Enkele gedagtes oor verdraagsaamheid

Deur Prof. Wilhelm Jordaan op 1 November 2011

Ek het onderneem om 'n paar kantaantekeninge oor verdraagsaamheid te maak. Soos met die meeste dinge het mens eers 'n inleiding nodig:

In die konteks van SES se eiesoortige aard wil ek aanvaar dat elkeen wat vanaand hier is – as mense van Afrikaanse herkoms en waarskynlik met 'n gereformeerde spirituele geskiedenis – op die een of ander stadium die belewenis gehad het van 'n buitestander in die kudde te wees en onverdraagsaamheid aan eie lyf beleef het.

Al was dit dan net omdat jy 'n laspos in die katkisasieklas was; te veel vrae gevra het; of anders begin dink het; of ander moontlikhede begin oorweeg het oor die een of ander aspek van tradisionele godsdienstige verstaanwyses en geloofsuitings.

Onthou julle nog hoe die kuddewêreld was (selfs nog is) waarin jy 'n buitestander geword het? Ek dink dit is nuttig om vir 'n wyle op die spoor te loop:

Iemand sê onlangs die Afrikaanse mense (of Afrikaners dan) is groot gemaak om bang te wees. En 'n voorbeeld hiervan is 'n vreesdeurdrenkte godsdiens.

Vier dinge was/is sedert die 1880's tot vandag toe tekenend van die Afrikaner se vreesgedrewe, geslote godsdienstigheid:

Alles saamgeneem, het dié dinge die deursnee-Afrikaner in 'n verseëlde spirituele kapsule geplaas.

As kind het ek dié dinge aangevoel, die druk van die kudde om te konformeer, maar had nie woorde daarvoor nie. Eers later het dit in versvorm gekom:

Toe ek 'n kind was het ek gedog
die dinge is maar so.
Maar noudat ek 'n man geword het
weet ek
dit is dogmadinge
wat mens doodmaak
binne.

Die digter Louis Eksteen het in 1967 'n gedig ("Kasplant") geskryf wat historiese, poëtiese getuienis van dié verseëldheid is; die verknogtheid aan die dogma(s) van die tyd:

Ek weet goed, baie goed
hoe ek opgevoed is.
(Verskoon die eerste persoon
maar dit sorg vir 'n persoonlike toon.)
Nou, soos ek sê:
ek, en die ander van my geslag,
moes bang wees vir God,
vir ons ouers, die onderwysers,
die predikant, almal wat
oor ons gestel is: die owerheid in toto.
Vir die busse vir die trems
Vir vuilsiekte en die Bantoe
Vir Johannesburg, vir heidens,
en vir die gewone verkoue.
Vir drank en die musiek
veral vir jazz
vir omtrent al wat boek is
vir die dagblad vir die Sondagblad
vir die geel gevaar, die swart gevaar
vir die Jood wat smous
vir kapitalis vir arbeider
vir Duitser
Amerikaner
en – veral –
die Engelsman.
Die Jode floreer
Die Franse hoereer
Die Duitsers beheer
Die Amerikaners oordonder
En die Ingelse oorheers
imperialiseer.
Ai, en ja, hoe bang moes ek nie is
vir die kommunis.
Vir Vrymesselaars
vir sosialis
vir sons- en maansverduistering
vir besmetting van 'n wond
vir jou liggaam as hy gesond is.
Bang vir die water
Bang vir die son
Bang vir die reën ook
En bang vir die Bom.
Bang vir my bang vir jou bang vir hom.
Vir suidewind en haelstorms
vir harde reën en sagte stuif
vir nat voete
en vir seks.
Verskoon die persoonlike toon
maar dis hoe ek opgevoed is.

Gelukkig, vandag, soek dié "kasplant" plek-plek die lewegewende son en floreer in die helder lig van vernuwende denke.

Dis hoekom julle vanaand hier is, wat nie beteken julle sien neer op dié wat anders dink nie. Dit is eerder 'n feesviering van die verpligting om spiritueel soekend te bly; lewensbetekenis by herhaling en by hernuwing te ontdek sonder die een of ander "voorskrif" en sonder die vrees vir straf of verwerping.

Die soekende ingesteldheid word gedra deur 'n hoë bewustheid van die geheim van ons wees in die wêreld; waar geheim, volgens die betekenis van die wortelwoord, verwys na iets verborge bly.

Ons het die kunstenaars nodig om ons daaraan te herinner. Soos die beeldhouer Auguste Rodin dit gedoen het met sy klein marmerbeeld, "Die Geheim", wat in die Musée Rodin in Parys gehuisves word.

