Evangelie sonder kruis of graf

Deur Dr. Piet Muller op 1 Januarie 2010

In 1945 het twee Egiptiese kleinboere in die berg naby Nag Hammmdi afgekom op 'n kruik vol vroeg-christelike geskrifte. Dit is blykbaar in die vierde eeu daar versteek deur die monikke van die nabygeleë St. Pachomius-klooster, nadat biskop Athanasius beveel het dat alle "ketterse" boeke verbrand moet word.

Vandag is hierdie kodekse besig om ons hele begrip van die vroeë Christendom radikaal te verander. Dit is absoluut merkwaardig hoe hierdie werke vandag resoneer met die gees van die 21ste eeu.

Maar die juweel onder hierdie geskrifte is ongetwyfeld die volledige teks van die "verlore" Evangelie van Thomas. 'n Joodse evangelie waarvan die vroegste laag waarskynlik reeds in die jaar 40 onder die gemeente in Jerusalem gesirkuleer het. Daar is duidelike tekens dat heelwat van die spreuke daarin ouer is as ooreenstemmendes wat in die Quelle-versameling voortkom, waarop die sinoptiese evangelies gebaseer is.

In hierdie evangelie word nie een keer verwys na 'n maagdelike geboorte, 'n soendood of 'n liggaamlike opstanding uit die graf nie. Dit gee 'n mens 'n aanduiding van hoe sommmige van die heel eerste Christene geglo het, voor Konstantyn en die opkoms van die ortodoksie. Vir Jesus-volgelinge van die 21ste eeu bied dit 'n ou, maar tegelyk vir ons tyd, ook 'n "nuwe" manier van verstaan wat Jesus geleer het.

Hierin leer ons Jesus ken as 'n Joodse wysheidsleeraar en ons oudste broer in die geloof; maar ook veel meer as dit, as 'n Groot Terapeut wat die soekende op die spirituele pad geleidelik lei tot dieper insig en geestelike groei begelei.

Reeds die aanhef klink enigmaties:
Dit is die geheime woorde wat die lewende Jesus gespreek het en deur Didimus Judas Thomas opgeteken is.
En hy sê: "Elkeen wat die dieper betekenis van hierdie woorde begryp, sal die dood nie smaak nie."

Die naam van die samesteller van hierdie evangelie is eweneens raaiselagtig. Sowel Didimus as Thomas beteken gewoon "tweeling" en nie een van hierdie woorde was in daardie tyd 'n eienaam nie. Die redakteur van hierdie versameling is dus gewoon "die tweeling Judas die tweeling."

Hieruit lei Elaine Pagels af dat dit belangrike kodewoorde is en dat die bedoeling daarvan is om ons daaraan te herinner dat hierdie evangelie 'n leerplan vir spirituele ontwikkeling is, wat die beoefenaar daarvan uiteindelik die geestelike tweeling van Jesus kan maak. Om haar vermoede te staaf, haal sy ook aan uit die Boek van Thomas die Atleet, wat ook in dieselfde kruik gevind is (hoeweel dit veel later van oorsprong is). Hierin se Jesus aan Thomas:
"Aangesien daar gesê word dat jy my tweeling en ware metgesel is, is dit onvanpas dat jy onwetend oor jouself is."

"Ken jouself" is dan ook 'n deurlopende tema in hierdie evangelie, want godskennis is onmoontlik sonder selfkennis. Trouens, 'n mens kan so ver gaan om te sê dat dit nutteloos is om vrae te stel soos "Is Jesus maagdelik gebore?"; "Het hy liggaamlik uit die graf opgestaan?"; en "Bestaan God werklik?" as jy nie eers die belangrikste vraag van almal gestel het nie: "Wie is ek?"

Iemand wat hierdie vraag nie stel nie, is soos die eier wat 'n boer in die hande gekry en dit onder 'n broeis werfhen geplaas het om uit te broei.
So is die arendkuiken saam met die hoenderkuikens uitgebroei en het van kleinsaf geleer om soos hulle te skarrel en te skrop en wurms te soek. Soms het hy, net soos die ander hoenders, sy vlerke 'n paar keer geklap en 'n paar treë ver gevlieg.
Met skarrel en skrop het die jare verby gegaan. Eendag het hy toevallig opgekyk en die mees manjifieke gesig gesien: 'n voël wat byna sonder om sy vlerke te klap, majestieus die lugstrome ry.
"Dis 'n arend", het een van die hoenders gesê. "Hy is koning van die voëls. Hy is van die lug en ons is van die aarde."
Toe het hulle maar weer verder geskrop. So is die arendkuiken uiteindelik dood sonder om ooit te besef dat hy in werklikheid die prins van die lugruim is...

