanning verantwoordelik was. Die gnostici was een so groep wat baie sterk was. Hulle het die klem op kennis ('gnosis') laat val. Dit was vir hulle belangriker as geloof want dit was 'n soort kennis wat 'n mens salig kon maak (vgl. Von Balthasar 1936 Jonas1969; Van Oort:1995; Von Harnack:1990).

In dié konteks het die slimmes in die kerk met die rede teruggeveg. Die vroeë kerk het die uitdaging aanvaar om die geloof redelik of rasioneel in die openbaar (deur middel van hulle geskrifte) te verduidelik en daarsonder sou die kerk dalk nie kon groei nie.

'Die eeu van die rede'

Só noem 'n kerkhistorikus die elfde eeu (Hannam 2009:50). In hierdie eeu het redelike of rasionele verantwoording 'n besondere toespitsing in die bekende voorbeeld van Anselmus van Kantelberg (1033-1109) gekry. In sy Proslogion wou hy die waarde van die rede vir die geloof en die teologie beklemtoon. Sy bekende woorde, 'geloof roep om verstaan'/ 'fides quaerens intellectum' beklemtoon die noue band tussen geloof en rede.

Verstaan' ('intelligere') is implisiet in die geloof teenwoordig en geloof smag as 't ware na groter, duideliker, redelike verstaan. Anders gesê: omdat Anselmus geglo het, het hy na 'n rasionele of redelike begrip van sy geloof verlang. Vir Anselmus gaan dit dus hoegenaamd nie om 'n koue rasionele verstaan van God of die geloof nie, maar om 'n verstaan wat deur die geloof aangevuur word: 'the quaerere intellectum is really immanent in fides' (Barth 1962:16). Omdat ons glo, 'we must hunger after the fidei ratio' (Barth 1962:21; Busch 1976:206). En wanneer iemand verstaan, is daar vreugde. Intense vreugde omdat dít wat die gelowige glo nou ook verstaan, begryp kan word (Barth 1962:17-19).

In die lig van bogenoemde omskrywing van 'redelikheid' sou ons kon sê dat die 'ratio' volgens Anselmus moes streef om die geloof met die grootste helderheid en begrip te verduidelik. Ongelukkig vir Anselmus was daar sterk teenkanting van ander priesters teen sy denke. Hulle het gemeen dat geloof genoeg en die rede onnodig was. Ons ken deur die geloof en dit was nie nodig om dit nog rasioneel te verduidelik nie. Klem op die rede kon selfs gevaarlik wees want kort voor lank sou mense net dit glo wat hulle redelik kon bewys en dit sou 'n reduksie van die geloof beteken het.

Vanweë 'n interessante sameloop van omstandighede het Anselmus se klem op die rede tog uiteindelik sy plek binne die geloof asook die teologie gevind. In 1090 het 'n onderwyser met die naam Roscelin (1050-1125) krities oor die Drie-eenheid gedink en is mettertyd van kettery aangekla. Anselmus het toe 'n baie geleerde verweerskrif teen Roscelin geskryf en dit aan die destydse pous gestuur wat baie daarvan gehou het. Dít het die weg vir 'n rasionele of redelike teologie oopgemaak, maar die volgorde moes net reg wees: 'The Pope was agreeing that it was permissible to use logic in theology, as long as it was conducted in Anselm's cautious way – putting faith before reason' (Hannam 2009:49).

Hierdie klem op geloof en denke, teologie en rede het met die opkoms van die universiteitswese 'n besondere hoogtepunt bereik, maar mettergaan is die perke van die rede besef en het die beskrywing van religieuse ervaring byna onmoontlik geword.

Iets ontglip ons

Volgens Schleiermacher was godsdiens 'n basiese uitdrukking van 'n diepe menslike behoefte. Anders gestel: godsdiens versadig 'n diepe menslike behoefte waarsonder die kuns of die natuurwetenskappe eintlik leeg is. Hoe 'n mens hierdie godsdiens of ervaring moet omskryf, was egter nie so maklik nie.

Die kerk of 'die gemeenskap van die vromes' was vir hom 'n belangrike vertrekpunt want vroomheid het die grondslag van alle kerklike gemeenskappe gevorm. Verder moes die kern of die hartslagaar van hierdie vroomheid nie in die denke of die etiek gesoek word nie, maar in die gevoel. As die geloof se diepste wortel in ons denke gelê het, was alle slimmes gelowiges en dit is tog nie waar nie. So is alle mense wat goeie dade doen en vir die naaste omgee ook nie Christene nie (Polman 1969:23).

