.

Die Evangelie van Thomas, Gnostisisme en ons

Deur Johan van der Merwe op 1 Desember 2012

Dag Hammadi

Ek het vanjaar – op reis –
Deur Duisend Donker Nagte van die Siel
Jóú spoor geneem:
Jy wat hulle noem
"Die Ongelowige Een"
En Eeue na jou dood
Lees ek die woorde van jóú brief
Vir Kerk en Konstantyn 'n blote
Apokrief
Maar hiérdie brief, in klei versteek
In daardie ou antieke Biblioteek
Vertel 'n storie wat ek glo
En jóú Jesus, Thomas, hy sê so:
In die vou van elke blaar en blom
In elke ligstraal van die Son
In elke glimlag, blik en traan
Net dáár is waar Hy staan
En saam met Thomas
kap ek nou 'n stukkie hout
– soos sý Meester sê –
keer ek 'n klippie om
– wat voor sý voete lê –
En hierdie boek van jou
Het iets van God in my ontvou:
Sy heerskappy is hiér en nóú
Daarom, dankie, Thomas, vir jou boek –
Ek het lank na God
Nee, Hiérdie God gesoek
Ek wou nie glo nie, ek wou wéét
Die Waarheid was toe weggesteek
Die waarheid, wat ek getrou gevolg het waar dit my lei
In Nag Hammadi
Het ek die
Dag
Gekry
– Ilse Lombard, 29 Oktober 2012

Ilse Lombard het die gedig hierbo op haar Facebook profielbladsy gepubliseer. Ek vind dit werklik aangrypend. Dit verwoord 'n lewensveranderende ervaring van die skrywer. Veral die tweede deel van die gedig sluit baie nou aan by gedeeltes uit die Evangelie van Thomas. Lg. is waarskynlik 'n vroeë Gnostiese geskrif of, andersins, 'n geskrif met vroeë trekke van die Gnostisisme. Die Gnostisisme was 'n filosofies-religieuse sisteem met Mesopotamiese en Joodse wortels. In veral die 2de en 3de eeu nC het dit ook baie aanhangers uit die Christendom getrek. Kenmerkend van die Gnostisisme is dat kennis eerder as geloof gesien is as die sleutel tot insig in die finale geheimenisse van die lewe. Die naam "Gnostisisme" is dan ook afgelei van die Griekse woord "gnosis", wat "kennis" beteken. Die kennis wat hier bedoel is, is veral saligmakende kennis aangaande God en die mens. Maar: sulke kennis is net vir die ingewydes toeganklik, nie vir mense buite die kring van die Gnostici nie. Iets hiervan hoor 'n mens in die Evangelie van Thomas in logion (gesegde) 62:

"Jesus het gesê: 'Ek vertel my geheime aan hulle wat my geheime waardig is. Moenie dat jou linkerhand weet wat jou regterhand doen nie'."

Terwyl dit enersyds so is dat die Nuwe Testamentiese Evangelies ook melding maak van verborgenhede wat Jesus aan sy dissipels bekend maak (veral i.v.m. die betekenis van sy gelykenisse) en nie aan almal nie, het die aard van daardie verborgenheid eerder te doen met 'n stompsinnige onvermoë aan die kant van sy hoorders en nie met 'n onwilligheid by Jesus om kennis te deel nie. En ná sy opstanding, nl. wanneer Hy sy dissipels die wêreld instuur met sy boodskap van redding, word dit juis beklemtoon dat die Evangelie 'n oop geheim is wat met almal gedeel moet word.

Die aanhalings in hierdie Nota uit die Thomas-evangelie kom uit Piet Muller se vertaling wat in 2002 by Protea Boekhuis verskyn het. 'n Vroeëre vertaling plus kantaantekeninge is deur Môrester Drukkery in 1960 uitgegee as Die Evangelie volgens Thomas – Thomas vs. Marx. Dr. Muller is tans besig met die skryf van 'n kommentaar op die Evangelie van Thomas.

