Eko-spiritualiteit

Deur Dr. Sandra Ferreira op 1 Julie 2010

Alhoewel die era van die postmodernisme reeds gedurende die vyftigs van die vorige eeu aangebreek het en nog steeds besig is om te gedy, is die gees van die modernisme as dominante wêreldbeskouing nog lewendig en aktief op verskillende lewensterreine.

Moderniteit as lewensbeskouing (ongeveer 1500 tot 1950) het veral dominant geword tydens die Periode van Verligting (Enlightenment) toe die mens se stryd om van die kerkstaat se mag en beheer oor kennis weg te breek, gemanifesteer het in rasionalisme, positivisme, individualisme, liniêre denke en absolute waarhede. Die basiese uitgangspunte wat hier ter sprake is en waar rondom die lewe en bestaan van die mens georganiseer word, is dat die Rede geld en dat die Individuele Self uitgelig word. Die aanvang van humanisme het waarskynlik sy wortels in hierdie wêreldbeskouing waarin die individu bo die ander en die omgewing verhef word. Aktes van Menseregte wêreldwyd was 'n verdere uitvloeisel van die verheffing van die mens as individu. Daar kan selfs geredeneer word dat in postmoderniteit met sy fokus op die individu wat sy eie werklikheid skep, daar nog steeds 'n klem op Individuele Self is.

Verskille tussen godsdiens en spiritualiteit

Spiritualiteit en godsdiens word dikwels as sinonieme gebruik – alhoewel dit oorvleuel beteken dit nie dieselfde nie. Spiritualiteit is 'n persoonlike ervaring wat gefokus is op selfondersoek en persoonlike waarheid. In hierdie konteks verwys spiritualiteit na 'n reis van verkenning en ervaring van die eie siel of innerlike goddelikheid. Ontologies (wordings-) gedrewe impuls na eenwording / gemeenskaplikheid of verhouding met God (of 'n Ultimate transendente realitieit).

Volgens Aponte (2002: 16) is "... spirituality a universal dimension of life that lends a meaning to our existence, sets a moral standard for living, and assumes some sense of moral connection among people at the very heart of our humanity. Some spirituality is based on ethics and philosophy. Other spirituality sees its source and in the realm of a deity, and is most often expressed in formal religion." Beide vorme spreek tot moraliteit, betekenis, en die aard van die individu se verhouding tot die wêreld, of dit bonatuurlik is al dan nie.

Godsdiens vloei vanuit spiritualiteit en word uitgedruk in interne subjektiewe realiteite deur middel van geïnstitusionaliseerde vorme, rituele, oortuigings en praktyke. Godsdiens is 'n geformaliseerde struktuur gebou vir gemeenskappe met 'n gemeenskaplike spiritualiteit. Dit is dikwels tradisie-gebaseerd en trek peil op die deel van oortuigings. Dogmatiese godsdiens forseer sy reëls en oortuigings af en het min verdraagsaamheid vir diversiteit of selfondersoek. Liberale godsdiens is meer verdraagsaam jeens diversiteit en laat 'n sekere mate van selfondersoek toe. Godsdiens is 'n uitdrukking van die spirituele verhouding wat die individu verenig met 'n morele gemeenskap wat dieselfde ervarings van transendente realiteite deel.

Die neerslag van godsdienste is gebore uit spirituele persone wat gesoek het na persoonlike waarheid. Ironies genoeg is die godsdienste wat in hierdie mense se naam uitgebou is ook dikwels teen die navolgers wat persoonlike waarheid soek. In antieke tye was die idée van ware kennis nie moontlik nie sonder dat dit verkry is deur direkte ervaring. Jy kon nie iemand leer aangaande iets nie as jy nie self dit ervaar het nie. Leer of onderrig was dus gefokus op ervaringsleer. Eko-spiritualiteit kan dus kortweg omskryf word as betekenisgewing, -konstruering en -vergestalting binne die omgewing en meer spesifiek die natuur van die menslike bestaan.

Glo / geloof / oortuiging versus weet

Godsdienste fokus en moedig "glo" aan. Spiritualiteit fokus/konsentreer op "weet". Glo is surrogaat, met ander woorde dit is gebore vanuit die ander en is aangeneem. Weet is persoonlik, dit kom van direkte ervaring en is daarom geïntegreer in jou wese en in die sin van self.

Wanneer mense van direkte persoonlike weet en ervaring leer, vind hulle makliker universele waarhede – 'n algemene draad van kennis wat ook met andere gedeel word. Om te weet bring vrede, glo sonder weet kan leeg wees en lei dikwels tot konflik.

