.

Evolusie en godsdiens

Deur Dr. A.J. (Abe) Basson op 1 Oktober 2013

Hoe benader 'n mens hierdie saak?

Dit lyk my hier is twee weë wat gevolg kan word: Eerstens, 'n ideologiese manier en, tweedens, 'n wetenskaplike manier (natuurwetenskaplik sowel as geesteswetenskaplik). Dit kom daarop neer dat die mens in sy soeke na die waarheid óf vir hom godsdienstige denkbeelde of geloofskemas kan skep óf die waarheid probeer vasstel aan die hand van meer konkrete gegewenhede wat hy op aarde ter hand het en kan ondersoek.

Die ideologiese manier is om deur middel van (soos sommige teoloë dit noem) 'n "eksistensiële beslissing" of "sprong in die geloof" 'n bepaalde godsdienstige denksisteem as die volstrekte waarheid te aanvaar en dan vas daarin te glo. Dit is histories die mees algemene weg wat gevolg word. In die lig van die mens se fundamentele keusevryheid is dit ook 'n verstaanbare geloofsopvatting. Om hierdie stap te neem, is uiteraard 'n gewigtige saak, meermale voortspruitende uit 'n diepgewortelde godsdienstige agtergrond. Tog is dit ook so dat as dit die mens se keuse is, hy maar sal moet geliewe neem met die werklikheid van 'n verskeidendheid godsdienstige voorstellings en nie "een waarheid" nie. Dit is waarom daar vandag so 'n veelheid godsdienste en dogma-stelsels is wat elkeen aanspraak maak op die waarheid.

Die nie-ideologiese manier is om by hierdie verskillende subjektiewe ideologiese "waarhede" verby te kom deur op 'n meer objektiewe wyse na bestaande gegewenhede in ons aardse bestaan te kyk, hierdie feitelikhede te ondersoek en so te probeer om agter die waarheid en die sin van die lewe te kom.

As die mens laasgenoemde nie-ideologiese weg volg, bied die evolusie-teorie van die natuurwetenskappe 'n oplossing. Fossiel-oorblyfsels van natuurwesens ontbloot naamlik 'n spesie wat oor miljoene jare evolusionêr ontwikkel het tot die wese wat ons vandag ken as die mens en wat in hierdie proses 'n insiggewende storie te vertel het.

Die mens se oorsprong is te vind by 'n soogdier-familie wat bekend staan as die hominidae en nie by aapsoorte soos soms verkeerdelik interpreteer word nie. Die hominide (lid van die hominidae) is 'n unieke spesie met 'n unieke ontwikkelingslyn. Hy onderskei hom o.a. van sogenaamde "mensape" deur die besondere gebruik van sy hande, sy opgerigte gang, sy betreklike haarloosheid en veral die ontwikkeling van sy brein en daarmee ook sy besondere geestelike en kulturele vermoëns. Alle lewende wesens het "breine" in die vorm van uiters eenvoudige meganismes sonder enige, of hoogstens uiters skrale, kognitiewe vermoëns maar die hominide-brein het daarenteen ontwikkel tot 'n komplekse "psigiese lewensentrum" met wonderbaarlike moontlikhede.

Dit is, in kort, die antwoord op die vraag "Waar kom die mens vandaan?" wanneer wetenskaplik-objektief te werk gegaan word. Dit strook natuurlik nie met subjektief-lewensbeskoulike teologiese en filosofiese gesigspunte en godsdienstige skemas van die mens self nie en is vandag vir baie godsdienste 'n netelige kwessie – ook, soos ons weet, veral vir kreasionisties-ingestelde Christen-gelowiges, d.w.s. Christene wat die Bybel letterlik opneem en vas oortuig is dat God vir Adam en Eva sowat 6000 tot 10,000 jaar gelede in 'n periode van 6 dae as die eerste mense op aarde geskape het.

