.

Die gay kwessie: die wet, Rut en Jesaja

Deur Dr. Gerda de Villiers op 1 November 2015

.

Die NG Kerk en gay verhoudings

Die pas afgelope sinodebesluit van die NG Kerk ten opsigte van gay verhoudings, gay huwelike en die bevestiging van gay leraars in die amp, is verblydend. Dit was 'n baie lang pad. Eers was dit 'n sonde wanneer 'n man tot 'n man of 'n vrou tot 'n vrou aangetrokke gevoel het. Tekste uit die Bybel is aangehaal om dit te bewys: veral Levitikus 18:22, 20:13 en Romeine 1:26-27 was gewilde tekste om te bewys dat verhoudings tussen dieselfde geslag deur die Bybel self veroordeel word. Gay mense is nie toegelaat om lidmaat van die NG Kerk te word nie, wat nog te sê van 'n gay predikant!

Hierdie standpunt het tragiese gevolge gehad. Pogings is aangewend om gay mans en vroue 'reg te bid,' om die 'satan uit hulle uit te dryf,' en heelwat gay mense het selfs huwelike met die teenoorgestelde geslag aangegaan om óf hul seksualiteit te probeer ontken, óf om te bewys dat hulle hulself die hele tyd eintlik daaroor misgis het.

Toe kom die sielkunde by. Niemand kies om gay te wees nie. Die stories wat gays vertel, is pynlik. Op skool word kinders wat 'anders' is gespot, en dit lyk asof dit veral gay seuns is wat deurgeloop het. 'n Rabbedoe dogtertjie wat liewers boomklim en skaatsplank ry, is om die een of ander rede meer aanvaarbaar as 'n seuntjie wat in poppe en mooi klere, eerder as in rugby belang stel. Die sielkunde sê, 'n mens word gay gebore.

Die NG Kerk was simpatiek – maar, steeds, homoseksualiteit word deur die Bybel veroordeel, en hoe nou? 'n Toegewing is gemaak dat gay mense wel in die kerk toegelaat kan word, maar dan moet hulle hulself selibaat hou. Gay leraars was heeltemal buite die kwessie: absoluut ontoelaatbaar. 'n Paar leraars – mans en vroue – was bereid om 'uit die kas' te klim, nie net om openlik oor hul seksuele voorkeur te wees nie, maar om ook te kenne te gee dat hulle, net soos heteroseksuele mense 'n behoefte het aan 'n permanente verhouding van wedersydse liefde, trou, ondersteuning, respek, en 'n besondere intieme verbintenis. Die mens is 'n seksuele wese.

Uiteindelik het die NG Kerk dit aanvaar, en gays in die liefde van Jesus omhels. Hulle mag lidmate wees, hulle mag predikante wees, hulle mag selfs trou. Nogtans, hoe gemaak met 'wat sê die Bybel'? Tekste soos dié in Levitikus en Romeine staan in die Bybel, en hierdie bladsye kan nie sommer uitgeruk word nie. In hierdie teo-artikel wil ek 'n paar tekste neem wat moontlik kan help om 'n ander perspektief op die gay debat te lewer, naamlik die boek Rut en die teks van Jesaja 56:1-8.

Die probleem met interpretasie

Eers kortliks iets oor tekste soos Levitikus 18:22, 20:13 en Romeine 1:26-27 wat oënskynlik homoseksualiteit veroordeel. Die eerste voor-die-hand-liggende probleem is dat nòg die Hebreeuse Bybel nòg die Griekse Nuwe Testament die woord 'homoseksueel' gebruik. Dit is 'n begrip wat die vertaling in die teks interpreteer, en verder is hierdie interpretasie 'n konsep wat uit ons hedendaagse konteks kom. Homoseksualiteit soos wat ons dit vandag verstaan, was onbekend in die antieke wêreld. Die tekste wat teen seksuele gemeenskap met mense van dieselfde geslag waarsku, het meestal betrekking op die kultiese gebruike in die res van die ou Nabye Ooste.