As jy iets weet, het jy nie 'n behoefte om dit te verdedig of om andere te bekeer nie. Jy is gelukkig om te deel en het vrede in jou hart en het geen kompulsie dat andere met jou moet saamstem nie. Om te weet is binne in die liggaam en kan gevoel word. Glo bestaan in die verstand. Om te glo lei dikwels tot leegheid omdat dit nie 'n interne realiteit is nie en 'n verstandstelling van bedoelde waarheid inhou. Glo sonder weet lei daartoe dat mense wil verdedig, veg en andere bekeer.

'n Persoon kan die volgende wees:

Mense soek deesdae hul eie pad binne en buite die hoofstroom van godsdiens, terwyl die paaie van andere gerespekteer en geëer word.

Die dominante wêreldbeskouing: invloed van die ideologie van moderniteit, globalisering en ontwikkeling

Die Westerse samelewing se optrede is soos enige kultuur gebed in 'n spesifieke stel van waardes, oortuigings en aannames en 'n sosio-politieke struktuur wat volgens Coates en Leahy (2006: 1-2) die basis bied vir openbare en individuele aksie. Hierdie sisteem van oortuigings, in die geval van die Weste moderniteit, plaas vertroue in tegnologie en wetenskap en verbruikersgeoriënteerde en markgedrewe groei en ontwikkeling. Die donkerkant van bogenoemde is dat moderniteit 'n allesoorheersende verbruikerskultuur ontwikkel het wat glo dat hulpbronne en maatskaplike ongelykhede opgelos kan word deur ontwikkeling, uitvinding, hoë finansies en groei – altyd groei (Spretnak 1993:5). Eksploitasie en vernietiging, tesame met ontwikkeling, is die uitkomste van die moderne samelewing, sy waardes en oortuigings en politieke struktuur. Dié uitkomste word uiteindelik sigbaar in omgewings- en maatskaplike onreg.

Die Westerse ekonomie is 'n uittrekkings-ekonomie (extractive economy) wat volgens Berry (1997) soos aangehaal deur Coates (2006:1) tot 'n terminale ekonomie kan lei.

'n Analise van die "Dominante Westerse Wêreldbeskouing" oftewel die "Ideologie van Moderniteit" deur Catton en Dunlap (1980) soos aangehaal deur Coates en Leahy (2006: 2) toon die volgende kenmerke:

Antroposentrisme of die gebruikswaarde van plante, diere, landbou- en industriële praktyke vir die mens dra by tot 'n kortsigtige uitbuiting en onvolhoubare kriterium van vooruitgang (Coates en Leahy 2006: 2). Die aarde word gevisualiseer as 'n oorvloedige en oneindige bron van verbruikersware, terwyl vooruitgang blindelings fokus op die omskakeling van natuurlike stowwe in verbruikersgoedere en dan weer in afvalstowwe.

Na aanleiding van Spretnak (1997: 40-41) se navorsing kan ook die volgende kenmerke in die beskrywing van moderniteit uitgelig word:

Die sterk fokus op ekonomie en ekonomiese groei beïnvloed volgens Coates en Leahy (2006:3) uiteindelik politieke besluitneming. Die ekonomie is nou nie langer 'n middel tot 'n doel nie, maar 'n doel op sigself. Geld word dus die primêre oogmerk en daarmee saam 'n oorvloedige lewenstandaard wat gekenmerk word deur 'n onbeheerbare konsumentisme. Die voorkoms van armoede word 'n belediging vir die uitgangspunte soos hierbo vervat omdat dit die teenpool van dit is waarvoor die moderne ideologie staan, naamlik 'n situasie of toestand van min of 'n bietjie geld en min of geen besittings oftewel hulpbronne. Die verskynsel van armoede word dus gekonseptualiseer deur die dominante wêreldbeskouing.

Volgens die moderne ideologie streef die mens om in beheer, nie net van homself nie, maar ook van die ander, hulpbronne en natuur te wees. Die mens gebruik homself, andere en die omgewing tot voordeel van homself in die strewe na groei en vooruitgang op verskillende lewensterreine. 'n Selfgesentreerde en selfsugtige optrede wat uiteindelik die self, andere en die omgewing vernietig.

Bogenoemde word waarskynlik aangedryf deur die aannames wat gesetel is in moderniteit (Coates en Leahy 2006: 3-4):

Coates (2004: 1-3) redeneer dat onder andere die waardes en oortuigings van modernisme vergestalting gegee het aan maatskaplike probleme. Modernisme plaas 'n hoë premie op 'n wêreldbeskouing van dualisme, antroposentrisme en materialisme waarbinne tegnologie, konsumentisme (verbruikersdruk) en materialisme dikwels 'n doel op sigself word. Beide die mens en die natuur word primêr gesien as handelsartikels – hulpbronne met geldelike waarde. Dit bring mee dat eenheid met die natuur teengestaan word, terwyl 'n oortuiging van superioriteit oor die natuur ondersteun word.

