.

Filmmakers van die verlede

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Maart 2016

.

'n Mens se kop is die heeltyd besig. Woorde en tonele, scenarios en dialoog wat nooit het nie, maar eintlik moes plaasvind, vlieg heen en weer voor jou geestesoog verby. En in die meeste mense se lewens gebeur dit totaal en al onwillekeurig. Hulle gaan sit nie en dink nie. Hulle bevind hulleself met denke. En hierdie stem in jou kop het 'n lewe van sy eie. Hy hardloop met jou na waarheen hy ook al lus het en jy het nie veel beheer daaroor nie.

Meeste mense is aan die genade van die stem in hulle kop oorgelaat en uitgelewer. Hulle word letterlik beheer deur hulle denke! Besit en beset deur hulle denke. Maar die ding van die rondhardlopende stem in jou kop is dat dit meeste van die tyd gekondisioneer word deur jou verlede. Dit dwing jou om dinge uit jou verlede oor en oor te herleef.

Partykeer voel jy soos die tv-skeidsregter in 'n rugbywedstryd. Jy bekyk dit uit hierdie hoek en dan kry jy 'n kameraskoot uit 'n ander hoek en dan van bo en van links ... en dan kommentaar die stem oor wat eintlik moes gebeur en wat jy kon gedoen en gesê het. So neem hierdie stem in jou kop jou denke so oor dat jy vroeg in jou lewe al begin identifiseer met die stem en aanvaar dat jy en die stem een en dieselfde persoon is.

Maar dit is 'n illusie. Jy is nie die stem in jou kop nie. Jy hoef ook nie met die stem te identifiseer nie. Die denke, en die onwillekeurige denkproses is presies net dit: 'n proses wat sigself in jou kop afspeel. Dis nie jy nie.

Maar die kuns van 'n mens se groeiproses lê daarin dat jy jouself van die stem moet kan onderskei en dat jy jou nie altyd deur die stem moet laat beset nie. Dat jy jouself moet kan losmaak van hierdie onwillekeurige proses in jou kop en dat jy nie moet identifiseer met die stem nie. Want onthou, die stem is gekondisioneer deur jou verlede en jy is 'n mens wat steeds besig is om te word. Jy is op pad na wie jy wil wees daarom kan jy jou nie laat beset deur wie jy was nie! Maar waar jy jou bevind, is in die hede, die nou ... en dit is eintlik al wat jy het om mee te werk, want ook die toekoms is maar net 'n konstruksie van jou denke. Dit moet nog realiseer. Dit kan dalk nog realiseer of dit mag dalk nooit realiseer nie.

Dis soms nogal sleg om te kommunikeer met mense wat hulleself nie kan losmaak van hierdie proses in hulle kop nie, want jy kan in hulle oë sien dat hulle nie by jou is nie. Hulle is konstant saam met die stem as deel van die proses óf in die verlede besig om ou gevegte weer oor te veg, óf hulle is in die toekoms besig om skietgoed vir nuwe gevegte bymekaar te maak. Maar hier ... by en met jou, is hulle nie!

Of as hulle by jou is, is hulle teenwoordig in een of ander rol wat hulle in die situasie speel, maar hulle is nie teenwoordig as hulleself nie, want hulle is vervreem van hulle self. Vervreem, omdat hulle so met die stem en die proses identifiseer het, dat hulle nie meer hulleself is nie, maar die identiteit van die stem in hulle kop aangeneem het.

En hierdie vervreemding van jouself, maak dat jy eintlik nooit in enige situasie honderd present tuis voel nie. Nie eers met jouself nie. Jy probeer konstant tuis kom, maar jy voel nooit werklik of jy êrens tuis gekom het nie.

Franz Kafka, Albert Camus, T.S. Elliot en James Joyce verstaan almal hierdie universele dilemma van die mensdom naamlik dat jy vervreemd van jouself leef omdat jy die stem in jou kop geword het en jou eie identiteit verloor het. Hulle druk dit briljant in van hulle werke uit. Niemand bied 'n oplossing vir die dilemma aan nie. Almal maak mens net bewus van die verknorsing waarin ons ons bevind. Maar om ten minste bewus te wees van die toestand, is al 'n stap in die regte rigting.

Die slegte ding van hierdie stem in jou kop en die onwillekeurige denke wat daarmee saamgaan, is dat jou lyf nie kan onderskei tussen realiteit en denke nie. Jou hart ken nie die verskil tussen die stem se kreatiewe skeppingsproses en die werklikheid nie, daarom beleef jy ook emosies tydens hierdie proses in jou denke. Jy begin jou dalk bekommer oor moontlike scenarios wat nooit was en nooit gaan wees nie. Jy raak angstig oor plekke en mense wat jou denkproses oproep. Jy beleef gevaar, hartseer, emosies ... jy sweet en kry hardkloppings, jou spiere trek in koppe en spasmas saam en jou asemhaling versnel en dit oor 'n klomp fiksie waarmee 'n stem in jou kop op hol gaan wat ligjare van die werklikheid verwyder is.

En so kan hierdie angstigheid in jou denkproses, jou liggaam toksies maak en fisiese simptome laat beleef wat jou laat dink dat jy besig is om siek te word of dat jy iets makeer.

Maar eintlik is dit 'n klomp nonsens in jou kop. Maar omdat jy nie bewus is van die proses nie, identifiseer jy met die stem in jou kop en word jou onwillekeurige denkproses jou werklikheid en beïnvloed dit jou bestaan in die nou.

Dis ons verknorsing. En dis die dilemma waarin ons ons bevind. In plaas daarvan om jouself los te maak van die stem, en die proses in jou kop te identifiseer as 'n fiksieskeppende proses, identifiseer mense so met die proses dat hulle toelaat dat die proses hulle lewe oorneem en hulle identiteit word. En so verloor hulle tred met die nou en leef hulle eintlik 'n illusie. Die illusie van die fiktiewe karakter wat die stem in hulle kop geskep het as deel van 'n onwillekeurige proses.

Dis ons verknorsing. En dis ons dilemma. En vir ons spirituele groei, is dit belangrik dat ons van ons dilemma bewus moet wees, want dan kan ons doelbewus onsself terugtrek realiteit toe as ons agterkom dat die proses begin oorneem en die stemmetjie die oorhand kry. Ons kan die proses stuit as ons agterkom dat ons besig is om nog 'n film van die verlede te maak, of as ons emosies oor fiktiewe toekomstige tonele in ons kop beleef.

Die verknorsing sal ons altyd met ons hê. Ons kan niks daaraan doen nie. Maar deur bewus daarvan te wees, kan ons onsself darem kort-kort terugruk werklikheid toe en keer dat jy nie slaaf word van 'n proses nie. Keer dat jy nie vervreem word van jou identiteit nie. En waak teen die gevaar dat jy jou ware self kan verruil vir 'n fiktiewe wese wat deur 'n onwillekeurige denkproses en 'n simpel stemmetjie in jou kop geskep is.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.