‘n Paar los gedagtes oor geloof en wetenskap

Deur Abe Steyn op 1 Maart 2011

Opgedra aan George van der Walt, wat aan my gesê het dat ek moet erken dat almal 'n geloofs-vertrekpunt het. George, jy was reg, jy is een van die persone op Facebook met wie ek die meeste verskil en by wie ek die meeste geleer het!

Is daar enigiets wat ek net eenvoudig glo? Met geloof bedoel ek die aanvaarding van iets sonder dat daar enige bewyse daarvoor is. Ek dink daar is net twee dinge wat ek glo:

1  Die werklikheid is werklik. Hiermee bedoel ek dat die heelal waarin ons lewe bestaan. Die heelal is nie 'n illusie nie, ons is nie deel van iemand of iets se droom nie. Daar is mense wat glo ons lewe in 'n illusie. Ek kan hulle nie verkeerd bewys nie en ek kan ook nie dit wat ek glo bewys nie.
2  Die werklikheid probeer ons nie mislei nie. Hierdie geloof hang saam met die eerste geloof. Ek glo ons kan die heelal en alles daarin verstaan. Daar is nie iemand of iets in die heelal wat doelbewus of onbewustelik probeer om ons iets in die heelal verkeerd te laat verstaan nie. (Daar is bv. kreasioniste wat sê die aarde lyk miskien of dit biljoene jare oud is, maar dit is in werklikheid 6000 jaar oud, net soos Adam as volwasse man geskape is. Miskien is hulle reg. Alles wat ons weet dui egter daarop dat die aarde biljoene jare oud is en daarom aanvaar ek dit is biljoene jare oud. Die mens kan regtig nie kwalik geneem word as God ons probeer mislei en hy slaag daarin nie!) Dit is so dat daar baie dinge is wat ons nie verstaan nie en wat ons heel moontlik verkeerd verstaan, maar dit is nie omdat dit wat ons in die natuur sien foutief is nie, dit is eerder 'n gebrek aan inligting en omdat niemand nog aan 'n hipotese gedink het om die inligting wat ons wel het te verklaar nie.

Daar is dinge wat as geloof gesien word wat nie geloof is nie. Christene is nogal lief om te sê "Selfs die ateïste glo iets, hulle glo bv. dat die son môre gaan opkom!" Kom ons vergeet maar eers dat dit in werklikheid die aarde is wat om sy as draai en nie die son wat opkom nie. Om te sê die son gaan môre opkom is nie 'n geloof nie, dit is 'n hipotese en 'n toetsbare hipotese daarby. Hoekom sê ek die son gaan môre opkom? Ek grond my hipotese op ondervinding (die son het so ver nog elke oggend opgekom). Vir die son om môre nie op te kom nie moet die son of die aarde of albei verdwyn voor môre oggend of die aarde moet ophou draai, daar is absoluut niks wat daarop dui dat so iets gaan gebeur nie en daar is ook niks waarvan ons weet wat so iets kan laat gebeur nie.

Nog iets wat soms gesien word as geloof is die wetenskaplike metode, nie die metode self nie, maar die "geloof" in die metode om dinge te verstaan en verklaar. Daar is verskillende redes hoekom iets aanvaar word, dit kan aanvaar word omdat iemand so sê (m.a.w. dit word aanvaar a.g.v. outoriteit) of dit kan net eenvoudig geglo word, of dit kan aanvaar word omdat die kennis verkry is uit die wetenskaplike metode. Die wetenskaplike metode is maar net 'n manier om kennis te bekom. Die heel belangrikste is om krities te wees. Daar word na die data gekyk (data is dit wat ons kan sien en kan meet). Dan word aan maniere gedink om die data te verklaar, dit word 'n hipotese genoem. Hierdie hipotese word verder getoets deur verder data in te samel en eksperimente te doen. So word 'n hipotese bevestig of verkeerd bewys. 'n Hipotese kan ook gewysig word soos nuwe data inkom en navorsing gedoen word. Hipoteses wat goed ondersteun word deur die data en wat bevestig is word 'n teorie genoem. 'n Feit is 'n teorie wat nie weens rasionele redes bevraagteken kan word nie. Die volgende definisies word deur Michael Shermer in Why do people believe weird things gegee:

Hypothesis: A testable (dit is belangrik!) statement accounting for a set of observations.
Theory: A well-supported and well-tested hypothesis or set of hypotheses.
Fact: A conclusion confirmed to such an extent that it would be reasonable to offer provisional agreement.