Verder, in Levitikus sowel as in Romeine gaan dit nie net oor gemeenskap met iemand van dieselfde geslag nie: ander gebruike word ook afgekeur, soos byvoorbeeld om 'n kledingstuk uit verskillende materiaal saam te stel (Lev 19:19). Niemand neem dit vandag ernstig op nie, inteendeel, die modewêreld sal 'n lelike knou kry as dit moet gebeur! 'n Mens moet dus oppas om op een teks te fokus en dit as gesaghebbend uit te lig, omdat dit oënskynlik die argument ondersteun. Daar moet eers 'n deeglike studie van die teks in sy konteks gemaak word voordat ons kan sê: 'Só sê die Bybel,' want dis nie altyd so maklik om te weet wat die Bybel sê nie.

Die boek Rut

Die eerste reaksie wat ek gekry het toe ek sê dat ek dink die Rutboek kan 'n belangrike bydrae in die gay debat lewer, was: 'O ja, Rut en Naomi het mos 'n lesbiese verhouding gehad.' Die teks waarop hierdie aanname gebaseer word, is Rut 1:16-17. Rut belowe klakkelose lojaliteit aan haar skoonmoeder, Naomi: 'Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly, u volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf en daar begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.' Om gay verhoudings op grond van hierdie teks goed te keur, is eksegeties en hermeneuties net so onverantwoordelik soos om gay verhoudings op grond van Levitikus of Romeine te veroordeel.

Ek wil die saak van 'n ander hoek beskou, en dit het te make met die konteks van die Rutboek. Alhoewel die Rutboek 'in die tyd van die rigters' afspeel, is dit nie in die rigtertyd geskryf nie. Die Rutboek is in die posteksiliese tydperk geskryf, dit wil sê, in die tyd ná die ballingskap. Dit is nie vreemd nie. Ook hedendaagse skrywers projekteer dikwels 'n verhaal na die verlede tyd om 'n punt by 'n kontemporêre gehoor tuis te bring. Ons kan aan historiese novelles op eie bodem dink, soos die van André Brink. Heelwat van sy romans word teen die agtergrond van die ou Kaap vertel, maar lewer eintlik skerp kritiek teen die apartheidsbedeling van die teenwoordige tyd van die skrywer.

Netso met die Rutboek. Die skrywer lewe in die posteksiliese tyd, en sy groot probleem is met een van die gesaghebbende tekste van sy tyd: Deuteronomium 23:1-4. In Deuteronomium 23:3 staan geskrywe dat geen Moabiet of Ammoniet lid van die gemeente van die Here mag word nie. Nie tot in die tiende geslag nie. In die eksiliese en posteksiliese tyd het dit egter gebeur dat mense vanuit ander volke ook graag by Israel wou aansluit, omdat hulle die Here, die God van Israel leer ken het en Hom wou dien. Anders gestel, hulle wou baie graag ook lid van die gemeente van die Here word, maar die 'Bybel' van hulle tyd het hulle egter uitgeskryf.

Dat Deuteronomium 23:1-4 inderdaad 'n baie belangrike teks was om te bepaal wie lid van die gemeente van die Here mag wees en wie nie, blyk uit die feit dat ander eksegete van die tyd, soos die skrywers van die boeke Esra en Nehemia, Deuteronomium 23:3 volgens die letter van die wet interpreteer het. Dit is hartverskeurend om te lees hoedat hulle van die Judese mans verwag het om hul vreemde vrouens en kinders weg te stuur na waarvandaan hulle gekom het (Esra 10; Neh 13). Hulle het nie gevra of hierdie vroue dalk ook die Here, die God van Israel dien nie, bloot die feit dat hulle nie Israeliete was nie, was genoeg om te eis dat hulle uit die gemeenskap verdryf word. Esra en Nehemia was die amptelike en godsdienstige leiers van die tyd en hulle het die 'wet' baie goed geken, maar die manier waarop hulle dit toegepas het, getuig van groot liefdeloosheid en het diepe hartseer tot gevolg gehad.

