.

Fabels, mites en metafore...*

Deur Ds. Bertus van Niekerk op 1 Januarie 2013

.

Gebeur wonderwerke nog? vra Callie in sy Facebookgroep. Ek wou eers nie reageer nie, toe sleep iemand my daarby in. Wel, definieer wonderwerke, begin ek versigtig. Selma was vir vier maande in die hospitaal verlede jaar en ons het almal op twee spesifieke punte nie gedink sy sou dit maak nie. Medies gesproke is daar vir haar baie gedoen, maar selfs die narkotiseur het gesê die beste effek op haar verbetering was wanneer daar goeie medisyne was én wanneer ek langs haar gesit en praat het. Ek het oor ons katte en die huis en oor haar skilderye gesels. Ek het in die somber omstandighede probeer om baie te verwys na kleure, dit trek gewoonlik haar aandag.

Maar het ek gebid dat God ingryp? wil iemand weet. Nee, nie juis nie. Ek het probeer om nie iets swaar of kompleks te sê nie, die situasie was byna donker genoeg. Ek het probeer om skakels in haar brein aktief te maak ná die beroerte – ons het nog nie geweet hoe ernstig die uitval daarvan was nie. Ja, sê een weer, die Here kan wonderlike dinge doen selfs die bonatuurlike en Hy kan enigeen in sy hande gebruik as instrument om Sy werk te verrig. Toe sê ek dis nie hoe ek aan wat gebeur het, dink nie.

Ja, hou iemand vol, maar God kan selfs op onverwagse maniere jou lewe verander, teen alle waarskynlikhede in. Ek vra byvoorbeeld? Kyk nou maar hoe het God selfs Bileam se donkie gebruik om sy oë oop te maak, kom 'n antwoord. Ek val die persoon in die rede: dink jy Bileam se donkie het regtig gepraat? Want vir my is dit 'n fabel wat 'n boodskap moes kommunikeer. Terstond is sy hewig ontsteld. Jy wil God se woord verlaag tot fabels sodat niks meer bruikbaar is nie en dan kan ons net sowel ons Bybels in die asblik gooi. Jy's so hardkoppig en eiewys, voeg sy toe, dat jy sal weier om te glo selfs al praat daar tién donkies met jou!

Ek sê nou maar toe. Bring hulle. Ek sê jou wat, aangesien hierdie hele saak eintlik om my groter voordeel gaan, en jy so vriendelik is om 'n oplossing aan te bied om my geloof te toets, sal ek die koste daarvan dra. Kom jy en jou man oor tien dae vir 'n heen-en-weertjie Kaap toe, ek sal vir julle vliegtuigkaartjies koop en vir julle 'n Nissan Micra huur dat julle bietjie in die Boland kan rondrits nadat ons die donkies te woord gestaan het. Ek sal mediateenwoordigheid reël vir die dag, want dit behoort iets opspraakwekkends te wees en ek kan myself indink daar sal internasionale belangstelling in die petalje wees. Ek sê jou wat, bied ek aan, hoor by die donkies wat verkies hulle – spoor of padvervoer, want ek sal beslis nie as hulle 'n voorkeur het, daarvan droom om hulle teen hulle sin op 'n ander manier Somerset-Wes toe te bring as wat hulle graag sou wou reis nie.

Terwyl ek besig is, gaan ek aan, kan jy dink watter wonderlike uitvloeisels kan spruit uit ons ontmoeting? Dis nou Donderdagaand 6 Desember 2012 om 18:00 op my grasperk: tien donkies, julle twee van die Wes-Transvaal, die media en die onvermydelike nuuskierige bure. Ek sê kan jy dink watter geleenthede is daar om geld te maak hieruit? Ek sal persoonlik nooit weer enigiets oor geloof sê as ek 'n donkie hoor praat nie, belowe ek, want dan verstaan ek na drie dekades se toegewyde studie oor die onderwerp min of meer fokkol daarvan. Maar as party van hulle nog noot kan hou ook, kan ons 'n toerprogram saamstel en ander kleingelowiges regoor die planeet aan hulle twyfel laat stik. As dit dan nou om die groter eer van God en die wonders in Sy Naam gaan, kan ek my indink daar bly teen einde volgende jaar nie 'n enkele mens op die planeet oor wat nie kniel en aanbid nie. Plus: ons kan sakke vol geld maak, voeg ek by. Julle hoef niks te doen nie, ek sal julle met helfte van die wins wat ons maak as silent partners vergoed. Dan het ek silent partners en pratende donkies! Dis nou na kostes afgetrek is en die donkies in alle billikheid ook hulle deel gekry het.

Jy spot, sê sy gebelgd. Het jy nog nooit gehoor dat mens kan sê die donkies het "by wyse van spreke" gepraat nie? Ek kap vinnig terug: Wat? Hoe is dit anders as 'n fabel en waar lê die wonderwerk daarin? Is dit nie wat ék in die eerste plek gesê het nie? En wat het jy bedoel toe jy gesê het ek sal nie glo nie selfs al praat tién donkies met my? Het jy gedink ek sal skepties hier op my grasperk staan en jy kan net die donkies iets in stilte laat insinueer en ek moet dít as 'n boodskap, as 'n wonderwerk uit die Skepper se genade loof?

