.

Eriugena

Deur Dr. Wynand de Beer op 1 Mei 2019

.

Een van die grootste Westerse denkers van alle tye is die Ier wat as Eriugena bekendstaan. Hy was beide 'n Neoplatoniese filosoof en 'n Christendenker met 'n diep mistieke inslag. Sy lewe bly egter 'n enigma: ons weet nie presies wanneer en waar hy gebore is nie, en hy verdwyn uit die geskiedenis ná 'n openbare aktiwiteit van nouliks vyf-en-twintig jaar. Boonop sou hy ná sy kerklike veroordeling vir ongeveer seshonderd jaar in die vergetelheid verval.

Lewe en werke

Navorsing dui daarop dat Eriugena vroeg in die negende eeu (rondom 815) in Ierland gebore is. Dit was kort nadat Wiking-strooptogte op die eiland 'n aanvang geneem het, 'n verskrikking wat groot dele van Europa oor die volgende twee eeue sou tref. Belangrike monastiese sentrums in Ierland is deur die Wikingers geplunder of verwoes, sodat 'n uittog van Ierse geleerdes na die Europese vasteland plaasgevind het. Hierdie uitgewekenes het hul boeke en manuskripte saamgeneem, waardeur hulle tot die Karolingiese Renaissance bygedra het.

Eriugena het merendeels na homself as Johannes (of John in Engels) verwys, terwyl die manuskrip van sy Dionysius-vertaling as Eriugena ('van Ierse geboorte') geteken is. In die vroeë Middeleeue het Ierland in Latyn bekendgestaan as Scotia Maior en die inwoners daarvan as Scotti, sodat daar ook na hom verwys is as 'John the Scot' of 'John Scotus'. Hy het waarskynlik onderrig ontvang aan een van die Ierse kloosterskole, 'n opsie wat vir die hele bevolking beskikbaar was. Eriugena se gekultiveerde agtergrond sou hom in staat stel om die beste vertaler uit Grieks van sy tyd te word.

Sedert die tyd van Keiser Karel die Grote was daar 'n beduidende getal Ierse geleerdes aan die Frankiese hof. Dit sou steeds die geval wees met sy kleinseun, Koning Karel II, wat 'n paleisskool met 'n kontingent Ierse geleerdes in Laon gehad het. Dit is hierheen dat Eriugena omstreeks 845 genooi is. Hy sou die grootste deel van die res van sy lewe in Frankryk as hoof (magister) van die paleisskool deurbring. Sy aansien blyk uit verwysings na sy geleerdheid deur beide ondersteuners en vyande. Biskop Florus verwys na hom as geleerd en belese (scholasticus et eruditus), terwyl die Vatikaanse bibliotekaris Anastasius hom daaraan verwonder het dat 'n barbaar (vir barbarus) vanuit 'n verre land Grieks kon bemeester.

In ongeveer 851 betree Eriugena die geskiedenis met die skryf van De divina praedestinatione ('Oor goddelike voorbeskikking'). Die werk is onderneem in opdrag van Aartsbiskop Hincmar van Rheims en Biskop Pardulus van Laon, ten einde die leer omtrent dubbele voorbestemming van die Saksiese monnik Gottschalk te weerlê. In sy verhandeling voer Eriugena aan dat daar 'n enkele voorbeskikking is en nie 'n dubbele een nie: daar is 'n goddelike voorbeskikking tot genade en geluksaligheid, maar nie tot sonde en straf nie. Hy beroep hom op die eenheid, transendensie en goedheid van God. Eriugena redeneer voorts dat die menslike natuur rasioneel geskape is, en rasionaliteit vereis vryheid. Daarby sou 'n dubbele voorbeskikking menslike wilsvryheid tot niet maak en God verantwoordelik maak vir boosheid. Met hierdie werk het Eriugena behoorlik 'n teologiese byenes oopgekrap. Sy gebruik van dialektiese redenering in teologiese argumente is veroordeel, en die verhandeling is tydens plaaslike konsilies in 855 en 859 verdoem.

Ten spyte van sy kerklike veroordeling het Eriugena voortgegaan om die beskerming en guns van Koning Karel te geniet. Omstreeks 860 is hy deur Karel versoek om die volledige werke van Dionysius die Areopagiet in Latyn te vertaal. Dit sluit die Mistieke Teologie in, wat 'n enorme invloed in beide die Griekse Ooste en die Latynse Weste sou uitoefen. Vertalings van verdere Grieks-Christelike tekste is vervolgens deur Eriugena onderneem. Daaronder tel Maximus die Belyer se Ambigua ad Ioannem ('Besware aan Johannes') en Quaestiones ad Thallasium ('Vrae aan Thalassius'), en Gregorius van Nyssa se De hominis opificio ('Oor die Skepping van die Mens'). Sodoende het Eriugena 'n filosofiese woordeskat in die Weste ingedra wat die apofatiese teologie van Dionysius, die kosmologie van Gregorius en die geestelike benaderings van Maximus bekendgestel het.