Nou kom die skrywer van die Rutboek en hy vertel 'n storie. Hy vertel van Rut, die Moabitiese en haar onwrikbare lojaliteit teenoor haar Judese skoonmoeder. Die hele intrige word gedra deur die optrede van Rut. Haar weldade teenoor haar skoonmoeder kom onder die aandag van die vermoënde grondbesitter, Boas, en aan die einde van die storie trou hulle met mekaar. In die Rutverhaal is dit egter belangrik om te onthou dat Rut 'n Moabitiese vrou en Boas 'n Judese man is. Volgens 'wet,' is so 'n huwelik heeltemal ontoelaatbaar. En nou moet die vraag gevra word: waarom kies die outeur van die Rutboek 'n Moabitiese vrou as een van sy hoofkarakters?

Daar is reeds gesê dat die Moabiete baie duidelik deur die 'wet' verbied word, en met goeie rede. Die Moabiete het nie 'n baie goeie reputasie in die Hebreeuse Bybel nie. Hul oorsprong lê in die bloedskande tussen Lot en sy dogters (Gen 19:30-38). Nadat Sodom en Gomorra verwoes is, was Lot se twee dogters bang dat daar nie vir hulle mans sou wees nie. Al om die ander nag het hulle hul pa dronk gemaak en beurte gemaak om met hom geslagsgemeenskap te hê. Albei het swanger geword: die oudste se kind is Moab genoem, en hy was die voorvader van die Moabiete. Die jongste se kind is Ben-Ammi genoem – die voorvader van die Ammoniete. Wat Moabitiese vroue betref, word daar van die insident by Sittim vertel, terwyl die Israeliete deur die woestyn getrek het. Daar, by Sittim het Moabitiese vroue Israelitiese mans tot afgodsdiens verlei, en boonop ook met hulle geslagsgemeenskap gehad. Die outeur van die Rutboek kies dus 'n karakter teenoor wie die gehoor van meet af aan bevooroordeeld sal wees. Moabiete, veral Moabitiese vroue voorspel net moeilikheid. Die outeur wil hierdie stereotipiese beeld egter afbreek, en hy stel Rut as 'n Moabitiese vrou voor wat solidêr by haar skoonmoeder staan en haar in 'n baie moeilike tyd ondersteun. Sy kies haar skoonmoeder se God en haar volk, en sy staan by haar besluit.

Die ander karakter is Boas, en sy grootmoedigheid teenoor die Moabitiese weduwee is verstommend. As sy by sy landerye opdaag om are af te oes, is hy volgens die wet verplig om haar weg te jaag. Hy doen dit egter nie. Hy ontvang haar met die grootste gasvryheid. En 'n mens moet nogal fyn lees om te verstaan hoe ver Boas bereid is om te gaan. Rut gaan na Boas se landerye om 'are af te oes,' net nadat sy en haar skoonmoeder in Betlehem aangekom het (Rut 2:2). Dit lyk dus asof Rut se aktiwiteite op Boas se veld op die bepalings in Levitikus 19:9-10 en Deuteronomium 24:19 betrekking het: gedurende die oestyd, moet daar ook aan die armes en behoeftiges in die samelewing gedink word, en are wat toevallig uit die bondels uitval, moet uitgelos word sodat die weduwee, die weeskind en die vreemdeling dit kan optel.

Wanneer 'n mens die Hebreeuse teks fyn lees, blyk dit egter dat 'vreemdeling' nie werklik 'n uitlander is nie, maar 'n vreemdeling onder die eie volk. Met ander woorde, die vreemdeling is ook 'n Israeliet, maar iemand wat 'n mens toevallig net nie ken nie. Rut is 'n Moabiet, sy kan eintlik nie op hierdie bepaling aanspraak maak nie. Boas laat haar egter nie net op sy landgoed toe nie, hy gaan nog 'n stappie verder. Hy sê vir sy werkers nie om net die are wat uitval uit te los nie, maar gee hulle opdrag om aspris are uit die bondels uit te trek sodat sy meer as genoeg het om huis toe te vat (Rut 2:15-16).

