.

Feminisme – ‘n kort oorsig

Deur Dr. Gerda de Villiers op 1 Februarie 2013

.

Soos gepubliseer van op die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria se web-nuusbrief.

Inleiding

'n Feministiese benadering tot die interpretasie van Bybeltekste is 'n onlangse ontwikkeling in Bybelwetenskaplike eksegese en nog nie eers 'n halwe eeu op die toneel nie. Die beweging is deur vroue geïnisieer en aanvanklik het slegs vroue die Skrif vanuit 'n feministiese oogpunt geïnterpreteer, maar tans is daar ook mans wat die Bybel feministies benader. Oor feminisme en Skrifinterpretasie bestaan daar egter groot onkunde, juis omdat dit so anders as die tradisionele eksegetiese metodes is. Enersyds word feministe vir hul 'andersheid' bewonder, andersyds word hulle as radikaal, driftig, militant en antagonisties teenoor mans afgewys. Hierdie teo-artikel bied 'n beknopte oorsig oor die fenomeen wat 'feminisme' genoem word en die hoofstrome daarvan: teologiese, historiese, literêr-kritiese en histories-kritiese feminisme.

Waarom feminisme?

Eintlik is dit logies dat feminisme en Skrifinterpretasie ten nouste met mekaar verwikkel sou word: vir meer as twee millennia is die Bybel gebruik – of misbruik – om die plek, die rol en die pligte van die vrou in die samelewing voor te skryf. Aan die positiewe kant is sy hoogstens as vrou van haar man en moeder van haar kinders waardeer. Verder was haar prentjie nie te rooskleurig nie. Heelwat tekste uit die Ou- en Nuwe Testament is aangehaal om te bevestig dat die vrou aan die man onderdanig behoort te wees, sy is as die 'swakker geslag' beskryf, deur haar het die Sondeval gekom en uiteindelik is sy die een wat die skuld moet kry dat die mens uit die Paradys voor die aangesig van God weggedryf is. Vir eeue lank was dit ongewoon dat meisies enige akademiese opleiding ontvang aangesien hulle primêr bestem was om te trou en kinders in die wêreld te bring.

Alhoewel feminisme eers in die 1970s volle erns met die Bybel en Bybeltekste sou maak en as 'n eksegetiese metode erken word, verskyn die eerste 'Woman's Bible' bykans 'n honderd jaar vroeër, saamgestel deur Elizabeth Cady Stanton en 'n aantal medewerkers. Nie een van hierdie vroue was teoloë nie – Stanton self was in die Regte deur haar vader opgelei, maar omdat sy 'n vrou was, nie toegelaat om te praktiseer nie. Sy en ander vroue soos sy was hoogs gefrustreerd deur die tradisionele interpretasies van vroue in die Bybel, en in hierdie 'Woman's Bible' lewer hulle skerp en kritiese kommentaar. Hul doel is nie eksegese of Skrifverstaan nie, veel eerder wou hulle kampvegters vir vroueregte in die samelewing word. Die 'Woman's Bible' is dan ook oorwegend negatief oor die wyse waarop vroue in die Bybel uitgebeeld word, en die standpunt is dat dit 'n swak model vir die hedendaagse vrou (in die negentiende eeu) verskaf. Die beywering vir vroueregte kon nie meer gestuit word nie.

Vier benaderings:
teologies, histories, literêr-krities en histories-krities

Die bogenoemde feministiese benaderings is by verre nie die enigste nie, en sluit mekaar ook nie wedersyds uit nie. Dit bied egter 'n handige oorsig oor wat onder 'n 'feministiese Skrifinterpretasie' verstaan kan word.

Teologies
In die sewentigerjare van die vorige eeu ontwikkel moderne feministiese Bybelwetenskaplike studies vanuit Amerika, en het waarskynlik ook te make met die feit dat vroue tot teologiese seminariums toegelaat is. Aan die spits van hierdie ontwikkeling staan Phyllis Trible en haar benadering is teologies van aard. Trible gaan retories-krities te werk. Sy verken spesifiek tekste wat op die konstruksie van geslagsrolle betrekking het, en poog om die eeuelange manlike interpretasies daarvan af te skil. So byvoorbeeld redeneer sy dat man en vrou in Genesis 1:27 as gelykes en albei na die beeld van God geskape is, en sy wys ook op 'n aantal voorbeelde in die Bybel wat God in vroulike terme beskryf en haar moederlike liefde uitbeeld.

