.

Gebed

Deur Prof. Hansie Wolmarans op 1 Maart 2020

.

Op pad gym toe, luister ek toe vanoggend na RSG se oggendgodsdiens. Dr. Roelf Opperman van die Kameeldrif NG-Kerk was aan die woord.

Hy vertel toe hoedat sy dogter jare terug ernstige breinskade in 'n motorongeluk opgedoen het. Hy en sy vrou het vir haar gebid. Familie en vriende het ook. Reg oor die land was daar gebedskettings gevorm. Niks het gehelp nie en sy is dood.

Roelf gaan toe verder en verklaar toe prontuit in postmoderne idioom dat gebed vir wonderwerke nie werk nie – nie om kanker te genees nie, of om die Coronavirus te keer nie, of die slagting van onskuldige mense tydens oorloë nie. Niks van "God weet wat vir ons goed is" of "God beproef ons om beter mense van ons te maak" nie of "vir dié wat God liefhet, laat God alle dinge ten beste uitwerk" of "God pluk die mooiste blom vir sy tuin in die hemel" nie.

Hy konkludeer toe dat die positiewe funksie van gebed is om ons te help om struktuur te gee aan ons gedagtes. Ek het Roelf 'n epos gestuur, en dankie gesê dat hy die moed van sy oortuiging gehad het om 'n sterk standpunt teen volksteologie in te neem – sover ek weet 'n eerste op RSG!

Sy gedagtes het aangesluit by 'n gebed wat ek Sondag in die kerk gebruik het. Hier is dit:

Dierbare God. Mense sê as dit sleg gaan, moet ons bid. Dinge is erg. Daar is Covid-19, paniek op finansiële markte, klein kindertjies wat ontvoer en misbruik en vermoor word, en daar is ons landsbegroting wat bra meer klink na retoriek as vasberade voornemens.

As ons nou hieroor wil bid, sukkel ons met ons tradisie. Vir party van ons is u soos 'n koning op 'n troon met genoeg water vir 'n kind wat van die dors doodgaan. U gee nie, maar sê, "Jammer. Jy het nie ASSEBLIEF gesê nie." Ander weer is vas oortuig u het 'n kuur vir 'n dodelike epidemie. Om u sover te kry om te help, moet ons eers 'n gebedsketting vorm van 10,000 mense, of 'n massiewe #DrieGebedePerDag aan die gang kry.

Ander weer het psigo-analises van u ontwerp en dit in onfeilbare belydenisse vasgevang. Dit verklaar presies waarom u doen wat u doen: dat al die gruweldade in hierdie wêreld deel is van u bloudruk vir die geskiedenis, of dat u ons nooit bó ons vermoëns beproef nie, of dat u uiteindelik in die hiernamaals gaan beloon en straf. Hulle boelie ons intellektueel, want hulle sê dat boontjie maar eintlik net sy loontjie kry; só ons moet stilbly en swygsaam ly.

Dan is daar die goedbedoelde getuienisse van dat u vir 'n uitverkorene 'n parkeerplek gereël het, of 'n vliegtuig vertraag het – al het dit iemand anders verontrief. Ons sukkel met hierdie perspektiewe, want hoekom sal u nou een persoon se lewe makliker maak, terwyl daar elke dag meer as dertig duisend kinders doodgaan van voorkombare faktore?

Ons worstel om ons tradisie te versoen met ons ervaring en ons gesonde verstand. So, vandag kan ons nie meer bid soos gister nie. Vandag is ons gebed een van voorneme. Ons onderneem, dié wat die toutjies trek, en dié wat magteloos voel, die wat jonk en energiek is, en die wat oud en wys is, die wat het en die wat nie het nie, ons almal saam onderneem om saam te werk om mekaar te dien en die aarde te versorg. Hoe min dit ook al is, hoe gering, ons wil ons deel doen om Jesus se droom vir hierdie wêreld waar te maak.

Mag ons, in hierdie moeilike tye wees pilare van steun, bakens van hoop, en stemme vir rede en rasionaliteit. Amen.

Prof. Hansie Wolmarans

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.