Fundamentalisme

Deur Hans Pietersen op 1 Junie 2012

Die Globale Plekbepalingstelsel, oftewel GPS, is 'n stelsel van (tans) 31 satelliete en derduisende ontvangtoestelle waarmee enige persoon, voertuig of missiel sy posisie op die aarde met 'n akkuraatheid van tot 20cm kan bepaal, enige plek op die aarde of in sy atmosfeer. Om dit te kan bewerkstellig, is baie fyn wiskundige betekenings en tydbepaling nodig – 'n fout van 1 miljoenste van 'n sekonde bring 'n plekbepalingsfout van 300 meter mee.

Behalwe vir die uitstekende tegniese vermoëns van die stelsel is daar ook filosofiese afleidings om te maak. Eerstens bewys dit dat daar 'n objektiewe realiteit is; 'n werklikheid van grootte en tyd waarvolgens enige persoon, hetsy 'n wetenskaplik onkundige skaapwagter of 'n domonnosele missiel, sy objektiewe posisie in die wêreld kan bepaal. Enige persoon kan aan sy vriend 'n stel eenvoudige GPS-koördinate gee en genoemde vriend sal dan sy voordeur kan vind, ongeag elkeen se wetenskaplike geletterdheid of geloofsoortuigings (insluitend die gewilde geloof deesdae van 'n subjektiewe werklikheid wat deur elkeen geskep word. Ongeag of GPS "vir my" waar of onwaar is, dit werk.)

Hierdie sekerheid van kennis, gekoppel aan die oortuiging van rede, vorm die grondslag van tegniese stelsels soos die GPS. Dit gee ons ook sekerheid in vele ander opsigte, van gesondheidsorg tot historiese verskynsels in die oertyd. Gebeure van Lank, Lank Gelede kan versigtig uitgepluis word al was daar niemand om dit te verfilm nie, en toekomstige gebeure kan, met kleiner of groter akkuraatheid, voorspel word. Sekere dinge is seker – almal wat hierdie lees, sal sterf. Ander dinge is meer of minder waarskynlik – as 'n motor 'n soliede muur teen 100km/h tref, sal die insittendes waarskynlik sterf. Geen spesifieke vakkennis is nodig om sulke dinge te bepaal nie, alhoewel die wetenskap die formele stelsel van kennis en rede is wat as maatstaf van ons versamelde insig gebruik word. Indien ons nie sekerhede sou kon hê nie sou dit futiel wees om selfs jou adres neer te skryf in die hoop dat die posman jou voordeur sal opspoor. Die werktuie en metodes van die wetenskap is egter beskikbaar aan elkeen en gewone mense maak daarop staat in hulle daaglikse omgang: Ons kan weet wanneer iemand snert praat, al is ons nie almal wetenskaplikes nie.

Fundamentalisme het in die vroeë 1900's uit die Protestantse gemeenskap van die VSA ontstaan in reaksie op die sogenaamde Moderne teologie. Die beweging verwys na 'n onbuigbare vasklewing en verdediging van 'n stel basiese godsdienstige dogmas, te wete die akkuraatheid en letterlike vertolking van die Bybel (insluitend 'n sesdag-skepping, mense wat ouer as 900 jaar word of in visse oorleef, aardse vloede, manna uit die hemel en 'n son wat vir 'n wyle stilgestaan het), die maagdelike geboorte en verlossing van sondes deur Jesus ensy opstanding uit die dood. Daardie verdediging het, volgens sterk gelowiges, nodig geword in 'n wêreld wat regmatig al hoe meer sekulêr geword het en onwerklike geloofsaannames, soos 'n sesdag-skepping, die opstanding van Jesus en die akkuraatheid van die Bybel, in twyfel getrek het. 'n Kenmerkende eienskap van die fundamentalisme is dan ook 'n lewendige, soms histeriese, aanval op enige persoon of instansie wat die basiese geloofsaannames, die sogenaamde fundamentele, durf bevraagteken.

Geloofsaansprake wat uit heilige geskrifte afgelei word, word vir goeie redes deesdae nie meer sonder meer as histories korrek aanvaar nie. Te veel van ons versamelde kennis, insluitend insigte rakende die werklike geskiedenis van die aarde en heelal, het daardie outoriteit onder deeglik verdenking gebring. Slegs die sterk gelowige fundamentaliste ontken nog moderne bevindinge, en dan aan die hand van blindelingse geloof in die letterlike akkuraatheid en gesaghebbendheid van uitgesoekte antieke geskrifte. Anders as in die daaglikse lewe, waar die akkuraatheid van byvoorbeeld die GPS soos bo verduidelik, en die kennis wat ons reeds versamel het, die grondslag van debatvoering vorm, dring die fundamentaliste daarop aan dat hulle geloofsaansprake korrek en bo verdenking is, en verdedig hulle hul oortuigings aggressief en doelmatig teen redelike insigte wat hulle aansprake durf uitdaag. Lees die briewekolomme in enige Afrikaanse koerant om hierdie gebruik waar te neem.

