.

Ervaar of weet?

Deur Dr. Flip Schutte op 1 Mei 2018

.

Is die sin van jou lewe iets wat jy weet of iets wat jy glo, of iets wat jy ervaar? As jy dit weet of glo, op grond waarvan weet of glo jy dit; en as jy dit ervaar: waar ervaar jy dit?

Die tweede vraag waaroor ek wil hê ons moet dink, wat op die oog af niks met die eerste vraag te doen het nie, is: As tegnologie en kunsmatige intelligensie aanhou groei soos wat dit groei, en al meer mense word uit diens gestel omdat 'n rekenaar of robot hulle werk kan doen, waarmee gaan al hierdie werklose mense hulleself besig hou? En wat gaan sin aan hulle lewens gee?

Baie beroepe soos wat ons dit vandag ken, is vinnig aan die uitsterf. En soos wat ou beroepe uitsterf, kom daar weer 'n hele klomp nuwes tot stand. Die probleem is egter nie om nuwe beroepe te skep nie, die probleem is om beroepe te skep wat die mens beter kan doen as wat die algoritmes dit kan doen. Een van die beroepe wat in aanvraag is en wat baie moontlikhede bied, is die beroep van virtuele wêreldontwerpers. Cloud, Dropbox en Google Drive is op die oomblik reeds sulke virtuele wêrelde. Dit is kantoorspasie of stoorplek in die kuberruimte waar mense mekaar ontmoet en lêers en inligting deel en saam aan projekte werk. Dit het reeds tot gevolg dat mense wat selfs op verskillende kontinente bly daagliks met mekaar dieselfde raadsaal of kantoor of liaseerkabinet deel.

Virtuele wêreldontwerpers skep ook nuwe realiteite waar mense met mekaar speel. Mense kan deesdae ook op verskillende plekke op aarde sit en teen mekaar kompeteer met aanlyn speletjies. Hulle beveg mekaar en skiet en jaag mekaar in 'n ruimte wat net in die kuber bestaan met wapens en voertuie wat nog op aarde ontdek en ontwikkel moet word, en dit alles is die produk van 'n ander skepper. Die virtuele wêreldontwerper.

Toekomskundiges reken dat daar oor so 20 tot 30 jaar van nou af 'n totale nuwe klas burgers in die wêreld gaan ontstaan, naamlik die nuttelose klas. Hulle gaan almal werkloos wees en hulle besit geen vaardighede sodat iemand hulle in diens sal wil neem nie. Totaal nutteloos. Maar tog gaan hierdie selfde tegnologie wat besig is om hierdie geslag te skep, hulle ook voed, versorg en besig hou. Want daar sal een of ander toelaag vir hulle uit belastinggeld wees, en om hulle van die straat af te hou en te sorg dat hulle nie totaal en al gek word nie, gaan rekenaarspeletjies hulle besig hou en sin aan hulle lewe gee.

Die nuttelose klas gaan meer en meer tyd in die virtuele wêreld deurbring en dit gaan hulle redding wees. Dit gaan vir hulle meer opwinding en emosionele betrokkenheid meebring as die werklike wêreld daar buite. Dit klink dalk na wetenskapfiksie as ek die storie nou vertel, maar dis 'n baie ou oplossing vir die probleem. Vir duisende jare reeds vind miljoene mense die sin vir hulle lewe deur die speel van realiteitspeletjies in 'n virtuele wêreld. In die verlede het ons dit net nie rekenaarspeletjies genoem nie, maar godsdiens. Wat is godsdiens eintlik anders as 'n virtuele speletjie wat duisende mense gelyktydig speel? Godsdienste soos Islam en die Christendom het ook denkbeeldige reëls en ruimtes geskep. Dit bestaan net in die koppe van diegene wat aan die speletjie deelneem.

Jy mag nie vark eet nie, jy moet op sekere tye van die dag sekere gebede opsê en op sekere dae van die week sekere geboue besoek. Jy mag nie seksuele omgang met iemand van die dieselfde geslag as jy hê nie. Dis alles denkbeeldige wette, want daar is geen natuurwet wat vereis dat jy sekere formules oor en oor moet prewel, dat jy nie seksuele omgang met dieselfde geslag mag hê nie, of dat jy nie mag vark eet nie.