Alles het in die gevoel gelê. Die gevoel omvat meer as denke en strek dieper as wat woorde kan omskryf. Die gevoel kan die dinge van die geloof beter as die rede of empiriese ondersoeke of etiese dade verwoord. Met behulp van die gevoel wou Schleiermacher hierdie 'Godsaanraking in die religieuze ervaring ... verhelderen' (Stoker 2004:115). Volgens Schleiermacher kan dié ervaring of Godsaanraking as 'n absolute gevoel van afhanklikheid omskryf word ('ein schlechthinniges Abhängigkeitsgefühl)'. Die gevoel beteken die ervaring van die onmiddellike teenwoordigheid van God en betrek die mens in sy ganse bestaan. Of soos Stoker sou sê, 'God is het meebepalende in dit gevoel van volstrekte afhankelijkheid' (Stoker 2004:114).

Hierdie ervaring gaan alle kennis en handelinge vooraf. Anders gestel dit is iets wat so suiwer is dat dit as 't ware los van taal en interpretasie staan. Hierdie onmiddellike ervaring van God vul die hele mens, maar dit lê buite die greep van taal en gaan alle interpretasie vooraf. Dit is 'n gevoel van afhanklikheid aan God wat nog nie geïnterpreteer of in 'n taal uitgedruk is nie. Dit is suiwer en alleen aanvoeling van God se teenwoordigheid; suiwer gevoel van afhanklikheid sonder dat taal 'n merk daarop gemaak het en voor dit nog enigsins geïnterpreteer is (Stoker 2004:116).

Dit is mooi wat Schleiermacher sê, maar hierdie ervaring met God staan nie los van interpretasie en taal nie. Om te kon sê dit is 'n 'gevoel van afhanklikheid' moes hy dit só geïnterpreteer en met behulp van taal verwoord het. Boonop het hy hierdie gevoel binne 'n Christelike raamwerk verduidelik/verstaan en dus 'n baie spesifieke betekenis daaraan gegee. Dit kan ook eintlik nie anders nie want ons is interpreterende wesens wat betekenis aan alles wat ons ervaar, gee. En daarom kan daar ook nie 'n religieuse ervaring los van interpretasie en taal wees nie.

Só, as ons dus ons geloofservaring moet verwoord, blyk dit dat dié 'ding' wat ons redelik wil verduidelik net nie vatbaar of omskryfbaar is nie. Hieronder word nog twee ander moontlikhede genoem.

God in die naaste geken

Die Franse filosoof Emmanuel Levinas (1906-1995) het gemeen dat die ervaring van God horisontaal verstaan moet word. Trouens, hy hou nie veel van die woord 'ervaring' nie want dit veronderstel dat ons 'n greep op iets kan kry en op God kry geen mens ooit 'n greep nie. En as God in ons lewens sou kom, sou dit eerder 'n ontwrigtende ervaring wees. Die 'Godservaring' moet dus eerder eties en horisontaal verstaan word want God word eerder in ons konfrontasie met die ander geken.

God word eerder in die swakkes, die armes, die wese en die weduwees ervaar. Hulle maak 'n appél op ons want daar is iets van God in hulle. God 'laat zich slechts kennen via de naaste en wel in ethische zin' (Stoker 2004:110). En dit is dan ook nie 'n 'ek-U'-verhouding nie, maar 'n verhouding in die derde persoon: 'n verhouding met die ander (die armes, siekes, ens) wat as 't ware vir God 'instaan', maar wat nog geen egte relasie met God self is nie.

Levinas help ons ook nie eintlik nie want soos Stoker tereg opmerk: 'Het is eenzijdig om over God te spreken alleen in termen van ethiek ... Leven, zingeving en religie zijn meer dan moraal' (Stoker 2004:111).

God is hier, maar ook weg

As ons volgens Levinas die religieuse ervaring nie as verskynsel kan beskryf nie, het Jean-Luc Marion (gebore 3 Julie 1946) tog anders gedink. Hy wou beklemtoon dat hierdie ervaring nie maar iets irrasioneel is nie, 'maar als fenomeen wijsgerig is te beschrijven' (Stoker 2004:133).