Uit 'n ruwe, ongevormde marmer voetstuk styg twee hande op wat sag, huiwerend, eerbiedig, beskermend aan mekaar raak. In die klein afgesondere ruimte tussen-in wil-wil iets oopvou, maar dit gebeur net-net nie. Waar jy ook al staan en kyk, jou oë wil die hande oopbeur, maar dit bly tergend, ontwykend toe.

Dít is die hart van 'n geheim. En ons kan maar in die wêreld van die wetenskap, in die kunste en in die alledaagse lewe, meer vanuit hierdie hart lewe. Dán sal ons met groter huiwering, eerbied, beskerming en verwondering omgaan met die dinge wat ons probeer verstaan – soos onsself, die kosmos, liefde, vriendskap, lyding, God en die dood. Om te begryp wat die digter Robert Frost bedoel het toe hy oor die vlugtigheid van ons indrukke geskryf het:

"We dance around in a ring and suppose
But the Secret sits in the middle and knows."

Of dan, aanvullend, in Afrikaans:

"Ons dans in 'n kring en maak onsself wys
Maar die Geheim sit stil in die middel en swyg."

Ek wil glo dat SES-mense juis 'n hoë bewustheid het van die geheim van ons bestaan. Julle het algaande tuis gekom in 'n beskermende en veilige omgewing (soos SES is) – 'n ruimte waar mense jou toelaat, en dit ook waardeer, dat jy volgens 'n eie "innerlike stem" die geheim aanvoel en hoe jy kan reageer teenoor en optree in die wêreld.

Op so 'n manier dat verdraagsaamheid 'n lewenspraktyk geword het. Waar jy:

Jou eiesoortige spiritualiteit uitleef sonder om dit voor te hou as die allernorm én sonder om neer te sien op hulle wat anders dink en doen; en

Waar jy krities bly oor spiritualiteit; hetsy godsdienstig of buitegodsdienstig ingeklee en veral waaksaam is in soverre

Met spiritualiteit arriveer mens nooit nie; die reis gaan voort – van staning na staning; soos om elke nag jou kampbedjie op 'n ander plek op te slaan en te sien dat die sterre telkens anders lyk. As jy mooi sou kyk.

Ek het pas die frase "verdraagsaamheid as lewenspraktyk" gebruik? Daaroor wil ek praat, want dit kom mos nie maklik nie:

Een vraag het dadelik by my opgekom: Kan een mens ooit 'n ander mens begryp? Verdraagsaamheid moet mos gedra word deur begrip vir ander mense en hul opvattings.

Die Franse filosoof Michel Foucault is onverbloemd pessimisties hieroor. Hy sê dit kan nie.

As illustrasie gebruik hy 'n Chinese ensiklopedie waarin die begrip "diere" gedefinieer word. As julle na dié definisie luister, luister met 'n Westerse woordeboekingesteldheid wat tipies sou wees soos dié definisie van "diere" in die HAT:

"Dier: lewende wese wat nie tot die planteryk behoort nie, dus kan voel en beweeg, in die wydste sin toegepas op soogdiere, voëls, reptiele, insekte ensovoorts."

So verstaan ons maklik wat ons met "diere" bedoel as ons kommunikeer.

Die Chinese definisie het 14 afsonderlike lemmas:

  1. dié wat aan die keiser behoort;
  2. gebalsem;
  3. mak;
  4. speenvarkies;
  5. verleidsters;
  6. fabelagtig;
  7. rondloperhonde;
  8. ingesluit in die huidige klassifikasie;
  9. waansinnig;
  10. ontelbaar;
  11. geteken met 'n baie fyn kameelhaarborsel;
  12. ensovoorts;
  13. die een wat nou net die waterbeker gebreek het;
  14. dit wat van ver af soos vlieë lyk.

Foucault sê dié definisie het hom laat skud van die lag en terselfdertyd dié insig gebring: Die eksotiese sjarme van 'n ander denksisteem, lê die beperking van jou eie bloot – die volslae onmoontlikheid om aan "diere" te dink soos die Chinese ensiklopedie dit wil hê.

Maar miskien lê ons probleem om ander te begryp daarin dat ons, soos Foucault, geneig is om slegs met die rasionele intellek die aard van 'n ander denkwyses te beoordeel. En om dan met 'n intellektuele getrompetter, venyn en sarkasme dit ongeldig of absurd te verklaar – omdat dit inhoudelik nie soos joune is nie.

Miskien moet ons, ter wille van verdraagsaamheid, meer maak van empatiese verstaan.

Dit behels die ingesteldheid om met invoelende waarneming en verbeelding 'n ander mens se leefwêreld te betree met dié vraag:

Hoe sou ek gedink, gevoel en gemaak het as ek in die ander mens se werklikheid gewoon het. Sonder dat dit beteken jy aanvaar dit of keur dit goed – soos die Chinese definisie van diere.

