.

Ek en Ego

Deur Dr. Abel Pienaar op 1 April 2016

.

Ek wil bietjie saam met julle nadink oor die konsep wat ons die ego noem.

Omdat daar so baie verwarring is oor wat presies bedoel word met ego, wil ek wegspring deur te verduidelik wat ek bedoel met "ego."

Belangrik om raak te sien – die ego waarna ek verwys is nie heeltemal die ego waarna die psigoanalis Sigmund Freud (1856-1939) verwys nie. Maar dit is 'n gesprek vir 'n ander dag.

My verstaan van ego is meer soos wat Marianne Williamson dit verstaan: "The word ego here means what it means to the ancient Greeks: a small and separated self."

Dit is ook die ego waarvan ons lees in die Gnostiese geskrif, die Thomas Evangelie. In vers 7 staan daar: "Jesus sê: Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal 'n mens word. Maar vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal 'n mens word."

Die "leeu" hier verwys na die ego-kompleks of valse self. En "eet" verwys na integrering. En indien die leeu nie deur die Ware Self geïntegreer word nie, sal die leeu (ego) oorneem. En soos Dr. Piet Muller altyd sê, wie van ons ken nie mense wat volkome deur hul ego's oorgeneem is nie, kyk maar net in die spieël.

Dit is redelik maklik om te sien hoe lyk mense wat deur die "leeu" verorber is. Hulle word deur hul pyn gedryf om meer pyn te skep. Dit wat ons soms na verwys as drama. Almal van ons ken diegene wat altyd moet drama skep.

Oral waar hulle gaan is daar altyd een of ander konflik, spanning en angs teenwoordig. En hulle is altyd onskuldig en kan nie verstaan hoekom alles altyd met hulle moet gebeur nie. Slagoffers van hulle eie skepping.

Daarom verwys die Thomas Evangelie na die belangrikheid om eers bewus te word van die leeu of ego, voordat daaraan iets gedoen kan word.

Thomas Merton (1915-1968), die Franse Trappiste monnik, sluit hierby aan deur te waarsku dat indien iemand nie bewustelik wakker word vir sy of haar ego (valse self) nie, so 'n mens deur die ego gedryf en beheer sal word. En dit is die definisie van lyding.

Bewustheid of wakker word is dus 'n baie belangrike eerste stap. Net soos enige ander verslawing wat die mens bind, moet dit eers erken word as 'n binding voordat bevryding kan plaasvind.

Anthony de Mello, Jesuïete priester (1931-1987) verwys in sy besondere boek, Awareness, na hierdie bewus word as: "You feel pretty strong about certain things and you think it is you who are feeling strongly about them, but are you really? It's going to take a lot of awareness for you to understand that perhaps this thing you call your "self" is simply a conglomeration of your past experiences, of your conditioning and programming."

Die gevoel van "ek" lê dus ten nouste opgesluit binne jou ego. En alles wat jy waarneem en ervaar word gefiltreer deur jou ego-storie.

Nou, volgens die sielkundige Carl Gustav Jung (1875-1961) het elke mens 'n sentrale ego-kompleks. Daarmee bedoel hy dat elkeen van ons, soos ons blootgestel is aan die wêreld om ons, 'n identiteit geskep het om dit te kan interpreteer en verstaan.

Hierdie identiteit het met tyd 'n blinde heerser van ons gedrag geword. En die ego-programmering het 'n lewe van sy eie gekry. En so ontstaan die gevoel van 'subjektiwiteit' of 'ek-heid' binne ons.

Dis die 'Ek' waarvan 'n mens bewus is. Dis die "ek" wat die uiterlike wêreld ervaar maar dit is ook jou innerlike prentjie van jouself. Deur 'n kombinasie van waarneming en emosionele reaksie is die ego 'n soort van tussenganger tussen jou sosiale omgewing en jou persoonlike onbewuste.

Jy het dus 'n storie geskep, saamgeflans deur jou ondervindings en ervarings en so 'n EK-storie geskep. En nou glo jy, dit is wie jy is. En jy hou daardie EK-storie in stand deur dit heeltyd oor te vertel, aan jouself en aan ander.

Byron Katie slaan dus die spyker op die kop as sy sê: "You are what exist before all stories." Jy is meer as wat jy van jouself dink of sê.

