.

Die funksie van fiksie

Deur Dr. Flip Schutte op 1 November 2017

.

Godsdiens en religieuse sisteme, net soos ideologieë, is die gevolg van evolusie en dis 'n meganisme om ons spesie en die voortbestaan van ons spesie mee te verseker. Met ander woorde, die mens skep telkens in nuwe situasies verhale. Daardie verhale word dan meganismes waarmee ons mense beheer. En die feit dat ons nie net op instink en drang reageer nie, maar volgens die voorskrifte van ons verhale, het ons die heersers van ons planeet gemaak.

Ek sê dis deel van die evolusieproses want die mens kon nie van altyd af gedink het en planne beraam het nie, maar met die ontwikkeling van kognitiewe vaardighede gedurende die evolusieproses het die mens ook die vermoë ontwikkel om fiksie te skep. En daarmee saam het die mens ook die vaardigheid geslyp om verhale op te weeg en daarby in te koop en om dan toe te laat dat daardie verhaal jou werklikheid word. Dan funksioneer die mens binne die grense van daardie verhaal, en 'n hele groep mense koop kollektief in by so 'n verhaal, en dan leef hulle saam as 'n gemeenskap, as 'n volk, as 'n stad of dorp en so maak dit hulle kans op oorlewing en sinvolle voortbestaan en saambestaan net groter.

Op die ou einde koop ons nie net in by een verhaal nie, maar by talle verhale wat op verskillende vlakke en lae van ons bestaan funksioneer en so word ons werklikheid dan 'n netwerk van fiktiewe verhale. En kan ons eintlik met gemak sê dat werklikheid 'n fiksie is. Ja, dit speel af binne 'n fisiese werklikheid, want daar is die natuur, die wisseling van seisoene, reën en droogte, geboue en strate, stede en platteland, maar dit wat ons optrede en gedrag bepaal, is alles fiksie. 'n Geweefde tapisserie van stories.

In Kanaän van ouds het daar 'n hele klompie verskillende stamme gebly. Elkeen met sy eie grondgebied, kultuur, verhale en gode. En toe, op 'n dag arriveer daar nog 'n stam in Kanaän, wat sê dat hulle uit Egipte gevlug het omdat hulle moeg was om slawe vir die Farao te wees. En 'n klomp stamgevegte breek uit, want hulle soek nou ook 'n stukkie grond van hulle eie. In die proses sluit hulle verdrae, maak hulle toegewings, vloei die bloed en onderhandel hulle, totdat daar uit al die verskillende stamme 'n koalisie ontstaan en oor baie jare met talle binnegevegte, 'n verenigde staat waarvan al die stamme lid is, met een koning op die troon. En wat hier onder gebeur projekteer ons boontoe. Al die verskillende gode van die verskillende stamme, het ook hulle gevegte gehad, hemelse vergaderings gehou en besluit omdat daar een koning op die troon is, hoort daar ook net een God in die hemel. En siedaar: Israel word monoteïsties! Almal gooi toe hulle wette en verhale bymekaar, koop in by die verhaal en honderde jare later, toe die proses voltooi is, laat almal toe dat hulle fiktiewe god en sy verhaal hulle samelewing en lewens regeer. Dit skep orde en die volk het 'n kans op oorlewing omdat almal dieselfde verhaal glo.

Paulus het dieselfde vir die Christendom gedoen. As Jood, wat in Tarsis, die sentrum vir Mitraïsme grootgeword het, het hy die verhaal van die politieke rebel Jesus van Nasaret wat onder die Romeinse owerheid gekruisig is omdat hy 'n potensiële bedreiging ingehou het, gekombineer met verhale uit die Jodedom wat hy geken het, naamlik die Kneg van die Here wat gely het en deurboor is, en hy het dit vervleg met konsepte wat hy uit die mitologie ken, want hy was 'n Romeinse burger. En toe die verhaal vir hom sin maak, gaan hy op toer daarmee deur Klein-Asië, stig gemeentes en mense koop daarby in. Konstantyn gebruik die verhaal om 'n volk mee te verenig en om orde in sy onderskeie kolonies mee te handhaaf. Om 'n ryk tot stand te bring! Daarom kan twee Christene selfs vandag nog, wat mekaar nooit voorheen geken het nie, saam sy aan sy oor 'n Desembervakansie aan 'n sendingprojek in Zambië deelneem en saamwerk omdat hulle glo dat Jesus mens geword en aan 'n kruis vir die sonde gesterf het. Hulle deel 'n verhaal. Fiksie het fenomenale krag om mense te beheer en saam te laat werk.