In sy gedig "Nuwe Jerusalem" beskryf D.J. Opperman empatiese verstaan as dié "spel van vereenselwiging"; hoe jy jou "daagliks aan die skepping oorgee" en één word met dit wat buite jou verstandelike bevattingsvermoë lê.

Wat Opperman sê, is veel meer as 'n digter se werkwyse om poësie te skep. Want ook uit alledaagse vereenselwiging kom die hartstog van empaties opgaan in 'n ander mens se werklikheid – om vir vlugtige of langer oomblikke in 'n ander mens se "woordeboek" te leef en te probeer begryp waarom en waartoe die oënskynlik vreemde, absurde, betekenisse.

Deur dit te doen, raak dit dalk moontlik dat 'n mens raaksien wat 'n ander raak, navoel wat 'n ander voel en nadink wat 'n ander dink. Omdat jy sien deur die oë van 'n ander; hoor deur die oor van 'n ander; en voel deur die hart van 'n ander.

Al begryp mens nooit heeltemal nie.

Wat ek tot nou gesê het, beteken nie 'n passiewe, kritieklose ingesteldheid oor ander se opvattings nie. Jy hoef nie met iemand saam te stem nie. Jy kan – as dit daardie punt kom – hoflik aan iemand sê daar is nie sinvolle gesprek tussen my en jou moontlik. Ons "woordeboeke" is net te verskillend!

Die Katolieke teoloog Hans Küng het op 'n keer iets geskryf wat my help wat betref die grondhouding wat mens behoort te hê in gesprekke en debatte oor godsdienstige, teologiese of spirituele sake (as mens die woordjie "faith" in die aanhaling ruim verstaan):

"The totality of faith consists in the integrity of commitment and not in completely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time."

So 'n stelling sou ewe goed geld vir elke aanspraak wat mense maak – ingesluit dié wat kom uit die innerlike stem wat op 'n gegewe tyd jou lewensbegeleier is.

Ons gaan dikwels egter baie oppervlakkig en onverskillig met verdraagsaamheid om. Trouens, in die Afrikaanse taal en wêreld is die betekenis van verdraagsaamheid nogal beperk.

Dit beteken dinge soos "duld" en "uitstaan" wat verstaan kan word as 'n soort lydsame, passiewe aanvaarding in die trant van: ek laat jou maar praat en begaan, maar eintlik hoor ek jou nie. Miskien is dit dan nuttig om terug te gaan na die woord se wortelbetekenis om iets dieper as dít te snap. Die Latynse oorsprong van verdraagsaamheid ("toleransie") suggereer drie eienskappe van verdraagsaamheid: "om te verduur"; "om op te tel" en "om te dra."

Alles saam geneem, is verdraagsaamheid 'n aktiewe, omvattende gevoelshouding wat sê: terwyl ek ánders as jy dink, dra ek jou opvattings saam asof dit m?ýne is, en daardeur verstaan ek beter hoekom jy dink soos jy dink en doen soos jy doen. Juis daarom kan ek nie, wil ek nie, jou opvattings geringskat nie.

Hierdie gevoelshouding word versterk deur respek wat letterlik, volgens die Latynse wortelwoord ("respicere"), beteken: "om weer te kyk." Wat impliseer dat jy weer en weer die opvattings van 'n ander sal aanhoor, oorweeg en weeg – asof dit joue eie is.

Wie dié gevoelshouding toepas, luister anders na gespreksgenote – met toegespitste aandag as 'n soort geskenk wat jy aan 'n ander gee.

En dít is iets gans anders as die gangbare manier van luister wat neerkom op: ek sien jou mond en lippe beweeg en hoor jou stem, maar terwyl jy praat dink ek wat ek gaan sê (hoe ek jou gaan kritiseer /bykom /troef /terugkry /teëpraat) sodra ék aan die woord kom.

Verdraagsaamheid as 'n omvattende gevoelshouding word ook gedra deur 'n hoë bewustheid van hoe ons taal gebruik. Weer eens 'n digter, die Chileen Vicente de Huibrodo, wat die grondbeginsel verskaf:

Laat jou taal 'n sleutel wees
wat 'n duisend deure oopmaak...
Skep nuwe moontlikhede
en waak oor jou woord:
Elke byvoeglike naamwoord
wat geen lewe skenk
pleeg moord.

Verdraagsaamheid bring 'n oop én veilige ruimte waarbinne mense vrylik en hartlik met mekaar kan omgaan.

So staan ons dan langs mekaar en nie teenoor mekaar nie voor die Groot Misterie – met geboë hoofde; nie met gebalde vuiste nie.

Wilhelm Jordaan

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za