In Jungiaanse terme is die ego-kompleks dus 'n dun lagie bewussyn wat op 'n groter onbewuste inhoud dryf. Van die grootste deel van jouself, jou Ware Self – "what exists before all story" – is meeste dikwels heeltemal onbewus. Want solank as wat jy jou ego-persoonlikheid as die werklike "ek" ervaar, is jy ook blind vir sy werking binne jou.

Die spirituele weg wat die valse self of ego kan ontbloot is dus die weg van 'n bewustelike lewe. Die Amerikaanse neurowetenskaplike, Sam Harris stel dit so: "The true discipline is to remain committed, throughout the whole of one's life, to waking up from the dream of the self."

Hoekom is dit ooglopend dan so moeilik vir mense om hul ego (valse self) te herken en dan te kan oorwin?

Hoofsaaklik omdat 'n mens geen direkte konfrontasie met die ego ooit kan wen nie, want elke oorwinning oor die ego is inderwaarheid 'n oorwinning vir die ego self.

Want die hele konsep van wen is 'n ego-konsep. Nee die spirituele weg om die ego te vernietig, is om eenvoudig net wakker te word vir die feit dat die ego 'n illusie is wat jy self geskep het.

Jy hou juis die ego in stand deur daarteen te wil veg. Want sien, die ego bestaan nie, jy moet hom eenvoudig net laat gaan. Dit is net jou eie denke, sekerhede en innerlike inkoop op die ego wat hom in stand en "lewend" hou.

Dit wat waarvan die Boeddhistiese leermeester Dzogchen praat: "Being able to stand perfectly free of the feeling of self is the start of one's spiritual journey."

Want dit is 'n daaglikse saak, om die illusie te laat oplos, om jou gereeld bloot te stel aan die lig van die Ware Self. Om doelbewus na binne te gaan en jou motiewe en sogenaamde sekerhede te herbesoek.

Want essensieel is spiritualiteit in die eerste plek, vryheid van die diktatorskap van 'Ek' en 'Myne.' Dit is ego. Dit is vals. Dit is lyding.

Abel is die direkteur van SES en 'n spirituele leier van Renaissance Gemeente.
E-pos:

.

Sluit by ons aan

Klik hier om lid te word van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Word per e-pos in kennis gestel en kry afslag op dagkonferensies, kursusse, boeke, DVD's ens.

Dr. Piet Muller: Die Evangelie van Thomas

Die Evangelie van Thomas - met verklarende aantekeninge

Dr. Piet Muller se groot werk, Die Evangelie van Thomas – met verklarende aantekeninge nou op SES in PDF formaat (1.3 MB) of Kindle weergawe (0.5 MB).

Die Dans met God

Die Dans met God

Boek:  Die Dans met God (2015) deur Dr. Abel Pienaar. Die eens onaantasbare dogmas wat aan ons as die absolute waarheid voorgehou was, word nou al hoe meer bevraagteken. Dit beteken egter nie dat wanneer iemand nuut dink oor God en geloof, so 'n persoon nie ook spiritueel is nie. Die teendeel is eerder waar. Die boek is beskikbaar in boekwinkels (R189) en kan ook bestel word by Naledi Uitgewers.

DVD: Saam op soek na God

Saam op soek na God

Gewone mense en bekendes word gevra om oor hulle oortuigings en geloof te praat. Vrae soos: Wie is God vir jou?
Het jy enige bewyse van God se bestaan? Ons het gelowiges tot ateïste, new agers tot wikka hekse gaan vra. Die DVD kos R130 maar vir Sentrum (SES) lede net R110.

Boek: Hier staan ek...

Duisende Afrikaanse mense voel verwyderd van fundamentalistiese sienings van Christenskap en verlaat die tradisionele kerke in hul hordes. Hulle voel dikwels skuldig en alleen en is onder die indruk dat daar iets met hulle fout is. Hulle soek nuwe Afrikaanse gespreksgenote en gemeenskappe waarin hulle hul nuwe spiritualiteit kan uitdruk. Hierdie boek is die resultaat van sodanige gesprekke. Beskikbaar by Griffel of bestel direk by Boekblik.

Stuur vir ons 'n brief

Ons stel belang in jou reaksie en kommentaar op enige gegewe artikel en jou denke rondom die soeke na eietydse spiritualiteit. Besoek asb. hierdie bladsy vir meer inligting.

.

Kopiéreg © spiritualiteit.co.za

.