Die uitvloei van die ideologie van moderniteit dra volgens Chossudovsky (1998) by tot 'n toename in die gaping tussen ryk en arm, 'n toename in lae-inkomste werksgeleenthede en 'n afname in die staat se deernis met diegene wat minderbevoorreg is. Tereg merk Sacco (1998/1999: 6) op dat "[g]lobally people are facing increasing challenges related to poverty, unemployment, dislocation, war and violence, racial and ethnic conflict, oppression and abuse of power, wealth and greed, environmental destruction and all the results of the dark side of nature." Dit is egter nodig om in gedagte te hou dat die ondersoek van feite rakende 'n kommunistiese benadering tot industrialisasie ook bygedra het tot die ekologiese krisis en uitgeloop het op die vernietiging van die omgewing (Hoff en Polack 1993: 2).

Die omgewings- en spirituele krisis

'n Omgewingskrisis is besig om te ontvou soos die mens skade, dikwels onherstelbaar, aan die omgewing aanrig deur lug-, water- en grondbesoedeling en die uitputting van hernubare en nie-hernubare hulpbronne. Volgens Coates (2006:1) kan die omgewingskrisis selfs vererger as die klein bevoorregte minderheid van die wêreld (Europa, Australië, Kanada en die VSA) met hul groei-gedomineerde ideologie nie ernstige pogings aanwend om die mens se aktiwiteite se impak op die aarde te verminder nie. Die weiering van groot moondhede soos die VSA om die Kyoto protokol te onderteken, waarvolgens nywerheidslande hulle verbind om aardverwarming te beveg, laat vrae ontstaan oor die toekomstige volhoubaarheid van samelewings en lewe as sulks.

Volgens Knight (2004: 39) verwys die natuurlike omgewing na Moeder Aarde soos sy haar beskikbaar stel vir lewe in die vorm van water, lug, grond (plant- en diereryk) en die verhouding van die mens met hierdie elemente. Die mens se primitiewe instink vir oorlewing en die mens se intellektuele en spirituele strewes ontwikkel uit hierdie lang bestaande verhouding met die natuurlike wêreld rondom die mens. Die gevolgtrekking is dus dat indien die lewe, soos voorafgaande verwoord, vernietig word, word die mens uiteindelik ook vernietig.

Die fokus op spiritualiteit ondersteun en moedig interafhanklikheid aan, nie net van die mens nie, maar ook die hoort tot 'n gemeenskap en die omgewing. Die mens se voortbestaan en ontwikkeling is afhanklik van andere en die natuur; deur hulle word ek mens en word ek dus bemagtig. Bemagtiging is geleë in die ontdekking van mag in die persoon – die sogenaamde innerlike wysheid binne die self. Hierdie innerlike en onkonvensionele hulpbronne behels volgens Sacco (1998/1999: 11) deernis, vrede en interkonneksie.

Omgewingsverarming en -vernietiging gee aanleiding tot onder andere materiële en spirituele armoede indien daar uitsluitlik vanuit 'n Westerse ekonomiese ideologie gewerk en geredeneer word. Hierdie spirituele vervreemding vereis volgens Glendinning (1994) soos aangehaal deur Canda (1998/1999: 10) dat herstel benodig word van die destruktiewe aspekte van die Westerse beskawing.

Volhoubaarheid gaan nie oor die vind van oplossings nie, maar gaan oor interaksie, in verhouding tree met die self, gemeenskappe en die natuur. Volhoubaarheid kan net plaasvind indien ons optree in ooreenstemming met die ordes van die natuur. In die proses van individualiteit raak ons bewus van onsself. Dit veronderstel nie 'n vervreemding waarin die siel van ons samelewing vernietig word nie. Ons roeping is om uit te vind wie ons is en dan met hierdie ontdekte uniekheid tot die gemeenskap en die wêreld om ons by te dra. Wanneer verantwoordelikheid geneem word vir wat ons skep, ontwikkel ons die vermoë tot die eerbiediging van die teenswoordige en die reg tot bestaan van alles wat ons omring.