Die nagtoneel waar Rut as't ware vir Boas verlei, is weliswaar omstrede, maar ook hier laat die outeur blyk dat Rut nie net in eie belang optree nie, sy dra steeds haar skoonmoeder se belange op die hart, as sy Boas 'n 'losser' noem (3:9). Weereens is die vertaling ietwat misleidend want die Afrikaanse Bybel praat van 'my losser' – in die Hebreeus staan daar net 'losser,' en dit het met 'n bepaalde ou Nabye Oosterse gebruik te make, wat ook in ou Israel toegepas is. Die 'lossing' was daarop ingestel om die belange van 'n familie, ook die uitgebreide familie te beskerm. Sou iemand sy grond weens armoede moes verkoop, was dit die naaste familielid se plig om die grond te koop sodat dit in die familie kon bly. So iemand is 'n 'losser' genoem. Hierdie funksie word eers in Rut 4 duidelik as dit blyk dat Naomi grond wat aan Elimelek behoort het, wil verkoop. In hoofstuk 3:9 gebeur daar as't ware twee dinge: Rut vra dat Boas met haar trou, maar sy herinner hom terselfdertyd aan sy plig teenoor haar skoonmoeder.

Die gelukkige einde is die huwelik tussen Boas en Rut – 'n gemengde huwelik tussen 'n Judese man en 'n Moabitiese vrou. Ook dit is heeltemal teen die wet. Die outeur sluit egter sy verhaal met 'n geslagsregister af, die geslagsregister van Israel se grootste koning, koning Dawid. Op hierdie manier word 'n Moabitiese vrou by die koninklike genealogie van Dawid ingelyf.

Die kern van die verhaal gaan daarom dat die bestaande wette van die Skrif op 'n kreatiewe manier herinterpreteer word. Dat daar verby die letter van die wet gekyk word, en die wet deur die bril van liefde gelees word. Die Hebreeuse woord wat in die Rutboek gebruik word, is hesed – en dit beteken iets soos selflose liefde. Dit is wat Rut teenoor haar skoonmoeder betoon het, en dit is wat Boas teenoor Rut betoon.

Jesaja 56:1-8

Jesaja 56:1-8 is 'n profetiese orakel wat in poëtiese vorm geskryf is, en net soos die Rutboek, dateer dit uit die posteksiliese tyd. Wat merkwaardig is, is dat ook die Jesajateks met Deuteronomium 23:1-4 in gesprek tree. 'n Mens moet raaksien dat Deuteronomium 23:1-4 'n baie belangrike teks was wat bepaal het wie lid van die gemeente van die Here mag wees en wie nie: die outeurs van Esra en Nehemia neem dit as basis, sowel as die outeurs van die Rutboek en Jesaja 56:1-8. Die Jesajateks het betrekking op die eerste gedeelte van Deuteronomium 23 (v 1): mans wie se geslagsorgane om die een of ander rede nie perfek is nie. Jesaja praat ook van nie-Israeliete, nie slegs Moabiete en Ammoniete nie. Hy brei die bepaling dus uit tot alle uitlanders, almal wat nie deel van Israel is nie, maar wat graag lid van die gemeente wil word.

Jesaja sê dat almal, die ontmandes en die nie-Israeliete by die volk van die Here kan aansluit. Die Here nooi almal uit wat sy sabbatte onderhou, volgens sy verbond leef, Hom dien, sy Naam liefhet, en sy dienaar wil wees, om lid van sy gemeente te wees. Terwyl die Rutboek niks oor die tempel sê nie, nooi die Here in die Jesajateks die uitlanders en ontmandes tot in die hartjie van sy huis in, waar hulle selfs aan die kultus mag deelneem – waar hulle brandoffers en ander offers mag bring wat vir die Hom aanneemlik is. Albei tekste het egter dieselfde doel, naamlik om 'n dringende pleidooi te lewer dat diegene wat deur die wet van die gemeente van die Here uitgesluit word, ook deel van die gemeenskap mag vorm.

Hierdie Jesajateks, soos ook die Rutboek word soms as 'universalisties' beskryf, maar dit is nie heeltemal korrek nie. Dit gaan om 'n 'oop' gemeenskap, maar daar is tog sekere voorwaardes wat nagekom moet word. In Jesaja is dit meer eksplisiet, in die Rutboek meer implisiet, en dit is naamlik wat ons die 'gedragskomponent' sou kon noem. Toetrede tot die gemeenskap van die Here is weliswaar vir almal toeganklik, maar daar is belangrike voorvereistes: vir Jesaja is dit om die Here, die God van Israel lief te hê, Hom te dien en te doen wat Hom behaag; in die Rutboek was dit Rut se keuse vir die God van Israel en haar onbaatsugtige optrede teenoor haar skoonmoeder.