Dekonstruksie is gevolglik niks meer as 'n intellektuele speletjie as jy nie eers jou "self" gedekonstrueer het nie; want om sinvolle antwoorde op jou vrae te kry moet jy self sinvol kan verstaan wie die "ek" en die "self" is wat hierdie vrae vra.

Uit die aanhef tot hierdie evangelie is dit ook duidelik dat die "lewende Jesus" gevind moet word in sy werke en in sy woorde. Dit laat 'n mens dink aan Albert Schweitzer wat in 1905, tydens 'n preek in Strassburg gesê het: "Die ander dag het ek my byna bloedig vererg toe iemand vir my sê dat 'n mens net die lewende Jesus kan vind as jy sy grafkleed en die leë graf gevind het. Die lewende Jesus word gevind in sy woorde en in sy dade".

In die vroegste eeue was dit 'n algemene opvatting dat die gemiddelde mens eintlik geestelik "dood" is en eers weer moet ontwaak tot 'n besef van sy ware wese. Paulus haal klaarblyklik aan uit 'n gesang wat reeds in sy tyd gesing is as hy skryf: "Ontwaak jy wat slaap en staan op uit die dood en Christus sal oor jou skyn."

Om jou ware self te ontdek, moet 'n mens eers opstaan uit die dood. Daarvoor is 'n opstanding, 'n anastasis, nodig; 'n radikale ontwaking tot die lewe.

Wie die "lewende Jesus" is word deur die loop van hierdie evangelie duidelik gemaak. Hy is iemand wie se woorde nie net tot 'n spirituele hernuwing in elke mens kan lei nie, maar wat ook 'n 'koninkryk' verkondig wat 'n mens nie eers eendag in 'n hiernamaals sal bereik nie, maar wat reeds al in die hier en nou bereikbaar is.
Jesus sê: "As hulle wat vir julle preek sê 'Die Koninkryk is in die hemel', dan sal die voëls van die hemel voor julle daar wees. As hulle sê: 'Dit is onder die aarde', dan sal die visse van die see voor julle daar wees."
En hy sê: "Die Koninkryk is in julle en rondom julle."
(Logion 3.)
En elders in hierdie evangelie:
"Die koninkryk lê uitgesprei oor die aarde maar julle sien dit nie."

Hier het ons 'n vroeë Judees-christelike tradisie wat hom duidelik uitspreek teen die materialistiese siening van hemel en hel. Die hemel is nie 'n 'plek' waar 'n mens harp speel of in kore sing nie. Die hemel is in die manier waarop ons na die lewe en ons medemens kyk; dit is iets wat die geestelike reis in 'n mens se siel self uitgrif. 'n Mens kan in 'n oogwink in die hemel – of in die hel – wees. As 'n mens met liefde en deernis met iemand omgaan is jy in die hemel en as jy vir iemand kwaad is, is jy reeds in die hel.

Maar die pad na die Koninkryk kan aanvanklik ook verrassend en skokkend wees:
Jesus sê: "Laat hy wat soek nie ophou soek totdat hy gevind het nie,
en as hy gevind het sal hy geskok word
en as hy geskok is sal hy hom verwonder
en hy sal as koning oor die Al heers en rus vind."

Hierdie spreuk getuig ook van 'n diep sielkundige insig in die proses van geestelike rypwording. Elaine Pagels beskryf dit as 'n geestelike pad wat tegelyk onthutsend en eensaam kan wees. Boonop vereis hierdie pad nie dat 'n mens aan 'n spesifieke geloofbelydenis moet glo nie, maar dat 'n mens die hele pad self moet stap en belewe, voordat jy tot geestelike rypheid kan kom.