Edmund Husserl (1859-1938) het gemeen dat as ons na iets kyk, kyk ons altyd slegs vanuit ons perspektief en 'n mens sien ook maar net ten dele. As ons byvoorbeeld na 'n kubus kyk, sien ons slegs een kant; daar is dus 'n tekort in ons waarneming want ons sien net 'n gedeelte van die kubus en daarom moet ons waarneming aangevul of uitgebrei word sodat ons dit as 'n geheel sien.

Marion keer alles om en praat van verskynsels wat versadig is aan waarneming. Dit is verskynsels wat baie meer gee as wat 'n mens verwag. Anders gesê: dit is verskynsels wat baie meer aanbied en baie meer inligting gee as wat ons sou vermoed.

'n Voorbeeld van 'n versadigde fenomeen is die Franse Rewolusie. Hierdie rewolusie was so 'n oorweldigende en komplekse gebeurtenis dat geen beskrywing daarvan dit kon vasvat nie. Daar is soveel moontlike kante aan dié rewolusie dat dit moeilik is om die gebeure van dié dag vas te vang. Dieselfde geld van 'n skildery. Dit gee geweldig meer as wat die kyker verwag. Dit is soos wanneer ek in die son kyk en die lig my so oorweldig dat ek moet wegkyk en my oë toemaak; die son is as 't ware versadig aan waarneming en dit is nie meer van interpretasies afhanklik nie.

Volgens Marion is God se openbaring ook 'n voorbeeld van 'n versadigde verskynsel. Hy verstaan God in terme van 'n gawe. God gee sonder maat en in oorvloed en dit oortref al ons begrip en verstand. Wanneer God in ons lewens kom, is dit so 'n oorrompelende ervaring dat dit alle moontlike omskrywing ontglip. Dit is 'een verblindende zonneklaarheid' wat ons oorweldig; dit is 'n ervaring wat kwalitatief en kwantitief alle begrip oortref; dit 'overkomt ons letterlijk als we in de zon kijken waardoor alles word overbelicht' (Stoker 2004:134-135).

En tog sê Marion dat God Hom ook onttrek. Ons mense wil alle verskynsels vasvat, beskryf en definieer, maar God laat dit nie toe nie. Hy onttrek Hom aan alle pogings tot beskrywing. God onttrek Hom 'to the point of disappearing as an object that is possessable, manipulable, discernible' (Stoker 2004:135).

Is daar 'n weg uit?

Dit lyk asof ons ideaal om ons geloof redelik te verwoord nie so maklik is nie. Aan die een kant móét ons dit doen, maar aan die ander kant lyk dit byna onbegonne. Schleiermacher wou geloofservaring puur en suiwer vasvang, maar hy het nie daarin geslaag nie. Levinas wou dit toe in die etiek laat opgaan en Marion het gesê dat God Hom nie laat definieer nie.

Miskien is die verhaal van God se groot handelinge in Israel en die vroeë kerk 'n beter beginpunt.

Bibliografie

Barth, K 1962. Anselm. Fides quaerens intellectum. Cleveland/ New York.
Borchardt, C F A 1966. Hilary of Poitier's role in the Arian struggle. 'S-Gravenhage, Martinus Nijhoff.
Dahan, G 2000. Genres, forms and various methods in Christian exegesis of the Middle Ages, in Saebo, M (ed), Hebrew Bible / Old Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 180-195.
De Lubac, H 1998. Medieval exegesis, vol 1. Grand Rapids: William B Eerdmans.
Drobner, H R 1994. Lehrbuch der Patrologie. Freiburg: Herder.
Hannam, J 2009. God's Philosophers. London: Icon Books.
Jonas, H 1969. Het Gnosticisme. Utrecht: Spectrum.
Lavine, T. Z. 1989. From Socrates to Sartre. London: Bantam Books.
Stoker, W 2004. Is geloven redelijk? Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.
Van Oort, J 1995. Jeruzalem en Babylon. Zoetermeer: Uitgeverij Boekcentrum.
Von Balthasar, H U 1936. Aurelius Augustinus – Über die Psalmen. Leipzig: Jakob Hegner.
Vedder, B 2006. Hoe is godsdienst te begrijpen. Diesrede 2006. Nijmegen: Thieme MediaCenter.
Von Harnack, A 1990. Marcion. The Gospel of the alien God. Durham: The Labyrinth Press.

Prof. Jurie le Roux

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.