Toenemende fokus op, kommer oor en betrokkenheid om die omgewing te beskerm gee aanleiding tot 'n verskuiwing in lewensbeskouing wat in wese as spiritueel gesien kan word (Coates 2004: 4). Spiritualiteit dui op die mens se verlange vir 'n sin van betekenis deur morele verantwoordelike verhoudings tussen diverse individue, gesinne, gemeenskappe, kulture, godsdienste (Behrman s.a.: 1) en die natuurlike omgewing waarbinne die mens moet leef. Die begrip natuurlike omgewing oftewel ekologie verwys volgens Coates et al. (2006: 389) na volhoubaarheid. Die onverskillige gebruik en misbruik van die natuurlike omgewing wat lei tot besoedeling, habitatvernietiging en die eksploitering van herwinbare en nie-herwinbare bronne en dus die vernietiging van die natuurlike omgewing moet noodwendig op die kwaliteit van lewe soos dit vergestalting in daaglikse maatskaplike interaksie vind 'n invloed uitoefen. Gore (1992: 98) konstateer tereg dat "the more deeply I search for the roots of the global environmental crisis, the more I'm convinced that it is the outer manifestation of an inner crisis that is, for the lack of a better word, spiritual."

Heelwat van die Westerse wêreldbeskouing, die sekulêre en godsdienstige sien die mens as die toppunt van die geskape orde. Dit skep die houding dat ander dinge en wesens vir ons doel, voordeel en gerief bestaan. Dit laat 'n situasie ontstaan waar wesens aan die genade van die menslike ondernemingsgees uitgelewer is en onderhewig is aan ons planne, eksploitasie en dominering. Hierdie gewaande superioriteit en strydlus word herproduseer in aggressie jeens vrouens, minderheidsgroepe en militêre minderwaardige samelewings (Besthorn 2006: 3).

Eko-spiritualiteit vereis dus dat die mens weg beweeg van 'n antroposentriese of mensgesentreerde oriëntasie tot die werklikheid, waar daar geput word uit diverse wysheid, bronne en tradisies, na 'n lewe van gekoesterde gemeenskaplikheid, respek, dankbaarheid en deernis vir die natuurlike wêreld en al die bewoners van Moeder Aarde.

'n Alternatiewe visie van die "goeie lewe" moet formuleer word (Besthorn 2006: 3). Hierdie visie moet versoenbaar wees met 'n natuurlike omgewing wat die voortbestaan van die mens se lewe en welsyn kan ondersteun. Daar moet 'n revolusie in die verhouding tussen mens en die omgewing plaasvind. Hierdie revolusie sal waardes van interkonneksie, interafhanklikheid, harmonie, mindfullness, vrede (wat meer is as die afwesigheid van oorlog maar die koestering van verdraagsaamheid, verbeelding en buigbaarheid), heelheid, versorging, deernis (respek, begrip en waardering vir diversiteit), wysheid en tradisies, 'n lewe van gemeensaamheid / omgang en dankbaarheid vir die natuurlike wêreld en al die inwoners van die aarde as uitkoms ten doel het.

Ten Slotte

Namate omgewingskrisisse groei en ekonomiese en politieke wanbalanse toeneem moet maatskaplike werk aanpas. Ons huidige ekologiese en omgewingsmodelle is nie voldoende nie. Dit is onvanpas om te dink aan 'n menslike ekologie, wat hoofsaaklik gerig is op menslike reaksies op die gesin, vriende, gemeenskap of maatskaplike verhoudings. Omgewingsbewustheid is meer as bewaring en beskerming wat slegs fokus op die bewaring van natuurlike hulpbronne of die benutting van die minste beskadigende scenarios, terwyl die plundering van die aarde se dra-kapasiteit voortwoed. Dit is onvoldoende om aan 'n aarde ekologie te dink wat misantropies is tot menslike teenwoordigheid deur te redeneer dat die mens slegs in staat is tot vernietiging en uitbuiting. Ons eerste taak as maatskaplike werkers is om opreg en diepgaande bekommerd te wees oor beide natuur en die mens en dus intervensies te ontwerp wat nie net die simptoom in die geval armoede aan te spreek nie, maar werklik holisties te besin oor die mens en die omgewing.

Dr. Sandra B. Ferreira
Departement Maatskaplike Werk, Universiteit van die Vrystaat
E-pos:

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Jesus van Nasaret

Jesus van Nasaret

Boek:  Jesus van Nasaret (2009) deur Prof. Sakkie Spangenberg. "In Jesus van Nasaret is Spangenberg op sy beste. Hy skryf oor die feilbaarheid van die Skrif en verduidelik uit 'n suiwer historiese oogpunt hoe Israel ontstaan en wie Jesus was." Beskikbaar by Kalahari, Exclusive Books, Protea Boekwinkel, of by die skrywer.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za