Die werk wat vir Eriugena sy grootste roem en ook sy meeste teenkanting sou meebring, die Periphyseon (Grieks, 'Omtrent die natuur'), het ook gedurende die 860's uit sy pen gevloei. Dit word in die vorm van 'n dialoog tussen 'n meester en sy leerling aangebied, waardeur 'n menslike dimensie aan 'n besonder ingewikkelde werk verleen word. In die Periphyseon word Grieks-Christelike en Latyns-Christelike geestelikheid op 'n stelselmatige wyse byeengebring, met 'n stewige dosis oorspronklike denke daaraan toegevoeg. Die ganse werklikheid word in 'n samehangende Neoplatoniese kosmologie van uitgang (exitus) en terugkeer (reditus) geïntegreer, waarvolgens all dinge vanuit God uitgaan en mettertyd tot God terugkeer.

Die gemoedelike verhouding wat Eriugena met Koning Karel geniet het, blyk uit 'n staaltjie wat deur sy twaalfde-eeuse biograaf William van Malmesbury vertel is. By geleentheid het die twee teenoor mekaar aan tafel gesit en het die koning gevra, 'Wat is die verskil tussen 'n Skot [d.w.s. 'n Ier] en 'n sot?' Waarop Eriugena gevat geantwoord het, 'Slegs 'n tafel.' Sulke waaghalsigheid sou dalk 'n koninklike onderdaan van 'n mindere statuur sy of haar kop gekos het...

Dit is onwaarskynlik dat Eriugena 'n priester of 'n monnik was. Hy het wel kommentare op die Bybel geskryf, asook 'n Kersfeespreek getiteld Vox spiritualis. Soos meeste van die mistieke denkers in die Christendom moes hy 'n voorliefde vir die Johannesevangelie gehad het, soos blyk uit 'n gedeeltelike kommentaar daarop asook 'n (geskrewe) preek oor die proloog tot die Evangelie. Hy was klaarblyklik teen 875 nog steeds in Frankryk, want in dié jaar het hy 'n gedig getiteld Aulae sidereae ('Sterretempel') geskryf vir die wyding van Koning Karel se nuwe Notre Dame-kerk in Compiègne. Soos wat die geval is met sy geboorte, is dit onbekend waar of wanneer Eriugena gesterf het.

Beide as vertaler en as oorspronklike skrywer sou Eriugena 'n aansienlike invloed in die Latynse Christendom uitoefen. Dit sluit denkers soos Albertus Magnus en Thomas Aquinas in, wat sommige van die Ier se idees benut het. Die Periphyseon is egter wyd gelees onder die Kathare, 'n Gnostiese sekte wat later op brutale wyse deur die Inkwisisie uitgewis sou word. Op die koop toe is Eriugena beskuldig van panteïsme, oftewel die siening dat God en die wêreld wesenlik een is. Die Periphyseon is gevolglik ingesluit in kerklike veroordelings van 1210 en 1225. In laasgenoemde geval het Pous Honorius III na die Periphyseon verwys as 'krioelend met ketterse, verdorwe wurms.' Die boek is in 1681 deur Thomas Gale van Oxford vir die eerste keer gedruk, maar nouliks drie jaar later is dit op die Katolieke Index Librorum Prohibitorum, die indeks van verbode boeke, geplaas. Die Periphyseon sou tot die afskaffing van die Indeks in die 1960's deur die Katolieke kerk as verbode behandel word. Eriugena het dus dieselfde paadjie geloop as groot Christelike denkers soos Origenes en Meister Eckhart, wie se werke nadoods deur kerklike owerhede verban is.

Die gety draai

Teen die vroeë negentiende eeu het Eriugena 'n terugkeer tot die filosofiese terrein begin maak. In 1834 het die Katolieke teoloog Franz Anton Staudenmaier sy Johannes Scotus Erigena und die Wissenschaft seiner Zeit in Frankfurt die lig laat sien. 'n Standaarduitgawe van die Periphyseon is in 1853 deur Heinrich Joseph Floss gepubliseer, as Volume 122 in die Patrologia Latina (geskrifte van die Latynse kerkvaders). In 1898 het 'n werk in Russies uit die pen van Alexander Brilliantof verskyn, wat die wisselwerking tussen die Oosters-Christelike en Westers-Christelike teologieë in die denke van Eriugena behandel.