In hierdie evangelie maak Jesus ook nie "Ek is"-uitsprake nie, maar baie "Julle is"-uitsprake:
"As julle julself ken sal julle geken word en julle sal besef dat julle die kinders van die lewende vader is. Maar as julle julself nie ken nie leef julle in (geestelike) armoede en julle self is die armoede." (Logion 3.)
Hiermee verklaar Jesus elke mens tot wettige kind van wat hy sy 'Vader' noem. Dit is die 'blye boodskap' wat hy verkondig.

Die bekende gnostiese kerkleier uit die tweede eeuse Alexandrië, Valentinus – wat op sy dag selfs een van twee kandidate was om die amp van Biskop van Rome, d.w.s. pous – stel dit so in sy pragtige meditasie, Die Evangelie van Waarheid (ek parafraseer):
"Toe Jesus aan die hout vasgespyker is het hy die Boom van die Lewe geword. Almal wat van die vrugte van hierdie boom eet sal besef dat hulle – net soos Jesus – ten diepste onskuldig is."

Hier is dus geen sprake van erfsonde nie, want Augustinus en Anselmus sou eers eeue later gebore word!

Voordat 'n mens egter tot hierdie insigte kan kom, is daar 'n radikale stap wat 'n mens moet neem – en dit geld te meer nog vir die gelowige van die 21ste eeu: jy moet ontslae raak van jou aangeleerde dogma's en vormgodsdiens en tot eie insigte en 'n persoonlike verhouding met die Ultieme Dimensie kom:
Jesus sê: "Die bejaarde sal nie skroom om 'n kind van sewe dae oud te vra waar die plek van die lewe is nie, en hy sal lewe..." (Logion 4.)

Op die sewende dag is 'n Joodse seuntjie nog nie besny nie en is hy ook nog nie belas met alles wat daarmee saamhang nie. Maar sodra hy besny is erf hy die godsdiens en kultuur van die groep waaruit hy gebore is; deel hy in hulle verwagtinge en hulle teleurstellings; kyk hy as lid van die "uitverkore volk' na die goyim.

Met dit alles saam erf hy ook klaargemaakte antwoorde op selfs die moeilikste vrae. Hy word 'n gelowige wat 'weet' wat reg en verkeerd is en haarfyn kan uitlê wat die waarheid is. Anthony de Mello, die bekende Jesuiet en spirituele begeleier, het eenmaal grimmig opgemerk: "Een gelowige wat 'weet' kan meer skade aanrig as tweehonderd booswigte saam."

Wanneer 'n mens die Thomas-evangelie se weg tot heiligmaking betree is daar niks nuuts wat jy moet aanleer nie, maar heelwat wat jy moet verleer. Dan baat jou kategese-lesse jou weinig en jou aangeleerde vroomheid jou absoluut niks. Jy bevind jou op 'n pad sonder gidse wat jou teen stampe en stote kan beskerm. Dit is 'n pad wat jy heeltemaal alleen moet stap, en waarop jy dikwels moet erken: "Ek weet nie"!

'n Mens kan jou fris ego nog saamneem kerk toe, selfs kansel toe en ouderlingsbanke toe, maar op die pad van heiligmaking word jy deurentyd daarmee gekonfronteer:
Jesus sê: "Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. En vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word." (Logion 7.)

Hierdie spreuk bied nie net 'n sleutel tot die verstaan van die Thomas-evangelie nie, maar gee ook 'n aanduiding dat die Thomas-spreuke soos Zen-koans om en om gerol moet word, totdat die onbewuste uiteindelik helderheid daaroor gee. Net so min as wat 'n mens verligting sal bereik deur 'n versameling koans te lees, net so min sal jy op die pad vorder wat Thomas uitstippel, as jy nie 'n 'oefenaar' word en elke spreuk self deurleef nie. Daar is immers 'n groot verskil tussen redeneer oor konsepte en 'n werklike ervaring van die inhoud van 'n konsep.

'n Mens kan bv. nie jou broer koester soos die appel van jou oog deur net hierdie mooi woorde te lees nie; dit is iets wat jy moet inoefen, totdat dit deel van jou lewe word. Maar om 'n suksesvolle "oefenaar" te word moet 'n mens eers die ego-persoonlikheid sien vir wat dit werklik is – die Valse Self, soos Thomas Merton dit noem. Dit is wat logion 7 bedoel: As 'n mens nie die "leeu" van jou eie ego-persoonlikheid kan "eet", d.w.s. integreer in jou Self nie, dan gaan die leeu jou eet ... en ons almal ken mense wat volkome deur hul ego's oorgeneem is.