Reeds die opskrif van die Evangelie van Thomas en die daaropvolgende eerste twee logia bevat ook die tipiese Gnostiese beklemtoning van verborge kennis:

"Hier volg die verborge woorde wat die lewende Jesus gespreek het en wat deur Judas Thomas die Tweeling, opgeteken is.

  1. "Hy het gesê: 'Wie die betekenis van hierdie woorde ontdek, sal die dood nie smaak nie.'
  2. "Jesus het gesê: 'Laat hy wat soek nie ophou soek totdat hy gevind het nie. En as hy vind, sal hy verontrus word en as hy verontrus is, sal hy hom verwonder en hy sal oor die Alles heers en rus vind'."

Terwyl Jesus in die Nuwe Testamentiese Evangelies die Redder is wat mense deur sy versoenende werk op aarde in die regte verhouding met God bring, is Hy in die Evangelie van Thomas veel eerder 'n wysheidsleraar wat vir mense die weg aandui waardeur hulle hulself red, nl. deur die bekom van verborge esoteriese kennis wat hulle tot die lig en tot rus bring.

Meestal word deur kundiges aanvaar dat die Evangelie van Thomas nie ouer as einde 1ste eeu / begin 2de eeu nC is nie. Baie kenners plaas dit egter later. Die Nuwe Testament bied steeds die heel oudste historiese dokumente m.b.t. die lewe van Jesus van Nasaret. In teenstelling met die Evangelie van Thomas is daar besonder baie betroubare historiese aanduidings dat Paulus se briewe en minstens die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas in die eerste eeu geskryf is. Martin Hengel, een van die beste kenners van die vroeë Christendom, kom met verwysing na die Nuwe Testamentiese Evangelies tot die slotsom: "No ancient text is as well attested as the Gospels."

Dikwels word genoem dat die kerk van die eerste eeue die Evangelie van Thomas asook ander gnostiese en apokriewe geskrifte onderdruk het. Ons weet dat die vroeë kerk moeite gedoen het om kopieë van die Nuwe Testamentiese Evangelies, Paulus se briewe en die res van die Nuwe Testament te maak vir gebruik in die gemeentes. Daardie geskrifte het immers, volgens die geloofsoortuiging van die Christene, 'n lewegewende boodskap bevat. Dieselfde moeite is nie gedoen m.b.t. ander geskrifte wat ons vandag ken as o.a. apokriewe en gnostiese geskrifte nie. En as 'n geskrif destyds nie (herhaaldelik) per hand gekopieer is nie, kon dit maklik in vergetelheid verdwyn. Daarby het die Gnostici verkies om hul oortuigings nie op skrif te stel nie omdat hulle dit as hoogs vertroulik beskou het. In die 4de eeu nC het keiser Konstantyn 'n veldtog geloods om geskrifte van die Gnostici asook van ander sektariese rigtings te vernietig omdat hy net die hoofstroom van die Christendom wou erken. Hy wou die Christelike godsdiens binne sy ryk as't ware standaardiseer. Kerkleiers soos Athanasius het dit as 'n gulde geleentheid gesien om ontslae te raak van sektariese bewegings en het aktief meegedoen aan pogings om die invloed van die Gnostisisme in die kerk te breek. Tog het die Gnostisisme bly voortbestaan veral as 'n alternatiewe soort Christendom, al was dit nie meer met dieselfde invloed as tevore nie. Heelwat later, naamlik in die twaalfde eeu, het 'n herlewing van die Gnostisisme op verskillende plekke in Europa ontstaan. Die Rooms-Katolieke Kerk veral in Frankryk het gewelddadig en met baie bloedvergieting teen die Gnostici opgetree en die beweging vir alle praktiese doeleindes 'n nekslag toegedien. In 1945 het 'n Egiptiese kleinboer egter afgekom op 'n baie ou erdekruik met 'n aantal antieke manuskripte daarin. Dit sou blyk 'n uiters belangrike vonds te wees: die mees volledige ontdekking tot op datum van Gnostiese manuskripte, waaronder ook 'n Koptiese vertaling van die Evangelie van Thomas.