Net so het Islam, Hindoeïsme en Boeddhisme elk hulle eie verhale waarby mense inkoop. Dan word daardie fiktiewe verhale 'n meganisme wat hulle beheer en wat hulle toelaat om in groot groepe saam te funksioneer. En so word ons spesie bevoordeel en beskerm en word ons mag op die planeet al meer.

Afgesien van die godsdienstige fiksie, is daar ook al die verskillende ideologieë. In 1848 klim Karl Marx en Friedrich Engels op 'n verhoog en stel hulle boek, Die Handves vir Kommunisme bekend, waarin hulle 'n stelsel bepleit van gedeelde eienaarskap en samewerkende mag. Alles moet regverdig wees. Daar moet geen onderskeid wees tussen vakmanne wat met hulle hande werk en intellektuele arbeid nie. Geen onderskeid tussen landelike en stedelike mense nie. Almal is dieselfde, almal is gelyk en almal moet dieselfde inkomste kry. Mense hou van wat hulle hoor en koop in by die verhaal en so word miljoene mense kommuniste. Lande soos Rusland en China koop destyds kollektief in by Marx en Engels se verhaal. Dis fiksie, want almal is nie gelyk nie. Dit werk ook nie as almal ewe veel verdien nie, want hoekom moet ek my afsloof en iemand anders doen die minimum, en ons verdien ewe veel? Maar mense glo fiksie en die verhaal regeer.

In 'n ander deel van die wêreld vertel ekonome weer dat die mark vry is en dat vraag en aanbod produksie, pryse en prestasie en salarisse moet bepaal en dat niks en niemand gelyk is nie. Daar is konstante kompetisie om beter te wees en alleen bo uit te kom. Mense glo die verhaal en koop in by die stelsel. En so het ons Kapitalisme!

Iewers is daar 'n verhaal wat sê dis goed vir 'n groep as daar net een leier is wat al die besluite neem, want dan weet almal wat gaan vir wat. Toe kies hulle 'n diktator of 'n koning om hulle te regeer. Die verhaal werk vir hulle. Dit skep orde en hulle is gelukkig.

Op 'n ander plek ontstaan daar 'n verhaal wat sê dat elke mens 'n stem het en kan kies wie hy of sy as leier wil hê. En dan kies ons iemand om ons te verteenwoordig en om in 'n raad saam met 'n klomp ander verteenwoordigers te sit, waar hulle konsensus moet kry oor hoe om te regeer of waar die minderheid by die meerderheid se besluit moet inval. Hulle noem dit 'n demokrasie en baie mense hou van die verhaal en koop daarby is.

En so kan 'n mens kyk na elke garingdraadjie in die tapisserie. Dis 'n vervlegting van fiksie wat ons laat funksioneer. Op 'n stadium het jy vier skape vir 'n bees verruil en ses hoenders vir 'n speenvark. Toe raak dit 'n beslommernis om alewig met 'n gedierte onder jou arm of aan 'n tou te loop as jy iets wil koop, en iemand kom op die idee om munte te maak. 'n Hele verhaal ontstaan oor wat elke munt werd is en wat kan daarvoor verruil word, en skielik glo almal aan die waarde van geld. Later word dit 'n gedrukte stukkie papier en ons almal het by die verhaal ingekoop dat daardie papier, afhangende van wat daarop gedruk is, waarde het. Ons glo die fiksie van geld en die verhaal beheer vandag ons lewe. En dit terwyl al jou geld, wat jy glo jou ryk maak en aan jou 'n bepaalde aansien verskaf, eintlik eens deel van 'n boom was – net 'n stukkie papier, maar in ons verhaal, funksioneer dit op 'n totaal ander vlak.