Mense wat deur die leeu van die ego verorber is, het altyd die wysheid in pag; hulle word kwaad as 'n mens van hul standpunte verskil; hulle weet presies hoe die regte pad hemel toe loop en is altyd bereid om 'n "duiwel" uit iemand anders te dryf, maar sien dikwels nie die balk in eie oog raak nie.

Die Valse Self of ego-self ontstaan deur die kumulatiewe ervaringe wat 'n mens sedert jou voorgeboortelike dae ondergaan. 'n Baba leer nie net dat as sy huil daar kos en 'n droë doek gaan volg nie, maar ook hoe om in 'n gegewe situasie op te tree, sodat sy aanvaarbaar kan wees vir die gesin waarin sy gebore is.

Elke stukkie terugvoer wat 'n kind van sy maats, sy ouers, sy kerk en sy skool kry slyp die ego-persoonlikheid, totdat 'n mens 'n persona opgebou het wat so natuurlik lyk dat jy dink dit is werklik wie jy is – ongelukkig is dit meesal iemand anders wat deur jou lewe.

Soos Anthony de Mello in sy boek Awareness stel: "Who's living in you? It's pretty horrifying when you come to know that. You think you are free, but there is probably not a gesture, a thought, an emotion, an attitude, a belief in you that isn't from someone else. Isn't that horrible? And you don't know it. Talk about a mechanical life that was stamped on you. You feel pretty strong about certain things and you think it is you who are feeling strongly about them, but are you really? It's going to take a lot of awareness for you to understand that perhaps this thing you call your 'self' is simply a conglomeration of your past experiences, of your conditioning and programming."

In Jungiaanse terme is die ego-self maar 'n dun lagie bewussyn wat op 'n see van onbewuste inhoude dryf. Van die grootste deel van jouself, jou ware dryfvere wat jou laat optree soos wat jy optree, is 'n mens dikwels heeltemaal onbewus. So lank as wat jy jou ego-persoonlikheid as die werklike "ek" beskou, sal jy ook nie daarvan bewus word nie.

Daarom waarsku Jesus in logion 4 dat ons by die kind van sewe dae moet gaan lig opsteek en moet afstand doen van ons kulturele waardes en aangeleerde oortuigings, voordat ons op die spirituele pad kan reis. Ons kan immers nie met ander se oë en ander se voete die spirituele pad aflê nie.

Ongelukkig lewe ons in 'n tydvak waarin mense veronderstel is om hul uiterlike lewe suksesvol te "bestuur" en te orden, maar ons innerlike lewe is meesal in chaos, want hoe besiger die uiterlike ego-lewe word, hoe minder tyd is daar om die innerlike lewe te verken en te orden.

Die sielkundige, Carl Jung, vertel van 'n dominee wat meer as veertien uur per dag aan sy gemeentewerk bestee het, totdat hy later aan uitbranding gelei het. Hy het Jung besoek, omdat hy bevrees was dat hy dalk aan 'n geestessiekte ly. Jung het hom gerus gestel dat hy niks ernstig makeer nie en voorgestel dat hy voortaan homself elke middag in sy studeerkamer toesluit.

Die eerste dag was dit vir hom salig. Hy kon elke musiekwerk speel waarvoor hy in maande nog nooit kans gehad het nie en hy kon lees vir die genot daarvan. Die tweede dag was ook nog goed, maar vanaf die derde dag het die gebrek aan werklike aktiwiteit hom begin vang.

Teen die einde van die week was hy weer by Jung, om te kla dat niks verbeter het nie. Toe Jung hom uitvra oor sy middag-roetine, het hy vertel van die musiek en die boeke. Waarop Jung geantwoord het: "Maar ek het nie gesê u moet klavier speel en lees nie, ek het gesê u moet tyd alleen in die studeerkamer deurbring."
"U bedoel met my eie gedagtes?"
"Dis presies wat ek bedoel", het Jung geantwoord.
"Maar dis die slegste geselskap denkbaar!"
"Ja dominee, maar dit is ook die geselskap wat u veertien uur per dag aan u gemeente opdring."