Nòg die outeur van die Rutboek, nòg die outeur van die Jesajateks wil van die wet van die Here ontslae raak. Albei neem die wet baie ernstig op, en dit is waarom hulle daarmee in gesprek tree. Hulle wil egter die klem op 'n ander aspek van die wet laat val, en dit is liefde vir God en dade wat daarvan getuig.

Konklusie

Hierdie kort teo artikel het aangetoon dat daar in die posteksiliese tyd baie debat gevoer is oor wie lid van die gemeente van die Here mag wees en wie nie. Dit het geblyk dat Deuteronomium 23:1-4 'n besonder gesaghebbende teks in hierdie verband was. Skrywers van boeke soos Esra en Nehemia het dit gebruik om sekere mense te verbied om by die gemeenskap aan te sluit: ander skrywers soos dié van die Rutboek en die Jesajateks het ook Deuteronomium 23:1-4 as uitgangspunt geneem, maar vir 'n ander interpretasie daarvan betoog.

Daarom kan tekste soos die Rutboek en Jesaja 56:1-8 baie waardevol in die gay debat wees. In albei tekste gaan dit om wie lid van die gemeente van die Here mag wees, en albei is in gesprek met 'n gesaghebbende teks oor die aangeleentheid – wat sekere mense duidelik by die gemeente van die Here wil uitsluit. Die Rutboek en Jesaja wil sê dat daar nou 'n ander situasie en 'n ander konteks is. Diegene wat deur die wet verbied was, is mense wat ook vir die Here lief is en Hom wil dien. 'n Mens kan dit in hul optrede raaksien. In die Rutverhaal is Boas se optrede, as 'n gerespekteerde lid van die gemeente, merkwaardig. Hy ontvang die 'uitlander' sonder enige vooroordele, want hy sien raak wat sy vir haar skoonmoeder gedoen het (2:11).

Wat gays in die kerk betref, behoort dit nie seksuele oriëntasie te wees wat bepaal of hulle deel van die gemeente van die Here mag wees of nie. 'n Lewende gemeente van die Here word gebou deur lidmate wat vir Hom lief is en deur dade waarin sy liefde na mense toe oorspoel. Hierdie basiese beginsels geld vir alle lidmate, gays, sowel as heteroseksuele gelowiges, en is veel belangriker as 'n letterlike uitvoering van enkele verse in die Bybel, waarvan die interpretasie buitendien nie heeltemal seker is nie. Liefde vir God en dade van liefde word nie net van gays verwag nie, maar van almal wat hulself as lid van die gemeente van die Here beskou.

Die Here is tog soveel groter as sy wet.

(Artikel eerste gepubliseer op teo.co.za.)

Bibliografie

Braulik, G 1996. 'Das Deuteronomium und die Bücher Ijob, Sprichwörter, Rut.' Paginae 61-138 in Zenger, E (Hg.), Die Tora als Kanon für Juden und Christen. Freiburg: Herder.
Fischer, I 2001. Rut. Freiburg im Bresgau: Herder.
LaCocque, A 2004. Ruth. Vertaal uit Frans deur KC Hanson. Minneapolis: Fortress Press.
Nihan, C 2011. "Ethnicity and Identity in Isaiah 56-66." Paginae 67-104 in Lipschits, O, Knoppers GN & Oeming, M (red). Judah and the Judeans in the Achaemenid Period. Negotiating Identity in an International Context. Winona Lake: Eisenbrauns.
Scharper, J 2011. "Torah and Identity in the Persian Period." Paginae 27-38 in Lipschits, O; Knoppers GN & Oeming, M (reds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid Period. Negotiating Identity in an International Context. Winona Lake: Eisenbrauns.

Gerda is die redakteur van die Teologiese Fakulteit van Universiteit Pretoria se Nuusbrief.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.