Omtrent agt maande gelede besoek ek as deel van my werk in die wynbedryf vir Hein Koegelenberg, MD van La Motte en Leopard's Leap. Hein is 'n groot man met baie selfvertroue. Hy praat met handgebare en 'n diep stem. As hy jou finaal wil oortuig nadat hy 'n baie geldige punt gemaak het van presies hóé agter die klip 'n deel van die bedryf nog dink, brul hy: Come on! En dan lag hy. En dan lag jý, hoewel jy besef jy sal later weer mooi moet gaan dink wat hy so pas uiteengesit het.

Ek sê: Come on! En nou wil julle op hierdie forum vir my sê die kérk laat lidmate in die steek omdat sý irrelevante praatjies maak en vasklou aan vergange maniere van dink? Come on!

So, glo ek nie in God nie? wil een versigtig weet. Waar't ek dít gesê? Moet ek allerlei absurde goed nou maar net sluk omdat dit 'n geloofsousie oor het? Moet ek noodwendig belaglikhede as kernwaarhede vir spirituele belewenis respekteer net sodat ek nie harteloos en kil lyk nie? Van wanneer af is dit weer gangbaar dat elke Jan Rap en sy maat kyk met watter absurdste storie hulle mekaar se goedgelowigheid kan beaam? In die kerklike tradisie vóór die reformasie was daar 'n tipe fideïsme (jussie hoe vertaal 'n ou dit?), 'n beginsel dat jy glo omdat iets onmoontlik is. Credo quia absurdum. Dit was destyds die toppunt van deugdelikheid om juis belaglike premises voorkeur te gee wanneer dit by geloofwaardigheid kom.

Ek verkwalik die huidige "dumbing down trend" in geloof en spiritualiteit vir die romantisering van "kinderlike" of "eenvoudige" geloof. Jy weet, daar's mos 'n verdagmakery van kundige opinies en ingeligde wetenskaplikes. Dit begin by: hulle is te geleerd om die eenvoudige Openbaring van God te sien en dit draai anderkant insinuasies dat enigiemand met 'n goeie greep op die ontwikkeling van Bybelse tekste self die Valse Profeet van die Laaste Dae is. Daar's 'n gebiddery vir alles: vir weerpatrone om die Karoo groen en ruig te maak, vir die resessie om verby te gaan, vir Lady Gaga om bankrot te speel en, hoor ek vanoggend, dat die Satan se net wat hy oor die boere span in die Weskaap met al die plaasopstande, sal skeur. O ja, en Prys die Here.

Is dit so dat iemand wat darem nog 'n behoefte aan redelike denke respekteer en vaagweg 'n voeling met realiteit wil behou ter wille van sinvolle oorlewing noodwendig die vermoë verloor om met verwondering na die lewe te kyk? Moet mens noodwendig bely die dokter wat 'n baba se kogliëre inplanting gedoen het, is eintlik maar net 'n gewone ou soos ek en jy en hy weet nie mooi wat hy doen nie, dit is maar die Here wat sy hande vashou in die operasiekamer? Hoekom betaal jy hom dan? Dan kan jy of jou dominee dit mos een aand op huisbesoek doen! Vra dan die Here om sommer jou sitkamer te seën en spaar op teaterkoste!

In teendeel. Ek sit weekliks op een van die mooiste plekke in ons land, op die grasperk by Delvera en gesels met denkende soekers. Almal van ons besef ons wil nie weer bely die aarde is plat om verwonderd te staan voor die sonsondergang wat gisteraand so mooi van my stoep af is dat ek 'n foto daarvan vir my pa stuur nie. Meeste van ons beleef 'n band met ons huisdiere en praat selfs met hulle of met ons plante. Almal van ons staan verwonderd voor die uitvindings van die wetenskap maar ook voor die beperkings van die menslike verstand. Ons lag en gesels oor die misterie van goeie wyn in 'n glas wat eksotiese en magiese eienskappe kry wanneer geesgenote na mekaar uitreik om begrip en deernis. Daar's selfs van ons wat liefde vir ons karre tot so 'n mate beleef dat ons hulle eiename gee en ons raak sentimenteel oor erfgoed en ou stories. Ons verkyk ons aan jong ma's met babas en aan bejaardes wat skuifelend weier om hulle horisonne te laat verklein en steeds smag na die volheid van lewe, ook na verwondering van waar ons begrip eindig.

Hier's die wonderwerk. Hierdie biosfeer omvat lewe en intelligensie soos ons dit ken, dit laat ruimte vir interpretasie en innovering. Dit daag jou uit om jouself en jou potensiaal te laat realiseer. Dit smeek om antwoorde van terminaal nuuskieriges. En terwyl jy besig is met waar jy woon en werk en speel, kom jy agter dat jou tyd en perspektief hier beperk is. En dan doen jy juis meer moeite met jou omgewing en gespreksgenote. En wanneer jy dít doen, ontvou baie dinge voor jou oë in reaksie tot jou respek daarvoor. Jy hoef niks te forseer nie. Niks hoef abnormaal te gebeur nie. Verwonder jou net aan wat uniek is.

* Soms is die struktuur in jou kop. Wie omkyk en soek na pratende donkies, se gedagtes mag dalk in soutkristalle verander.

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.