.

Enog se dood, en my lewe

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 Februarie 2017

.

Interessant hoe iets wat gebeur vir een mens 'n nuwe begin kan beteken en vir 'n ander die einde.

Wel vir my was so "iets" die afsterwe van my geliefde Enog. Hy was 'n engelse Bulldog met net een oog. Met geboorte het sy ma per ongeluk sy linkeroog raakgebyt. Daarom die naam Eenoog, wat later sommer net Enog geword het.

Enog was my eerste kennis van onvoorwaardelike liefde. Alhoewel hy ook die familie-hond was, was dit duidelik wie se hond hy was (wel dit was vir my duidelik).

Ek kan nie my voorskool en laerskool jare voorstel sonder om aan Enog te dink nie. Wanneer ek in die middae by die huis aangekom het was hy al stertswaaiend daar om my te groet. En met slaaptyd, het hy skelmpies by my op die bed kom slaap. Jare later moes hy egter gedwonge op die stoep gaan slaap, want sy gesnork was eenvoudig oorverdowend.

Enog het een groot swakheid gehad (buiten sy haat vir katte) en ook die rede vir sy dood, en dit was die motors wat in die straat voor die huis verbygery het. Hy moes hulle eenvoudig aanval. Die hek moes altyd toegehou word anders was hy uit. En so het hy dan ook eendag uitgestorm, voor 'n aankomende motor in en is raakgery. Ek sal nooit vergeet hoe ek by hom gesit het nie, ek het stadig oor sy seer lyf gevryf en saggies met hom gepraat.

Ek onthou hoe ek gebid het, nee, gepleit het dat God asseblief vir Enog sou spaar en gesond maak. Maar die dood kon nie gekeer word nie en na 'n uur of wat is Enog in my arms dood. En vir die eerste keer in my jong gemoed het die donker teenwoordigheid van die dood vir my 'n werklikheid geword. Voor dit het ek regtig nooit eers gedink oor die werklikheid van dood nie.

En alhoewel Enog se dood vir my 'n traumatiese gebeure was, het almal my getroos met woorde soos "Jy verstaan nie nou nie, maar eendag sal jy verstaan," en "Enog is nou by Jesus, hy's meer gelukkig daar as wat hy ooit hier op aarde was..." ens.

Hierdie antwoorde het toe al nie vir my heeltemal sin gemaak nie, maar ek wou so graag glo dat dit waar is, dat ek eenvoudig nie verder daaroor wou dink nie. Maar soos die lewe al meer en meer binne my bewustheid ontvou het, en ek al meer gekonfronteer is met die werklikheid van die lewe, het ook die twyfel al meer in my gemoed kom nes skrop. En dan die dag toe die "iets" met my gebeur het en ek ewe skielik na alles anders begin kyk het. Dit was een Sondag-oggend by Sondagskool, so 'n paar weke na Enog se dood.

Ek het my Sondagskool meneer gevra of hy dink ek sal Enog eendag herken in die hemel. Hy het vir my baie duidelik laat verstaan dat troeteldiere nie hemel toe gaan nie. Wat 'n skok. Het my ma en pa dan vir my gejok? Waar is Enog dan? Is God dan so wreed dat hy Enog kom vat by my en dan laat hy Enog wegraak, en hy gee nie eens om nie! My ma het dan gesê Enog is nou by 'n beter plek.

Net daar en dan het ek besluit dat grootmense nie regtig weet nie. Ek onthou hoe ek verslae huis toe gestap het en by myself gedink het, ek gee nie om wat in die Bybel staan of wat die Sondagskool oom sê nie, Enog is in die honde hemel. En net hier het die eerste krakie verskyn rakende my blinde geloof in die Bybel en die God van die Bybel.

Mettertyd het my geloof in 'n teïstiese God heeltemal afgesterf. Nou, vir sommige mense is dit 'n tragedie, vir my egter was dit my transformasie na vryheid en vrede.

