.

Epistemologie

Deur Ds. Bertus van Niekerk op 1 Oktober 2012

.

Sondagoggend vra 'n splinternuwe vriend oor 'n koppie koffie terwyl ons uitkyk oor blou Stellenbosse berge wat ek bedoel het in 'n onlangse artikel toe ek gesê het die gewone Bybelleser is nie toegerus om die Bybel te verstaan nie. Dis nogal 'n gewigtige uitspraak, want hoewel dit op sigself maklik is om te verstaan wat ek bedoel, is dit baie moeilik om te verduidelik hoekom ek so sê. Die kanse dat jy die Bybel verkeerd verstaan, is uitstekend, omdat jy nie besef hoe Bybelkenners die afgelope driehonderd jaar na die teks kyk nie.

Verlede week was daar 'n (oop) gesprek op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Enigeen kan in die gesprek deelneem en die vrae wat ter tafel was, is wyd gepubliseer, onder meer op die Hervormde Kerk se amptelike Facebookblad. Een van die opmerkings lees juis: "Die huidige debat oor die opstanding van Jesus is in die eerste plek 'n debat oor die epistemologie en nie oor die geloof in die opstanding van Jesus nie." In Afrikaans: Die debat(te) wat van tyd tot tyd onder gelowiges (en ateïste) vlam vat, gaan minder om Jesus (of watter Bybelse figuur of teks) as oor of dit moontlik is om hoegenaamd enigiets oor antieke tye en figure te sê. Ons selfverstaan en werklikheidsverstaan (wêreldbeeld) is so ver verwyderd van die leefwêreld van die antieke mens twee- tot drieduisend jaar gelede, dat daar weinig oorvleuelings is in ons persepsies en perspektiewe. Die teks mag dalk tot 'n groot mate heeltemal irrelevant wees vir mense in ons tydsgewrig. En waar nog dit relevant is, is dit nie outomaties so nie – ons sal fyn moet gaan soek watter gedeeltes is relevant en hoekom.

Neem byvoorbeeld die tekste in die boek Joshua waar stede en hulle inwoners – mans, vroue, kinders en diere om die lewe gebring word op bevel van die Here – watter waarde neem ons vandag uit so 'n teks? Dit het sin gemaak vir gemeenskappe drieduisend jaar gelede, maar vandag is xenofobie nie 'n karaktertrek wat ons wil aanmoedig nie. Dit was ook vir premoderne samelewings heeltemal aanvaarbaar om in die bestaan van bonatuurlike wesens soos spoke, gerubs en serafs te glo. Vandag sal jy ver soek om iemand redelik te vind wat stories van pratende slange of donkies ernstig sal opneem.

Hoe is dit dan moontlik om hoegenaamd iets sinvols uit die Bybel vir vandag oor te hou? Luther het al gevra wat die kern van die kanon behoort te wees en by die antwoord uitgekom dat alles wat na Christus wys, gesaghebbend moet wees vir ons geloof. Die probleem is dat ons vandag met baie sekerheid kan sê dat die een van die skrywers in die Nuwe Testament Jesus ooit ontmoet het nie en dat van die oorvertellings van Hom meer weerspieël van die gemeenskap wat dit geskryf het as van die Messias self. Dís die kern van die gesprek oor die gesag van die Bybel vandag en vir die afgelope honderd jaar, ten minste. En nee, dit het nie nou onlangs begin nie, predikante wat in die tweede helfte van die vorige eeu afgestudeer het aan enige universiteit in Suid Afrika moes hierdie gesprekke in hulle studie verdiskonteer. As hulle jou nooit daarvan gesê het nie, was hulle waarskynlik te bang dat jy jou geloof sal verloor (en hulle hulle inkomste).

Die epistemologiese of kennisvraag aan die Bybel is essensieel voordat enige uitsprake vir ons tyd op grond van die teks self gemaak word. Om die Bybel transparant aan ons eie tyd te lees en te dink dit sê iets lynreg relevant vir ons tyd sonder dat die gapings en verskille tussen kulture van toe en nou in ag geneem te word, is gewoon gelykstaande aan 'n poging tot toordery.

Tog is daar beeldskone stories in die Bybel wat ons meesleur en ons betrek op maniere dat ons voel dis óns storie. Dis moeilik om nie saam te huil wanneer Dawid besef sy lieflingseun is dood nie. Dis moeilik om nie te begeer om ook soos die skrywer van Psalm 23 deur donker dieptes van God se nabyheid verseker te voel nie. Dis maklik om te identifiseer met tekste uit Deuterojesaja (na hoofstuk 40) waar daar staan dat die leser op die naam geroep is en God se kind is. Veral in moeilike omstandighede of in twyfel of hartseer is daar sóveel tekste in die Bybel wat ooglopend geskryf is om te troos en te bemoedig. Is daar nog 'n funksie vir hulle in ons lewe? Dis die epistemologiese vraag.

Dit bring ons by 'n volgende punt wat al dekades lank deur Bybelwetenskaplikes gepropageer word: analogiese of metaforiese spreke van God. Op dieselfde Facebookblad word een van sewe kernbeginsels gestel: "Spreke oor God is net moontlik deur analogiese -, of metaforiese spreke." Dis eintlik onmoontlik om iets oor God self te sê, glo die kenners van die tekste van die Ou en Nuwe Testamente. God is uiteindelik net Vader in terme van hoe ons ooreenkomste met ons begrip van Vader-wees in Hom sien. Jesus is Seun van God in terme van hoe ons 'n verhouding tussen Vaders en Seuns ken. God was Koning vir van die Bybelskrywers toe demokrasie nog nie uitgedink is nie en welwillende monarge die beste manier van regering was wat aan hulle bekend was. Ek is oortuig dat ons huidige verstaan van alleenheersers soos Muammar Gadhafi en Bashar al-Assad en selfs die Britse troon die afgelope paar dekades geen analogie bevat om God mee te beskryf nie en die prinse in sulke monargieë se gedrag is presies wat mens nie met Jesus sou wou assosieer nie. Die beeld van God as koning is dus waarskynlik finaal uitgedien. 'n Nuwe metafoor sal daarvoor gesoek moet word. Die beeld van God as kryger sal moet plek maak vir die metafoor van God as kampvegter vir die regte van geöstraeerdes en gemarginaliseerdes en verontregtes.

Die hele Bybel sal deur 'n afstofproses moet gaan as dit nog relevant wil wees vir iemand in die een en twintigste eeu. Maar wat waarskynlik baie meer verantwoordelike gedrag sal wees, is as kerke hulle lidmate betrek by die debat en hulle die kompleksiteite en nuanses van Skrifbeskouing leer. Lidmate moet bemagtig word om self die Bybel te lees en te verstaan hoe die mites daarin hulle tot sinvolle selfverstaan en effektiewe funksionering en aktualisering kan lei. Die proses begin eenvoudig: lidmate moet geleer word om krities te luister en selfs die prediker te bevraagteken. Die tyd is ryp daarvoor, want niemand het meer swaar boekrakke vol Duitse literatuur nodig om dit te kan doen nie. Mense is gewoond daaraan om byvoorbeeld mediese diagnose oor hulle en hulle geliefdes se gesondheid op Google en Wikipedia op te soek. Die tyd het aangebreek dat almal die uitstekende navorsingsliteratuur wat op die internet rondlê, leer gebruik. Hiérin kan dominees en kerke 'n leidende en baanbrekersrol speel.

Lees hier meer oor Ds. Bertus van Niekerk.

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.