.

Die evangelie van moderne tekste

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Augustus 2017

.

Party mense gaan al dood op 23. Hulle word net eers op 76 begrawe. Hulle leef een jaar 50 keer oor. Doen dieselfde dinge, eet dieselfde kos, stap dieselfde paadjies, vertel dieselfde stories. Ken dieselfde mense, sien dieselfde plekke. Oor en oor.

Dalk is hulle gevangenes in die steengroewe van oorlewing. Dalk is hulle slagoffers van 'n sisteem. Dalk is hulle ingekooptes in 'n ideologie. Dalk is hulle profete van 'n paradigma. Dalk probeer hulle om met 'n vaste roetine en streng dissipline hulle voorstedelike lewe in fatsoenlike armoede te kamoefleer. Mense het hulle redes vir hoekom hulle van 65 af na Skoppensboer met afwagting loer en die druppel gal in die soetste wyn intens ervaar.

Maar dan is daar ook Ans Botha wat op 75 nog elke dag die Olimpiese atleet Wayde van Niekerk om die baan jaag en hom afrig om hoë hoogtes te bereik. Of Toy Ungerer wat onlangs op 71 'n wêreldrekord in die 400 meter veterane dames opgestel het. Sy het op 59 eers met atletiek begin. Nooit voorheen gehardloop nie. My swaer hardloop elke liewe jaar die Comrades. Hy trek omtrent al by 20. Hy vertel dat hy so twee jaar gelede met iemand langs die pad begin gesels het wat 69 was en daardie jaar sy eerste Comrades gehardloop het. Daar is ook Amy Craton wat Januarie vanjaar 'n Meestersgraad in Kreatiewe Skryf verwerf het, pas nadat sy 94 geword het.

Mens leef net een keer, maar as jy dit reg doen, is een keer genoeg!

Karin Louise Greeff vertel dat haar ma dood is toe sy 9 jaar oud was. Sy kon dit glad nie hanteer nie want haar ma was haar primêre versorger. En as tiener het sy 'n dwelmslaaf geword want sy wou haarself vernietig. Sy het nie kans gesien om sonder haar ma aan te gaan nie. Niemand het gedink dat sy 20 sou haal nie, want teen 20 het sy reeds vier keer 'n oordosis dwelms geneem. En toe hier rondom 20 verloor sy meeste van haar vriende, óf aan selfdood óf aan oordosisse. Sy gaan toe vir rehabilitasie en vandag 19 jaar later is sy steeds skoon van enige dwelms. Om die waarheid te sê: sy rook nie eers nie.

Hierdie trauma, naamlik om so op die afgrond van die dood te staan, het vir haar 'n intense waardering vir die lewe gegee. En sy het dit reggekry om daardie negatiewe ervaring van haar ma se dood, in positiewe energie vir haar lewe te omskep. Want sy sê: vandag is dit die ding wat haar dryf. Dit is wat haar laat deurdruk. Dit is wat haar dankbaar maak vir elke dag wat sy het. En haar persoonlike belewenis is een van: Hoe ouer sy word, hoe jonger voel sy. En toe haar seun 'n jaar of wat gelede 9 geword het, so oud soos sy was toe haar ma dood is, toe skryf sy vir hom 'n brief, in die vorm van 'n lied, om vir hom die dinge te sê, wat haar ma nooit op 9 vir haar kon sê nie.

Sy wou vir haar seun sê: Mens het net een lewe. Misluk, wen. Vat 'n kans! Sy wou vir hom sê: Bly bewus van jouself. Net nie te veel nie, ook nie te min nie. Sy wou vir hom sê: Raak opgewonde oor die klein dingetjies; Jy moet reis, want mense beperk hulleself. Reis maak jou wys. Dis die universiteit van die lewe. Sy wou sê: Leef met eerlikheid en integriteit; Daar's krag in vergifnis; Daar's inspirasie in alles rondom jou. Klim uit jou gemaksone. Gee met jou hele hart.

Sy wou vir hom sê: Die lewe is soms erg. Daar is vrae. Ons het soms verskriklike pyn, maar ons praat nie. Maar ons het net een lewe. Leef dit. Misluk, wen, hê lief, vat 'n kans. En sy verwoord hierdie brief toe soos volg in haar lied:

Hulle sê ons moet glo
Net soos die kinders
So is hierdie lewe dan net vir beginners?

Seuntjies word manne
En gaan sit dan in 'n kroeg
En lyk moeg

My seun, jy moet luister as ek vir jou sê
Jy gaan eendag moet veg
Met als wat jy het

Soms gaan jy voel
Wat is die doel
Genoeg is genoeg

Ek wil hê jy moet saam sing
As musiek begin speel
En dans in die somer se reën
En soek vir die reënboog
Langs die pad, my skat

Hardloop in die see in met jou jeans aan
Kyk uit vir 'n meermin
En deel in gesprekke oor al die mooi plekke
Langs die kus
Bly bewus van jouself

Net nie te veel nie
Ook nie te min nie
Maar net nie te veel nie

Ek wil hê jy moet saam sing
As musiek begin speel
En dans in die somer se reën
En soek vir die reënboog
Langs die pad, my skat

En as jy ooit voel
Die lewe is net een groot gesuffer
Reik jou hande uit en help 'n ander
Met minder as jy

Gaan maak iemand bly
Want dan sal jy
Altyd kan saam sing
As die musiek begin speel
En dans in die somer se reën

En soek vir die reënboog
Langs die pad, my skat

Hardloop die see in met jou jeans aan
Kyk uit vir 'n meermin
En as jy haar vind
Is ek bly my kind
Want ek weet
Twee dromers is beter as een

Ek wil hê jy moet saam sing
Ek wil hê jy moet saam sing
Ek wil hê jy moet saam sing
My kind

Met hierdie lied sê Karin Zoid:
Mens leef net een keer, maar as jy dit reg doen, is een keer genoeg! Gaan groot tot die gordyn op die verhoog sak en die orkes se klanke uitdoof en die applous van die skare verdof en die ouditorium leeg loop. Moet nie ophou voor die wenpaal nie. Die fluitjie sal blaas wanneer die wedstryd verby is.

Maar terwyl jy nog leef, moet jy saam sing as die musiek begin speel!

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.