Die innerlike vryheid wat ek begin beleef het, het alles te make gehad met die feit dat ek sonder skuldgevoelens vir myself kon begin dink. Geen dogma of stel reëls kon my meer inperk en met vrees en skuld vul nie. Ek kon nuwe vrae vra. Ek kon eerlik sê ek twyfel. Ek kon openlik sê as ek nie weet nie. Dit het 'n spasie binne my psige oopgebreek wat meegebring het dat ek kon soek en nuut ontdek. En so is die filosoof in my gebore.

Ek was nou nie meer vasgevang in ou sienings nie en dit het my op 'n avontuur na die soeke na waarheid gebring. Want dit is presies wat ek onder filosofie verstaan. 'n Soeke na waarheid. 'n Soeke, wat plaasvind tussen vraag en antwoord. Watter tipe vrae? Wel vrae wat gaan oor die hoekoms en waaroms van die lewe. Seker daarom dat filosofie beskou kan word as die moeder van die wetenskap. Die woord self kom uit die Grieks en beteken 'liefde vir wysheid' oftewel die wysbegeerte. Want die liefde vir wysheid is tog die soeke na die waarheid en is dit nie die doel van die wetenskap ook nie?

En net so het ek met my vrae oor Enog soos een van die eerste filosowe, Thales van Milete, nuut begin kyk. Hy het ongeveer 600 voor Christus gelewe. En in sy tyd (ongelukkig ook vandag nog) was meeste vrae beantwoord vanuit die dag se mites en legendes. En dikwels het die bonatuurlike gode 'n hoofrol gespeel in die verklarings van die antieke mense se antwoorde. Hy was egter nie tevrede met hierdie bonatuurlike verklarings nie en het self begin antwoorde soek op sy vrae. En so word gebore, 'n filosoof.

Will Durant het dit so omskryf: "Philosophy begins when one learns to doubt – particularly to doubt one's cherished beliefs, one's dogmas and one's axioms." 'n Ander bekende filosoof, Sokrates, was juis in sy tyd beskou as die slimste mens op aarde, omdat hy bly sê het hy weet niks en daarom mag hy nooit ophou vrae vra nie. Nog 'n filosoof van daardie tyd, Aristoteles, het hierop voortgebou met: "Om eerlik te wonder is die begin van filosofie."

Om vrae te vra is dus wys, maar om die regte vrae te vra, dit is wysheid. Daarom dat Naguib Mahfouz gesê het: "You can tell whether a man is clever by his answers. You can tell whether a man is wise by his questions." Dit laat 'n mens wonder wat is die regte vrae? En natuurlik om hierdie vraag te vra is jy reeds besig om die eerste 'regte' vraag te vra.

"It is not the answer that enlightens, but the question," sê Decouvertes. Want jou vrae rig jou gedagtes en fokus. Jou vrae bepaal in watter rigting jy gaan soek vir antwoorde. Sonder hierdie vraag beteken die ander vrae nie veel nie.

Daarom voel ek so sterk dat enige godsdiens of sisteem wat jou vrae stilmaak, lewensgevaarlik is. Valse sekerheid skep slawe. Twyfel, of te wel om altyd oop te wees vir meer as een antwoord, maak vry. Twyfel is soveel waardevoller as sekerheid. Let wel, as ek praat van twyfel praat ek van die ingesteldheid van kritiese selfdenke. 'n Openheid om nog verras te kan word.

"Wonder, rather than doubt, is the root of knowledge," verwoord Abraham J. Heschel dit dalk beter as ek. Hierdie openheid tot die soeke na die 'hoekoms' en 'waaroms' vervul elkeen wat braaf genoeg is om dit self te vra met inspirasie en uiteindelik wysheid.

Die dag toe ek aan my godsdienstige sekerhede gesterf het, was gelukkig ook die dag van my opstanding uit die dood. Enog se dood het my laat lewe, werklik lewe.

Mag my en jou sekerhede altyd voorlopig wees en mag ons soeke nooit ophou nie! Dit is my gebed en wens, vir elke mede reisiger. En wie weet, miskien verander ons nog die wêreld deur ons vrae?

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.