Moslems en Christene maak in die speletjie punte bymekaar as hulle op die regte dae die geboue besoek en daagliks hulle gebede opsê. As jy dit nie doen nie, verloor jy punte, en die ou wat aan die einde van sy lewe genoeg punte bymekaar gemaak het, kan na die "next level" van die "game" gaan.

Die geskiedenis het ons geleer dat hierdie singewende speletjie ingeboks moet wees om effektief te wees. Godsdiens het dit in die mens se verbeelding deur fiktiewe verhale en in heilige boeke ingeboks en in die 21ste eeu word dit in slimfone ingeboks.

U sal onthou so tyd gelede het mense in die strate rondgehardloop met hulle slimfone en Pokemons gejag. Net die wat slimfone het en Pokemon gespeel het, kon die Pokemons gesien het. En baie mense het dieselfde Pokemon gejaag en hulle wou mekaar te lyf gaan om eerste daarby uit te kom. Vir iemand wat dit nie gespeel het nie, het dit belaglik gelyk dat mense in die strate rondhardloop en goed met hulle fone soek.

Objektief beskou is Jerusalem net 'n klomp wit sandsteengeboue. Glad nie een van die wêreld se mooiste stede nie, niks heiligs daaraan nie, nie een engel daarin nie. Maar as jy Pokemons jag en jy kyk op die skerm van of die Bybel of die Qur'an, dan jaag Jode en Palestyne mekaar rond in hierdie speletjie want vir albei is dit 'n heilige stad en een van die trofees van die speletjie wat jy moet kry om "next level" toe te kan gaan.

Die vind van sin in die lewe deur die speel van virtuele speletjies is nie net eie aan godsdiens en rekenaarspeletjies nie. Ideologieë en lewens- en wêreldbeskouings doen dieselfde. Die tipiese verbruikersmentaliteit van ons tyd is ook 'n virtuele speletjie met reëls wat net denkbeeldig bestaan in die koppe van die wat saamspeel. Watse kar ry jy? Watse "brand" klere dra jy? Waar het jy dit gekoop, in New York of in Milaan? Waar gaan jy met jou volgende oorsese vakansie heen? Seker met 'n jag in een van die Franse kanale rondvaar? Hoe duurder jou kar, hoe eksklusiewer jou "brand", hoe eksotieser jou vakansie, hoe meer punte maak jy in die speletjie bymekaar, en as jy reken jou totaal is die hoogste, skreeu jy bingo!

En nou is ek weer terug by die vraag oor lewensin. Waar vind mens dit?

Die werklike aksie vind net plaas in 'n mens se brein. Dit maak op die ou einde nie saak of die neurons of senuselle in jou brein gestimuleer word deur piksels op jou rekenaarskerm, die uitsig deur 'n hotelkamervenster op die Carribiese see, of deur 'n beeld van die hemel in jou geestesoog nie? Dieselfde hormoon wat jou tevrede laat voel en laat voel asof als die moeite werd is en jy sin gevind het, word deur al drie situasies geprikkel en afgeskei. In al drie gevalle word die betekenis wat ons aan die situasie toedig, gegenereer deur jou eie gedagtes en neurons in jou brein.

Sin lê nie in iets buite onsself nie. Die lewe op sigself het eintlik geen sin en betekenis nie. Die sin van die lewe is altyd 'n fiktiewe verhaal, geskep deur een of ander virtuele wêreldontwerper. En jy koop daarby in. Dit gee vir jou sin, omdat jy deel van die speletjie is. Iemand wat nie daardie speletjie speel nie, soek sy sin weer in 'n ander fiksie wat die narratief van 'n ander speletjie is. En so weet of glo of ervaar elkeen van ons iets as gevolg van die werking van die neurons in ons brein en ons interpreteer die sensasie as sin vir die lewe.

Lees hier meer oor Dr. Flip Schutte.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.