Dit klink nou alles mooi, maar hoekom moet ons die wetenskaplike metode aanvaar as ons iets wil weet oor die werking van die wêreld, hoekom glo ons nie net iets omdat iemand dit gesê het of omdat dit al vir jare geglo word nie? Die antwoord is omdat die wetenskaplike metode werk en die ander metodes (geloof en dogma) nie! Wetenskap en tegnologie is nie dieselfde nie, maar al die tegnologie waaroor ons beskik is a.g.v. wetenskap en niks anders nie. Wetenskap kan ook deur enigiemand gedoen word, dit is nie gebonde aan iemand se kultuur nie, waar iets soos geloof kultuurgebonde is. Mense uit die Christendom en uit die Hindoeïsme sal ure lank stry oor hoe die aarde nou eintlik ontstaan het en mekaar nie kan oortuig nie, terwyl iemand uit China en iemand uit Duitsland wat beide die wetenskaplike metode volg tot dieselfde gevolgtrekking kan kom, afhangende natuurlik of hulle oor dieselfde data beskik.

Maar kan ons die wetenskaplikes op hulle woord neem? As ons niks van wetenskap weet nie, hoekom moet ons die wetenskaplike glo wat sê die aarde is meer as 4 biljoen jaar oud en nie die predikant/Bybel wat sê die aarde is 6000 jaar oud nie? Kom dit nie ook maar neer op geloof in dit wat die wetenskaplikes sê nie? Daar is so 'n paar redes hoekom die wetenskaplikes eerder as die "geestelikes" op hulle woord geneem kan word sonder dat dit blinde geloof hoef te wees. Enigiemand kan die verskillende wetenskappe aanleer en hulself oortuig oor die dinge wat in 'n spesifieke wetenskap gesê word. Al die wetenskappe is nie presies dieselfde nie, maar almal wat die naam wetenskap werd is werk op dieselfde wetenskaplike metode. Dinge word nie sommer net gesê nie (daar is selfs redes oor hoekom 'n wetenskaplike 'n hipotese het). Hoekom sê sommige gelowiges Adam was die eerste mens wat so 6000 jaar gelede op aarde geleef het? Want dit staan so in die Bybel. Hoekom het Moses, of wie ook al Genesis geskryf het, so gesê? Dit weet geen mens nie, Moses het nie die moeite gedoen om vir ons te sê hoekom hy juis die stelling gemaak het nie, miskien het God so vir hom gesê! Hoekom sê God so, waar is God se bewyse? Aan die ander kant, hoekom sê wetenskaplikes die mens is vir baie meer as 6000 jaar op aarde en het d.m.v. die proses van evolusie uit aapagtige voorouers ontstaan? Wel, nie omdat Darwin so gesê het nie, maar wel a.g.v. bewyse uit die verskillende vakgebiede soos paleontologie, genetika, ontwikkelingsbiologie ens. Dit is die verskil tussen wetenskap en geloof. In die wetenskap is daar ook iets wat genoem word "publish or perish." 'n Wetenskaplike moet sy bevindings in 'n joernaal bekend maak sodat ander kenners in die spesifieke vakgebied die geleentheid kan hê om hom te kan kritiseer en bevraagteken. 'n Wetenskaplike hipotese/teorie is in der waarheid dus die werk van so te sê al die kenners in 'n vakgebied. Natuurlik verskil wetenskaplikes met mekaar, maar die mees rasionele ding vir 'n leek om te doen is om die algemene aanvaarde teorie in 'n spesifieke vakgebied te aanvaar. Ons kan nie net vertrou op dit wat ons geleer het nie. Selfs ons eie logika is nie altyd so vreeslik betroubaar soos wat ons dink nie. Dit is logies dat swaarder voorwerpe vinniger val as ligte voorwerpe en dat die son om die aarde draai en dat 'n vis 'n vis bly en nooit in iets anders verander nie, maar al hierdie dinge is vals.