Baie feministe in Trible se tyd – vroeg 1970 – het die Bybel volkome as seksisties en patriargaal verwerp. Daarom poog Trible en ander soos sy om die Bybel weer vir vroue relevant te maak deur tekste op 'n nie-seksistiese wyse te interpreteer, sodat moderne vroue daarmee kan identifiseer sonder om die Bybel of hul geloof prys te gee. Die antieke teks moet kontekstueel word. Hierdie eerste feministiese Bybelwetenskaplikes poog om 'n 'teologie' ten gunste van die vrou daar te stel, eerder as om die geskiedenis van Ou-Israel of die status van vroue in Ou-Israel te rekonstrueer. Laasgenoemde sou onder andere die voorwerp van historiese feminisme word.

Die belangrikste bydrae van hierdie eerste die feministe is die feit dat hulle aangetoon het dat 'n patriargale androsentriese interpretasie van die Bybel baie skade gedoen het aan die wyse waarop vroue in die verlede behandel is, en dat sulke interpretasies nie langer geduld kan word nie. Hul retories-kritiese benadering fokus ook op taalgebruik, en die aandrang op 'gender-inklusiewe taal' kom veral van hierdie skool feministe.

'n Punt van kritiek is egter dat hulle tekste sinkronies lees en uiteraard selektief te werk gaan. Feministiese Bybelwetenskaplike studies van die eerste helfte van die dekade fokus hoofsaaklik op Genesis 1-3. Dit is heeltemal te verstane, aangesien dit die inleidende boeke van die Bybel is en die oorsprong van die mensdom vertel – en ook misbruik is om die ondergeskikte posisie van die vrou te regverdig. Hierdie siening moes die nekslag toegedien word, sommer heel aan die begin. Maar al te dikwels word Genesis 2 en 3 saam met Genesis 1 sinkronies gelees, sonder om die breër en verskillende kontekste waarbinne die verhale ontstaan het, in berekening te bring.

Histories
Die rol en status van vroue in Ou-Israel sou onder andere die onderwerp van historiese feminisme word. Hiervan is Phyllis Bird, 'n tydgenoot van Trible, 'n voorloper. Anders as Trible stel Bird wel in die antieke konteks belang, naamlik die konteks van die vrou in die antieke samelewing. Sy bly streng by die antieke konteks en wat die teks oor die vrou sê. Maar dis veral haar opvolgers soos Carol Meyers, Susan Ackerman en andere wat hul ondersoek na die geskiedenis van vroue in Ou-Israel aanvul met sosiaal-wetenskaplike teorieë, argeologiese bewyse en vergelykende Ou Nabye Oosterse bronne.

Hierdie vroue kyk dus na die Bybelse tekste en probeer dan deur middel van ekstra-tekstuele getuienis iets oor die vrou in die antieke samelewing konstrueer. In die Bybeltekste vind hulle onder andere bewyse dat vroue in die tyd voor die monargie ook volksleiers was en aktief aan kultiese praktyke deelgeneem het; dat vroue in familie-landbougeoriënteerde samelewings 'n besondere hoë status beklee het; en dat die aanwesigheid van godinne moontlik 'n invloed kon hê op die rol en plek van die vrou in die samelewing. Met die opkoms van monoteïsme en veral na die ballingskap, sou hierdie positiewe houding teenoor vroue egter verander.