Dit is egter nodig om te onthou dat die ego nie die "duiwel" is nie, maar eerder 'n belangrike bondgenoot behoort te wees, wat ons veral in die eerste helfte van ons lewe in staat stel om ons in die lewe te vestig en die verantwoordelikhede daarvan te aanvaar. Daar kon egter 'n tyd wanneer die ego moet besef dat hy ondergeskik moet wees aan die Ware Self, maar dit doen hy nooit gewillig nie!

'n Mens wen ook geen direkte konfrontasie met die ego nie, want elke oorwinning oor die ego is inderwaarheid 'n oorwinning vir die ego self. 'n Mens onderwerp die ego net aan die Self as jy besef dat die ego-persoonlikheid nie jou ware identiteit is nie, maar 'n illusie van 'n persoonlikheid wat jy self geskep het.

Boonop weet ek van net een manier om hierdie illusie geleidelik te verbrokkel en dit is deur die apofatiese gebed, die stil gebed van meditasie. Want in elke sitting vir meditasie "sterf" die ego 'n bietjie omdat hy nie toegelaat word om die meditasie te oorheers nie.

Moet ook nie dink dat meditasie weinig meer is as 'n ontspanningsoefening nie. Die eerste paar maande mag 'n mens wel ongekende vrede en rustigheid ervaar, maar daarna sal jou meditasies meer en meer donker materiaal uit die onbewuste aan die lig bring. 'n Mens raak dikwels met jouself en jou onvolmaaktheid gekonfronteer op 'n wyse wat jy nie gedink het moontlik is nie. As 'n mens eers die sluier van die ego-persoonlikheid begin wegtrek, ontdek jy hoeveel skadumateriaal daar in jou binneste is.

Die Bybel self is vol voorbeelde van mense met groot skadu's wat hulle eers moes transformeer om hul ware roeping te kon vervul. Moses was 'n opvlieënde moordenaar en Jakob self is van sy geboorte af "hakskeengryper" genoem, omdat hy 'n donker geneigdheid gehad het om almal te wil indoen.

Maar as 'n mens eerlik die spirituele pad bewandel, steek jy op die een of ander dag ook die Jabbokrivier oor en staan jou skadukant soos 'n engel jou en inwag. Eers as jy eerlik daarmee geworstel het, kom jy agter dat die engel bereid is om aan jou 'n seën te gee; dat jou skadukant die roumateriaal is waaruit jy 'n geestelike lewe moet boetseer.

Die spirituele pad is ook nie 'n reguit lyn of 'n leer wat 'n mens moet klim nie, dit is eerder 'n spiraal. 'n Mens beweeg male sonder tal by dieselfde soort situasies verby, hopelik elke keer 'n bietjie wyser en beter in staat om dit te hanteer.

Wie op die spirituele reis wil gaan moet ook bereid wees om 'n persoonlike kenosis, 'n ontlediging, te ondergaan. Want as ons nie eers leeg geword het van ons ego nie, kan ons nie gevul word deur die Self nie. Hoe suksesvol ons hiermee is, sal 'n mens seker eers aan die einde van jou reis uitvind. Soos die vrou in logion 97, van wie Jesus se:
"Die koninkryk van die Vader is soos 'n vrou wat 'n kruik vol meel dra. Op pad, toe sy nog ver van die huis af was, het een van die handvatsels afgebreek en die meel het begin uitstroom. Sy het dit nie opgemerk nie, maar toe sy by die huis kom en die kruik neersit, het sy agtergekom dat dit leeg is."

Wie ore het om te hoor moet luister! Hierdie logion vertel 'n diep waarheid: Ons ontlediging kan nie begin voordat ons, soos die vrou se kruik, die een of ander wond opgedoen het nie. Geestelike groei vind nie in tye van voorspoed en vreugde plaas nie, maar in tye van beproewing. Boonop is die ontlediging so langsaam dat ons self dit dikwels nie eens opmerk nie.

Spiritualiteit is lewenshuiswerk. Eers as ons die einde van die pad bereik het, sal ons kan terugkyk en sien hoe ver ons gevorder het.

Dr. Piet Muller

1 Januarie 2010

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za