Mense kan ook om verskillende redes dieselfde ding aanvaar, een persoon sê die aarde is rond a.g.v. die bewyse, dit is wetenskap, iemand anders sê die aarde is rond omdat hy so op skool geleer het, dit is dogma/geloof.

Is die wetenskap teen die bonatuurlike? Het wetenskaplikes 'n vooraf opgestelde idee dat die bonatuurlike nie bestaan nie, m.a.w. is naturalisme 'n geloof van wetenskaplikes? Hierdie is baie moeilik om te antwoord. Wat wetenskap aangaan val die bonatuurlike in twee groepe, dit wat getoets kan word en dit wat nie getoets kan word nie. Kom ons kyk maar weer na Moses (terloops, as ons die wetenskaplike metode volg om die oorsprong van die "Boeke van Moses" vas te stel dan is dit hoogs onwaarskynlik dat Moses wel die outeur was). Ons kan nie wetenskaplik bepaal of God wel met Moses gepraat het of nie. Maar ons kan wel na sommige van Moses se uitsprake kyk. Die skeppingverhale klop nie met die data nie. Die geskiedenis soos vertel deur Moses klop nie met die argeologie nie. Volgens Moses is die 10 gebooie deur God self gegee, maar die rede vir die hou van die Sabbat verskil in die twee weergawes van die 10 gebooie (Ex 20:11 en Deut 5:15). Die minste wat ons dus kan sê is dat dit hoogs onwaarskynlik is dat God wel met Moses gepraat het, maar dit is nie regtig toetsbaar nie.

Kom ons kyk na nog 'n voorbeeld van die bonatuurlike. Daar is baie mense wat in telepatie glo, dat mense met mekaar oor 'n afstand kan kommunikeer deur as't ware mekaar se gedagtes te lees. Dit is nie werklik nodig om te verklaar hoe werk telepatie nie, daar moet eers bewys word dat so iets wel bestaan. Maar kom ons gestel dat daar wel eendag uitgevind word telepatie is 'n feit. Nou sal die volgende stap wees om te probeer uitvind hoe werk dit. Kom ons gestel na baie toetse word daar gevind dat die brein wel golwe kan vrystel wat deur ander persone opgevang kan word. Nou weet ons hoe werk telepatie, die "probleem" is egter dat telepatie nou nie meer as iets bonatuurliks gesien kan word nie.

Een van die groot probleme met 'n bonatuurlike verklaring of om iets 'n wonderwerk te noem is dat dit eintlik niksseggend is. Is dit nie baie beter om te sê "ek weet nie hoe het iets plaasgevind nie" as om te sê "dit was 'n wonderwerk" nie? Dit is in elk geval baie meer eerlik! Hoe weet ons in elk geval iets was 'n wonderwerk? As iemand dodelik siek is en skielik gesond word, hoekom word daar gesê dit is 'n wonderwerk? Daar moet onthou word dat die een wat 'n stelling maak verantwoordelik is om die stelling te bewys, dit is nie die een wat nie wonderwerke aanvaar nie se plig om te bewys wonderwerke bestaan nie.

'n Laaste voorbeeld. Hoekom aanvaar diegene wat skepties is oor wonderwerke nie dat gebede verhoor word nie? Kom ek neem maar een van my geliefde voorbeelde: mense bid dat dit reën en dan reën dit ook, hoekom is dit nie 'n bewys van goddelike ingryping nie? In die eerste plek weet ons nie of dit in elk geval sou gereën het nie, of iemand nou daarvoor gebid het of nie. (Hierdie tipe denkfout word genoem "post hoc ergo propter hoc", letterlik "na dit, daarom a.g.v. dit.") En in die tweede plek is 'n bonatuurlike verklaring onnodig. Dit is nie nodig om twee of drie of tien verklarings vir iets te gee as een verklaring genoeg is nie. Daar is 'n natuurlike verklaring vir reën, daarom is 'n bonatuurlike verklaring onnodig. "Occam's razor" kom ook hier in, hou die verklaring so eenvoudig as moontlik (maar nie eenvoudiger as dit nie!).