Hierdie feministe poog om aan te toon dat daar wel 'n tyd in Ou-Israel se geskiedenis was toe vroue prominente rolle in die samelewing beklee het en ook hoog geag is. Daar is egter wel 'n paar probleme met hul metodiek: die argeologiese bewyse wat hulle gebruik om hul argumente te ondersteun, is nie heeltemal betroubaar nie. Verder, ofskoon hierdie feministe wel die historiese konteks in berekening bring, gaan hulle steeds sinkronies met die teks om, in dié sin dat hulle die konteks wat die teks skets, letterlik opneem. En laastens, die sosiaal-wetenskaplike teorieë oor landelike selfonderhoudende gemeenskappe, is gegrond op primitiewe kontemporêre gemeenskappe – die situasie in Ou-Israel was nie noodwendig dieselfde nie. Dus, die teorie dat daar in Ou-Israel wel 'n tyd was toe vroue groot aansien geniet het, is aanloklik, maar daar is geen onweerlegbare bewyse daarvoor nie.

Literêr-krities
Teen 1970 is literatuurwetenskap en literêre kritiek 'n gevestigde en gerespekteerde akademiese dissipline aan universiteite. Die Bybelwetenskappe vind die literêre teorieë en metodes besonder opwindend en begin met groot ywer om daarvan gebruik te maak. In Suid-Afrika byvoorbeeld was 'n 'struktuuranalise' van 'n teks besonder gewild. Maar feminisme vind veral aanklank by narratiewe kritiek, deels waarskynlik omdat beide benaderings enige aanspraak op objektiwiteit verwerp en die subjektiewe belewing van die leser voorop stel. Dit is immers onmoontlik om die intensie van die oorspronklike outeur te bepaal, des te meer in die geval van die Bybel waar so 'n persoon heeltemal onbekend is.

Aanvanklik het tradisionele literêre elemente van 'n teks soos styl, karakters, milieu en plot 'n rol gespeel. Soms is die historiese konteks – al is dit dan die letterlike konteks van die verhaal self – in berekening gebring. Maar met die toenemende invloed van post-modernisme het dit heeltemal verdwyn. Teorieë van dekonstruksie, 'gapings' in die teks en om teen die 'grein in te lees', is ook in die ontleding van Bybeltekste gebruik. Hier speel die outeur en historiese konteks hoegenaamd geen rol nie. Meer as ooit tevore is die fokus is slegs op die teks voor hande en die leser wat betekenis daaraan toeken. Daarom het 'n teks geen vaste betekenis nie, alles lê by die een wat dit lees. Die bekendste verteenwoordigers van hierdie benadering is Athalya Brenner en J. Cheryl Exum. Ironies genoeg kom beide Brenner en Exum dikwels tot 'n baie negatiewe oordeel oor wat die Bybel oor vroue sê – presies wat Trible en van die ander vroeëre feministe probeer omkeer het. In 'n sekere sin eindig hulle waar alles begin het!

Die belangrikste bydrae wat die literêr kritiese feministe lewer, is dat hulle meer as enige van die ander die subjektiewe ervaring van die leser beklemtoon. Maar net soos die ander gaan ook hulle sinkronies met tekste om. Die belangrikste vraag wat egter aan hulle gestel moet word, is of hulle met teologie of met literatuurteorie besig is. Toegegee, die Bybel is ook letterkunde, maar baie van die strategieë wat gevolg word, is gebaseer op moderne literatuurteorieë, byvoorbeeld 'close reading', 'gapings', en die klem op die betekenis wat die leser aan die teks toeken (reader-response criticism). Inderdaad, literêr kritiese feministiese Bybelinterpretasie is nie iets wat slegs tot teoloë beperk is nie: Mieke Bal wat uitvoerig oor die boek Rigters geskryf het en wie se invloed wyd strek, is nie 'n teoloog nie, maar 'n literêre en kulturele teoretikus.

Literêr kritiese feministe toon aan dat daar nie een 'regte' interpretasie van die Bybel is nie, maar dat Bybelinterpretasie veelvoudig, meerduidig en uiteenlopend van aard kan wees, afhangende van die een wat dit lees. Dit is 'n pluspunt, maar wanneer daar geen duidelike parameters getrek word nie, gaan daar tog iets van die bedoeling van die teks self verlore.