Om verder aan te sluit by die evolusie-gedagtes wat reeds geopper is: Die uitstaande kenmerk van die hominide is sy ontwikkelende brein. As dit nie vir sy breinkapasiteit was nie, sou hy maar 'n gewone kreatuur gebly het. Danksy sy breinontwikkeling kon hy uitsonderlike psigiese dimensies betree, sy denkvermoë tot al groter hoogtes inspan, lewensbetekenis ervaar, voortdurend nuwe moontlikhede ontdek, nuwe vorm aan sy lewe begin gee, 'n stelsel van waardes begin ontwikkel, 'n genormeerde lewe begin lei, kultuurskeppend begin optree – en bo alles begin wonder: wie is ek, wat is die sin van my lewe? Van al die natuurwesens is dit slegs die hominidae wat uiteindelik 'n godbewustheid beleef het. Ja, die primitiewe mens was nie maar net 'n unieke diersoort nie, hy was ook 'n geloofswese.

'n Mens sou met reg kon sê dat die mens se geloofs- en godsdienslewe begin het toe die vroegste hominide verwonderd (en miskien ook geskok) opgekyk het na die sterrehemel en "iets bowemensliks" beleef het.

Namate sy breinontwikkeling momentum gekry het, het die oermens 'n ontsag ontwikkel vir 'n Mag hoër as hy, al was dit aanvanklik beperk tot 'n ontsag vir (en selfs aanbidding van) hemelliggame, mitologiese figure wat hy self geskep het, "heilige" diere, allerlei afbeeldinge (denkbeeldige gode) en so meer.

Hierdie breinontwikkeling en godbewustheid moes gewis uiters langsaam oor miljoene jare plaasgevind het, want as dit 'n eensklapse gebeure was, sou dit darem vir die ontwikkelende mens 'n te oorweldigende skok gewees het om skielik te ervaar dat daar onsienlike magte is wat op sy lewe inwerk! 'n Mens sou hierdie langdurige ontwikkelingsproses met die opvoeding van 'n kind kon vergelyk: Die klein kindjie word nie eensklaps in die ingewikkelde grootmenswêreld gedompel nie, maar moet 'n lang "leerskool" deurloop voordat hy sy plek behoorlik in die samelewing kan inneem.

Namate die mens se taal- en skryfvermoë ontwikkel het, het beskrywings op kleitablette, papirus en perkament hul verskyning gemaak. Weldra het hy ook allerlei godsdienstige teorieë ontwikkel, dit verfyn en in teologiese denkskemas vasgelê. Sy teologiese denksisteme en die beoefening daarvan in 'n groot verskeidenheid godsdiensgroeperinge, gewoonlik gerugsteun deur "heilige geskrifte", is vandag steeds een van sy uitnemendste kenmerke.

'n Uitstaande kenmerk van alle godsdienste is hul aanspraak op onbetwyfelbare morele waardes.

Daar is al teenoor my geopper: Hoe dink ek, waar kom Christelike waardes soos liefde, eerlikheid, toewyding, arbeidsaamheid, respekbetoning, dissipline en so meer vandaan? "Christus het hierdie waardes vir ons gebring," is aan my gesê. My eie opvatting is heel anders. Eerstens is waardes soos hierdie nie uitsluitlik Christelike waardes nie, want dit kom ook by vele ander godsdienste voor. Tweedens is dit ook glad nie in die eerste plek godsdienstige waardes nie, maar bloot universeel-menslike waardes wat in 'n mindere of meerdere mate in 'n verskeidenheid godsdienste neerslag gevind het.

Nee, Christus het nie vir die eerste keer hierdie lewenswaardes vir ons gebring nie. Hierdie waardes het ontstaan lank voordat die godsdienste wat ons ken tot stand gekom het. Dit is 'n uitvloeisel van die hominidae se primitiewe godsbewustheid (soos reeds hierbo vermeld). Ons moet onthou dat menslike ontwikkeling oor miljoene jare geskied het en dat die oermense in 'n baie langsame proses op 'n natuurlike wyse geleer het hoe om ten beste met mekaar saam te leef. So het waardes langsaam gedurende 'n moeisame natuurlike leerskool hul geleidelike beslag gekry. Hierdie evolusionêre leerskool duur tot vandag toe voort – ons weet mos goed hoe mense steeds sukkel om geestelike waardes te handhaaf.

Ek vind dit verbasend dat godsdienste so baie van God "weet" en so baie oor God te sê het!

Oor God weet ons bykans niks – behalwe dat Hy die Bron en Oorsprong is van alles wat bestaan. Dit klink vir my selfs voorbarig om Hom in menslike terme te probeer verklaar en allerlei menslike beelde van Hom te probeer skep. Nee, 'n mens kan maar net aan Hom dink, oor Hom wonder en, as jy so 'n behoefte het, tot Hom bid. God bly 'n misterie wat vir ons altyd onpeilbaar sal bly.