Die grootste simfoniese komponis van die Duits-Oostenrykse laat-Romantiek, Gustav Mahler, is ook deur Eriugena beïnvloed. Tydens die komposisie van sy magtige tweede simfonie (getiteld Opstanding), wat in 1894 voltooi is, het Mahler titaniese denkers soos Dionysius die Areopagiet, Eriugena, Meister Eckhart en Friedrich Nietzsche bestudeer. Hierdie ontmoetings, soos hy dit gestel het, het Mahler geïnspireer tot 'n dramatiese musikale uitbeelding van die uiteenlopende elemente in die menslike bestaan, insluitend die siel se terugkeer tot God.

Die twintigste eeu sou 'n merkwaardige oplewing van belangstelling in die Ierse denker aanskou. Met die eeuwending in 1900 het die Britse geleerde Alice Gardner se pionierswerk in die Engelse taal, Studies in John the Scot (Erigena): A Philosopher of the Dark Ages, verskyn. In 1933 is die Belgiese geleerde Maiul Cappuyns se Jean Scot Erigène: sa vie, son oeuvre, sa pensée gepubliseer, die eerste ware akademiese oorsig van Eriugena se lewe en werk. 'n Groot aantal studies omtrent Eriugena het in die laaste kwart van die tweede millennium verskyn, waarin 'n aantal Ierse geleerdes 'n vername rol gespeel het. Meer as 'n duisend jaar ná sy leeftyd het Eriugena dus eindelik die erkenning begin ontvang wat hy so ryklik verdien. Dit herinner mens aan Nietzsche se stelling dat sommige mense nadoods gebore word (Der Antichrist, Voorwoord).

Kosmologie

'n Allesomvattende kosmologie word aangebied in die Periphyseon (ondertitel De divisione naturae, 'Oor die verdeling van die natuur'), wat uit vyf boeke bestaan. Volgens Eriugena kan die ganse werklikheid (natura) ingevolge vier verdelings beskou word. Hulle is daardie natuur wat ongeskape is en wat skep, daardie natuur wat geskape is en wat skep, daardie natuur wat geskape is en wat nie skep nie, en daardie natuur wat ongeskape is en wat nie skep nie. Hierdie vierdeling kan soos volg saamgevat word: (i) God as die eerste beginsel van alle dinge; (ii) Die onsigbare voorwêreldse oorsake as die middele waardeur die verskeidenheid van die sigbare wêreld verrys; (iii) Die sintuiglik waarneembare wêreld van verskynsels; en (iv) God as die uiteinde waartoe alle geskape dinge mettertyd terugkeer.

Dwarsdeur die Periphyseon span Eriugena apofatiese teologie in om die transendensie van die Godheid te beklemtoon. Terwyl katafatiese teologie (d.w.s. die weg van bevestiging) met behulp van metafore die goddelike essensie met name wil beklee, ontklee apofatiese teologie (d.w.s. die weg van ontkenning) dit ter wille van die goddelike onbegryplikheid. Alhoewel die twee benaderings mekaar aanvul, is apofatiese teologie vir Eriugena nader aan die kol as katafatiese teologie, want negatiewe stellings is nie metafories nie maar letterlik van toepassing op die onuitspreeklike essensie van die transendente Godheid.

In Boek I word God as Skepper oorweeg. Vir Eriugena is die hele geskape natuur, beide die voorwêreldse oorsake en hul sigbare gevolge, 'n teofanie, oftewel 'n goddelike self-manifestasie. Op 'n elegante wyse word beide goddelike transendensie bokant die skepping en immanensie in die skepping beklemtoon. Hierdie diepsinnige kosmologie, waarvolgens all dinge in God begrond is, hou gewigtige ekologiese implikasies in. Een daarvan is dat die talryke en voortdurende menslike vergrype teen die natuurlike wêreld, insluitend die bodem, lug, water, plante en diere, in werklikheid as misdade teen God tel.