Histories-krities
Sommige feministe reken dat feminisme en historiese kritiek geheel en al onversoenbaar is, omdat laasgenoemde as 'n androsentriese dissipline gesien word en die patriargale Bybelinterpretasie verteenwoordig – presies dit waarteen die feministe hulle verset. Feministe beskuldig ook historiese kritici daarvan dat hulle objektief en positiwisties probeer wees; die teenoorgestelde van feministiese subjektiwiteit en vloeibare teksinterpretasie.

Die drie feministiese benaderings wat hierbo bespreek is, gaan sinkronies te werk. Die groter prentjie van die ontwikkelinge binne Ou-Israel se tekstuele tradisies en teologieë – die belangstellingsveld van historiese kritiek – word nie verken nie. Ook die tradisionele wyses van teksanalise, naamlik bronnekritiek, redaksiekritiek en tekskritiek, speel selde 'n rol in feministiese Bybelinterpretasie – hoogstens sou dit gebruik word om 'n bepaalde literêre eenheid af te baken.

Dit wil dus lyk asof feminisme en historiese kritiek lynreg teenoor mekaar te staan kom wat belangstellingsveld sowel as metodiek betref. Deels mag dit te wyte wees aan die feit dat Bybelse feminisme in Amerikaanse teologiese seminariums en kolleges ontstaan het, wat 'n retories-kritiese eerder as 'n histories-kritiese benadering gevolg het. Historiese kritiek is hoofsaaklik 'n Duitse, Wes-Europese metode van Skrifeksegese.

En dis veral vanuit Europese bodem waar 'n pleidooi vir die versoening tussen feminisme en historiese kritiek kom. Die beskuldiging teen historiese kritiek dat dit objektief en positiwisties is, is lank nie meer geldig nie: daar is vandag min of meer konsensus onder historiese kritici dat die geskiedenis nie objektief gerekonstrueer kan word nie. Verder is historiese kritici ook sensitief vir die 'stemme' in die teks: wat is die situasie, wat is die onuitgesproke vrae en hoe word dit beantwoord? Met ander woorde, wat is die motivering agter die totstandkoming van die teks? Dus, feminisme en historiese kritiek is dalk nader aan mekaar as wat hulle self besef.

Gevolglik is die versoek dat feministe die metodiek van historiese kritiek omhels en dit vir hul eie doel aanwend. En 'n klein aantal feministe is wel besig om dit te doen. Sarah Shectman, die outeur op wie se hoofstuk hierdie teo-artikel gebaseer is, is een van hulle. Irmtraud Fischer is 'n ander voorbeeld. Histories-kritiese feministe erken saam met ander feministe dat die Bybel die produk van 'n patriargale samelewing is wie se norme ook in die tekste weerspieël word. Patriargie is egter nie ál wat die Bybelskrywers in gedagte gehad het nie. Daar was ander omvattende ideologieë en teologieë ook. En dit is wat verken moet word. Histories kritiese feministe probeer die groter prentjie kry van hoe en waar vroue hierby inpas.

Slot

Feministe het baanbrekerswerk gedoen deur die stemme van vroue in die Bybel en in die samelewing hoorbaar te maak. Dit het Bybelwetenskaplike navorsing dramaties verander en in 'n heel ander rigting ingestuur. Wanneer tekste egter slegs sinkronies ontleed word, word uit die oog verloor dat die Bybelse uitbeelding van vroue oor etlike honderde jare strek en nie die indrukke van een enkele outeur weerspieël nie. Die Bybel is 'n komplekse literêre produk wat met die verloop van tyd deur verskillende, selfs teenstrydige ideologieë en teologieë geïnspireer is. Die geskiedenis van die vroue in Ou-Israel is binne hierdie prent verweef.

Bron

Hierdie artikel is hoofsaaklik gebaseer op die eerste hoofstuk in die boek van Sarah Shectman: Women in the Pentateuch. A Feminist and Source-Critical Analysis. Sheffield: Sheffield Phoenix Press, 2009.

Gerda is die redakteur van die Teologiese Fakulteit van Universiteit Pretoria se Nuusbrief.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.