Ek sou saamgaan met die gedagte dat al die mooi en goeie dinge wat ons op aarde ervaar, spesiaal ook die pragtige geestelike lewenswaardes wat deur die mens nagestreef word, heenwys na die wese van God – "stukkies goddelikheid" wat in die mens en in die natuur voorkom. Die een of ander denker het dit so uitgedruk: "'n Skepper is altyd teenwoordig in sy skepping." Dink maar aan iets soos 'n skildery wat jy geskep het, 'n lekker maaltyd wat jy voorberei het of 'n brief wat jy geskryf het. Dit is jy daardie, jy is deel daarvan. So sê die paar gedagtes wat ek hier neerskryf iets van my. Ek het nie 'n beswaar daarteen as die goeie, die skone en die ware van die lewe as 'n vingerafdruk van God as die Bron daarvan gesien word nie.

Universele morele waardes (waarvan 'n mens 'n lang lys kan opstel) word op 'n pragtige wyse in verskillende hedendaagse godsdienste en godsdienstige geskrifte uitgebeeld. So bevat die Bybel ondanks die vele immoraliteite wat daarin voorkom, van ons mooiste waardes en is Jesus 'n verpersoonliking van die hierdie waardes wat vir die mens as lewensriglyne kan dien. Dis waarom ek my 'n Christen noem en sy volgeling probeer wees (met afwysing van die goddelike dogma-kleed wat hom omgehang word). Christus is nie God se seun en ook nie self God nie. Hy is 'n uitnemende verkondiger van iets van die wese van God soos wat hy dit in sy tyd geglo het, en wegwyser na God, veral deur die lewenswaardes wat hy verpersoonlik.

Dit lyk of die spirituele toekoms van die mens in die erkenning, omarming en uitlewing van universele morele waardes lê. Miskien is die kerk van die toekoms beskore om 'n instituut te word wat hom losgewikkel het uit sy dogmatiese kombers en hom bloot as 'n liefdadigheidsorganisasie toespits op die bevordering van morele waardes wat geldig is vir die ganse mensdom.

Om ten slotte weer die verband tussen evolusie en godsdiens uit te lig:

Myns insiens sal 'n mens die begrip "evolusie" so moet vertolk dat dit vir sowel die hominide se fisies-biologiese evolusie as sy spirituele evolusie voorsiening maak – solank hierdie twee fasette van evolusie as 'n geïntegreerde eenheid gesien word en nie, soos sommige antieke Griekse denkers gedoen het, as 'n soort dualisme nie. Simplisties gestel: Die menslike gees (spiritualiteit) is nie inwonend in sy liggaam nie, maar liggaam en gees is 'n onafskeidbare eenheid. Die hominide se fisies-biologiese evolusionêre ontwikkeling het oor miljoene jare hand aan hand gegaan met die ontwikkeling van sy brein, wat, so lyk dit my, die setel en instrument is van sy spirituele (insluitend sy psigiese, kognitiewe, emosionele en morele) lewe. So gesien, is moraliteit iets universeels wat geleidelik in die "leerskool van die lewe" (sommer my uitdrukking) tot stand gekom het en nie die produk van godsdienste as mens-ontwerpte denkskemas nie.

Maak dit sin?

Dit wil my voorkom of fisies-biologiese evolusie so ver dit die mens betref reeds in 'n gevorderde stadium is, terwyl spirituele evolusie nog 'n ontwikkelingsproses is wat 'n baie lang pad het om te loop. Die huidige gesukkel van godsdienste om van hul dogmatiese bagasie ontslae te raak en die gevolglike stryd tussen fundamentaliste en vrydenkendes is 'n simptoom van hierdie langsame en uitgerekte spirituele vrywording van die mens. Dit is 'n evolusie wat al van primitiewe tye af aan die gang is. So gesien, is vandag se vrydenkendes in ons post-moderne tyd is eintlik ongewaardeerde voorlopers op die pad na die spirituele volwassenheid van die mensdom.

Dr. Basson is 'n afgetrede opvoedkundige wat aan die universiteite van Kaapstad en Stellenbosch verbonde was. Sy e-pos adres is

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.