In Boek II word die voorwêreldse oorsake (causae primordiales) onder die loep geneem. Hierdie is Eriugena se gunstelingterm vir die Platoniese Vorme of Idees, wat die patrone verskaf waarvolgens die waarneembare wêreld verrys. Die openingsvers van die Bybel, 'In die begin het God die hemel en die aarde geskape', dui vir Eriugena op die skepping van die voorwêreldse oorsake, as prototipes van alle verstaanbare (dit wil sê, hemelse) en alle waarneembare (dit wil sê, aardse) dinge. Hy gebruik die simboliek van die sirkel om die verwantskap tussen die eerste drie verdelings van die werklikheid te illustreer. Die middelpunt van die sirkel is God, die strale naby die middelpunt is die voorwêreldse oorsake, en die strale by die omtrek is die verskynsels.

In Boek III word die waarneembare wêreld bespreek. Dit sluit 'n uitgebreide kommentaar op die ses skeppingsdae van Genesis in, tot en met die vyfde dag. In sy uitleg volg Eriugena 'n allegoriese benadering, sodat hy na die ses skeppingsdae as profetiese meditasies verwys. Die eerste dag se bevel, 'Laat daar lig wees,' het byvoorbeeld te make met die uitgang van die sigbare en onsigbare gevolge vanuit die voorwêreldse oorsake.

In Boek IV behandel Eriugena die sesde skeppingsdag, die skepping van die mens. Hy vertolk die relevante Bybeltekste as 'n dubbele dog gelyktydige skepping: as deel van die diereryk (Genesis 1:26), en volgens die beeld en gelykenis van God (Genesis 2:7). Die mens is dus tegelyk dier en meer as dier: deur sy/haar vlees is die mens in gemeenskap met die diere, en deur sy/haar gees of intellek is die mens in gemeenskap met die engele. Omdat God voorsien het dat die mens nie sy/haar ware taak as beelddraer van God sou uitleef nie, het hy 'n fisiese liggaam by die mens se geestelike liggaam gevoeg. Sodoende het die twee geslagte tot stand gekom, wat anders as die engele op 'n dierlike wyse voortplant.

Boek V het te make met die proses van terugkeer van alle geskape dinge tot hul Skepper. Hierdie terugkeer kan op twee wyses beskou word, naamlik 'n algemene en 'n besondere terugkeer. Die algemene terugkeer behels alle dinge wat na die beginsel van hul skepping terugkeer, terwyl die besondere terugkeer verwys na hulle wat ook die voltooiing van hul terugkeer sal bereik, in die Oorsaak van alle dinge, wat God is. Met ander woorde: alles word gered, want geen substansie kan verlore gaan nie, maar nie alles word vergoddelik nie. In verdere aansluiting by die Grieks-Christelike konsep van vergoddeliking (theosis) beklemtoon Eriugena die noodsaak vir die mens se samewerking (synergeia) met die goddelike heilsplan.

Relevansie

Sonder enige twyfel kan Eriugena as die grootste Westerse denker van die vroeë Middeleeue beskou word, dit wil sê in die agt eeue tussen Augustinus (vyfde eeu) en Thomas Aquinas (dertiende eeu). Voorts merk Evelyn Underhill op dat Eriugena die enigste mistikus is wat Wes-Europa in hierdie tyd opgelewer het, en dat hy met sy vertalings van Dionysius die Areopagiet sowel as sy oorspronklike werk 'n volwaardige mistieke tradisie ingelui het.

Eriugena het aan die Weste 'n unieke metafisiese stelsel gebied, gebaseer op 'n viervoudige verdeling van die werklikheid, waardeur hy 'n nuwe kosmologie bekendgestel het. Tereg wys Dermot Moran daarop dat Eriugena se stelsel 'n subjektiwistiese en idealistiese filosofie is, waarvolgens die hele tydruimtelike werklikheid beskou word as afhanklik van die nie-stoflike werklikheid, oftewel verstand. Met ander woorde: die hele eindige werklikheid kan slegs deur die oneindige werklikheid verstaan en voltooi word. Eriugena se idealisme is meer radikaal as enige ander in die antieke of Middeleeuse wêreld, totdat Berkeley en Hegel op die toneel verskyn het.

In Alice Gardner se pionierstudie oor Eriugena verwys sy na hom as 'n Griek onder die Grieke – dit wil sê, as iemand met 'n onverbiddelike strewe na waarheid en skoonheid. Dit verbaas dus nie dat hy 'n besonder hoë premie op die menslike rede geplaas het nie en dat hy godsdiens met filosofie gelykstel, sonder om die beperkinge van die rede te ontken. Gardner wys ook daarop dat Eriugena opgeroep is om die stryd van die Weste (d.w.s. die Latynse kerk) te veg met wapens wat in die Ooste (d.w.s. die Griekse kerk) gesmee is, en dat hy selfs in die uur van verowering tereggewys is omdat hy die veldreëls oortree het.