Daar is – strydig met die aansprake van hedendaagse Gnostici – geen enkele rede tot dusver gevind waarom die Evangelie van Thomas as die oudste en oorspronklike evangelie en selfs as ouer as die briewe van Paulus beskou moet word nie. Die meeste kenners van die Nuwe Testamentiese tydperk en van die vroeg-Christelike kerk beskou die Evangelie van Thomas as 'n latere geskrif wat bepaalde uitsprake van Jesus uit die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas verwerk en binne nuwe kontekste plaas.

In die Nuwe Testament is daar hier en daar tekens dat die skrywers kennis van die Gnostisisme gedra het. Dit geld in die besonder van die eerste twee briewe van Johannes waarin hy skerp waarsku teen die leringe van diegene wat ontken "dat Jesus die Christus is wat mens geword het" (1 Joh. 4:2; 2 Joh. vers 7). Daar het Johannes dit oor die leer van die Dosetisme, wat destyds 'n bepaalde vertakking van die Gnostisisme was.

In Suid-Afrika is daar soos elders 'n lewendige belangstelling in die Gnostisisme. In Kaapstad en Pretoria is daar bv. die Afrikaanse Gnostiese Renaissance gemeentes (oftewel Spirituele Gemeenskappe) in Pretoria en die Kaap. As spirituele begeleiers tree op: dr. Abel Pienaar, dr. Flip Schutte, dr. Piet Muller en ds. Bertus van Niekerk.

Dit is duidelik dat veral die gevestigde / tradisionele Afrikaanse kerke – veral die NG Kerk – in Suid-Afrika geskud is en steeds geskud word deur gebeurtenisse soos die afskeid van die teologiese regverdiging van Apartheid, kerkskeuring, die oorgang na 'n nuwe politieke bestel, die uitbeweeg van lidmate na ander kerke, die koms van die Nuwe Hervorming en (min of meer saam met lg.) die opkoms van die Gnostisisme onder veral wit Afrikaanses. Dat hierdie faktore nuwe uitdagings aan die kerk bied, is sekerlik so. Dat die kerk soms hierdie nuwe uitdagings op 'n redelik onbeholpe manier probeer hanteer het, is ook so. Lg. hang daarmee saam dat die hoofstroom Afrikaanse kerke in die verlede so verstrengel was met die Afrikaner-kultuur en dat teologiese opleiding voornemende predikante waarskynlik nie goed genoeg toegerus het om te midde van kulturele aardskuddings die Evangelie van Jesus Christus opnuut en met 'n ontvanklike gemoed dapper saam met hul gemeentes te deurdink en vars te beleef nie.

Die Gnostisisme stel vrae aan die orde wat te lank in die Suid-Afrikaanse teologie min aandag gekry het. Dit behoort vir dié van ons wat Jesus van Nasaret nie net as Wysheidsleraar beskou nie, maar in Hom glo as die unieke Seun van God en ons Verlosser, moontlik te wees om eerlik op die ongemaklike – maar legitieme – vrae wat die moderne Gnostisisme aan ons stel in te gaan en vir onsself te verantwoord waarom ons glo soos wat ons glo. Om onnadenkend by die Nuwe Testamentiese Evangelie te bly bloot omdat jy daarmee grootgeword het, is beslis nie aan te beveel nie. En as ons gereed moet wees om 'n antwoord te gee aan elkeen wat 'n verduideliking van ons eis oor die hoop wat in ons lewe (1 Pet. 3:15), hoe sal ons dan anders kan as om bereid te wees tot gesprek met ons vriende wat gister, eergister nog deel van ons was, maar nou 'n tuiste in 'n alternatiewe evangelie gevind het?

Nota:  Mohammed Ali Samman, 'n Egiptiese kleinboer, was in 1945 op soek na sabakh ('n natuurlike misstof) toe hy afkom op 'n erdekruik met 'n aantal kodekse (baie ou gebonde manuskripte op papirus of perkament) daarin. Dit was 'n versameling antieke Gnostiese geskrifte, o.a. die Evangelie van Thomas.

Johan van der Merwe kan gekontak word by

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.