Ons koop in by die verhale van die organisasies waarby ons werk en ons noem dit ons organisatoriese kultuur. Ons koop in by verhale wat in ons familie leef oor wie ons kan vertrou en van wie af moet ons wegbly, hoe het ons voorsate geleef en waar kom hulle oorspronklik vandaan, dat jy met 'n Janse van Vuuren nie moet sukkel nie, en dat die Van Stadens doodgoeie mense is. So bepaal verhale ons identiteit.

En so weef fiksie vir ons 'n werklikheid. Gooi 56 duisend bobbejane van vreemde troppe wat mekaar van geen kant af ken nie op 'n Saterdagmiddag saam op Loftus en jy sien 'n grootskaalse massamoord en chaos, maar 56 duisend mense wat mekaar van geen kant af ken nie, geniet daardie 80 minute asof dit 'n stukkie hemel is, want ons het ingekoop by fiksie wat vir ons vertel hoe om ons te gedra as ons in groot groepe tussen vreemdelinge is. Ons godsdienstige fiksie sê dat ons ordelik moet wees en mekaar moet respekteer. Ons vrye mark fiksie het gemaak dat ons elkeen 'n kaartjie gekoop het vir 'n spesifieke stoel en dat ons nie oor die drade klim en binne baklei vir sitplek nie. Ons demokratiese fiksie het gemaak dat ons die verkose span respekteer en hulle toelaat om die spel te speel en dat ons nie almal op die veld storm en die bal wil gryp omdat ons weet wat om daarmee te maak nie. En so beheer fiksie ons werklikheid.

Die doel van hierdie praatjie was dan eintlik maar net om te illustreer dat niks is soos wat ons dink dit is nie. Die feit dat party mense glo hulle heilige boeke is uit die hemel goddelik geïnspireer, is hulle fiksie. Dis nie so nie, maar dis die verhaal waarby hulle ingekoop het. Die feit dat ander glo hulle God leef en hy regeer en verhoor gebede en gryp bonatuurlik in om daardie gebede te verhoor, is hulle fiksie. Hulle het by daardie verhaal ingekoop en hulle leef daarvolgens. Almal leef in fiksie. 'n Laaste goeie voorbeeld is Bell Pottinger wat in London sit en 'n term kloon om die aandag van die korrupte bedrywighede van sekere politici in Suid-Afrika te verskuif van korrupsie na rassespanning. Iemand klim op die verhoog en hou 'n toespraak oor wit monopolie kapitaal. Miljoene Suid-Afrikaners koop daarby in en dit stuur die politieke narratief in 'n totaal ander rigting. Dis fiksie, tog gaan dit 'n hele klomp mense vir nog 'n goeie paar jaar besig hou.

Een mens begin 'n storie, 'n ideologie, 'n godsdiens, hy verkoop sy idee aan een of twee ander mense, en so begin 'n beweging, 'n verhaal met volgelinge en 'n rukkie later word die verhaal geglo. Dit word mense se werklikheid. Hulle rig hulle denke en doen en late daarvolgens. Hulle laat hulle beheer deur fiksie. Fiksie word hulle werklikheid.

So hierdie praatjie is eintlik 'n aanmoediging dat elkeen van ons ons eie paradigma krities moet evalueer en kyk hoeveel van wat ek glo, is ook eintlik maar net fiksie. Min tot niks daarvan is eintlik werklikheid. En daarom moet 'n mens jouself ook nie te ernstig opneem nie. Eet, drink, leef en laat leef want als wat ons glo en dink, en waarvoor ons bereid is om op brandstapels te sterf is ook maar net 'n garingdraadjie in die vervlegde netwerk van die tapisserie van fiksie wat ons toelaat om ons te orden en ons dag tot dag bestaan te reël. Ons kan ook eintlik nie anders nie, want ons kognitiewe evolusieproses het ons tot hier gebring. Dat ons fiksie kan skep en dan daarin leef. Dit is die meganisme wat ons ook laat oorleef. Die feit dat ons dit weet en van die proses in ons bewus is, maak dit tog 'n bietjie makliker om dan ook daarin te leef!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.