.

Filters en lense

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Oktober 2016

.

Mense wat weet van kameras en goeie foto's, neem nie net kiekies soos die res van ons nie. Hulle skep 'n komposisie. Met lense en filters wat jy kan opsit en inskuif, kan jy lig en atmosfeer skep en manipuleer. Die beeld wat jy vasvang, is nie 'n ware weergawe van die werklikheid nie. Dis 'n gekonstrueerde beeld. Filters word tussen jou oog en die werklikheid ingeskuif en met lense word daar geëksperimenteer om beelde nader en verder te skuif, helder of uit fokus te maak, effe te verdof, of meer lig te gee. En so skep jy met behulp van tegniese toerusting wat jy tussen jou oog en die werklikheid inskuif, die prentjie wat jy wil sien.

Ek dink hy was omtrent drie of vier toe sy pa na 'n droogte die plaas verloor het. Spoorweë toe, 'n jaar of wat later by een of ander fabriek gaan werk, maar die aarde was in sy bloed. So, hulle is later weer terug plaas toe, maar nie hulle eie plaas nie. Sy pa word toe voorman vir 'n ryk boer.

Vir sy ma was dit 'n bitter pil. En sy het konstant bly verwyt dat hulle nou bywoners op 'n ander se plaas is en dat sy nou haar kinders as bywoners moet grootmaak. Haar pyn en onvrede het haar hele wese vergiftig en later was niks meer goed genoeg vir haar nie. Sy pa het al stiller geword want woorde het soos sweepslae hom op sy plek en in sy hoek gehou.

Die seun moes konstant by sy ma hoor dat hy vir niks goed is nie; dat hy nes sy pa is. Dit was net wanneer hy vir 'n toets of eksamen amper volpunte gekry het, of wanneer hy 'n gediggie by 'n kunstefees kon voordra, dat sy ma iets opbouends oor hom kon sê.

Hy het eintlik 'n baie aantreklike jong man geword, maar hy was altyd bang om meisies uit te vra want hy het geglo dat hy nie goed genoeg vir hulle was nie. Wie sal nou met hom wou uitgaan? Hy het nie eerstespan gespeel nie, hy was nie op die top tien nie. Hy het ook nie geld gehad om meisies mee te bederf nie. Hy was maar net 'n bywoner se kind wat telkens te lig bevind is en menigmaal moes hoor dat hy nie goed genoeg was nie.

'n Ander kind weer, het haar b's en d's van dag een af omgeruil en altyd vergeet om haar vinger tussen twee woorde te sit as sy skryf. "Koos en Miem" en later, "Lin se vis," was vir haar suiwer Grieks en in standerd een het die juffrou vir haar gesê dat sy eendag 'n ryk man sal moet kry, want sy is net te onnosel om matriek deur te kom.

En toe, op hoërskool, begin sy eet. Van 'n 28 na 'n 32 in drie weke. En toe 'n 36. In standerd agt was sy 'n nommer 44 en 89 kg op die skaal. En toe moes sy hoor dat sy vet en onversorgd lyk. Dat niemand haar matriekafskeid toe sal vra nie.

Die seun bo in die straat se pa was 'n alkoholis. Die arme kind het dit nie gekies om so 'n pa te hê nie. Hy het dit so kom kry. Dan het hulle meubels, en as hy weer na skool by die huis kom, is daar minder. Sy ma het konstant in kasdeure en deurkosyne vasgeloop want dan is haar oog blou en dan haar arm. Die mense in die buurt het nie geweet wat sy naam is nie. Almal wat sommer na hom verwys as die dronklap se seun.

Nie een mens op moeder aarde sien die prentjie soos wat dit werklik is nie. Van dag een af, toe jou oorbetrokke volronde ouma jou wangetjies kom pluk het en gesê het dat jy na haar familie en veral na haar oorle pa lyk, dwarsdeur elke opmerking van 'n ouer, onderwyser, beoordelaar, klasmaat, eks-geliefde, skool en kerk, tot waar jy vandag hier en nou is, skuif filters en lense tussen ons en die werklikheid in. Dan draai die lens om die beeld in te zoem; dan raak dit weer uit fokus. Dan skep 'n filter atmosfeer en dan maak 'n ander filter die toneel donker en dof.

Niks gebeur net van oog tot objek nie. Alles altyd deur 'n lens en filter.

Dit voel my dat mens êrens in jou lewe tydens jou spirituele reis net moet gaan sit. Onder 'n boom op die N1. Tussen Kroonstad en Bloemfontein is daar kort-kort sulke sementtafeltjies en bankies. En dan moet mens die rugsak afhaal wat jou boggelkrom trek en begin uitpak.

Want al die seer en pyn en slae van jare pak ons in reistasse wat ons ewig met ons saamdra. En afhangende van waar ons is en met wie ons interaksie het, of in watter situasie ons ons bevind, maak ons dan die reistas oop, haal 'n gepaste, soms verbleikte ou verhaal of episode uit – en sonder om dit af te stof, gebruik ons dit as filter voor ons lens.

Ja, ons almal dra letsels met ons mee. Niemand kom skotvry van die lewe af nie. Maar die doel van spirituele groei is om die reistas uit te pak. Bewus te word van die filters wat jy voor jou lense inskuif, sodat jy dit, al is dit stadig, een vir een kan uittrek, totdat die ware beeld uiteindelik vir jou helderder word.

Want in die proses word mens vry en word mens jouself. So, stop die bus en klim af. Pak die bagasie uit en los dit wat jy nie verder saam hoef te dra nie. Vergewe en sit neer. En staan eers op en loop weer verder as jy ligter voel en anders kyk.

Sonder filter en lens.
Sonder reistas en bagasie.
Tog gefokus en op pad.
Maar ligter.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.