Met sy holistiese benadering tot die geskape werklikheid vertoon Eriugena 'n besondere deernis vir die diereryk. Hy voer byvoorbeeld aan dat kerkvaders soos Basilius van Caesarea, wat geleer het dat die siele van diere saam met hul liggame sterf, verkeerd was. Eriugena meen ook dat die intelligensie van die edeler diere 'n aanduiding is van 'n mate van deelname in die goddelike lewe, wat hulle nie vir altyd kan verloor nie. Die etiese implikasies hiervan is aansienlik, onder meer dat menslike aktiwiteite soos die jag van walvisse, wildsbokke en pelsdiere, die uitwissing van roofdiere en -voëls as 'probleemdiere', en die gebruik van diere in gevegte of sirkusse geensins geregverdig kan word nie.

Voorts het Eriugena se diepsinnige mensleer 'n insiggewende bydrae om te lewer tot die debat rondom die verhouding tussen man en vrou, oftewel menslike seksualiteit. Histories het die Westerse kerke menslike geslagsverdeling en voortplanting beskou as gekoppel aan die sondeval, en selfs as die oorsaak daarvan. Hierdie foutiewe siening het gelei tot die uiterstes van Victoriaanse onderdrukking enersyds en Freudiaanse vrysinnigheid andersyds. Daarenteen huldig die Ierse denker 'n positiewe beskouing van geslagsverdeling. In navolging van Gregorius van Nyssa en Maximus die Belyer, voer Eriugena aan dat God geslagsverdeling ingestel het omdat Hy die sondeval voorsien het. Deur geslagsvoortplanting word die mens in staat gestel om sy of haar sterflikheid wat deur die sondeval meegebring is te oorkom. Dus is menslike seksualiteit nie 'n oorsaak van ons sterflikheid nie, maar eerder 'n relatiewe teenmiddel daarvoor.

Ook Eriugena se eskatologie het 'n positiewe bydrae te lewer. Ingevolge sy beskouing van die heelal as 'n uitgang vanuit God en 'n terugkeer tot God, leer die Ierse denker dat die ganse skepping terugkeer tot die Bron daarvan; nie om deur 'n kwaai God gestraf te word nie, maar om 'n teofanie te ontvang volgens die soort lewe wat gelei is. Soos wat die menslike natuur vir sy of haar eie sondeval verantwoordelik is, net so is dit vir sy of haar eie hemelse beloning verantwoordelik.

Dr. Wynand de Beer
Bristol, 2019

Bronne

Carabine, Deirdre. Great Medieval Thinkers. John Scottus Eriugena. Oxford & New York: Oxford University Press, 2000.
Gardner, Alice. Studies in John the Scot (Erigena): A Philosopher of the Dark Ages. Bristol: Thoemmes Press, 1993.
Lossky, Vladimir. Orthodox Theology: An Introduction. Translated by Ian and Ihita Kesarcodi-Watson. Crestwood, New York: St Vladimir's Seminary Press, 1978.
Lossky, Vladimir. The Mystical Theology of the Eastern Church. Translated by the Fellowship of St Alban and St Sergius. Cambridge: James Clarke & Co, 1991.
Moran, Dermot. The Philosophy of John Scottus Eriugena. A study of Idealism in the Middle Ages. Cambridge: Cambridge University Press, 1989.
Moran, Dermot. 'John Scottus Eriugena', in Dictionary of Irish Philosophy, 2004.
http://www.thoemmes.com/encyclopedia/eriugena.htm
O'Meara, John J. Eriugena. Oxford: Clarendon Press, 1988.
Otten, Willemien. The Anthropology of Johannes Scottus Eriugena. Leiden: E.J. Brill, 1991.
Sheldon-Williams, I.P. 'The Greek Christian Platonist tradition from the Cappadocians to Maximus and Eriugena', in The Cambridge History of later Greek and early Christian Philosophy. A.H. Armstrong (editor). London & New York: Cambridge, 1967.
Tolansky, Jon. Symphony No 2 in C Minor, 'Resurrection', in GMN Classical Plus.
http://classicalplus.gmn.com/classical/work.asp
Underhill, Evelyn. Mysticism. London: Methuen, 1960.
Wikipedia: John Scotus Eriugena.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

power of calm

The Power of Calm

Boek:  POWER OF CALM (2017) deur Dr. Abel Pienaar – "Abel unfolds a whole new world of enlightenment which holds many surprises for modern man in search of meaning and happiness." – Dr. Ben Barnard (Clinical psychologist and author). Kindle/Amazon: hier of hier.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.