Dit is baie belangrik om te onthou dat daar 'n onderskeid is tussen die wetenskaplike metode en wetenskaplikes. Wetenskaplikes is gewone mense wat ook foute maak en wat ook verkeerd kan wees en oneerlik kan wees. Soms raak wetenskaplikes "verlief" op hulle eie hipoteses en weier om enigiets wat daarop dui dat hulle verkeerd kan wees raak te sien, dit is juis hoekom "publish or perish" so belangrik is. Ek het nou baie houe uitgedeel na die gelowiges, dit sal nie kwaad doen om die ateïste ook so bietjie by te kom nie! Baie wetenskaplikes is ateïste vir 'n verskeidenheid van redes. Van die bioloë is ateïste omdat hulle nie vir God "sien" in hulle vakgebied nie, hulle is reg, ek sien ook geen teken van God in die biologie nie, maar hulle maak die fout om te dink God bestaan daarom nie. Baie wetenskaplikes is ook ateïsties omdat hulle nie in die Bybelse God of die God van Islam of een van die ander gelowe glo nie.

Die eerlike wetenskaplikes sal egter moet erken dat die god-hipotese 'n geldige hipotese is. Uit die data weet ons dat die heelal 'n ontstaan gehad het (ek weet nie van een fisikus wat dit sal bevraagteken nie), ons weet ook dat die heelal presies ingestel is vir die ontwikkeling van sterre, planete en ook later lewe op ten minste een planeet, so presies ingestel dat dit eintlik "scary" is! Die beste hipotese is altyd die een wat die meeste verklaar en die minste aannames maak, hier is die god-hipotese die heel beste hipotese. Natuurlik is daar ander hipoteses, daar kan meer as een heelal bestaan, statisties gesproke sal een van die heelalle dan presies reg wees vir lewe, maar dit los nie die probleem op van hoe al hierdie heelalle dan ontstaan het nie, om te sê iets het ontstaan uit niks oortree die wet op die behoud van energie/materie. (Die ateïste wat sê die heelal het uit niks ontstaan glo aan 'n wonderwerk. Ten minste glo die teïste God was verantwoordelik vir die wonderwerk, die ateïste glo niks of niemand was verantwoordelik vir die wonderwerk. Ek glo eerder die stories van pratende slange en donkies as om in so megawonderwerk te glo!)

'n Ander hipotese is om te aanvaar dat meer as een heelal bestaan en dat een heelal op een of ander manier kan oorsprong gee aan 'n ander heelal. Die probleem hier is dat een hipotese ('n heelal uit 'n ander heelal) gebou word op 'n ander hipotese (daar is meer as een heelal), die god-hipotese is slegs een hipotese. As God gesien word as iets wat "homself" of 'n deel van "homself" verander het in die heelal word die probleem van die verbreking van die wet van die behoud van energie/materie ook opgelos. Teïsme of deïsme is 'n beter hipotese om die ontstaan van die heelal te verklaar as ateïsme, maar panendeïsme of pandeïsme (God didn't create the universe, God became the universe) is die hipotese wat die heel minste aannames maak en al die data verklaar. Die god-hipotese is ook 'n baie lekker hipotese om te sien of ateïste werklik so "open-minded" is soos wat hulle beweer en of hulle ooit bewus daarvan is dat iets nie uit niks kan ontstaan nie asook of hulle iets weet van die konstante wat in die heelal voorkom.

Daar is nie eintlik veel oor myself te sê nie, ek het nie enige verdere opleiding gehad nie, ek stel maar net belang in al hierdie dinge. Abe Steyn kan gekontak word by

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za