Dogma verwys na bestaande oortuigings of onomstootlike leerstelling, wat nie aan beredenering onderworpe is nie, waaraan vasgekleef moet word sonder rede of bewys indien die individu as lid van 'n spesifieke gemeenskap (bv. as lid van 'n Pinksterkerk) geag wil word. Daarom kan die wetenskap of ateïsme nie dogmaties wees nie: Nie die wetenskap of ateïsme maak aanspraak op onomstootlike leerstellings wat nie aan beredenering onderworpe is nie. Die terme "fundamentalistiese wetenskaplike" en "fundamentalistiese ateïs", is teenstrydighede. Net soos "getroude oujongkêrel" kan so iets, per definisie (a priori), nie bestaan nie.

Dit is so dat wetenskaplikes alle kennis as voorwaardelik beskou, maar die wetenskap is allermins onseker oor feite en waarskynlikhede; die wyse waarop die wetenskap getrou bly aan die werklikheid is juis deur geen onwaarneembare aanspraak te maak en geen bevinding as grondig te aanvaar alvorens een en almal die geleentheid gehad het om navorsingsresultate te bevestig en selfs ongeldig probeer bewys het nie. Om dus daarop aan te dring dat die aarde sfeervormig is en om die son wentel is nie fundamentalisties nie, maar redelik, gegewe ons begrip en ervaring. Daar is sekerhede en wyses tot insig, soos deur die meer onlangse eeue vasgevang in ons korpus kennis en logiese beredenering. Daar is bewese wyses om reg (getrou aan navorsingsbevindinge) en redelik (logies steekhoudend) te wees; maniere wat die hardnekkige aandrang op die akkuraatheid van antieke geskrifte, naïef gemaak het.

Uit onkunde en wanbegrip verwar te veel mense egter enige verdediging van kennis en rede en 'n aanspraak op redelikheid as "fundamentalisties". Met 'n sterk skeut postmodernisme, wat probeer voorhou het dat die werklikheid mensgemaak is en "elkeen se realiteit vir hom/haar waar is", word enige aanspraak op vaste kennis verdaggemaak as "fundamentalisties" en enige so 'n aanspraakmaker as 'n "fundamentalis". Iemand wat aandring op goeie redes waarom slegs een god bestaansreg gegun behoort te word, word uit onkunde as 'n "fundamentalistiese ateïs" bestempel. Iemand wat daarop dui hoe akkuraat die GPS is en dat so 'n sekerheid die basis vorm van wetenskaplike kennis, word, bloot weens sy geregverdigde oortuigings, oor dieselfde kam geskeer as die (geloofs)fundamentalis.

Wanneer redelike mense dan, deur aanspraak te maak op versamelde kennis en logika, d.w.s. redelike aansprake, die meer esoteriese oortuigings van die hedendaagse aanhanger van mistisisme, "spiritualisme" of tradisionele geloof durf bevraagteken, word hy uit onkunde uitgekryt as 'n fundamentalis, asof die verdediging van die werklikheid soortgelyk is aan die verdediging van geesgeïnsemineerde maagde en opstandings uit die dood. Die verdediging van kennis en rede kan nooit gelyk gestel word aan die onoordeelkundige verdediging van mite en fantasie nie. Dit is so vergesog dat dit moeilik is om iets meer betekenisvol daaroor te skryf – die gebruik is gewoon onvanpas, onredelik, onverdedigbaar en 'n mors van die ingeligte en redelike debatvoerder se tyd. As so 'n houding geregverdig was moes die indringende debatvoering van 'n Christopher Hitchens en Daniel Dennett dieselfde inhoudelike waarde gehad het as die narsistiese verhoogmanewales van 'n aartappelpriester – 'n oefening in absurditeit.

Waarmee ons te doen het is die geslaagde verdagmaking van die wetenskap deur fundamentaliste. Gematig gelowiges wat hierdie taktiek van verdagmaking aangeleer het, speel in die hande van fundamentaliste soos Hennie Mouton, Angus Buchan en Bernhard Ficker en versterk indirek hulle pogings om gesondheidsorg in te perk, skoolleerplanne te verkrag en Middeleeuse denke te laat herleef.

Dit mag nie.

Hans Pietersen, skrywer van Die Vrese van Ons Vaders (Griffel Media).

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za